Inleiding
In hierdie hoofstuk word die eindtye aangekondig. Daar is baie dinge aangaande hierdie tye wat vir die gelowige onseker is, maar een saak staan vas, dit gaan verseker kom en dan sal elke knie buig en elke tong bely dat Christus die Here is. Die dag van die Here kom verseker en alhoewel ons nie die dag en uur weet nie, is daar sekere dinge wat die Bybel aankondig wat ons kan aanvaar as tekens van die eindtye. Die eindtyd het alreeds aangebreek met die Hemelvaart van Jesus Christus, maar hier word spesifiek verwys na die wederkoms van die Here. Hierdie tydperk word in twee dele verdeel, nl. die tyd van tug van die volk van Israel en die komende herstel
Tug
God is die een wat Israel sal tug. Deur die geskiedenis van Israel het die volk deur erge tugtiging gegaan a.g.v. hulle volgehoue sondes. Hulle was telkens ongelukkig oor hul omstandighede en gevolglik met God en dan het hulle met lang gesigte rondgeloop. Hulle was nooit tevrede nie. Tydens hul gebondenheid as slawe bid hul vir bevryding en dan, nadat God hulle bevry het van slawerny, verlang hulle terug na die “vleispotte” van Egipte. God voorsien manna, maar hulle wil vleis hê. Wanneer God vir hulle vra om ʼn volk aan te val en te vernietig dan is hulle te bang en as God verklaar dat hulle nie meer moet aanval nie dan wil hulle aanval. Miskien is dit vandag nog een van ons grootste probleme. Ons kla ook oor alles in ons lewens en is nooit tevrede nie, net soos Judas die goddelose mense beskryf: Judas 1:16 Hierdie mense, dit is hulle wat mor, foutvind, en hulle drange uitleef; hulle is grootmond, en vlei mense vir eie gewin. Die Israeliete is ook ʼn volk wat altyd hulle vertroue op iets anders as God wou plaas. Hulle het meer vertroue geplaas op ʼn koning, ander volke, hulle goud en silwer en self op afgode. Net soos God vandag diegene tug wat hy liefhet, so sal God die volk van Israel aan die einde van die dae tug. Hebreërs 12:6 want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem. So moet elke gelowige waaksaam wees teen enige volharding in sonde, want ons God sal sy kinders tug net soos wat ʼn goeie vader sy kinders tug.
Herstel en oordeel
Hierdie tugtiging is om diegene wat aan Hom behoort na Hom toe terug te bring. Daarom sal God ook herstel bring. Aan die einde van die dae sal God self die stryd voer teen almal wat sy kinders vervolg het en diegene wat opgetrek het om Israel te vernietig. Hy sal hulle vernietig met die asem van sy mond. Openbaring 19:21 Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis. Net so sal die Antichris ook vernietig word. 2Tessolonisense 2:8 En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. Geen mag of gesag op aarde kan staande bly teen God nie. Net sy asem is nodig om nasies en volkere uit te wis. Daarom behoort ons ons te skaam as ons ooit mense of omstandighede vrees. Vra die psalmdigter nie tereg wat kan ʼn mens my aandoen nie? Psalm56:12 ja, op God vertrou ek. Ek is nie bang nie, wat kan ‘n mens aan my doen? Net soos Hy lewe in die mens gebring het deur Sy mond so sal Hy ook die goddelose vernietig deur Sy mond. Net soos Sy Woord lewe bring so sal sy Woord ook ʼn oordeel wees teenoor almal wat Hom nie gehoorsaam het nie. Johannes 12:48 Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom op die laaste dag veroordeel.
Die groot oorlog
Jesus verlaat sy volgelinge op die Olyfberg as Hy in die Hemel opgeneem word. Handelinge 1:12 Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, ‘n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. Die engele kondig vir sy apostels die boodskap aan dat Hy sal terug kom net soos Hy van hulle weggeneem is. In Sagaria 14 sien ons hoe die Here terugkeer na die Olyfberg en op hom gaan staan. Hierdie berg sal volgens God se Woord uitmekaar geskeur word. Hierdie dag van die groot oorlog word ook in Esegiël voorspel. Esegiël 38:19-20 Met heilige jaloesie, met die vuur van my gramskap, verklaar Ek: Op daardie dag sal daar ‘n groot aardbewing wees op die grondgebied van Israel. Vanweë my teenwoordigheid sal die visse in die see, die voëls van die hemel, die diere van die veld, al die diere wat op die grond kruip, en elke mens op aarde bewe. Die berge sal intuimel, die kranse sal ineenstort, en elke stadsmuur sal op die grond val. Op hierdie dag sal die mense van Israel in die kloof van die in twee geskeurde Olyfberg invlug. Jesus vertel sy volgelinge dat die dag waarvan Daniel geprofeteer het, waar die gruwel van verwoesting opgerig sal word, sal aanbreek en dan moet hulle die berge invlug. Mattheus 24:15-16 “Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp – dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug. Jesus roep die mense op dat hulle in daardie dae nie moet probeer om hulle besittings te red nie, maar moet vlug so vinnig as wat hulle kan. Vir sommige mense is hul besitting hul lewe. Sal ons ons besittings kan agterlaat en vlug? Is ons nie te verknog aan ons besittings nie? Die grootste houvas wat die wêreld op ons kan hê is op ons besittings, ons geriewe. Ons is heelwaarskynlik meer soos Lot se vrou wat wil terug kyk na Sodom en Gomorra. Kan ons waarlik bely dat as ek die Here het is dit vir my genoeg? Baie kerke en sogenaamde gelowiges het al klaar in soutpilare verander, omdat die wêreldse dinge vir hulle te belangrik geword het. Hulle wil nie hulle rûe keer op goddelose familie en vriende nie en wil eerder deur mense geëer word as deur God. Johannes 12:43 Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God. Moet nooit dat hierdie wêreldse dinge of mense se opinies jou lewe bepaal nie, maar laat slegs God se Woord jou rigtingwyser wees.
Heerskappy
Nadat alles verby is sal God heerskappy voer op aarde. Dit sal ʼn dag wees van vrede en vreugde, ʼn dag waarvan die profete getuig dat lewende water sal vloei en genesing sal bring. Dit wat Christus geestelike kom bring het en wat die gelowige elke dag ervaar sal nou ook op ʼn fisiese manier sigbaar wees. Hier volg ʼn paar profesieë waar hierdie rivier beskryf word. Hier word slegs enkele verse aangehaal en ek sal aanbeveel dat u die hele perikoop sal lees.
- Esegiël 47:8-9 Die man sê toe vir my: “Hierdie water vloei weg na die oostelike streek, en loop dan af na die Araba, en kom by die see uit. In die see waar dit uitvloei, word die water vars. Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom.
- Openbaring 22:1-2 Toe het die engel aan my ‘n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
Ons as gelowiges verstaan hoe die geestelike bron van water ons kom reinig en genees het en hoe dit in ons ʼn fontein geword het wat uit ons binneste uitborrel. Tog is dit net gedeeltelik, maar wanneer Christus kom sal ons dit in volheid ervaar en die fisiese sal net so werklik wees as die geestelike.
Vanaf daardie dag sal die ware huttefees jaar na jaar gevier word. Die huttefees was ʼn fees wat die volk vir sewe dae lank moes vier. Hulle moes die tydperk wat hulle in die woestyn was herdenk en dink aan hoe die Here vir hulle in daardie tyd gesorg het. Vir sewe dae moes jy al jou geriewe prysgee en vir jou ʼn huis met takke buite die stad bou. In hierdie dae, met die sterre bo jou kop en die wind wat deur jou “huisie” waai, moes jy besef dat jy geheel en al afhanklik van die Here is. Dit sal ʼn tyd van vreugde wees. Deuteronomium 16:15 Sewe dae lank moet jy fees vier ter ere van die Here jou God op die plek wat die Here sal kies; want die Here jou God sal jou seën in jou hele oes en al die werk van jou hande, sodat jy net blydskap kan ervaar. Die huttefees laat my besef dat ek niks in die wêreld ingebring het nie en dat ek verseker niks met my sal saam neem nie. Ons is so maklik onvergenoegd. So maklik is ons afgunstig op ander en hul besittings. Een van die eienskappe van ʼn gelowige is dat hy/sy vergenoegd is. 1Timotheus 6:6 Wat wel ‘n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Geen ondankbare persoon moet dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Onvergenoegde mense sal al God se seëninge verloor. Hy/sy sal geen vreugde in hierdie lewe hê nie en hulle bitterheid sal hulle hele lewens deurspoel en vernietig. So ʼn persoon moet nooit dink dat hulle die ewige lewe sal beërwe nie.
Slot
Wanneer Christus terugkeer sal alles heilig gemaak word. Dit sal ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde wees waarop God sal regeer. Dit wat voorspel word in Sagaria 14 gaan gepaard met die duisendjarige vrederyk wat voorspel word in die Ou en Nuwe testament. Daar is baie debatte oor presies wanneer hierdie tydperk sal aanbreek en of dit alreeds vir gelowiges aangebreek het. Ons wil nie hierdie debat hier voer nie. Al wat verseker van hierdie tyd is, is dat Christus sal regeer en dat ons net soos in die nuwe Hemel en Aarde soos konings saam met hom sal regeer. Die vraag wat jy jouself moet afvra is of hierdie wêreld werklik vir jou so wonderlik en belangrik is dat jy die ewigheid sal prysgee vir kortstondige sondige genot.
