Habakuk 3

Inleiding

Die mense vir wie hy profeteer se ballingskap is voor die deur. God se straf is onafwendbaar en seker. Habakuk het dit aangekondig en die mense gewaarsku. Die Woord van die Here het egter uitgegaan en verkondig dat diegene wat gehoorsaam aan Hom is, sal lewe. Hulle sal wel weggevoer word in ballingskap, maar hulle sal lewe. Hoe moet hulle nou in hierdie moeilike omstandighede staande bly? Wat is dit wat hulle die nodigste gaan hê in hierdie tyd van swaarkry. Wat sou jy dink is die belangrikste oorlewings vaardigheid wat hulle moet bemeester? Waaroor sou jy met hulle praat? Miskien sal jy wil praat oor waar hulle hulle geld moet bêre of hoe hulle hulself die beste sou kon beskerm. Habakuk wys met sy voorbeeld aan die volk dat wat God wil hê, manne en vroue is wat in geloof na Hom toe nader in gebed. Hy verklaar sy vrees, maar ook sy vertroue in die God wat heerskappy voer oor alle lewe. God alleen is die rots by wie ons skuiling vind. Psalm 18:3 “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord.”

Vrees God

Ware profete is altyd bekend as manne van gebed. Sonder om daagliks in gebed tot God te nader is daar geen manier waarop ons sal kan staande bly nie. Gebed begin altyd met die erkenning dat God in beheer is van alles en die skepper van alles is. Habakuk begin om te vertel dat hy gevrees het hoe meer hy van God gehoor het. Vrees is die belangrikste plek vir enige persoon om te begin in sy verhouding met God. Die verhaal van die dissipels wat saam met Jesus op ʼn boot is in die storm illustreer dit so goed. Hulle is vreesbevange vir die storm terwyl Jesus vas aan die slaap is. In angs maak hulle Hom wakker en vra of Hy nie omgee dat hulle vergaan nie. Hy staan op en maak die storm stil en onmiddellik bedaar die wind en die see kom tot bedaring. Dan gebeur die volgende “Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” Markus 4:41. Die Grieks sê hulle is met ʼn “groot vrees” vervul. Wat gebeur as jy groter vrees het vir die Een wat saam met jou op die boot is as vir enige iets buite kant die boot? Daarom is van die Ou Testamentiese gelowiges gepraat as individue wat God vrees. Genesis 42:18 En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God! Daarom stel die Psalmdigter dit duidelik dat die vrees van die Here die beginsel van wysheid is. Psalm 111:10 Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid. Die wysheid literatuur beaam hierdie gedagte as die Heilige Gees dit ook duidelik stel in spreuke. Spreuke 9:10 Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand. Sonder hierdie wysheid sal jy die verkeerde dinge vrees.

Wie is jou God?

Ontsag en vrees is woorde wat dikwels as sinonieme gebruik word, maar waar ontsag iets is wat jy vir iemand kan hê op ‘n onpersoonlike vlak is vrees altyd persoonlik. Ek het ontsag vir God oor Sy almag, maar ek vrees Hom omdat hierdie almag van my rekenskap gaan eis in gevolge my lewe tot Sy eer. God se ontsteltenis aangaande sy volk was juis omdat hulle vreesbevange was vir die gebulder van sy stem en die vuur op die berg, m.a.w sy almag,  maar dat hulle geen vrees gehad het om in gehoorsaamheid, heilig voor Hom te leef nie. Vrees jy God se Woord? Vrees jy dit meer as enige iets in hierdie wêreld? Dit is ware wysheid en daarom begin jou gebedslewe om jouself te herinner met Wie jy te make het as jy in gebed stilraak. Hoe groot is hierdie God met wie jy in gesprek tree? Meeste gelowiges kan nie eers hierdie vraag beantwoord nie, wat nog te sê van die ongelowiges. Lees maar die Psalms en jy word vinnig onder die indruk gebring dat die God van hierdie skrywers ʼn groot en almagtige God is, ʼn God wat spreek en alles val in plek soos Hy dit beveel. Habakuk verwys na God as die een voor wie die pessiekte uitloop en agter wie die plae in sy spore volg. Hierdie is ʼn verwysing na dit wat God in Egipte gedoen het om aan die Egiptenare Sy krag te openbaar. God openbaar Homself aan Sy volk as die Een wat selfs in beheer is van elke siekte en elke genesing. Deuteronomium 32:39 Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie.

Ons God laat die aarde bewe en bepaal die wentel bane van die sterre. Hoe meer ons ingetrek word in hierdie gebed, hoe kleiner word die mens. Niks is onmoontlik vir ons God nie. Hy is die Een wat die son laat stil staan toe Josua teen Amoriete geveg het. Josua 10:12 Dit was in dié tyd dat Josua met die Here gepraat het, die dag toe die Here die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! Dit was dieselfde dag wat God haelstene so groot soos groot klippe op die vyand gewerp het en meer van die vyand deur haelstene gesterf het as deur die swaard. Habakuk vertel dat dit God is wat nasies plat trap. Hy herinner homself en die volk dat hulle God nog altyd tot hul redding verskyn het en in tye van nood hul hulp was.

Wie is jou God?

Geloof

Geloof is altyd die verklaring dat ons God, in elke omstandigheid, die onmoontlike kan doen. Of Hy dit gaan doen is egter Sy wilsbesluit en sal geskied as dit volgens Sy plan is. Geloof is dus nie: “Here U gaan verseker” nie, maar eerder: “Here as dit U wil is kan U dit doen.” In Handelinge lees ons van twee apostels wat gevange geneem word, die een se hoof word afgekap en die ander een word met  ʼn bonatuurlike reddingsplan uit die gevangenis vrygelaat. Die vraag is dan hoekom God nie albei vry laat gaan het nie? Die antwoorde uit die Skrif is onomwonde: “Omdat dit God eer.” Ons verstaan nie altyd God se plan nie, maar alles in die skepping gebeur met ‘n plan en doel tot Sy verheerliking en eer. My verklaring in my gebed is dat ek glo dat God alles kan doen, maar dat my grootste begeerte is dat Sy wil moet geskied. Dit bring elke keer die gelowige by volkome rustigheid. Ek word die kind wat rus vind in die arms van my Grote Vader en Verlosser. Vrede wat alle verstand te bowe gaan sal deel word van my lewe te midde van elke storm.

Op ons knieë

In vers 16 vertel Habakuk dat al hierdie dinge wat hy van God besef het en waaroor hy nagedink het, hom by die plek gebring het waar hy gebewe het voor hierdie groot God wat hy aanbid. Net soos Johannes, die geliefde dissipel, wat in Openbaring die verskyning van Christus sien en soos ʼn dooie aan sy voete val. Openbaring 1:17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste. Om in die hande van die lewende God te val is verskriklik: Hebreërs 10:31 “ Dit is verskriklik om te val in die hande van die lewende God” Habakuk vertel dat hy bewe oor die straf wat God oor sy volk gaan bring. Hoewel dit hom vul met angs, is sy ontsag en vrees vir God groter as dit wat enige mens aan hom kan doen. Omdat Hy in ‘n verhouding met God staan, weet hy dat Hy God kan vertrou. God het klaar aan Habakuk alles bekend gemaak wat Hy sou doen en nou kan hy geduldig wag op God se plan wat uitgevoer sal word.

Lof

Teenoor die New Age era waar die krag van positiewe denke beklemtoon word en die Charismatiese beweging waar negatiewe dinge nie hardop uitgespreek moet word nie, vind ons Habakuk se loflied. Met die wete dat God in beheer is noem hy die dinge wat hy vrees, hardop. Hy kyk die omstandighede vierkantig in die oë en proklameer: “Julle sal my nie onder kry nie, want ek aanbid die God wat Here ook oor julle is.” Hy verkondig dat omstandighede nooit sy jubeling en sy gejuig in God sal demp nie. Omstandighede sal nooit weer sy vreugde bepaal nie. Hy kan alles verloor en dit sal nie sy uitkyk op God verander nie. Sal ek en jy kan jubel as alles “verkeerd” gaan in wêreldse terme? Ons het manne van God, wat Hom alleen gevrees het, wat vir ons hierin ‘n voorbeeld is. Dawid bid vir die lewe van sy baba, net om op ʼn dag te besef dat hy gesterf het. Die leiers was benoud om die boodskap aan Dawid oor te dra, omdat hulle bang was oor hoe hy die boodskap sou ontvang. Hy reageer egter heeltemal teen hul verwagting en gaan was sy gesig en sit aan om te eet. As hulle hom uitvra rakende sy optrede antwoord Dawid soos volg: Terwyl die kind nog lewend was, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink, wie weet, die Here is my dalk genadig, sodat die kind bly leef. Maar nou is hy dood. Waarom sou ek dan vas? Kan ek hom weer terugbring? Ek gaan na hom toe, maar hy sal na my nie terugkeer nie. 2Samuel 12:22-23. Of miskien kan ons dink aan Job se antwoord nadat hy al sy besittings en sy kinders verloor het: Naak het ek uit my moeder  se skoot  gekom en naak sal ek na die skoot  van die aarde  terugkeer. Die Here het gegee en die Here het geneem. Mag die Naam van die Here  geprys word! Job 1:21

Slot

Habakuk weet dat die God wat Hy aanbid sy Verlosser is. Indien God net dit vir ons gedoen het, moet hierdie feit vir elke gelowige ‘n genoegsame bron van dankbaarheid wees, ongeag die daaglikse probleme en hartseer wat deel is van hierdie wêreld. Tog doen God soveel meer. Hy belowe ons dat Hy ons nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie. Hy is met ons, wie kan dan teen ons wees. God stel ons in staat om die moeilike tyd deur te gaan. Hy sal die uitkoms gee. 1 Korintiërs 10:13 Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ‘n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur. Hy is ons krag. Habakuk 3:19 Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete  soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop.