Inleiding
Wie of wat bepaal my en jou lot? Dit klink dalk na ʼn eenvoudige vraag en Christene sal dit sommer vinnig en maklik beantwoord met die kennis dat dit God, en Hy alleen, is. Dit is verseker die waarheid, maar leef ek en jy elke dag met die volle begrip van wat dit beteken? Selfs die wêreld het nie ʼn probleem om God te blameer vir hul lot as dit met hulle sleg gaan nie. Hoe ironies egter dat sodra dit goed gaan ons dink dat dit ons eie inisiatief, deursettingsvermoë, verstand en harde werk of “geluk” is wat dit tot stand gebring het. In Hosea 13 wys God die volk daarop dat alles wat hulle het en wie hulle is, Sy besluit was.
God kies
Efraim was die jongste seun van Josef se twee seuns. Manasse was die oudste. Efraim het as die jongste geen reg gehad om te regeer nie. God het egter in Sy almag besluit dat Efraim hoër in rang sou wees as sy ouer broer. Jakob maak met sy handoplegging bekend dat hierdie twee seuns as sy eie beskou moet word en nou as deel van die twaalf seuns van Jakob bekend sal staan. Hulle word in die plek van Josef en sy broer Ruben, wat met sy pa se vrou geslaap het en sy reg tot stamhoof verloor het, geplaas. Wat met die handoplegging gebeur is ʼn skok vir Josef en elkeen wat die verhaal lees en weet wat die normale orde binne gesinstrukture is. Ons moet byvoeg dat Jakob, of deur God hernoem as Israel, nie meer kon sien nie. Genesis 48:10 Israel se oë was dof van die ouderdom; hy kon nie meer sien nie. Toe hy hulle na hom bring, het Israel hulle gesoen en hulle omhels. Hul vader Josef bring die twee seuns na hul oupa Jakob om deur hom geseën te word met die oudste tereg aan Jakob se regterkant. Genesis 48:13 Daarop neem Josef hulle twee, Efraim met sy regterhand aan Israel se linkerkant, en Manasse met sy linkerhand aan Israel se regterkant, en bring hulle nader aan hom. Israel kruis egter sy hande sodat sy regterhand op Efraim geplaas word. Josef tree in, omdat hy dink dat sy pa in sy blindheid ʼn fout begaan en haal sy pa se regterhand van Efraim af en sit dit op Manasse. Dan profeteer Israel aangaande hierdie seun, maar sy vader het geweier en gesê: Ek weet, my seun, ek weet. Ook hy sal ‘n volk word; ook hy sal groot wees. Maar sy jonger broer sal groter wees as hy. Sy nageslag sal ‘n groot groep nasies word. Genesis 48:19. God het besluit dat Hy aan Efraim meer sou gee en hom hoër sou plaas as sy ouer broer. Efraim word die stam waarna verwys word as daar oor die tien stamme van Israel gepraat word. Weereens word ons daarop gewys dat God in beheer is van alles. Hy bepaal wat sal gebeur.
Hoogmoed kom tot ʼn val
Hosea spreek hierdie stam van Efraim aan as ʼn stam wat behoort te weet dat alles wat met hulle gebeur het en wat hulle vermag het van God afgekom het en tog het hulle arrogant geraak asof hulle dit op hulle eie bewerkstellig het. So maklik klop die mens homself op die skouer en dink dat wat hy het met sy eie vindingrykheid verwerf is. 1 Samuel 2:7 Die Here maak arm en Hy maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. Efraim het afgode aanbid en God het Hom verwoes. Al sy prag en praal het God tot ʼn einde gebring.
God maak aan hulle bekend dat Hy altyd daar was vir hulle. Dat Hy hulle gelei het in hulle deurtog deur die woestyn. Hy was hulle Verlosser in alle omstandighede. Hy het hulle oorlaai in Kanaän, maar hulle het Hom in hul hoogmoed vergeet. Die Woord waarsku ons dat hoogmoed die mens bring tot ʼn val. Spreuke 16:18 Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar ‘n hooghartige gees. Deur die Skrif word daar vir ons aangetoon hoe leiers geval het, omdat hulle hoogmoedig geraak het. Die Koning van Tirus se hoogmoed word vergelyk met die van Adam, wat ook volgens Esegiël geval het a.g.v. sy hoogmoed. In vers 13 tot 14 sien ons hoe die vergelyking van die koning van Tirus verder strek as net hyself. Esegiël 28:13 -14 In Eden, die tuin van God, daar was jy. Jy was bedek met alle soorte edelstene: karneool, topaas, akwamaryn, chrisoliet, oniks, jaspis, lasuursteen, malagiet en smarag. Van goud was die insetsels en graverings aan jou bedekking. Die dag toe jy geskep is, was dit gereed by ‘n glansende gerub met vlerke wat beskutting bied. Ek het jou daar geplaas; op die heilige berg van gode was jy; tussen klippe van vuur het jy rondgestap. In vers 17 word hul verwoesting aangekondig a.g.v. hulle hoogmoed. Esegiël 28:17 Jou hart het hoogmoedig geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid nutteloos gemaak oor jou skitterende prag. Op die grond het Ek jou neergegooi; voor konings het Ek so met jou gemaak dat hulle hulle in jou kan verlustig. Die God wat hulle versorg het en hulle redder was word dan die God wat Homself vergelyk met wilde diere wat die volk sal verwoes en verskeur. Hoe vreesaanjaend as die Verlosser die verwoester word? Daarom word die hoorders van Hebreërs ook gewaarsku, dat hulle wat ʼn onwankelbare koninkryk ontvang het in dankbaarheid moet leef, met eerbied en vrees en dat God ʼn verterende vuur is. Hebreërs 12:28-29 Daarom, terwyl ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag. Want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur.
Die gelowige se lewe moet gekenmerk word deur dankbaarheid. Dankbaarheid vir alles in hul lewe. As jy jou dankbaarheid verloor is jy in die moeilikheid en is die val naby. Alles wat jy het is bepaal deur ʼn liefdevolle Vader wat die beste vir jou weet. Ondankbaarheid verkondig hard en duidelik dat jy ontevrede is met God se regering. In hierdie arrogante toestand glo die skepsel dat hulle alles beter sou kon bestuur as wat die Skepper dit kan doen. Dink jy dat God genoeë sal neem met hierdie denke? Hierdie denke beïnvloed soveel dinge vandag, waar die mens probeer om God te speel. Ons probeer die weer, geslag en selfs die dag van ons dood verander omdat ons sogenaamd “beter” weet. Dikwels met katastrofiese gevolge.
Wie is jou koning?
Die volk word verder herinner dat hulle ʼn koning eerder as God wou gehad het wat oor hulle regeer. God se vraag is: “Waar is hierdie konings? Is hulle sterker as Ek? Sal hulle die volk uit My se hand kan verlos?” Dit is seker een van die tragiese momente in die Skrif wanneer die volk vir ʼn koning vra. Samuel was die profeet op daardie stadium en die volk kom na hom met die versoek. Hulle wou soos die ander nasies wees wat ʼn sigbare koning gehad het. Samuel bring dit voor die Here in gebed en God se antwoord ruk jou aan die hart. 1 Samuel 8:7 Die Here het vir Samuel gesê: Luister na die volk in alles wat hulle vir jou sê, want dit is nie jou wat hulle verwerp het nie, maar My het hulle verwerp om oor hulle koning te wees. Kan ʼn volk so arrogant wees dat hulle kan dink dat hulle die Een wat aan hulle alles gegee het kan verruil vir ʼn blote mens. Nie net dit nie, maar hierdie volk sou iemand begeer wat alles van hulle sou wegneem in teenstelling met die Koning van die konings wat hulle alles gegee het wat hulle gehad het. Luister na ʼn kort uittreksel van Samuel se waarsku aan die volk: 1 Samuel 8:11-13 Hy het gesê: “Dit sal die regte van die koning wees wat oor julle gaan regeer: Julle seuns sal hy vat en hulle vir hom aanstel by sy strydwa en sy span perde. Hulle sal voor sy strydwa uit moet hardloop. Hy sal hulle vir hom aanstel as aanvoerders oor duisend en aanvoerders oor vyftig, om sy ploegland te ploeg, sy oes in te samel en om toerusting vir sy oorloë en vir sy strydwaens te maak. Julle dogters sal hy vat as salfmengers en as kokke en bakkers. (lees gerus tot vers 18) Ten spyte van hierdie waarskuwing hou die volk vol dat hulle ʼn koning soek. Hosea vertel die volk dat God in sy toorn vir hulle ʼn koning gegee het en in Sy grimmigheid die koning sal weg neem. Die volk moenie vir een oomblik dink dat God nie woedend was aangaande hul keuse van die verganklike mens bo Hom as die enigste Heerser nie. Miskien kan jy nie verstaan hoe die volk so dom kon wees nie, maar doen jy nie dieselfde nie? Ons plaas ons hoop en vertroue op regerings en politieke partye. “Wanneer So-en-So aan bewind kom, dan sal dit beter gaan” Regtig? God beskryf homself in die Skrif as ʼn jaloerse God. Eksodus 34:14 Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die Here se Naam is Jaloers — ‘n jaloerse God is Hy. (aanhaling uit die Ou Vertaling) Hy deel sy eer met niemand nie. Hy sal nie toelaat dat enige ander god in jou lewe die eer kry nie. Hy sal jou deur toetse neem en jou tug sodat jy in afhanklikheid van Hom alleen sal lewe. Hieroor kan ons Hom dank en die begeerte uitspreek dat Hy ons vorm en maak net soos Hy wil aangesien ons Hom alleen wil dien. Vertrou Hom en moet op prinse nie vertrou nie.
Genade
Dan te midde van God se aanklag en sy vonnis van verwoesting breek die lig van sy genade ewe skielik deur die donker. Hy kondig weereens ʼn dag van verlossing aan. Hy belowe die volk dat Hy hulle uit die doderyk sal loskoop. Die 2020 vertaling vra die vraag van God asof hy hulle nie wil verlos nie. Dit is egter in stryd met die Hebreeus en die LXX. Die LXX se vertaling lui soos volg: Ek sal hulle red uit die hande van Hades(doderyk) en sal hulle verlos van die dood. Die res van die vers word aangehaal in die Nuwe Testament in 1Korintiers. 1 Korintiërs 15:55 Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel? Die Heilige Gees Openbaar deur Paulus dat die ware Verlosser, die een wat weereens deur die volk verwerp sou word wanneer hy as mens na die wêreld sou kom, die dood sal vernietig en oorwinning daaroor sal behaal.
Slot
Elke gelowige kan met opgewondenheid hierdie woorde beaam en sê dat Jesus Christus, ons Koning en Verlosser, die dood se angel vernietig het. Watter voorreg is dit nie dat ons kan weet dat ons nie die dood hoef te vrees nie? Die dood is nou slegs ʼn gordyn waardeur ons die ewigheid in beweeg. Ons verstaan dat ons as gelowiges die dood nie sal sien nie, maar op daardie oomblik wat ons ons asem uitblaas, by God teenwoordig sal wees. Het Hy dit nie aan Martha by die dood van haar broer verkondig nie? Johannes 11:26 en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit? Paulus maak dit ook duidelik dat dit sy grootste begeerte is om by die Here te wees en dat die oomblik as hy nie meer op aarde is nie, hy in die teenwoordigheid van God sal wees. 2 Korintiërs 5:8 Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. Ons het ʼn genadige Verlosser. Hy gee dit wat ons nie verdien nie. Hy oorlaai ons. Dink aan alles wat jy uit Sy hand ontvang het en waarvoor jy dankbaar kan wees. In nederige afhanklikheid, moet ons erken dat Hy alleen die Koningskap oor ons lewe werd is. Keer terug na Hom, ons ware Verlosser en Koning. Hy alleen kan vergewe en verlos. Psalms 33:15-22 Hy wat elkeen van hulle se denke vorm, insig het in alles wat hulle doen. Geen koning word deur ‘n groot leër verlos nie; ‘n krygsheld red homself nie deur groot krag nie. ‘n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie bevry nie. Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood. Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild. Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy heilige Naam vertrou ons. Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag!
