Inleiding
God wil vir Jona gebruik as ʼn profeet in Nineve. Nineve was ʼn goddelose stad en deel van die land van die Assiriërs. Hierdie volk was ʼn wrede volk wat Israel en Juda baie skade berokken het. Nineve sal God ook gebruik as ʼn getuienis teen Israel en Juda aangesien hulle na die boodskap van Jona sou luister terwyl God ʼn menigte profete na Israel en Juda gestuur het en tog het hulle volhard in hulle bose dade.
Ongewillige boodskapper
Aangesien Nineve ʼn volk verteenwoordig wat die Joodse volk as hulle vyande beskou het is dit dus verstaanbaar dat Jona geen begeerte gehad het om aan hulle God se boodskap te gaan oordra nie. As daar nou ʼn volk, in menslike oë, was wat nie verdien het om deur God gered te word nie sou dit die Assiriërs wees. Dalk het jy ook daardie siening aangaande iemand wat jy ken? Iemand wat jy as jou vyand beskou of beskryf as “Daar is geen salf aan hom/haar te smeer nie”? Het ons die begeerte om aan ons vyande God se genade boodskap te verkondig en hulle op te roep tot bekering? Het ons werklik ons vyande lief? Mattheus 5:44 “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg.” In Jona se hart moes hy sekerlik gedink het, “Here, dit sal die dag wees! Nooit nie Here. Hulle verdien nie U genade en U boodskap nie. Hoeveel skade het hulle ons nie berokken nie?” Jona se beste plan is om weg te vlug van die aangesig van God. Partykeer lag ons as ons dit lees. Kan ʼn profeet wat weet wie God is en dat Hy die God is wat alomteenwoordig is, dink dat Hy van God kan wegvlug? Tog was dit die denke van baie in Israel. Luister maar net na wat die Psalmdigter onder inspirasie van die Heilige gees skrywe. Psalm94:6-7 “Hulle maak weduwees en vreemdelinge dood, hulle vermoor vaderlose kinders. Dan sê hulle nog: Die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie op nie.” Net so leef baie wat elke Sondag in die kerk sit, asof God nie hulle dade sien nie. Hulle is meer bekommerd oor die predikant en wat hy van hulle weet as wat die Heilige God sien en weet. Leef ons werklik asof ons in Sy teenwoordigheid wandel of vlug ons gereeld na ons eie Tarsis?
Vlug
Jona kry ʼn boot en vlug van God se aangesig af weg. As jy weet wat God van jou vra en jy wil dit nie doen nie, probeer jy met alles in jou om weg te kom van Sy aangesig. Jou lewe kla jou aan en jou sonde verteer jou binneste. Jy wil wegvlug van enige iemand wat die Woord in Sy volheid aan jou wil bring. Ja, jy vlug selfs van medegelowiges, omdat hul gehoorsaamheid en heilige lewens jou aankla. Wegvlug is egter nooit moontlik nie. God bring ʼn storm op die see. Hierdie gedeelte druk God se bemoeienis en genade met die mens uit. God gaan nie vir Jona los nie, maar gaan hom soek en terug bring om Sy wil te doen. Net so bevind jy jouself dikwels in storms in jou lewe en alhoewel nie alle storm as gevolg van ongehoorsaamheid aan God is nie, is dit goed om introspeksie te hou.
As ons net dieselfde genade as wat God aan ons bewys kan toon aan ander. Jona se sonde stel almal aan boord se lewens in gevaar. Hy is die teenoorgestelde van Paulus wat a.g.v. sy lewe die redding van diegene aan boord sy skip bewerkstellig het. Handelinge 27:23-24 Verlede nag het ‘n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.
Genade
Terwyl almal skarrel aan boord en tot hul afgode bid vir redding is Jona vas aan die slaap. Sy slaap is ʼn aanduiding van sy ongevoeligheid vir die wat saam met hom aan boord is en ook vir die mense van Nineve. Die kaptein spreek Jona aan en vra hom “wat makeer jou dat jy so slaap” en beveel hom om tot sy God te roep en dat sy God hulle miskien kan red. Nadat die manne loot kom hulle agter dat Jona die skuldige is. God gebruik hulle heidense gebruik om vir hulle aan te toon wie die skuldige is. Spreuke 16:33 Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die Here. Nadat Jona alles aan die manne vertel het, van sy wegvlug van God, die God van die hemel wat die see en die droë land gemaak het, het die manne bang geword. Watter ironie! Die heidene het meer vrees vir God as die profeet van God. Dit was ook Maleagi se aanklag teen die Jode, nl. dat God meer gevrees was deur die heidene as deur Sy eie volk. Maleagi 1:11 Immers, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, is my Naam groot onder die nasies en op elke plek word reukwerk en ‘n rein offer aangebied vir my Naam, want my Naam is groot onder die nasies,” sê die Here, Heerser oor alle magte.
As jy die verse lees wat volg op die vraag van die heidene oor hoe hulle die see kan stil maak, kan jy nie anders as om bedroef te word nie. Nadat Jona aan die bemanning te kenne gee dat hulle hom in die see moet gooi om hulle lewens te red, vind ons iets ongelooflik. Die heidense bemanning doen alles in hulle vermoë om Jona se lewe te spaar. Jona 1:13 Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Hulle het meer deernis vir hom gehad as wat hy vir hulle gehad het – vir hierdie mense wat geestelik verlore was. Is dit nie ʼn aanklag teen elke gelowige wat so besig is met sy eie lewe en sy fisiese versorging, ja en miskien ook sy geestelik lewe, sonder om enige gedagte te gee aan diegene wat rondom hom/haar is wat verlore gaan nie? Het jy ʼn bekommernis oor mense wat verlore gaan? Is jy iemand wat met smeking intree vir familie en vriende en kollegas by die werk. Miskien het ons soos Jona begin word.
As ek hierdie verhaal lees kan ek nie anders as om God se uitverkore genade te sien werk in die wêreld nie. God gebruik ʼn ongehoorsame en selfgesentreerde profeet om Homself aan ʼn klompie heidense matrose bekend te stel. Luister net na hierdie vers: “Toe het die manne die HERE gevrees met ‘n groot vrees en ‘n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen. Jona 1:16.” Is dit nie die God wat ons sien deur die hele Skrif nie!? Die God wat Josef stuur na Egipte om ʼn magtige volk te red nie. Wat Paulus stuur as ʼn gevange na Rome, omdat Hy mense wat gewerk het in die keiserlike huis wou red nie. Kyk maar na sy brief uit die gevangenis aan die Filippense waarin hy van hulle melding maak. Filippense 4:22 “Al die heiliges, en veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle.”
Professie
God beskik ʼn groot vis om vir Jona in te sluk en daar was Jona vir drie dae en drie nagte. In die Joodse taal word drie dae, maak nie saak of dit slegs ʼn uur van die dag was nie, uitgedruk as ʼn dag en ʼn nag. Dit is belangrik aangesien hierdie later deur Jesus aangehaal word as ʼn metafoor vir die tydperk wat hy in die graf sou wees. Baie gebruik hierdie metafoor om dan verkeerdelik aan te toon dat Jesus van die Donderdag tot die Sondag in die graf moes wees, en nie slegs van die Vrydag af soos wat die Bybel ons leer nie.
God gebruik Jona se ongehoorsaamheid om ʼn professie te wees van Sy seun se dood, wat ʼn getuienis sou wees teen die mense van Jesus se tyd. Mattheus 12:39-41 “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier!”
Elke volk en taal en nasie
In die Nuwe Testament sou God weereens mense van ander volke intrek in sy verlossingsplan en die keer op ʼn groter skaal as ooit te vore. In die Ou Testament sou Hy ook heidene deel maak van Sy volk, soos bv. Die Egiptenare wat saam met Israel uit Egipte getrek het, Naäman die melaatse man, ʼn weduwee wat Elia sou versorg, Rut, Ragab en vele ander. Tog sou dit wat in die Nuwe Testament plaasvind ʼn gebeurtenis wees soos nooit te vore, waar mense uit elke stam en taal en volk en nasie ingebring sou word. God sou dit oopbreek in die verhaal van Petrus se besoek aan Cornelius. Daar is ʼn wonderlike korrelasie tussen die verhaal van Petrus en die van Jona. Petrus was eerstens die seun van ʼn man met die naam Jona. Johannes 1:43 En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus. Cornelius sou manne stuur wat vir Petrus by ʼn plek by die see vind met die naam van Joppe. Ons vind Jona ook by die see by ʼn plek met die naam Jofa. Jofa in die Griekse vertaling van die Ou Testament(LXX) is Joppe, dus dieselfde plek. Petrus sou in teenstelling met Jona gehoorsaam wees en God sou Cornelius en sy hele huisgesin en die mense by hom red. Hoe groot en wonderlik is ons God nie. Die Woord getuig van Sy Grootheid.
Slot
In Jona vind ons ʼn onwillige profeet, maar ʼn God wat ten spyte van sy ongehoorsaamheid, bewerkstellig dit wat Hy vooraf bepaal het. Self Jona se ongehoorsaamheid word ʼn professie van wat God beplan, nl. Sy Seun se kruisdood. Jona is vir ons ʼn spieël waarin baie van ons onsself kan sien. Gemaklik met ons eie lewe, wil ons vir die Here lewe op ons terme. Solank mense ons toelaat om ons godsdiens te beoefen het ons eintlik vrede met almal wat verlore gaan. Dit is nie ons probleem nie! Die opdrag aan Jona, word in Matteus die opdrag aan elke gelowige, ja ook joune. Jy kan daarvan probeer wegvlug op verskeie maniere, maar indien jy ʼn gelowige is, sal dit jou altyd vind. Jy moet die mense rondom jou liefhê en aan hulle dieselfde genade betoon as wat God aan jou getoon het, deur met hulle bemoeienis te maak en die Evangelie van Jesus met hulle te deel. Sommige sal jou daarvoor dank en ander sal jou daarvoor haat, maar die belangrikste is dat jy in gehoorsaamheid aan God sal leef. Mattheus 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
