Haggai 1

Inleiding

Ons het alreeds in Sagaria met die goewerneur, Serubbabel, en Josua die hoëpriester kennis gemaak. Hierdie was twee godvresende manne wat tot eer van God wou lewe. Die volk wat saam met hulle was, was uit die ballinge wat uit Babel na Jerusalem teruggekom het om Jerusalem sowel as die tempel te herbou. Tog, ten spyte van ʼn groep mense wat vir die regte redes en met toewyding na Jerusalem gegaan het, vind ons dat hulle die belangrikste taak agterweë laat bly het. God stuur ʼn profeet om hulle op te roep om hulle prioriteite weer inlyn te kry met God se opdragte. Hoe lank is hulle nie al in Jerusalem nie en nogsteeds is hulle nie gereed om God se tempel te herbou nie? Pas na hul terugkeer het hulle met die herbou van die altaar begin, maar hulle het teenkanting van die Persiese hof ontvang en moes die herbouing staak.  ʼn Tydperk later het hulle weer die groen lig ontvang om aan te gaan en tog, om een of ander rede, was daar geen entoesiasme om weer te begin bou nie. In hulle oë was dit nie ʼn goeie tyd om daarmee voort te gaan nie. Daar was baie ander dinge wat volgens hulle belangriker was en dus kon die tempel se herbouing vir nog ʼn tyd stilstaan.

Nie nou nie – later

Dit is duidelik dat hierdie groep Israeliete nie teen die idee was om die tempel te herbou nie. O nee, hulle het ʼn begeerte gehad dat die tempel herbou moes word, net nie dadelik nie. Ons het ʼn goeie uitdrukking in Afrikaans, nl. van uitstel kom afstel. Om goeie voornemens te hê gaan niks laat verander nie. ʼn Engelse uitdrukking sê dat die pad na die hel geplavei is met goeie voornemens. Die gevaar waarteen die gelowige moet waak in die uitvoer van God se opdragte is om te wag vir ʼn geleentheid waar die teenstand van buite nie meer so erg is nie. Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat die aanvalle van buite en van binne baie fel sal wees, sodra ons die Here se opdragte uitvoer, ongeag die tyd. Indien ons dus mense en omstandighede gaan vrees sal ons nooit die Here se opdragte uitvoer nie. Wat daarvan as Stefanus die omstandighede en die uitdrukkings van woede op sy verhoorders se gesigte dop gehou het in plaas van om Sy oë op die Hemelse heerskappy te rig? Handelinge 7:56 En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” Sou hy ooit die Joodse leiers kon aanspreek? Die Prediker maak dit duidelik vir elke gelowige: Wie die wind dophou, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes nie. Prediker 11:4. Daarom sluit die prediker hierdie gedagte af deur aan sy hoorders te sê: Saai in die môre jou saad, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nie watter een gaan slaag nie, hierdie of daardie, en of beide goed sal wees nie. Prediker 11:6. Met ander woorde:voer jy net God se opdragte uit, Hy is die een wat laat groei en Hy laat jou werk geluk of misluk. Paulus sê aan die gemeente in Korintiërs dat hy die een is wat saai en Apollos die een is wat nat lei, maar dat dit God is wat laat groei. Daarom kan ons nooit ons werk op aarde vir die Here meet in terme van wêreldse sukses nie. God sal ons werk eendag beoordeel. Net Hy weet wat ware sukses is en net Hy bepaal die beloning. 1Korintiers 4:3-5 Vir my is dit nie ‘n belangrike saak of ek deur julle of deur enige menslike regbank beoordeel word nie; trouens, ek beoordeel nie eers myself nie. Ek is nie bewus van enigiets teen my nie, maar dit beteken nie dat ek regverdig is nie. Hy wat my beoordeel, is die Here. Gevolglik moet julle nie reeds oordeel voordat die Here kom nie. Hy sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Dan sal elkeen afsonderlik van God lof ontvang.

Prioriteite

Die ander probleem wat die volk wat teruggekeer het uit ballingskap gehad het, was dat hulle eers wou fokus op hulle eie behoeftes eerder as om dadelik ag te gee op wat God behaag. Hulle het vir hulle mooi huise gebou en goed vir hulleself gesorg sonder om aandag te gee aan wat God van hulle vra. Hoe maklik kan ons as gelowiges nie besig raak met ons eie allerdaagse takies nie. Voor ons ons kan kry het ons vergeet dat ons ʼn Godgegewe taak hier op aarde het. ‘n Taak om Hom te verheerlik en ander na Hom toe te lei.  Ons, net soos die Israeliete, behoort dit ons eerste prioriteit te maak om God se tempel te bou. In teenstelling met die Jode is die tempel wat ons bou nie ʼn aardse tempel nie, maar ʼn geestelike tempel. Efesiers 2:19-22 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, met Christus Jesus self as hoeksteen. In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees. Is die uitbouing van God se tempel jou eerste prioriteit? Is dit die verlange van jou hart en jou gebed? So baie keer vertel gelowiges dat hulle nie Sondag by die kerk kon wees nie en dat iets voorgeval het, dat hulle nie tyd kry om die Woord te lees en te bestudeer nie of dat hulle nie geleenthede kry om vir die Here te getuig nie. Die rede hiervoor is eenvoudig, dit is nie jou hoogste prioriteit nie. Waarom kry die gaste wat onverwags die naweek by jou opdaag prioriteit bo die lewende God. Waarom is die verskoning: “Ons kon nie kerk toe kom nie, want ons het mense” Bring die mense saam en indien hulle nie wil kom nie kan hulle die verskoning kry: “Ons kan nie saam met julle kuier nie, want ons gaan Kerk toe” Dit is regtig so eenvoudig.

Tug

Die profeet kondig aan dat die volk alreeds onder die tug van God is. God tug elke kind van Hom wat Hy liefhet. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom  bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun  wat Hy aanneem. Hy roep hulle op om te kyk na hulle omstandige en te besef in hoe ‘n mate God besig is om hulle te straf. Haggai 1:6 Julle het baie gesaai, maar dit het min opgelewer; julle eet, maar word nie versadig nie; julle drink, maar julle dors word  nie geles nie; julle trek aan, maar word nie warm nie. Wie homself uithuur, doen dit vir ‘n beursie vol gate.”  Die vraag aan die volk is dus hoe dit moontlik is dat hulle geen van hierdie tekens raak gesien het nie? Hoe het hulle dit gemis dat God besig is om hulle te tug. Ek wonder baie oor hierdie vraag as ek na gelowiges se lewens kyk? Hoe mis jy dit dat jou “lou warm” lewe jou kinders beïnvloed het sodat hulle nou koud teenoor die Here staan? Hoe mis egpare dit dat hul soeke na wêreldse genot en wêreldse begeertes hul huwelik op die rotse gedryf het? Daar is geen vreugde in jou huwelikslewe nie, want jy het ander dinge as God jou prioriteit gemaak. Geestelik het jy gekwyn en jy hou met jou vingernaels vas om nie oor die afgrond te val nie. Is jy gelukkig? Het jy vrede? Ervaar jy God se seëninge in jou lewe en is jou lewe oorlaai van sy hartlikheid? Jou geestelike lewe teer uit omdat jy jou voed met dit wat nie kan versadig nie, dit wat nooit geluk kan gee nie. Die profetiese oproep vir jou is dan dieselfde as vir die volk, nl. gee ag en keer terug na die ware fontein van lewe. Jeremia sê tereg aan die volk dat hulle die ware bron van water verlaat het. Jeremia 2:13 Want twee wandade het my volk gepleeg:

My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap –

gebarste opgaarputte wat nie water hou nie. Klink dit soos jou lewe?

God is getrou

God laat die volk weet dat, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid, Hy nog steeds op dieselfde plek is – Hy het hulle nie verlaat nie. Haggai 1:13 …Ek is met julle! Dit is die uitspraak van die Here. “Julle moet terugkeer na My. Ek is nog op dieselfde plek, my beloftes is nog net so geldig as toe Ek dit gemaak het.” Dan gebeur die wonderlike. God wek die gees van Serubbabel, Josua en die hele volk op om te doen wat Hy van hulle vra. God gee die opdrag, maar gee ook aan elke persoon die krag en die begeerte om sy opdrag uit te voer. Dit is presies wat die Heilige Gees in elke gelowige se lewe doen. Filippense 2:13 Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. Dit is dan ook soos Esegiël wat ʼn opdrag van God kry en dan God wat Hom laat doen dit wat Hy vra. Esegiël 2:1-2 En Hy het vir my gesê: Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek. En die Gees het in my gekom sodra Hy met my gespreek het, en my op my voete laat staan; en ek het Hom gehoor wat met my gespreek het.

Verder gee Hy ook aan elke gelowige, deur sy Gees, die begeerte om gehoorsaam te wees aan Sy opdragte. Wat volg na Haggai se boodskap aan die volk is absolute gehoorsaamheid aan God se opdrag. God gee die opdrag en Hy vuur hulle aan. Almal begin om aan die huis van die Here te werk. Dit is dan ook die eienskap van elke gelowige, nl. dat hy/sy in gehoorsaamheid aan God se opdragte sal optree en dat dit alles moontlik gemaak word deur die werking van die Heilige Gees.

Slot

Tyd wag vir niemand nie. Daar is geen beter tyd as die huidige oomblik nie. Moenie uitstel en wag vir beter geleentheid om te bou aan God se tempel nie. As gelowige is jy deel van die tempel en moet jy dus eerstens aan jou eie geestelike lewe werk. Lees die Woord, bestudeer dit en kom kerk toe sodat ons mekaar as Kerk kan opbou en ondersteun. Begin vandag. Moenie uitstel nie. God belowe dat Hy by jou is en jou sal help om al sy opdragte uit te voer. Elke gelowige moet onthou dat die Woord ons leer om eers Sy Koninkryk te soek bo enige iets anders. Mattheus 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Ware geluk begin met die dien van die Here.