Inleiding
Het jy al ooit gedink dat jy eerder met ʼn klip kan praat as met mense, aangesien niemand na jou luister nie? Miga, net soos talle profete voor hom, het tot die volk gespreek en ʼn oproep tot die volk gemaak om te verander, en tog het die boodskap op dowe ore geval. God roep Miga op om die boodskap te verkondig teenoor die berge en die heuwels. God het ʼn regsgeding begin met die volk en die berge word as getuies geroep. Hoe skrikwekkend dat die volk nie na God wou luister nie. Net soos deur alle eeue het mense geweet dat daar ʼn God is, en dat Hy in beheer van alles is, en tog wil hulle nie op sy Woorde ag slaan nie.
God is dood
God se vraag aan die volk is wat Hy aan hulle gedoen het dat hulle op hierdie nonchalante manier met Hom omgaan. Hulle leef of Hy nie daar is nie. Hulle maak planne asof Hy nie hoor nie. Elkeen doen wat hom/haar behaag. Hulle leef asof God dood is. Verder vra God of Hy hulle vermoei het. “Put ek julle uit?” Ek wonder baie wat God van ons dink as ons ons krummels, ons weggooi nikswerd goed, vir Hom bring. Soos wanneer ons Saterdagaande te laat gaan slaap en dan vas aan die slaap in die erediens kom sit. Alles wat hierdie volk vir God gebring het was hulle afskeep goed: afskeep werk, afskeep tyd, afskeep offers. Alles wat hulle aan Hom moes gee, was ʼn groot opoffering. God was dit nie vir hulle werd nie. God roep hulle op om te dink aan alles wat Hy vir hulle gedoen het. Hy noem voorbeelde soos die uittog uit Egipteland en die leiers wat Hy voor hulle uitgestuur het. Het Hy nie baie hulp aan hulle verskaf nie? Was Hy nie elke oomblik by Hulle teenwoordig in die wolk en die vuur nie? Het Hy nie aan hulle kos en water voorsien nie? Wat van Balak wat vir Bileam laat roep het om die volk te vervloek, het God dit toegelaat? Kan iemand se geheue so kort wees? Dan noem Hy Sittim en Gilgal as bewyse dat hierdie volk van die vroegste tye al ongehoorsaam was. Hulle het oral in die woestyn teen God gestry, en Sy gebooie verontagsaam. Rigters is een van die Bybel boeke wat hierdie volk se halstarrigheid beklemtoon. Een van die stamme van Israel sou in die tyd van die Rigters ophou om God te dien. Die stam Dan het in Rigters hoofstuk 18 vir hulle ʼn afgod gekry en selfs ʼn priester wat die offerandes en die rituele vir hierdie afgod beoefen het. Luister na wat van hierdie stam gesê word aan die einde van hoofstuk 18. Rigters 18:30-31 En die kinders van Dan het vir hulle die gesnede beeld opgerig; en Jónatan, die seun van Gersom, die seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van die Daniete tot op die dag van die ontvolking van die land. En hulle het vir hulle die gesnede beeld van Miga opgerig wat hy gemaak het, al die dae dat die huis van God in Silo was. Hierdie aanbidding het aangehou tot en met die vernietiging van Israel deur die Assiriërs ongeveer 400 jaar later. Wanneer God se toorn teenoor hulle ontvlam het, het baie die gedagte dag God onregverdig is. Regtig? Kon, en moet ons nie eerder vra hoekom God so geduldig met hulle was nie? Sou ek en jy met ʼn volk soos hierdie geduld gehad het en aangehou het om vir hulle te sorg?
God is met min tevrede
Hierdie ongehoorsame volk het altyd gedink dat hulle alles sou kon regmaak as hulle net aan die Here ʼn klomp offers bring. Daar was tye dat hulle die offers gebring het en tog besig was met afgode en dan was daar tye wat hulle offers gebring het, maar dit was van die slegste diere in die kraal. Dit was God se boodskap ook deur Maleagi. Maleagi 1:13 En julle sê: Kyk, wat ‘n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere—so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE. In teenstelling hiermee het hulle ook soms goeie en groot offers aan God gebring, maar met die verkeerde gesindheid en terwyl hulle voortgegaan het met hulle sonde. God vra nog steeds of hulle werklik dink dat Hy hierin behae het, aangesien hulle lewens nie in ooreenstemming met Sy Woord is nie. Hulle weet hulle staan skuldig voor God a.g.v. hulle sonde en hulle wou iets gee, sodat hulle vry kan kom van hulle sonde en weer kon aangaan met hulle lewe. Daar is nie werklik berou nie. Nee, dit is eerder soos Judas wat besef hy is uitgevang en nou voel hy sleg en wil net vry kom van hierdie skuld gevoel. Net so hardloop baie mense na die Hemeltroon met hul sonde en hoop om so spoedig moontlik daar te kan klaar kry, sodat hulle net weer met hul sonde kan aangaan. Hoe baie keer hoor ons nie van mense wat vra of die Here hulle sal vergewe as hulle skei nie. Hulle weet dus dat dit verkeerd is, maar wil en gaan dit in elk geval doen. So die vergifnis vra is net so half om hul skuldgevoel te paai. Dit is nie opregte berou nie. Jy kan offers bring tot jy blou in die gesig is, dit sal ʼn sonde bly. Jy kan nie God se goedkeuring vir jou sonde “koop” nie. Wat die Bybel vra, is dat as jy jou sonde bely, jy dan gaan en dit wat verkeerd gedoen is moet regmaak. Dit is ware berou. Kyk wat sê Jesus moet jy doen as jy besef dat jou broer iets teen jou het. Mattheus 5:23-24 As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Verder is daar ook die opdrag dat as jy gevang word dat jy iets gesteel het, jy dit moet terugbetaal en dat jy nie net dit wat jy gesteel het moet terug gee nie, maar meer as dit. Eksodus 22:1 As iemand ‘n bees of ‘n stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ‘n bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ‘n stuk kleinvee. Jou uitkyk rakende die sonde wat jy gepleeg het moet nooit wees: “Hoe vinnig kan ek hier uitkom nie”, maar, nou nog meer omdat ek verstaan wat die prys vir my sonde aan die kruis was, droefheid in my lewe veroorsaak en droefheid wat in ooreenstemming is met wat God behaag. Hier word die volk dan ook opgeroep om te doen wat reg is en alles wat God van hulle te vra in liefde te bedink en daarin te wandel. Is dit nie wat Hy van elke kind van Hom verlang nie? Behoort daar nie ʼn opgewondenheid in ons te wees omdat ons met Hom kan wandel en dankbaarheid vir Sy oorvloed in my lewe nie?
Alles nutteloos sonder God
God sluit die laaste deel van Miga af om die mense op te roep om daaroor na te dink of dit nie vir hulle tot voordeel sal strek as hulle aan Hom gehoorsaam sal wees nie. Die volk, van ryk tot arm, lewe in stryd met God se Woord. Hulle bedrieg mekaar en die hele stad is vol geweld. Sal God dit maar net toelaat dat hulle in hulle sonde voortploeter? God kondig Sy straf aan. Hy sal alles vernietig. Hulle sal niks kan red nie en niks wat hulle eet sal hulle voed nie. Al werk hulle hard sal alles wat hulle oes tot niet gaan en niks daarvan sal by die einde van die verwerkingsproses oorbly nie. Hoe tragies dat alles wat hulle bymekaar sou maak in die niet sou verdwyn. Die volk word vergelyk met die mees goddelose konings in Israel se geskiedenis, naamlik Agab en Omri. Omri was Agab se vader gewees. Kyk wat word in die Woord van hierdie twee konings geskryf: 1Konings 16:25 En Omri het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en meer kwaad gedoen as al sy voorgangers. 1Konings 16:30 En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers. Ons hou altyd daarvan om onsself te vergelyk met die vorige geslagte of met ander mense. God bring Miga voor die mense van sy tyd te staan met die woorde dat hierdie volk die dade van hierdie goddelose konings doen. Hierdie mense van Miga se tyd sou deur God gestraf word en ʼn bespotting wees vir mense wat hoor en sien wat met hulle gebeur het.
Slot
Dalk dink jy vandag dat God dood is. Jy sal dit nie hardop aan jouself erken nie, maar jou dade wys dit. God moet tevrede wees met al jou afskeep tydjies en geldjies, asof Hy dit nodig het en jy Hom ‘n groot guns bewys! Hy is soos ʼn hondjie wie se koppie net so nou en dan gevryf moet word en dan waai sy stertjie weer. Hoe tragies dat hierdie geliefde volk van God nooit aan God enige liefde bewys het nie. Hulle was selfvoldaan en het nooit in dankbaarheid teenoor God geleef vir alles wat hulle uit Sy hand ontvang het nie. Sondes was ligtelik bejeën en geen erns is met God se Woord gemaak nie. Elke persoon het net gekyk met hoe min hy/sy kon weg kom sonder om God te kwaad te maak of te veel te ontstel. Ek wil nie alles aan Hom toe wy nie, maar net genoeg dat ek darem nie gestraf word nie. God kom in Miga 6 en verklaar: “Ek is God! Ek is in beheer, Ek sien en hoor en is nie tevrede met julle halfgebakte afskeep offers nie.” Ook vir ons kom die oproep. Ons skuld God alles. Alles wat ons is en het en nog sal hê kom van Hom. Ons sal nie een sekonde kan leef sonder Hom nie. Aan Hom kom toe al die lof en eer en heerlikheid, tot in ewigheid. Bring jou lewe Hom eer!
