Vraag 63. Wat is die vyfde gebod?
Antwoord: Die vyfde gebod is, eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.
Inleiding
Ons lees maklik hierdie gebod en dink: “Dit geld net vir kinders wat nog in hul ouer huise is” Onmiddellik diskwalifiseer dit ‘n hele klomp mense en ons lees vêrder en slaak ’n sug van verlugting: “Ten minste kan ek ’n regmerkie langs hierdie gebod sit!” Of, as ons nog kinders in die huis het, dink ons dadelik daaraan dat ons tog hierdie gebod vir hulle moet lees as hulle weer nie hul kamers aan die kant wil maak nie. As dit jou denkwyse is, verstaan jy hierdie gebod heeltemal verkeerd.
Gesag
Hierdie gebod wil gehoorsaamheid aan alle gesag uitlug. Ons lewe in ’n tyd waar alle gesag ondermyn word. Die denkwyse van vandag is dat elke persoon moet ontwikkel, besluite neem en doen waarvan hy/sy hou. Iemand wat alles bevraagteken word gesien as ’n persoon met ’n ondersoekende brein en dit word as positief beskou. Dit is seker gedeeltelik waar, maar waar dit dan gepaard gaan met opstand teen gesag word dit ’n probleem. Om in opstand te kom teen alle vorme van gesag is aan die orde van die dag. Die Bybel waarsku ons ook dat dit sal toeneem. 2 Timoteus 3:1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers. Soos enige sonde, begin dit dalk klein, maar dit deurtrek die hele mens en het vêrreikende gevolge. Jy bluf jouself as jy dink jou ongehoorsaamheid aan een tipe gesag, sal geen invloed op ander vorme van gesag hê nie. Kom ons kyk na ’n voorbeeld:
’n Pa, selfoon in die hand, ry in sy motor en is besig om op sy selfoon te praat. Hy raas met sy kinders agterin die motor dat hulle asseblief moet stilbly, omdat hy nie die persoon aan die ander kant van die foon kan hoor nie.
As ouer verwag jy jou kinders moet jou gehoorsaam, maar hulle sien in jou lewe dat jy nie die gesag wat bo jou aangestel is gehoorsaam nie. (Ons sal volgende week alle gesag wat gehoorsaam moet word in detail bespreek) Terwyl ek die gesag van die regering ondermyn wil ek hê my kinders moet tog nie my gesag ondermyn nie. Die volgende paragrawe gaan ons gesels oor die gesag wat God daargestel het en wat Hy van ons as Sy kinders verwag.
In hierdie inskrywing fokus ons op die gehoorsaamheid van kinders teenoor hul ouers. Die optrede van ouers teenoor hul kinders speel egter ’n baie belangrike rol. Alhoewel die kind se gehoorsaamheid nie afhanklik moet wees van die ouer se optrede nie, het ons as Goddelike ouers spesifieke riglyne in die Woord wat ons kinders kan help om ons gesag en daardeur God se gesag te gehoorsaam.
Kinders teenoor hulle ouers
Efesiërs 6:1 Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Jy as kind in die huis het nie ’n keuse in hierdie saak nie. God wil hê jy moet dit doen, selfs al voel jy jou ouers is onbillik of besig om ’n fout te maak. God kan selfs deur my ouers se foute vir my as kind dinge leer waarvoor ek later in my lewe baie dankbaar sal wees. As ek net gehoorsaam gaan wees wanneer ek daarna voel, wat gaan my optrede teenoor God wees wanneer Hy soms dinge in Sy Woord van my vra wat vir my moeilik is en waarvoor ek dalk nie kans sien nie? As ek alles bevraagteken sal ek baie min vrede hê in my verhouding met Hom. Die rede hiervoor is dat daar baie tye gaan wees wat ek nie sal verstaan hoekom sekere dinge met my gebeur en hoekom Hy sekere dinge toelaat nie. Job het nie die Woord gehad soos ons vandag het nie en sy vrae was baie. Hoekom die pyn en lyding, hoekom soveel seer? Totdat God praat en sonder om een van Job se vrae te beantwoord laat hy Job verstaan – My wysheid is groter en wyer en hoër as wat jy ooit sal kan verstaan. As jy nie eers die basiese van My skepping kan verstaan nie, hoekom wil jy die res van My werke bevraagteken? Kinders moet vêrder aan hul ouers gehoorsaam wees, want dit maak God gelukkig. Kolossense 3:20 Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik. Die eerste rede hoekom ek dus aan my ouers gehoorsaam wil wees is omdat ek God gelukkig wil maak in alles. Ten tweede leer dit my om ook God se gesag oor my te aanvaar en te gehoorsaam.
Ouers teenoor hulle kinders
Wees sag en verdraagsaam
Net so wil die gebod vir die ouer leer hoe om kinders te hanteer sodat hulle nie opstandig sal word nie en in alles gehoorsaam sal wees. Efesiërs 6:4 En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here. Die woord voed in die Grieks het te make met ‘’n sagtheid en verdraagsaamheid.” Daar is tye wat ek as ouer moet hou by ’n besluit al verstaan my kind dit nie, selfs al verduidelik ek ook my beweegrede. Tog moet ek deursigtig wees in my optrede en besluite. Daar moet ’n sagtheid wees sodat my kind altyd die ervaring het dat hulle met my kan praat al verskil ons op die ou einde van mekaar. Kolossense sê ook dat ouers hul kinders nie onnodig moet kwaad maak nie. Die Afrikaanse vertaling vertaal dit met terg. Kolossense 3:21 Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. Is daar ’n geldige rede vir my besluit of optrede, of is dit net omdat dit vir my die maklikste is of om aspris my kind te “terg”? Ek moet my kind laat verstaan en leer dat al verstaan hulle nie altyd my besluit/optrede nie, kan hulle verseker wees van my liefde vir hulle en dat my besluit altyd in hul beste belang is.
Vermaan en tug
Die opvoedings proses moet volgens Efesiërs gepaard gaan met tug en vermaning. Beide is belangrik vir ’n goeie opvoeding. Eers vermaan en, indien geen ag daarop geslaan word nie, dan tug. Indien jy nie die grense duidelik trek nie of nie eers vermaan nie, is dit onbillik om jou kind te tug. Neem as ’n voorbeeld jou kind wat in die huis hardloop en ’n duur pot van die kas afstamp. Om te hardloop is ’n kinderlike optrede en nie strafwaardig nie. Dit sal onbillik van enige ouer wees om kinderlike optrede te straf. Aan die ander kant, as jy jou seun of dogter gewaarsku het om op te hou rond hardloop in die huis en hulle dan voortgaan en die pot omstamp, sal dit onverantwoordelik wees as jy jou kind dan nie tug nie. Die rede vir tug is dan sy/haar ongehoorsaamheid aan jou opdrag en nie vir kinderlike optrede waar jou eiendom beskadig is nie. Sy/Hy het nie met opset jou pot gebreek nie, dit was ’n ongeluk, maar hul ongehoorsaamheid het dit veroorsaak en daaroor word daar gestraf.
Vermaning geskied in ooreenstemming met God se Woord. Ek leer my kinders God se Woord en God se beginsels, sodat hulle altyd weet dat wat ek hulle leer van God af kom en vir ons almal geld. Dit is dus belangrik dat die kind ervaar dat, net soos hy/sy aan sy/haar ouers gehoorsaam is, is my ouers gehoorsaam aan hul Hemelse Vader. As ek nie ’n voorbeeld is in my gehoorsaamheid aan God nie, kan ek vergeet om kinders groot te maak wat God vrees. Meer as ons woorde volg kinders ons gedrag. Tug is iets wat baie sterk in die Skrif na vore kom. Eerstens leer ons dat tug sy ontstaan het by ons Hemelse Vader. Van die begin af het God vermaan en dan die persoon of Sy volk getug. God se tug word altyd verduidelik vanuit ’n liefdesverhouding. Ongelowiges daarenteen word gestraf en nie getug nie. Hebreërs verduidelik dit pragtig: Hebreërs 12:5-7 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? As ek dus ’n kind van God is en ek volhard in ongehoorsaamheid sal Hy my tug omdat Hy my lief het. Hy weet dat sonde my gaan vernietig as ek daarmee voortgaan. Die woord wat ook gebruik word vir God se tugtiging is “om te slaan.” Hebreërs 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. Dit is dieselfde woord wat gebruik word waar die soldate Jesus geslaan het. Net so, sê Hebreërs, het ons aardse vaders wat ons tug. Hebreërs veronderstel dat dit ’n normale taak is wat ouers, en veral vaders, moet vervul. Hebreërs 12:7 … want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? God leer ons uit die Woord wat die konsekwensies is van ouers wat nie hulle kinders groot maak met vermaning en tug nie. Voorbeelde is Eli se seuns. 1Samuel 3:13 En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie. Samuel, wat alles gesien het wat met Eli en sy seuns gebeur omdat Eli nie sy seuns getug het nie, leer nie daaruit nie. Die gevolg is dat sy kinders ook ongehoorsaam is aan God. Dawid se seun, Adonijah, tree ook verkeerd op. 1Ki 1:5-6 Intussen was Adónia, die seun van Haggit, so vermetel om te dink: Ek sal koning word! En hy het vir hom waens en perderuiters aangeskaf en vyftig man wat voor hom uit loop. En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so? Dawid het sy seun nooit vermaan nie en daarom is sy gedrag dié van ’n kind wat sonder vermaning en tug grootgeword het.
Bemoedig
Net soos God ons bemoedig, het ons as ouers die taak om ook God se voorbeeld van bemoediging, te demonstreer aan ons kinders. 1Tessalonisense 2:11 hoe ons, soos julle weet, net soos ‘n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het. Om by jou kind te sit en te hoor waardeur hy/sy gaan sonder om te vinnig en te maklik antwoorde te probeer gee. Om begrip te hê dat die probleme van sy/haar wêreld – hoe klein dit ook al vir jou mag lyk – vir hulle groot is en dat hulle jou ondersteuning nodig het. Moenie ’n vriend/in se ontrouheid afmaak as: “toemaar môre maak jy ’n ander vriend/in” nie. Luister, gee raad, maar belangriker – bid saam.
Slot
Wees ’n voorbeeld van iemand wat God se gesag aanvaar. Vermaan, tug en bemoedig.
