Die Beloftes van God vir Ouers aangaande die redding van hul kinders

Inleiding

Sou ons enige opdrag van God kon uitvoer sonder God wat ons die krag gee en ons in staat stel om dit uit te voer. Jeremia 31:18b Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God. Met elke opdrag kom ook die belofte dat God, deur sy Gees, dit sal bewerk wat Hy vra. As God die volk opdrag gee om in gehoorsaamheid rondom die mure van Jerigo te loop en op die sewende dag sewe keer om te loop en met ʼn groot krygsgeskreeu die muur in mekaar te laat stort, was dit beslis nie die loop om die stad of die geskreeu wat die mure sou laat instort nie, maar wel God. Wanneer God aan Esegiël die opdrag gee om vir die doodsbeendere te preek was daar nie by Esegiël ooit die verwagting dat sy stem dooies sou terug bring en laat lewe nie. Esegiël 37:3 Hy vra toe vir my: Mensekind, kan hierdie beendere leef? Ek het geantwoord: “My Heer, Here, net U weet dit. Sonder God wat die werk doen is ons magteloos en in staat tot niks. Psalms 127:1 ‘n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die bouers tevergeefs daaraan. As die Here oor die stad  nie wag hou nie, bly die wagte tevergeefs wakker. Tevergeefs dat julle  vroeg opstaan, eers laat tot rus kom, kos eet wat moeisaam verkry is. Netsowel gee Hy dit aan sy geliefdes in die slaap. Ons gaan in die volgende weke saam deur al God se opdragte werk, maar dit is van kardinale belang dat ons besef dat niemand enigsins iets kan vermag van dit wat God vra as dit nie ook God is wat deur Sy Gees die krag daarvoor gee en bewerk dit wat Hy versoek nie.

Verder is dit belangrik dat ons van die begin af vir mekaar sê dat ons nie ons kinders gaan grootmaak op wêreldse beginsels, eie opinies of metodes nie. Ons gaan elke keer die Woord ondersoek om ons gedagtes in lyn te bring met God se gedagtes. Spreuke 3:5-6 Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.

Goddelike nageslag

Kom ons begin met ʼn begeerte wat God uitspreek aangaande ouers. In Maleagi spreek God vir Juda aan met die feit dat hulle troueloos handel. Hulle het nog steeds hulle offers gebring, maar het Hom verlaat en het met dogters van uitlandse gode getrou.

Dit is baie duidelik vanuit God se Woord dat Hy nooit wou hê dat sy volk, en sy kinders vandag, met iemand moet trou wat ongelowig is nie. 2Korinthiërs 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap  kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid  kan daar wees tussen lig en duisternis? Hier het dit nie te make met mense wat aan ander volke behoort het maar wel God aanbid het nie. Ons het as voorbeeld  goddelike vroue uit ander nasies wat insluit word in Jesus se geslagsregister. Ragab was ʼn Kanaäniet uit die nageslag van Gam, wat verklaar dat sy God vrees en aanbid. Ons het Rut, die Moabiet, uit die nasate van vroue wat hulle vader Lot dronk gemaak het om kinders te hê, maar wat verklaar het dat sy God aanbid.  Verder kan ons ook vertel van Moses wat met ʼn Kusitiese vrou getrou het. Die Kusiete was swart en vir Moses se suster en broer was dit glad nie aanvaarbaar nie. Numeri 12:1 Mirjam en ook Aäron het teen Moses uitgevaar oor die Kusiet wat hy as vrou geneem het. Ja, hy het ‘n Kusiet as vrou geneem! God straf vir Miriam en maak haar melaats, ‘n siekte wat onder andere jou velkleur wit gemaak het. Dit is asof God vir haar sê: “Miriam, Ek sien jy wil graag wit wees. Kom ek help jou daarmee.”

Nie net het God in Maleagi 2 ʼn aanklag teenoor Juda dat hulle met goddelose vroue getrou het nie, maar ook dat van hulle geskei het van die vroue van hulle jeug. God verklaar dat hy egskeidings haat en dat ʼn persoon wat skei homself of haarself met geweld omhul het. Maleagi 2:16 Want Ek haat egskeiding, het die Here, die God van Israel, gesê. So iemand het hom met geweld omhul, het die Here, Heerser oor alle magte, gesê. Bewaar daarom julle gees van eensgesindheid: Moenie ontrou wees nie, het die Here, Heerser oor alle magte, gesê. Daar is niks wat families so verwoes as egskeidings nie. As jy skei sal jy ʼn verwoester van jou gesin word. Daarom, as jy hierdie blog lees en geskei het moet jy probeer om met jou eggenoot te versoen. Indien dit onmoontlik is weens dood of die ander persoon alreeds weer getroud is, moet jy voor die Here neerbuig en bely dat jy ʼn verwoester is en bid dat Hy jou sal vergewe en skoon sal was. God kondig dan aan waarom Hy wil hê dat gelowiges met gelowiges trou en dat hulle nie moet skei nie, Hy wil ʼn goddelike geslag hê. Maleagi 2:15 Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.

God se naam lei skade a.g.v. ouers wat sê dat hulle gelowiges is, maar wie se kinders lewe soos die wêreld. Die goddelike gesin is net soos die huwelik ʼn getuienis van Christus en die kerk. Hier vind ons die Kerk in sy kleinste vorm.

God se beloftes in ‘n deurmekaar wêreld

Miskien het jy dalk die bekommernis dat jy ongered was toe jy getrou het en nou ʼn kind van die Here is wat jou kinders wil grootmaak in die weë van die Here. Jy wonder of daar  ʼn belofte is wat God aan jou gee. Daar is verseker vir jou beloftes in God se Woord. Die belofte is dat indien jy ʼn heilige is jou kind ook ʼn heilige is. Wees egter versigtig indien jy in ongehoorsaamheid gewandel het en as ʼn gelowige teen God se bevel jouself met ʼn ongelowige man of vrou in die eg verbind het. God sal jou beslis straf en jy sal die gevolge dra vir jou besluit. Die belofte geld egter ook vir jou. Hier kan ons ten spyte van die ouer se ongehoorsaamheid nie wegkom van die teks se implikasies vir ʼn heilige ouer nie.

Hier gaan ons na ʼn belofte kyk vanuit die Nuwe Testament wat God spesifiek gee aan ʼn ouer wat tot geloof gekom het na die huwelik en wat nou bekommerd is oor sy/haar kinders wat grootword met die invloed van ʼn ongelowige man/vrou in die huwelik. Die vraag is of dit nie beter sal wees om van my man of vrou te skei en my kinders alleen goddelik groot te maak nie. Kom ons luister na die teksgedeelte en u kan gerus die hele 1Korintiers 7 self lees. 1Korinthiërs 7:14 Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. As u die vers goed wil verstaan is dit nodig om na die Grieks te gaan kyk. Die teksvers kan goed verstaan word vanuit die Afrikaans, maar baie keer word ons verwar deur woorde wat dieselfde lyk maar verskillende betekenisse het in die oorspronklike taal.

Onrein of Heilig

Ons gaan eerstens kyk na die woord “onrein”. Ons kan vanuit die Afrikaans alreeds aflei dat enige kind wat nie ten minste een ouer het wat ʼn gelowige is nie, onrein is. (Dit veronderstel natuurlik nie dat hierdie kind nie tot geloof kan kom nie. Baie keer gebruik God juis die kind om deur sy/haar getuienis die ouer te red. Baie mense wat goddeloos geleef het of wat selfs in die kerk grootgeword het, maar ongered was, word eers as volwassenes wederbaar.) Die Bybel sê egter duidelik dat ons in sonde ontvang en gebore word. Psalms 51:7 Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het. Dit is verder duidelik dat geen onrein persoon die ewigheid sal ingaan nie. Efesiërs 5:5 Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie. Dit is dus nie waar dat alle kinders Hemel toe gaan nie.

Tweedens gaan ons kyk na die woord “heilig” wat ook in hierdie gedeelte gebruik word. Drie keer kom die woord heilig in hierdie vers voor. Twee keer as ʼn werkwoord en eenkeer as ʼn byvoeglike naamwoord. Hierdie is nie ʼn taalklas nie, maar dit is dalk goed om die verskil van die twee vorme vinnig hier te verduidelik. In die geval van die werkwoord, is dit soos om te sê: “Die meisie word mooi gemaak” Sy is dus nog nie mooi nie, maar daar is ʼn proses aan die gang. In die geval van die byvoeglike naamwoord sal ons sê: “Die mooi meisie” as ʼn beskrywing van dit wat sy alreeds is, nl. mooi. God stel dit duidelik dat die ongeredde persoon in die huwelik deur die gelowige persoon geheilig word. Die werkwoord word hier gebruik, m.a.w. dit is die eggenoot/te wat geheilig word deur die heilige eggenoot/te, maar toon nie redding aan nie aangesien redding ʼn werk is van die Heilige Gees se heiligmaking. 1Korintiers7:16 Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red? Dit maak die gelowige rustig dat die ongelowige eggenoot nie enige iemand anders in die gesin kan ontheilig nie, maar eerder dat die gelowige die ongelowige eggenoot beïnvloed ten goede. Al lewe ek met ʼn onrein persoon en al is ons fisies een maak dit my nie onrein nie. Tog is daar meer as dit en in verband met die kinders word die byvoeglike naamwoord vir heilig gebruik. My kinders is nou heilig. Hulle is dit alreeds en word deur die woord beskryf. Hierdie byvoeglike naamwoord word in alle gevalle waar dit in die Nuwe Testament vir individue gebruik word, slegs gebruik om gelowiges te beskryf. Geen persoon word “heilig” genoem indien die persoon nie ʼn gelowige is of was nie. Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde in hierdie brief, voor hoofstuk 7, waar hierdie woord as beskrywing deur Paulus gebruik word. 1Korinthiërs 1:2 aan die gemeente van God in Korinthe, wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges, saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here. 1Korinthiërs 6:1-2 Hoe durf enigeen van julle wat ‘n klag teen ‘n ander het, dit deur die onregverdiges laat besleg en nie deur heiliges nie? Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake? Dit is dus baie duidelik dat die gemeente wat hierdie brief gelees het presies geweet het wat Paulus bedoel as hy verklaar dat God hierdie kinders heilig noem.

Twyfel en vrees

Hoeveel twyfel en vrees is daar nie onder baie gelowiges nie. Daar is soveel vrae. Hoe kan ek verseker wees dat as ek my kinders goddelik grootmaak hulle goddelik sal wees, aangesien ek nie my kinders kan red en dus kan veroorsaak dat doodsbeendere lewendig word nie? Verder kan geen mens ʼn goddelike lewe lei as hy/sy nie wederbaar is nie. Dit veronderstel dat God eers die werk moet doen, en Hy het! Ek is alleen in staat om goddelike kinders groot te maak, omdat God aan my, as gelowige ouer, belowe het dat my kinders heilig is, en ek dus in gehoorsaamheid Sy opdrag kan uitvoer. Weg is die twyfel en vrees. God is soewerein in beheer en het in Sy almag vir my kinders gegee, omdat hy ʼn goddelike nageslag soek wat Hom sal verheerlik en eer.

Slot

Ons sal volgende week kyk watter vereistes God stel aan ouderlinge rakende hulle kinders en weer sal ons moet besef dat God eerste die werk moet doen vir die ouderling om in staat te wees om God se opdrag uit te voer.