Inleiding
Die profesie van Nahum gebruik beeldryke taal om die verowering van Nineve aan te kondig. Met hierdie beelde word duidelik gewys dat God magtiger as enige mag is. Maak nie saak hoe sterk die mag lyk of dalk self is nie, God is sterker. Ook vandag het ons moondhede, regerings en magte wat lyk asof hulle die wêreld beheer. Soveel dinge gebeur agter die “skerms” en ek en jy kan maar net toekyk hoe dinge op die wêreld toneel afspeel. Een feit wat egter vas bly staan, en dit is duidelik uit die profesie van Nahum, is dat God in beheer is. Met hierdie profesie gebruik die profeet kragtige beelde om God se krag en mag oor selfs die magtige Nineve en Assiriese ryk te toon.
Nineve word verwoes
Die profeet roep die mense van Nineve op om op te let dat die een wat hulle sal verwoes, Babilon, op pad is. Babilon word ook deur Jeremia genoem “hamer van die hele wêreld.” Jeremia 50:23 “Hoe is die hamer van die hele aarde nie stukkend gekap en verpletter nie!
Hoe het Babel nie ‘n skrikbeeld onder die nasies geword nie!” Babilon sou deur God gebring word, maar self ook deur God vernietig word. God roep sarkasties vir Nineve op om haarself te verdedig. Dit is asof God aan Nineve sê: “Kom nou, jy is mos so sterk en wonderlik, kyk wat jy kan doen as ek Babilon na jou toe stuur.” Hoe verwaand is die mens nie? Hoe maklik dink ons ons het die toekoms in ons hande en kom wat wil ons sal dit kan weerstaan. Sê die Spreuke digter nie met reg in Spreuke 16:18 “Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar ‘n hooghartige gees” nie? Ons vergeet maklik dat die Here in een oomblik alles tot ʼn val kan bring. Ons is totaal van God afhanklik. Hulle word vernietig, omdat hulle Jakob en Israel geplunder het en God nou van hulle ook sal rekenskap eis, aangesien hulle in hulle aanval op Israel vergeet het om aan God, wat hulle “gestuur” het, eer te bewys. Jesaja 10:6-7 “Teen ‘n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle ‘n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. Maar hy het dit nie so bedink nie, sy hart het dit nie so beplan nie; want sy voorneme was om uit te delg, om tallose nasies uit te roei. (Lees gerus Jesaja 10:5-34)
God se weermag
Nahum vertel ons hoe die voorkoms van hierdie soldate lyk. Hulle uitrusting is net die beste. Hierdie manne is hand en tand gewapen en is gereed vir hierdie oorlog. Hulle het die beste wapenrusting, hulle is toegerus met strydwaens wat lyk soos vlammende metaal. Dit is nie oorlogswapens wat uitmekaar val nie, maar wapens wat blink gevryf is, nuut gemaak is en lyk soos weerligstrale as hulle met spoed beweeg. Maak nie saak hoe die koning se soldate skarrel nie, hulle val oor hulle eie voete en die stad word binnegeval as die stormram gebruik word teen die groot stadsdeur. Hulle sal niks kan doen om dit te stuit nie, want die geveg het begin op die dag wat God bepaal het. In alles wat hulle probeer om die aankomende mag te stuit is hulle te laat. Hierdie groot stad was aan die wal van die Tigris gebou en die rivier het beskerming teen vyande gebied. Tog sê die profeet dat hierdie rivier vir hulle geen beskerming sal bied nie. Dit is asof God die profeet gebruik om elke ding waarop hulle vertroue gerus het, een vir een af te breek.
Vertroue
Net so is dit die gelowige se gebed dat die Heilige Gees in ons lewens alles waarop ons ons hoop vestig sal kom vernietig totdat ons net op God ons vertroue sal plaas. Dit is wat God met Gideon gedoen het, nadat God hom die leier van Manasse gemaak het. God roep hom op om die Midianiete te verslaan. Gideon is vreesbevange en vra dat die Here twee tekens vir hom moes gee. Dan vra God hierdie man, wat geen agtergrond as leier en nog minder as generaal gehad het nie, om sy manne minder te maak. Gideon het in die begin twee en dertigduisend man gehad. Jy mag dink dat dit ʼn redelike weermag is totdat jy verneem hoeveel aan die vyand se kant was. Rigters 7:12 Die Midianiete, die Amalekiete en al die mense uit die ooste het in die vlakte gelê soos groot swerms treksprinkane, en hulle kamele was ontelbaar, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. In God se oë was daar egter te veel manne by Gideon. Eers verminder Hy dit na tienduisend man en dan na net driehonderd man. God neem elke sweempie vertroue wat Gideon op die vleeslike kon hê weg, totdat net God die eer kan kry. Terwyl Gideon en die driehonderd man die vyand wat vlug agtervolg, is daar ʼn stad wat hulle nie wou kos gee nie en hulle verkleineer deur hulle te spot oor hul grootte. Nie net vernietig God die vyande van Gideon en sy manne nie, maar ook die stede wat met hulle die spot gedryf het. Net God alleen mag die eer ontvang in ons lewens. Roem jy op jou verstand, jou harde werk of op dit wat jy bymekaar gemaak het? Luister hoe Jeremia die volk aanspreek oor dit waarop hulle nie moet roem nie. Jeremia 9:23
“So sê die Here: “’n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, ‘n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en ‘n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here.”
God speel nie
Nineve het in goddeloosheid voortgegaan om God te minag en uit te tart. Hulle was magsbehep en het ander verdruk en geplunder. Nou moet Nineve besef dat God teen hulle is. As God teen jou is, maak dit nie saak wie vir jou is of hoe magtig of ryk jy is nie. Jy is verdoem. Die profeet verduidelik die totale vernietiging deur te beskryf hoe selfs die vroue wat geen deel aan die oorlog het nie sal reageer. Al Nineve se skatte en kosbaarhede sal vernietig en geroof word, sodat daar van hierdie “onvernietigbare” plek, wat soveel beskerm geniet het, niks meer sal oorbly nie. Die selfvoldane Assiriërs se gesigte sal verander na mense wat in skok is en geen meer kleur in hulle aangesigte het nie. God vergelyk hulle ook met leeus wat dik gevreet was van die opbrengste van ander lande. Nineve word vergelyk met leeus wat aan die toppunt van die voedselketting gesien is as die magtigste roofdier, vernietig sal word asof hulle sprinkane is. Totale vernietiging, daar sal van hulle niks oorbly nie. God maak nie leë dreigemente nie.
Morele verval
In hoofstuk drie word voortgebou op God se beskrywing van hoe Hy Nineve sal vernietig. Hierdie land word deur God beskrywe as ʼn goddelose land, ʼn land vol heksery en prostitusie. Totale morele verval het in hierdie land plaasgevind. Deur die geskiedenis is dit interessant om waar te neem hoe verskeie moondhede vernietig is a.g.v. ʼn totale morele verval. As ons vandag na die Westerse samelewing kyk kan die gelowige nie anders as om te besef dat met die morele verval van die Weste, God se straf van vernietiging baie naby is nie. Die Westerse morele verval is so intens dat ons moet verklaar dat die mense van Sodom en Gomorra hulle koppe in skaamte sou laat sak het indien hulle na ons kon gekyk het. ʼn Land wat inmekaar gaan stort word deur God uitgebeeld as ʼn land waarvan die leiers en amptenare met sprinkane vergelyk word. Hulle verorber alles wat voorkom en dan, met die hitte van die son, verdwyn hulle. Net so word die herders van Nineve, wat die raadgewers van die koning is, beskrywe as mense wat heerlik slaap en die vooraanstaandes rus. Geen werk word deur hulle verrig nie en hulle steur hulle nie aan Jan Alleman wat verstrooi is, sonder enige hulp van die leiers af nie. ʼn Land waar totale verval naby is, is ‘n land waar die rykes en regeringsamptenare hulself verryk ten koste van ander, waar reg en geregtigheid nie meer geskied nie en goed sleg en sleg goed genoem word. Dit is ‘n land waar leiers dronk word van hul eie mag en die eerlike werk van mense nie meer raakgesien word nie. Dit is ‘n land waar God geïgnoreer of weggeredeneer word, ja, selfs bespotlik gemaak word. Dit is ‘n land waar God se morele standaarde op elke vlak moontlik ondermyn of gesensor word. Klink dit bekend?
Magtige bondgenote
Net soos Nineve van ouds luister geen volk na God se waarskuwings nie. Nahum wys die mense van Nineve na die Kussiete(Etiopiërs) en die Egiptenare. Die stad No-Amon is Alexandrië in Egipte. Hierdie magtige stad was ook soos Nineve beskerm deur water en het verder ondersteuning ontvang van twee magte nasies, die nasies van Put en die Libiërs. Ons kan dus in vandag se terme sê dat hulle magtige bondgenote in hierdie twee lande gehad het. Hierdie lande is egter almal deur God vernietig. Die vraag is dus waarom die mense van Nineve nie ag geslaan het op God se waarskuwings nie. Waarom het hulle God nie gevrees toe hulle hierdie lande tot ʼn val sien kom het nie? Elke keer, nadat God vertel hoe hulle vernietig sal word, roep Hy hulle sarkasties op om hulleself te probeer beskerm. Keer op keer, met behulp van metafore, toon God dan weer dat geen werk van hulle hande sal standhou nie. Niemand sal hulle kan help nie en almal sal bly wees om te sien hoe hulle vernietig word. Hierdie is God se straf, omdat hulle so baie ander volke laat ly het a.g.v. hulle wreedheid.
Slot
Selfs die rykste en matigste entiteit, of dit nou ‘n individu of regering of orde is, kan teen God stand hou nie. Hy is die heerser oor hemel en aarde en Hy is ‘n jaloerse God. Wanneer die mens homself hoër ag as God, is die val onafwendbaar. Dalk dink jy dat jy God die hoogste eer in jou lewe gee, maar jy is nog steeds opsoek na wêreldse eer, dan bluf jy jouself en sal die waarheid na vore kom in die vrug wat jy dra. Jou lewe sal gekenmerk word deur kompromieë en leuens om jouself teen die sekulêre opinies van mense te beskerm. Nie jou posisie, geld of vriendekring sal jou kan beskerm op die dag wanneer God se genadetyd verby is, indien jy nie nou jou knie voor Hom buig nie. Hy waarsku vir Nineve en Hy waarsku ook vir elkeen van ons.
