57. Which is the fourth commandment? A. The fourth commandment is, Remember the sabbath day, to keep it holy. Six days shalt thou labour, and do all thy work: but the seventh day is the sabbath of the LORD thy God: in it thou shalt not do any work, thou, nor thy son, nor thy daughter, thy manservant, nor thy maidservant, nor thy cattle, nor thy stranger that is within thy gates: for in six days the LORD made heaven and earth, the sea, and all that in them is, and rested the seventh day: wherefore the LORD blessed the sabbath day, and hallowed it.
58. What is required in the fourth commandment? A. The fourth commandment requireth the keeping holy to God such set times as he hath appointed in his Word; expressly one whole day in seven, to be a holy Sabbath to himself.
59. Which day of the seven hath God appointed to be the weekly Sabbath? A. From the beginning of the world to the resurrection of Christ, God appointed the seventh day of the week to be the weekly Sabbath; and the first day of the week ever since, to continue to the end of the world, which is the Christian Sabbath.
Vraag 57-59 Wat is die vierde gebod, wat word daardeur vereis en watter dag van die week is as God aangewys as die weeklikse Sabbat?
Antwoord: Die vierde gebod is dat jy die Sabbatdag moet onthou en heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Daardeur het hy dit geseën en geheilig. Die vierde gebod vereis dat ons een dag van die sewe dae van die week sal Heilig vir God soos wat Hy dit aangewys het in die Woord. Van die begin van die wêreld tot die opstanding van Christus het God die sewende dag van die week aangewys as die weeklikse Sabbat en sedertdien die eerste dag van die week tot die einde van die wêreld as die Christen Sabbat.
Inleiding
Die Vierde gebod kan nie vandag los van die Nuwe Testament interpreteer word nie. In die Nuwe Testament word die vierde gebod nie bevestig soos al die ander tien gebooie nie, maar die Sabbat word in sy volheid beter verduidelik deur Jesus. Die volheid van die Sabbat word duidelik gesien as Jesus die misbruik daarvan aanspreek, as Hy genesings doen en Hy en Sy dissipels die Sabbat volgens die Fariseërs “oortree”. Na Jesus se opstanding en hemelvaart sien ons hoe die vroeë Kerk vergader op die eerste dag van die week, nl. Sondag, en nie meer op die gebruiklike sewende dag (Saterdag) nie. Verder deur die Nuwe Testament word die Sabbat verduidelik as ’n dag wat verwys na iets groters. Daar gaan in hierdie hantering van die Vierde gebod na elkeen van die bogenoemde punte in diepte gekyk word.
Misbruik van die Sabbat
Die Fariseërs van Jesus se dag het ’n totale verkeerde uitkyk op die Sabbat gehad. Die dag het, in plaas van ’n dag van rus, ’n dag van reëls geword. Die dag wat vir elke Jood ’n vreugdevolle dag van rus en toewyding aan die Here moes wees, het soos ’n swaar, donker wolk oor elke Jood gehang. ’n Dag waarna hulle moes uitsien, het ’n dag van vrees geword. Die Fariseërs van Jesus se tyd het ongeveer ’n duisend reëls vir die Sabbat gehad, meestal van dinge wat jy nie op hierdie dag mag gedoen het nie. Jy sou selfs nie by die Sinagoge kon uitkom op die Sabbat as dit vêrder as 1000 meter is nie, want jy mag net 1000m op die Sabbatdag loop…verder as dit en dit sou gesien word as reis op die Sabbatdag!
Jesus kom gooi al hierdie sogenaamde heilige reëls oorboord. Hy stap op ’n keer saam met sy dissipels deur die gesaaides en hulle pluk daarvan en vryf die korrels uit en eet dit. Hieroor was die Fariseërs baie ontsteld. In Mattheus 12 gee Jesus hulle drie redes hoekom dit wat sy dissipels gedoen het nie verkeerd was nie.
Hy vertel hulle van Dawid en hoe hy en die wat saam met hom was, honger was. Dawid het gevlug van Saul en gekom by die priester Abimeleg. Hy vra vir hom en vir sy manskappe brood om te eet. Die priester antwoord dat hy net heilige brood het, waarvan net die priesters kon eet. Hierdie brood word dan aan Dawid gegee omdat daar geen ander brood was nie. Wat wou Jesus vir hulle leer deur die eerste voorbeeld? Jesus wou hulle daarop wys dat die uiterlike vir hulle belangriker geword het as die innerlike. Die uiterlike seremoniële wette was vir hulle belangriker as God se ander gebooie. God is meer bekommerd oor mense wat kan doodgaan van die honger as dat hulle dalk met die eet van die heilige brood teen Hom kan sondig. In Mattheus 23 wys Hy die Fariseërs daarop dat daar dinge is wat swaarder weeg in die wet as ander. Mattheus 23:23 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Die betekenis is dus duidelik vanuit die verhaal van Dawid en sy manne. Moes hulle van die heilige brood geëet het of nie geëet het nie en dalk van die honger gesterf het? Die antwoord is duidelik met betrekking tot die Sabbat dat jy op die Sabbat are kan optel en eet as jy honger is. Jesus roep hulle op dat God nog altyd barmhartigheid gesoek het meer as offers. God wil hê dat ons ander se nood en behoeftes moet raaksien en verlig eerder as om verskonings te soek hoekom ek nie barmhartig kan wees nie. ’n Verdere bevestiging van hierdie gedagte is waar Jesus hulle teregwys, omdat hulle die mense geleer het dat hulle kan besluit om hulle geld vir die Here te gee en dit dan as ’n verskoning kon aanbied vir hoekom hulle nie vir hulle ouers hoef te sorg nie. Hulle het God se hart heeltemal gemis deur hulle skynheiligheid!
Werklike rede vir die Sabbat
Wat was die rede vir die Sabbatdag? Die dag is gegee sodat Sy volk hulle op hierdie dag veral aan Hom kon toewy en op Hom kon fokus. Dit moes ’n dag wees waar niemand wat nie nodig het om te werk nie, soos die priesters, die dag kon rus. Elke persoon het dus een dag nodig om fisies te rus van al sy/haar werk. Nie net wou God hê dat die gebod vir elke persoon sou geld nie, maar ook vir elke persoon wat vir jou werk, selfs al behoort hy/sy nie aan die volk Israel nie. Selfs die slaaf moes ’n dag van rus hê. Hierdie beginsel van rus is vandag nogsteeds net so belangrik.
Jesus maak dit egter duidelik dat die eerste rede vir die gebod, nl. toewyding aan God en barmhartigheid aan ander belangriker is as net die blote rus van fisiese werk. Om dit te illustreer verwys hy na die priesters. Die priesters moes op die Sabbat in die tempel werk en dus het hulle die Sabbat ontheilig – of het hulle? Dit is tog duidelik vanuit God se opdragte dat Hy wou hê die priesters moes hierdie spesifieke taak op die Sabbat in die heilige tempel vervul, en daarom was hulle onskuldig voor die Sabbatsgebod. Dit sluit dus aan by die vorige argument dat as ek iets doen wat God as ’n opdrag aan my gegee het, bv. die werk van priester/predikant of om barmhartigheid aan ander te bewys, ek nie die gebod oortree nie.
Volheid van die Sabbat
Die volheid van die Sabbat lê in die rus – nie net ’n fisiese rus nie, maar ’n rus van vrede met God. Indien hulle net sou glo in Jesus, sou hulle besef dat Hy wat voor hulle staan groter as die tempel in heiligheid is. Om saam met Hom te wandel is dus om in absolute heiligheid te wandel. Vir die kind van die Here is dit nie meer die dag wat heilig is nie, maar Hy saam met wie ons wandel wat die dag heilig maak. Elke dag is dus nou vir die gelowige heilig. Jesus sê ook vêrder aan die Fariseërs dat Hy die baas is van die Sabbatdag. Hy is die een wat die dag interpreteer en kan verander en vernuwe. Jesus is die vervulling van die Sabbatdag. Kolossense 2:16-17 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of Sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. Christus is dus die volle betekenis van die Sabbat deurdat Hy volkome rus tussen die gelowige en Sy Vader bring. Hy woon in ons en dus is ons heilig. Daar is nou vrede tussen die gelowige en God en daarom is die gelowige in ’n toestand van absolute rus. Hebreërs 4 beklemtoon dit as Hy ons oproep en vertel dat daar ’n rus is waar ons moet ingaan en dat ons dit slegs in geloof kan doen. Hebreërs 4:3 Want ons wat geglo het, gaan die rus in. Die Jode word dan ook opgeroep in hierdie brief om in hierdie rus in te gaan wat alleen deur Christus kan plaasvind. Hebreërs 4:4-7 Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.
Vervulling van die Sabbat
Omdat Jesus die vervulling is van die Sabbatdag het die vroeë kerk dit duidelik bevestig deur op die eerstedag van die week, wat die Sondag is, bymekaar te kom. Handelinge 20:7 En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe. 1Korintiers 16:1-2 Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie. Dit is dan ook deur alle eeue deur die Kerk nagekom as die dag van die Here, soos dit ook genoem is in Openbaring 1 vers 10. Hierdie dag is gevier omdat dit die herdenking was van Jesus se opstanding wat op die eerste dag van die week, Sondag, plaasgevind het.
Sonder die opstanding is ons geloof waardeloos. Ons vier dus die oorwinning oor die dood en dus die rus wat tussen ons en God bewerkstellig is deur Jesus Christus.
Slot
As gelowiges is ons nou die tempel van God en geheilig deur die inwoning van Sy Gees. Daar is volkome rus in Christus. Hierdie rus word elke dag in ons lewe weerspieël in die vrug van ons lewens. Alhoewel die fisiese aspek van rus op een dag van die week nog steeds geld is die geestelike aspek daarvan vervul in Christus. Hoewel daar een dag van die week is, waar ons ons batterye fisies en geestelik herlaai, is die oortreding van die vierde gebod nie meer die ontheiliging van een dag nie, maar wel om enige iets toe te laat om die rus tussen ons en God te versteur. ‘n Rus wat duur gekoop is deur die bloed van Christus aan die kruis.
