Sagaria 13

Inleiding

Ons het in die vorige blog aangetoon dat daar ʼn dag sal aanbreek waarop die Jode berou sal hê oor die moord op Christus. Hierdie is ʼn dag wat God in Sy almag alreeds bepaal het. In Sagaria 13 profeteer Sagaria oor wat met die volk sal gebeur wanneer daardie dag aanbreek. Hierdie gedeelte is dus hoofsaaklik van toepassing op die Jode en verwys spesifiek na die tydperk in die laaste dae wanneer die oorblyfsel van die Joodse volk, wat tot nou toe verhard in ongeloof, se oë geopen sal word en hul tot geloof in Jesus Christus sal kom. Alles in God se Woord is vir ons belangrik en vir ons as nie-Jode, maar lede van God se nuwe volk, gee hierdie ʼn blik op die eindtyd. Dit wys ook hoe God voel oor opregte berou van sonde en hoe Hy optree teen valsheid.

Berou

Wat eerstens belangrik is, is om te besef dat selfs die berou in mense se harte word bewerk deur God se genade. Dit is Hy wat jou oë oopmaak vir wie Hy is en wie jy is en hoe jou sondige optrede, in hierdie geval die ongeloof en gevolglike moord op Jesus Christus, Sy toorn te weeg bring. Op ‘n dag sal God die sluier van die Joodse volk af wegneem en sal hulle besef dat hulle die Messias gekruisig het en dat hulle besig is met afgode. Berou beteken egter niks sonder ʼn manier waarop die sonde vergewe kan word nie. Vergifnis word moontlik gemaak deur die wassing met die bloed van Jesus Christus. Openbaring1:5 en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings  van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het. Onder die ou verbond was daar gereeld water gebring na die tempel, sodat al die reinigingsgebruike uitgevoer kon word. Hier praat die profeet van ʼn lewende fontein wat oopgemaak sal word om hulle te reinig. Op hierdie dag sal die Jode besef dat hul vergifnis kan ontvang by die bron van Lewende Water, Jesus Christus, en sal Hy die fontein wees wat vir hulle geopen sal word, sodat hulle deur Hom gereinig kan word. Van Jerusalem sou hierdie fontein uitvloei. Jesaja 2:3 baie volke sal gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, sodat Hy ons van sy paaie kan leer, en ons sy weë kan volg.” Ja, uit Sion sal daar onderrig kom, en die woord van die Here uit Jerusalem. Dwarsdeur die Ou Testament word daar geprofeteer van hierdie dag waarop lewende water uit die tempel sal vloei en lewe sal laat voortvloei. Ons sal meer hieroor gesels in die volgende blog.

Afgode

Ons vind dat die berou gepaard gaan met ʼn totale oorgawe, moontlik gemaak deur die Here. Hy sal die land reinig van afgode, die valse profete en die onreine gees. Dit is baie duidelik in die Skrif dat daar geen godsdiens vir God aanvaarbaar is nie. So baie mense verklaar vandag dat God mense uit alle godsdienste sal aanvaar, solank hulle dit in opregtheid beoefen. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die Woord is duidelik dat enige godsdiens die aanbidding van demone is. 1Korintiers10:19-20 Wat bedoel ek hiermee? Dat ‘n afgodsoffer tog iets is, of dat ‘n afgod iets is? Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. Het die Jode dan nie aan God geoffer nie? Was hul godsdiens nie diens aan God nie? Die Woord is hieroor ook baie duidelik – solank jou godsdiens net rituele en lippe taal is, maar jou hart en lewe ver van  God af is, is jou godsdiens waardeloos en beoefen jy afgodery, al noem jy jou god, die God wat jou uit Egipte uitgelei het. Hier is die aanbidding van die goue kalf in die woestyn ʼn goeie voorbeeld. Dit is duidelik hoe God oor hierdie valsheid voel wanneer Hy verklaar dat al die valse profete sal uitgeroei word en niemand wat aan die Here behoort sal duld dat hulle in hulle geledere aanhou profeteer nie. Selfs ʼn vader of moeder van ʼn valse profeet sal uitroep dat hy nie langer mag lewe nie. Een van die eienskappe van ʼn gelowige is dat hy/sy die valse haat soos hulle Hemelse Vader dit haat. Mense wat die valse duld onder die vaandel van liefde het eerstens nie ʼn idee wat liefde is nie en verder verstaan hulle nie die hart van God nie. Psalm 139:21-22 Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie ‘n weersin hê nie? Ek haat hulle met ‘n intense haat; vyande het hulle vir my geword. Haat jy die valse?Die gelowiges sal dus elke boodskap wat gebring word toets. So baie getuig dat wat hulle sê onder leiding van die Heilige Gees is en daarom skrywe Johannes dat ons die gees moet toets en nie net moet aanvaar dat dit wat iemand sê onder die leiding van die Gees is nie. 1Johannes 4:1Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld.

Wegdraai van sonde

Die tyd sal ʼn tyd wees soos nog nooit tevore nie. ʼn Tyd waarin selfs die valse profete sal erken dat wat hulle geprofeteer het nie die waarheid was nie. Ons kan dus sien dat hierdie profesie spesifiek ʼn vervulling het in die tyd waarin die oorblyfsel van die Jode hulle almal sal bekeer. Amos 3:4-5 Want vir ‘n lang tyd sal die Israeliete sonder ‘n koning en hoë amptenare, sonder offers en gedenkstene, sonder efod en huisgode  moet bly. Daarna sal die Israeliete terugkeer en die Here, hulle God, soek, en Dawid, hulle koning. Ja, hulle sal bewend na die Here gaan, en na sy goedheid in die laaste dae. Tog is daar  ook ʼn boodskap vir ons vandag. Ware berou sal altyd gepaard gaan met ʼn wegdraai van die ou lewe en ʼn aantrek van die nuwe. Paulus skrywe dat iemand wat ʼn dief was moet ophou steel. Efesiërs 4:28 Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. Iemand wat aanhou met sy ou sondige praktyke kan nie bely dat Hy nuut gemaak is nie. ʼn Gelowige sal nie sy ou lewe probeer verdedig of dit probeer goed praat nie. Handelinge 19:18 Baie van diegene wat gelowig geword het, het na vore gekom, belydenis gedoen en hulle praktyke in die openbaar bekend gemaak. Daar is by die gelowige ʼn diepe droefheid oor sy ou lewe. Ons bely dat ons vorige lewens onder die sonde was, maar dat dit nie meer die kenmerk van ons lewens is nie. Paulus noem ʼn klomp sondes wat sal maak dat iemand nie die koninkryk van God sal beërwe nie en dan bely hy dat dit die sondes is wat sommige van die Korintiër gemeentelede se lewens gekenmerk het. 1Korintiers 6:11 So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God. Ons is dit nie meer nie. Dit is nie meer die kenmerk van ons lewens nie. Ons moet wegdraai van valsheid en getuig oor die Waarheid.

Ontbloot valsheid

Sagaria sê dat baie profete hul amp sal neerlê en sal bely dat hulle vals was. Hierdie erkenning sal egter nie net uit hul eie kom nie maar sal gepaard gaan met wonde, wonde wat opgedoen is omdat ware gelowiges hulle ontbloot het vir die valse profete wat hulle is. Christene sal nie toelaat dat enige persoon, ongeag wie dit is, aanhou om valse dinge te verkondig nie. Ons lewe in ʼn tyd waar valse godsdiens geduld word in kerke. Is dit die kenmerk van jou lewe dat jy alles toets? Stel jy ywerig ondersoek in aangaande dit wat verkondig word om seker te maak dat dit in lyn is met die Skrif, soos wat die mense van Berea vir ons ʼn voorbeeld is. Handelinge 17:11 Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is.

Die Ware Herder

God die Vader sal Hom slaan, die Herder wat sy lewe sal aflê vir sy skape. Hy is die fontein waardeur ons gereinig sal word. In Jesaja 53 word verwys na dit wat Christus sou kom doen en wat met Hom sou gebeur op aarde. Jesaja53:10 Maar die Here het verkies om hom te verbrysel; Hy het hom siek gemaak. As sy lewe dien as ‘n skuldoffer, sal hy ‘n nageslag sien  en lank leef. Wat die Here wil hê, sal deur sy hand suksesvol wees. Jesus is uitverkies om in ons plek te sterwe. Hy het hierdie taak vrywilliglik aanvaar om in ons plek die straf van die sonde te dra. Johannes 10:18 Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang.” Hy het deur sy lewe die Gemeente van God verkry, diegene wat voor die grondlegging van die wêreld gekies is. Handelinge 20:28 Pas julleself op, en ook die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om die gemeente van God, wat Hy deur sy eie bloed verwerf het, herderlik te versorg. Daarom word daar ʼn visioen aan Daniel gegee waarin dit bevestig word dat die Messias afgesny sou word, maar dit nie sal wees vir homself nie. Daniel 9:26 En ná die twee en sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom…(Ou Vertaling)

Oorblyfsel

Ons het by die vorige blog geskryf hoe daar in die laaste dae ʼn herstel sal kom oor die Jode en hoe die oorblyfsel hulle tot die Here sal bekeer. In Romeine word na hierdie oorblyfsel verwys as ʼn groep wat God uitverkies het en wat aan Hom behoort. In die tyd waarin die genade sal rus op die Jode sal twee derdes van die Jode uitgewis word. Net ʼn derde van al die Jode wêreldwyd sal oorbly. In Openbaring word hierdie oorblyfsel aangetoon. Hulle getal is simbolies 144 000, of twaalf duisend uit elke stam van Israel. Hulle is diegene wat op hulle voorkoppe gemerk sal word in teenstelling met die wêreld wat gemerk sal word deur die Antichris. Hierdie merking is die teken dat hulle aan Jesus Christus behoort en deur Hom gereinig is. Hierdie oorblyfsel sal deur ʼn erge marteling en vervolging gaan en sodoende gelouter word.

Slot

Hoewel hierdie gedeelte fokus op die Joodse volk en ʼn professie is van hul terugkeer na God in die eindtyd, is hier ook ʼn boodskap vir elke gelowige. God se genade vir sy volk, oud en nuut, kom na vore. Hy gee geloof en berou en gee ook die verlossing. Hy reinig ons deur Sy Seun se bloed. Sy Seun wat Hom vrywillig deur God die Vader laat slaan het vir ons oortredings. Hy is die Waarheid. Indien ons onsself deur Hom laat reinig sal ons alles wat vals is haat, soos wat Hy dit haat. Ons plaas ons lewe in Sy hande en vertrou Hom met alles. Ons besef dat alles wat met ons in hierdie lewe gebeur, gebeur sodat ons nader aan Hom kan kom. Net soos vervolging vir die Jode in die eindtyd, is vervolging in die wêreld  ʼn  belofte vir elke gelowige. Vervolging is ‘n instrument in God se hand om ons te reinig van die dinge buiten Hom waaraan ons vashou en waarin ons ons vertroue plaas. 1Petrus 1:7 Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. Daarom waarsku God die gemeente van Laodisea, die gemeente wat hulle vertroue op eksterne dinge geplaas het, om hulle te bekeer.  Openbaring3:17-20 Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Diegene wat Ek liefhet, berispe en tug Ek: Wees dan ywerig en bekeer jou! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My.