Inleiding
In die boek Miga het ons ʼn profeet leer ken wat aan die volk moes vertel dat God hulle gaan straf. Dat hulle sondig is en nie doen wat God van hulle vra nie. Hulle minag Hom en dink dat hulle Hom net moet paai sodat hulle nie gestraf sal word nie. Hulle ken Hom nie en eer Hom nie. Hierdie volk, net soos die mens van vandag, wat weet wat reg en verkeerd is, is deurtrek van sonde en wil net altyd die verkeerde doen. Dit kan jou dalk moedeloos laat voel en laat wonder waarom God nog enigsins bemoeienis met mense maak. Wie van ons ken nie die teleurstelling in mense nie! Ook ek en jy stel God telkens teleur, maar dit word duidelik in Miga 7 dat God diegene wat opreg wil lewe, straf ten goede. Dat Hy vergewe en hulle sal terugbring na die lig. Dit is ʼn boodskap van hoop en bemoediging vir elke gelowige. Net soos mense ons telkens teleurstel en ons God telkens teleurstel, stel Hy nooit teleur nie en is dit op Hom en Hom alleen wat ons ons vertroue moet plaas.
Vrugteloos
Hoe moes God teenoor hierdie volk gevoel het? Die profeet kyk na die mense van die land waarin hy woon en hy vergelyk hulle met ʼn land vol wingerde en vrugtebome. Dit is na die somer oes en die wingerde en vrugtebome is leeg. Alles is afgeoes en terwyl die profeet in sy geestesoë na die lande kyk begeer hy om vrugte te eet. Tussen al die mense van hierdie land is daar nie een persoon wat opreg is en lewe in ooreenstemming met God se opdragte nie. Jesus, net soos die profeet, het ook by ʼn vyeboom gekom om vrugte daaraan te soek. Daar is blare aan die vyeboom wat dus die indruk skep dat daar vye aan die boom behoort te wees, maar Jesus vind geen vrug aan die boom nie. Hierdie vyeboom was ʼn metafoor vir die mense van sy tyd wat geen vrug gedra het en gereed was vir sy koms nie. Watter tragedie dat Israel nooit die vrug gedra het waartoe God hulle opgeroep het nie? Hierdie volk het geweet hoe om kwaad te doen en het dit met hulle hele hart gedoen. Die leiers van die volk en die regters is manne wat omkoop geld vra. Daar is geen reg en geregtigheid in die land nie. Hy vergelyk die beste manne van die land met doringstruike en doringdrade. Daar is dus geen kans dat enige van hulle ooit vrug sal kan dra nie.
Valse vertroue
Die profeet roep elke hoorder, en spesifiek die gelowiges wat hierdie gedeeltes sal lees, op om nooit hulle vertroue in mense te plaas nie. Ons moet nooit van die veronderstelling uitgaan dat mense van enige tydperk nie goddeloos was of is nie. So baie keer kry jy die idee dat gelowiges dink dat ongelowiges darem nie so sleg is nie en dat daar so iets is soos goeie mense. Die psalmdigter beklemtoon egter dat die mens deurtrek is van die slegte. Psalm 5:10 Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ‘n oop graf; hulle maak hul tong glad. Die Heilige Gees maak dit duidelik wanneer Paulus hierdie vers aanhaal om te illustreer dat elke individu sonder Christus in hierdie toestand verkeer. Romeine 3:11-18 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Daarom kan en moet die gelowige nooit sy vertroue in mense plaas nie. Die Woord waarsku ons ook om nooit met ʼn ongelowige te trou of in ʼn besigheid te gaan nie. 2Korintiers 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
Verwerping
Die profeet gaan verder om te vertel dat die gelowige selfs in hul eie huisgesin verwerping sal ervaar. Hierdie vers word ook deur Jesus aangehaal as Hy die gelowiges waarsku dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar eerder verdeeldheid. Lukas 12:51-53 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder. Jesus het dit self ook in sy eie familie ervaar. Hulle het gedink hy was mal en het nie in hom geglo nie. Na sy opstanding sou hulle lewens egter verander word. Sy een broer, Jakobus, het die leier van die kerk in Jerusalem geword en die ander een, Judas, het ʼn boek in die Nuwe Testament geskryf. Die waarskuwing is duidelik, dat selfs mense wat naby jou is teen jou sal opstaan as jy tot bekering kom en ʼn heilige lewe begin lei. Hulle sal jou haat omdat hulle dade sleg is en jou lewe hulle sal aankla. Dit was dan ook die rede waarom die mense van Jesus se tyd Hom gehaat het. Johannes 7:7 Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. Die wêreld sal dus elke kind van God haat aangesien ons nie soos die wêreld is nie en ook nie aan hierdie wêreld behoort nie. Johannes 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
Oorwinnaars
Die profeet, net so elke gelowige, se vertroue is in die Here. Op Hom alleen is ons oë gevestig. Die Psalmdigter stel dit so mooi as hy elke gelowige uitbeeld wat in afwagting op God lewe. Psalm 123:2 Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres—so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is. Die teenstaanders van Israel word as ʼn vrou uitgebeeld wat met Israel (Die ware gelowiges van die volk), ook as ʼn vrou, die spot dryf. Die profeet waarsku dat diegene wat die gelowiges spot op ʼn dag in skaamte sal staan. Maak nie saak waardeur die gelowige gaan nie, hulle sal nooit vernietig word nie en hulle oorwinning is verseker. 1Johannes 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Daar sal ʼn dag aanbreek waarop Jerusalem herstel sal word. Die dag wanneer al die volke na Jerusalem sal stroom. Hierdie profesie is vervul met die koms van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees waardeur ʼn nuwe volk opgebou is uit elke stam en taal en nasie. Die gelowige moet nooit vergeet dat hulle meer as oorwinnaars is nie en dat niks hulle sal kan skei van die liefde wat daar in Jesus Christus is nie. Maak nie saak hoe moeilik omstandighede is of deur watter stryd ons sal moet gaan nie, ons weet verseker dat God ons die krag sal gee. Die gelowige is ook verseker dat daar ʼn dag van oordeel sal kom. ʼn Dag waarop die wat nou so vol bravade rondloop, in vrees en bewing voor die lewende God sal neerval. Die dag wanneer hulle sal wil wegvlug van die aangesig van Hom wat op die wolke kom om hulle te oordeel. Lukas 23:30 Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons! In teenstelling met die wêreld sal die gelowige met opgewondenheid Hom te gemoed gaan in die wolke.
Slot – keer terug
Daarom kom daar ʼn waarskuwing tot elke persoon om in die dag van genade hulle toevlug tot God te neem. God sal elke persoon wat na Hom toe kom nie wegdryf nie, maar hulle sondes vergewe. Die profeet kondig vir sy hoorders aan dat hierdie God ʼn God is wat goedertieren is. Hy is nie ʼn God wat vir ewig toornig bly nie. As jy jou sonde bely sal Hy jou dit vergewe en Hy sal jou reinig van al jou ongeregtigheid. Jesaja 1:18 Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. Net soos die volk opgeroep word om hulle tot God te bekeer, word die oproep tot elke persoon in die wêreld gemaak. Hierdie oproep kom met die versekering dat Hy hulle sal vergewe. Hoe wonderlik om te dink dat al ons oortredings en sondes in die diepste see gegooi sal word? Hoe wonderlik dat Hy ons nooit weer aan ons sondes sal herinner nie? Hy is die Vader van die verlore seun wat elke dag staan en wag en kyk of sy seun nie vandag sal terugkeer huis toe nie. Hy is die Vader wat hom met opgewondenheid tegemoet sal hardloop. Lukas 15:20 En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. Ken jy hierdie Vader? As jy na Hom toe vlug sal jy besef dat jou sonde aan die kruis deur Jesus Christus gedra is en dat jy ʼn nuwe kleed sal ontvang in ruil vir jou kleed van sonde. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
