Nahum 1

Inleiding
Die boek Nahum is ‘n profesie teen Nineve, deur die profeet Nahum, ʼn Elkosiet. Jerome, een van die kerkvaders, vertel ons dat ʼn Elkosiet van die dorp Elko kom wat Galilea was. Ongeveer 100 jaar voor hierdie profesie het Jona teen die stad Nineve geprofeteer en toe het hulle hulle bekeer. Hulle het egter teruggekeer na hul sondige praktyke en nou was hulle in ʼn slegter toestand as ooit tevore. Hulle is ʼn stad waarop die gesegde van Petrus van toepassing is. 2Petrus 2:22 Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing: ‘n Hond keer terug na sy eie braaksel, En ‘n Sog was haarself deur te rol in die modder. Nahum is die aankondiging van God se straf, omdat Sy genade goedkoop geag is.

Hartsverandering
Nineve het geregtigheid geken, maar tog hulle rûe daarop gekeer. ʼn Volk wat hulle bekeer het, omdat hulle bang was vir die straf van die Here, maar sonder enige hartsverandering. Ons sien dit baie by mense wat besluit om hulle lewens te verander, omdat hulle ʼn vrees het vir die hel en die ewige straf en tog ontwikkel daar nie die begeerte om in gehoorsaamheid en uit liefde vir Christus te leef nie. Hierdie keer sou God nie ʼn profeet stuur om hulle te waarsku nie, maar wel ʼn profeet wat hulle oordeel sou aankondig. Hoe vreesaanjaend sal dit nie op daardie dag, as die genade tyd verby is, wees nie. Die dag wanneer God se wraak aanbreek op aarde. God was genadig teenoor hulle maar hulle het sy genade in die wind geslaan. Jeremia 18:10 Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen.

God se karakter geopenbaar
Nahum begin om God aan die mense van Nineve te openbaar. Net God kan aan ons bekend maak wie Hy is. As Hy Homself aan Moses openbaar noem Hy Homself: …Die Here, die Here,
‘n barmhartige en genadige God geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid. Eksodus 34:6. Hy openbaar Homself in hierdie gedeelte as ʼn jaloerse God. Dit word in die Tora(eerste vyf boeke) ses keer herhaal en een van die gedeeltes is ook in Eksodus 34. Hy duld dit nie dat iemand ʼn ander god as Hy aanbid nie. Hy is jaloers aangaande Sy eie glorie. Daar is niks of niemand wat met Hom vergelyk kan word nie en daarom, as iemand Hom minag en iemand of iets bo Hom plaas, kan Hy met reg kwaad wees omdat Sy glorie geskend word. Sy jaloesie beskerm dus sy heerlikheid en daarom is dit ʼn legitieme jaloesie, want sy heerlikheid en eer is dit werd. God se jaloesie gaan altyd saam met sy wraak en woede. Drie keer herhaal die Here dat Hy ʼn wreker is. Drie keer word daar in die Hemel aan Jesaja openbaar dat God Heilig is. Jesaja 6:3 Hulle het na mekaar geroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid. Daarom, al was God vir ʼn tyd geduldig met die mense van Nineve moes hulle dit nooit gesien het as God se ongeërgdheid met hul sonde nie. God het nie ‘n blinde oog vir hul sonde gedraai nie. O nee, Hy sal dit straf. Geen sonde sal ongestraf bly nie, want God is in Sy wese regverdig. Wat wel na vore kom is hoe lankmoedig God met die mens is. Male sonder tal, as ek deur die Ou Testament werk, en spesifiek met God se handeling met die Jode in die woestyn, is ek verstom oor God se geduld met ʼn wederstrewige volk wat aanhou sondig. Al is God lankmoedig moet dit jou nooit die idee gee dat jy met sonde kan speel nie. Nahum maak dit baie duidelik. God se heilige woede bring alles in beweging en dit gehoorsaam Hom. As die mens op stof trap kom dit in beweging, maar God se “voete” bring die wolke in beweging. Ons kan dit vergelyk met wat die psalmdigter aangaande God se woede spreek. Psalm 18:8-10 Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder. Dit het geskud want sy toorn het ontbrand: Rook het uit sy neus opgestyg, ‘n verterende vuur uit sy mond; gloeiende kole het daaruit opgevlam. Hy het die hemel afgebuig en neergedaal; diepe duisternis was onder sy voete.

God ons toevlug
Teenoor hierdie profesie wil God ook aan Sy volk en Sy Kerk ʼn boodskap gee. Hy is die God by wie ons toevlug kan vind in die dae van benoudheid. Hoe wonderlik om in ʼn verhouding met die lewende God te staan. Die Een wat storms beveel en aardbewings in beweging bring, is ook die God by wie ons kan skuil, aangesien Hy in beheer van alles is. Dieselfde Psalm 18 vertel die Psalmdigter dat hierdie God van woede en toorn ook die God is wat sy rotsvesting is en die God is by wie hy skuil. Psalm 18:3 “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord.” Verder ken hy ook die wat by Hom skuil. Hierdie kennis in die Ou en Nuwe Testament het nie net te make met ʼn kognitiewe kennis nie, maar met ʼn intieme liefdesverhouding. Hy ken nie net jou naam nie, maar ken jou soos wat die Skepper sy skepping ken, elke detail van jou is aan Hom bekend. Mattheus 10:30 En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel.

Die Assiriërs, met die hoofstad Nineve, het teen God planne gemaak. Die planne wat hulle gemaak het was teen Jerusalem, maar God maak dit duidelik dat enige planne teen Sy uitverkorenes, planne teen Hom is. Ons sien dit duidelik in God se openbaring aan Saulus(later Paulus)op die pad na Damaskus, dat hy nie besig was om mense te vervolg nie, maar wel vir Christus. Handelinge 9:4 “…Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” God sal die Assiriërs verwoes en die juk wat hulle op Juda gehad het verbreek. Hulle sal nou gepynig word terwyl God die pyniging van die Judeërs tot ʼn einde sal bring. Hierdie magtige volk, waarteen geen volk weerstand kon bied nie, sou God geheel en al uit wis. Nahum1:14 Maar die Here beslis oor jou, koning: Jou naam sal nie meer voortleef nie…. Hulle sou nooit weer ʼn magtige nasie word nie. So het God deur die geskiedenis, en sal Hy in die toekoms, magtige nasies tot ʼn einde bring, diegene wat in goddeloosheid sy waarskuwings in die wind slaan.

Blye boodskap

Die boodskap aan die Jode, net soos aan elke gelowige vandag, is dat hierdie blye tyding uit gedra moet word. Nahum 1:15 “Kyk! Op die berge is die voete van die een wat ‘n goeie boodskap bring, wat ‘n vredesboodskap laat hoor…” In daardie tyd was dit die gewoonte dat boodskappers na ʼn oorwinning vooruit gehardloop het om aan die land wat oorwin het die boodskap te bring dat die vyande verslaan is en dat daar nou vrede is. Hierdie is die boodskap vir die Judeërs: God het die oorwinning behaal oor hulle vyande. Hierdie gedeelte word ook deur Paulus aangehaal as hy die gelowiges oproep om God se vredesboodskap aan die wêreld te gaan verkondig. God het die oorwinning, in Christus, oor al ons vyande behaal. Al sien ons dalk nie nou al op aarde dit nie, weet ons dat dit al klaar gedoen is in die geestelike ryk en dat dit ook in die fisiese ryk geopenbaar sal word. Hebreërs 2:8-9 “U het alles onder sy voete  gestel. Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir ‘n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar.”

Slot

Gaan uit en waarsku mense om tot inkeer te kom en nie te speel met die Lewende God wat wraak sal uitoefen nie. Moet nooit self wraak neem nie, maar laat alles aan die Here oor wat wraak sal uitoefen op Sy bepaalde tyd. Romeine 12:19 “Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: Aan My kom die wraak toe;

Ek sal vergeld, sê die Here.” Daar is ook ʼn vredesboodskap en ʼn boodskap van vreugde aan elkeen wat hulle toevlug in Christus gevind het. Die oorwinning is behaal. Romeine 8:37-39 “Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”