Vraag 60-62 Hoe rus jy?

60. How is the Sabbath to be sanctified? A. The Sabbath is to be sanctified by a holy resting all that day, even from such worldly employments and recreations as are lawful on other days; and spending the whole time in the public and private exercises of God’s worship, except so much as is to be taken up in the works of necessity and mercy.

61. What is forbidden in the fourth commandment? A. The fourth commandment forbiddeth the omission, or careless performance, of the duties required, and the profaning the day by idleness, or doing that which is in itself sinful, or by unnecessary thoughts, words, or works, about our worldly employments or recreations.

62. What are the reasons annexed to the fourth commandment? A. The reasons annexed to the fourth commandment are, God’s allowing us six days of the week for our own employments, his challenging a special propriety in the seventh, his own example, and his blessing the Sabbath day.

Vraag 60: Hoe moet die Sabbatdag geheilig word? Die Sabbat moet geheilig word deur ’n Heilige rus daardie hele dag, selfs van werk en ontspanning wat reg is op ander dae, tensy dit noodsaaklik is en om barmhartigheid te bewys. Die dag moet toegewy word aan openbare en private beoefening van die aanbidding van God.

Vraag 61 Wat word verbied in die vierde gebod? Die vierde gebod verbied die nalaat, of traak- my-nie-agtige uitvoer van God se opdragte. Om die dag te ontheilig deur ledig te wees, of dit te doen wat sondig is, of onnodige gedagtes, woorde en werke oor ons wêreldse take en ontspanning.

Vraag 62: Wat is die redes wat verbind word met die vierde gebod? Die rede wat verbind word met die vierde gebod is dat God ses dae toelaat vir ons eie werk, ons vra om die sewende dag te rus, soos wat Hyself as riglyn vir ons gewys het,  en die seën van die Sabbatdag.

Die vroeë Kerk

Geskiedenis

Dit is tog belangrik om te onthou dat die vroeë kerk nie ’n vakansiedag gehad het op die eerste dag van die week, die Sondag nie. Die Sabbatdag was die rusdag wat mense gevier het en Sondae het almal weer begin met hulle werk. Die ander ding om in gedagte te hou is dat meeste slawe, waarvan baie tot bekering gekom het, nie die voorregte gehad het van af-dae nie. Hulle sou dus laat eers eredienste kon gehou het. Baie kommentatore bevestig dit vanuit die teregwysing van Paulus teenoor die gemeente in Korintiërs, waar party hulle ooreet het en te veel gedrink het terwyl ander honger gely het. Hy sê dan in 1 Korintiërs 11:33 Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar. Dit laat ons besef dat baie in die vroeë kerk nie die hele dag kon afhê om kerk toe te gaan en besig te wees met die dinge van die Here nie. Tog word niemand êrens vermaan om op te hou werk op hierdie dag of om sekere spesifieke take te verrig nie.

Dit wat die Skrif wel sê en gelowiges oor vermaan is aangaande hulle samekomste. Hebreërs 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. Die samekomste van gelowiges was dus belangrik en die gelowiges is vermaan om nie hierdie geleenthede te mis nie. Dit is baie keer tragies om te sien hoe maklik mense eredienste mis. Die era waarin ons lewe het Christene die gewoonte om naweke weg te gaan sonder om eers te dink aan die Sondag erediens wat hulle sal mis.

Net soos ons in die tyd waarin ons lewe vir gelowiges moet waarsku oor erediens bywoning was dit belangrik vir die skrywers van die Westminster Confession om hulle gemeentelede te waarsku aangaande probleme wat in hulle tyd beleef is. Sonder die agtergrond is dit moeilik om vraag 60-62 te verstaan. Onder Koning Henry V111 het sport op Sondae algemeen geword. Die Kerk het sterk hierteen gereageer omdat dit mense uit die samekomste van gelowiges gehou het. Niks was belangriker as om toe te sien dat gelowiges by die eredienste uitkom om die Woord te hoor en teenoor mekaar liefde en barmhartigheid te bewys nie.

 

Honger na die Woord

In die tyd van die Reformasie het baie van die predikante op ’n gereëlde basis bymekaargekom om te preek. Dit was ’n tyd om mekaar te help om die Woord beter te verkondig en mekaar te leer aangaande die Woord. Omdat die gelowiges uitgehonger was om die Woord te hoor het hulle gegaan om na hierdie boodskappe te luister. Dit was vir hulle wonderlik om die Woord aan te hoor in hulle eie taal nadat hulle vir soveel jare die Woord in Latyn,  waarvan die meerderheid van hulle niks verstaan het nie, moes aanhoor. Kan jy jou indink? Vir ure  aanmekaar, predikant na predikant, word die Woord  verkondig en die mense luister met aandag en opgewondenheid om niks daarvan te mis nie. Laat my dink aan Paulus wat om ’n slag ’n erediens gehou het wat deur die nag aangehou het. Nie eers ’n jongman wat uit die venster geval het, het die erediens laat ophou nie. Paulus het vir die jongman gebid en hy is lewendig die volgende dag huis toe, maar die diens het aangehou. Handelinge 20:11  En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ‘n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. Die vraag wat ons moet vra is of ons as gelowiges nog steeds dieselfde honger het vir die Woord van God? Waaroor praat ons voor en na die erediens? Praat ons eerder oor ons wêreldse take en ontspannings as oor die Woord van die Here? Jy vind dit baie keer dat dit waaroor mense voor en na die erediens praat, sou inpas by enige wêreldse klub of samekoms. Die Woord speel ’n baie klein, indien enige, rol in ons gesprekke. Natuurlik geld dit nie net vir Sondae nie. As ons nie kan wag om na die diens so vinnig as moontlik by die huis te kom nie, het ons die betekenis van Sondag gemis en is hierdie teregwysing van die skrywers van die Westminster belydenis vir ons noodsaaklik.

 

Gemeenskap van Gelowiges

Dit bring ons by die volgende aspek van Sabbats onderhouding wat Jesus telkemale onder Sy luisteraars se aandag wou bring, nl. dat God wil hê dat barmhartigheid aan ander bewys moet word. In Amos sê God dat die volk die Sabbatdag hou, maar hulle kan nie wag dat die Sabbatdag verby is dat hulle kan aangaan met besigheid soos altyd nie. Vir die behoeftige en arm persoon het hulle geen tyd gehad nie en dit het net oor hulleself en hul eie families gegaan. Amos 8:4-6  Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei, deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die Sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit—om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ‘n valse weegskaal; om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir ‘n paar skoene; ook die afval van die koring sal ons verkoop. Jy kan baie vroom en godsdienstig lyk as jy wel die eredienste bywoon en jy jou plek tussen die ander kerkgangers inneem, maar ken jy  die mense wat rondom jou sit?  Stel jy in hulle belang? Hul bekommernisse en behoeftes?  Hierdie is die euwel van ons dag. Baie mense leef op hul eie eiland en sal dit eintlik verkies om by die huis op die televisie kerk te “kyk”.  Sodoende pla niemand jou nie en hoef jy jou nie te bekommer dat iemand dalk van jou iets gaan vra wat jy nie bereid is om te gee nie. Gemeenskap van gelowiges beteken egter nie net dat jy liggaamlik teenwoordig is nie, o nee! Gemeenskap van die gelowiges beteken om empatie en belangstelling te hê vir God se kinders, ons broers en susters. Jesus bevestig wat God wil hê as Hy met Sy gehoor praat oor die Sabbats onderhouding. Mattheus 12:7  Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie. Hy gaan vêrder in hierdie gedeelte en vra hulle wat hulle sou doen as een van hulle skape in ’n sloot val op ’n Sabbat. Hulle was meer bekommerd oor hulle eie diere as mense wat swaar kry en behoeftig is.

 

Wetties

Behalwe die duidelike riglyne van die Skrif om nie die samekomste van die gelowiges te mis en na te laat om barmhartigheid te bewys nie, moet ons niks verder spesifiseer aangaande die Sondag nie. Elkeen moet in sy eie lewe seker maak dat Hy op hierdie dag soos elke ander dag God se naam Heilig in wat hy/sy doen. Romeine 14:5-6 Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God.  Ons het met die vorige inskrywing verwys na die rus tussen ons en God wat Jesus Christus vir ons bewerkstellig het aan die kruis.

Hierdie rus is ‘n daaglikse rus en elke dag kan dus gesien word as ’n Sabbat. Ons moet nie net op die Sondag onsself weerhou van nuttelose, wêreldse gedagtes en gewoontes nie, maar elke dag. Enige iets wat die rus tussen ons en God kan versteur is ’n oortreding van die vierde gebod.

 

Opsomming

Die Sabbat is vervul in Jesus Christus en as kinders van God het ons die Sabbatsrus (die rus tussen ons en God) alreeds ingegaan. Die Skrif beveel ons egter om een dag van die week fisies te rus en om saam as gemeenskap van gelowiges onsself toe te wy aan die dinge van die Here. Erediensbywoning, die aanhoor van prediking uit God se Woord, lofprysing en die beoefening van barmhartigheid. Gebruik die rusdag wat God ingestel het om jou geestelike en fisiese batterye te herlaai en nie om allerlei wêreldse dinge te doen waarvoor jy in die week nie tyd gehad het nie. Spandeer tyd saam met ander gelowiges, tyd in God se Woord, tyd in Sy natuur. Luister, loof, bid, dien ….. rus.