Hosea 14

Inleiding

ʼn Tyd van afvalligheid – is verseker ʼn goeie titel vir die tyd van vandag. Tog as jy boeke van predikante van die vorige eeu lees, word dieselfde beskrywing vir daardie tyd gegee. Hier is ons egter nog steeds vandag, en daar is nog getroue kinders van die Here wat vashou aan Sy Woord. Dit is dan ook die spanning deur die hele Skrif. God se genade en hand wat vashou teenoor die mens se verantwoordelikheid om in gehoorsaamheid aan Sy Woord op te tree. God se straf of tugtiging is deel van Sy vashou al lyk dit soos ʼn kontradiksie. God se belofte aan elke ware gelowige is dat Hy jou sal vashou en die werk wat Hy in jou begin het sal voltooi. Dit beteken nie dat jy kan leef soos jy wil nie, soos al herhaaldelik in hierdie inskrywings bespreek is.

Straf en behoud

Dit wil voorkom of die profeet homself weerspreek in hierdie hoofstuk. Aan die een kant kondig hy aan dat God Israel ten volle gaan straf en aan die ander kant roep hy hulle op tot bekering. Sou God ten volle verwoes of sou Hy nie? Dit is duidelik dat nie net in Hosea nie, maar deur die hele Skrif, gewys word dat daar binne Israel te alle tye ʼn klein oorblyfsel was wat nog steeds aan die Here behoort het. Hierdie oorblyfsel word in alle eeue deur God bepaal en vasgehou. As Paulus hierdie onderwerp aanspreek en verduidelik neem hy ons na die tyd van Elia. Elia het voor God gekla dat hy die enigste een is wat oorgebly het in die goddelose tyd waarin hy homself bevind het. Baie van ons moet erken dat ons hierdie gevoel al baie gehad het. Dit voel of geen kerke meer die waarheid verkondig nie. Oral hoor jy van nog predikante wat kompromieë maak en nog meer wat afdwaal van die Waarheid wat hulle vroeër verkondig het. Vir ons, net soos Elia, is hierdie boodskap van God baie belangrik. Romeine 11:4-5 Maar wat is God se antwoord aan hom? Ek het vir My  seweduisend mans  laat oorbly wat nie hulle knie voor Baäl gebuig het nie. Net so is daar ook in die huidige tyd ‘n oorblyfsel, deur genade uitgekies. Deur alle tye het God ʼn oorblyfsel laat oorbly in Israel, net soos wat God sy Kerk deur die eeue sal vashou. Al is die aanslag fel weet ons verseker dat die Kerk nooit vernietig sal word nie. Aan Petrus maak Jesus hierdie belofte bekend. Jesus vra vir Petrus en die res van die apostels wie hulle sê Hy is? Petrus bely dan: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Mattheus 16:14. Jesus gebruik dan die woord Petrus, wat ʼn enkele klip beteken (Petros), en sê dat op hierdie rots (petra), ʼn groot rots massa, Hy sy Kerk sal bou. Dit was dus nie op die man Petrus wat God Sy Kerk sou bou nie, maar op sy belydenis dat Jesus die Christus is waarop God se kerk gebou sal word. Dan kry ons die belofte van Jesus aangaande hierdie kerk wat Hy sou bou. Matteus 16:18 En Ek sê vir jou, jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou; en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie. Dit was dieselfde wat God belowe het vir die volk van Israel, Hy sou hulle nooit totaal verwoes nie. Hoe wonderlik om te weet dat al is ons min, daar reg oor die wêreld individue is wat God uitverkies het en wat God in Sy genade vashou.

Ware bekering

Die profeet roep die volk op om hulle te bekeer. Hierdie bekering is nie oppervlakkig soos baie dit uitmaak om te wees nie. Dit is nie net ʼn belydenis van die mond met geen verandering in die individu se lewe nie. Matteus 7:18 ‘n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Hierdie volk word opgeroep om met hul bekering woorde te spreek wat erken dat hulle bewus is van die rede waarom hulle gestraf is en wat hulle sonde teen God is. Hulle moet bid dat God hulle ongeregtigheid moet vergewe en van hulle moet aanneem dit wat goed is. God het al deur Jesaja aan die volk bekend gemaak dat hulle mooi belydenisse maak, maar dat dit geen inhoud het nie. Jesaja 29:13 My Heer het gesê: Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My, en hulle ontsag vir My bloot ‘n aangeleerde menslike gebod. Wys met julle woorde dat julle julle oortredings erken en verstaan. Hulle moes erken dat hulle hulle vertroue op die Assiriese magte geplaas het en afgode wat met hulle hande gemaak is, aanbid i.p.v. God. Hulle was so gretig om hulle vertroue op ander plekke te soek dat God beeldspraak gebruik en hulle vergelyk met mense wat ry op perde. Het jy al ooit voor God bely dat jy ander dinge het waarop jy meer vertrou as Hom? Dat terwyl jy bid vir ʼn situasie, jy alreeds die perd van jou denke opgesaal het om te gaan hulp soek. Is God se arm werklik sterk genoeg om te red?

Vergifnis en genesing

God kondig aan dat hierdie oorblyfsel deur Hom genees sal word en dat Hy hulle vrylik sal liefhê. Hierdie verhaal herinner jou aan die gelykenis van die verlore seun. Dit is asof God nie kan wag op die afgedwaalde te gaan omhels nie. As jy na die verhaal luister wat Jesus vertel kom jy onmiddellik onder die indruk dat die vader, wat die seun op ʼn afstand al gesien het, die roete na die plek waarheen sy seun gegaan het daagliks dopgehou het. Lukas 15:20 Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die vader hardloop om die afstand tussen hom en sy seun te oorkom. Watter begeerte het hierdie vader nie om te vergewe nie?! Dit is dieselfde God wat ons in Hosea vind. ʼn God wat nie kan wag om hierdie seun van Hom te oorlaai met hartlikheid nie. Luister na wat die verlore seun se vader doen en lees weer Hosea 14:5-7. Lukas 15:22 Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou ‘n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom ‘n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. Die seën van God oor hierdie volk sal duidelik sigbaar wees. Geen bekeerling sal in die geestelike toestand waarin hy gevind is bly nie. Nee, as jy ʼn ontmoeting met die lewende God gehad het, sal Hy jou totaal verander. Hy sal jou totaal verander en vernuwe en versterk sodat jy soos ʼn vrugbare boom vir almal sigbaar sal wees. Hierdie boom sal ʼn geur hê wat die lug deurtrek. Ons as gelowiges het ook ʼn geur wat deur die wêreld geruik word. 2 Korintiërs 2:15-16 Want ons is ‘n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde ‘n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde ‘n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Jou lewe as gelowige gee ʼn geur van Christus af. Vir die wêreld sal jou reuk nie heerlik wees nie, maar wel vir die verlostes. Al sal dit nie ʼn wonderlike reuk vir die wat verlore gaan wees nie, sal hulle eendag moet erken dat daar ʼn reuk uit jou en my voortgekom het. Die genesing en herstel van die gelowige sal beslis deur die wêreld op baie vlakke waargeneem kan word. Israel sal ʼn plek word wat so sal groei dat hulle vir baie skaduwee en skuiling sal gee teen die son. Hierdie oorblyfsel sal werklik genees word en getuienis lewer waarin ander vir God sal vind. Die verdere metafoor van die wingerdstok en die wyn toon aan dat hierdie volk vol vreugde en gelukkig sal wees. Is dit nie wonderlik dat die wat hulle sonde bely en die wat die Here genees en seën, mense is wat oorloop van vreugde nie. Dit is die opdrag van God ook aan elke gelowige en dit word veral beklemtoon in Filippense dat ons ons moet verbly in alle omstandighede. Filippense 4:4 Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle!

God se werk

Efraim word die mense wat hulle bekeer en van wie God belowe dat Hy sy oog oor hulle sal hou. Hoe wonderlik om te verander van die een wat getug word en myself in ellendigheid bevind na die een wat onder God se beskerming verkeer en vrug dra. Vrug wat bewerk word deur die God wat Sy oog oor my hou. Is dit nie wat Jesus aan Sy volgelinge sê nie? Johannes 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. Aan die eenkant word ons deur die profeet opgeroep om vrug te dra net om herinner te word dat hierdie vrug nooit sy oorsprong in die mens het nie, maar wel in God. As ons dus die opdrag ontvang om vrug te dra wat by die bekering pas besef ons terdeë dat die Een wat ons oproep ook vir ons die krag sal gee om dit te doen waartoe ons opgeroep word. Een van die gedeeltes wat dit beklemtoon vind ons in Efesiërs. Efesiërs 2:10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. Ons as gelowiges is geskep tot goeie werke en hierdie goeie werke is deur God voorberei sodat ons daarin kan wandel. Die gelowige het dus geen verskoning waarom goeie werke nie uit sy lewe sal voortvloei nie. Niemand kan die verskoning gebruik dat hy maar net ʼn mens is nie. Nee, God roep my op tot dit waartoe Hy in sy almag alreeds vir my die krag gegee het om te kan doen. Die krag wat ons ontvang kom van die Heilige Gees af wat Sy woning in ons kom maak het en deur wie ons daagliks vernuwe word. 2Korintiërs 4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, want selfs al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe. Elke dag is daar die erkenning dat ek nie is wat ek moet wees nie, maar dat ek ook nie meer is wat ek was nie.

Slot

Om aan God te behoort is duidelik. Soos die klere wat die vader van die verlore seun vir hom aantrek, klee God ons ook met Sy geregtigheid. Sy Gees wat in ons woon en werk bring ons by ware berou, wat ons sonde erken, en wat ons dan bring na die genade troon van Jesus, waar ons vergifnis sal ontvang. Ons is nie alleen nie, maar God hou medebroers en susters reg oor die wêreld vas as deel van Sy ware Kerk. Hierdie Kerk sal staande bly en as bruid aan Christus gegee word, rein en skoon.

Lewer kommentaar