Drie-Eenheid (Vraag 6)

  1. How many persons are there in the Godhead?

There are three persons in the Godhead; the Father, the Son, and the Holy Ghost;  and these three are one God, the same in substance, equal in power and glory.

  1. Hoeveel persone is in die Godheid?

Daar is drie persone in die Godheid;  die Vader, die Seun en die Heilige Gees; en hierdie drie is een God, dieselfde in wese, gelyk in mag en heerlikheid.

Daar is net een God – God die Vader, die Seun en Heilige Gees.  Ja, 1 + 1 + 1 = 1! In die vorige inskrywing is vanuit die Skrif bewys gelewer vir die bestaan van die Drie-Eenheid en dat ons nie drie gode aanbid nie, maar wel Een God. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God –  een God,  maar drie persone. Alhoewel hierdie sekerlik nie ‘n maklike konsep is om te verstaan nie, help dit om die werking van die Drie-Eenheid te bestudeer vanuit die Verlossingsplan van God. In die Verlossings werk van God het elke Persoon van die Drie-Eenheid ‘n taak wat Hy aanvaar het tot ons redding en daardeur God se verheerliking.

Daar was en is ‘n plan wat aan ons as mens geopenbaar word vanuit die Skrif – ’n Verlossingsplan – waarin Christus verheerlik sal word as die Redder van die mens. Hierdie plan sluit al drie die Persone van die Godheid in en elkeen se taak verheerlik God.

 Die Vader besluit……

……. voor die grondlegging van die wêreld. Hy het ’n spesifieke aantal mense uitverkies om sy kinders te wees op grond van Sy besluit. Hierdie individue se name is opgeskryf in die Boek van die Lewe. Openbaring 20:15  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp en ook Openbaring 13:8  En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

Hierdie persone behoort aan God op grond van die Vader se keuse en word deur die Vader aan die Seun gegee. In Johannes 6:37 lees ons:  Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Let veral op die woordjie sal. Die Seun aanvaar die verantwoordelikheid om hierdie persone te red in ooreenstemming met die wil van die Vader en om te sorg dat geeneen van hulle verlore gaan nie. Johannes 17:9  Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Hier kan ons sien hoe Jesus, as die tweede persoon van die Drie-Eenheid, bid in ooreenstemming met die Eerste persoon van die Drie-Eenheid se keuse, nl. vir hulle wat alreeds aan die Vader behoort.

Die Seun red…….

…….uit vrye wil en as gestuurde van die Vader dié wat die Vader volgens Sy besluit gekies het, deur vir hul sondes aan die kruis te sterf en die wraak van God namens hulle te dra. Hy vertel gereeld vir Sy volgelinge dat Hy gekom het om die wil van Sy Vader te doen. Daarom, al is Hy gelyk met die Vader,  neem Hy die gestalte van ’n slaaf aan. Filippense 2:6-7  Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

Hy sou sy lewe gee vir die wat aan die Vader behoort om hulle te bevry van sonde en te versoen met God.  Johannes 10:15  Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Hy vertel vir baie van die Jode reguit  in Johannes 10 dat hulle nie sy skape is nie. Sy skape is dus ’n selektiewe groep. ’n Groep wat aan die Vader behoort, ’n groep wat die Vader gekies het, ’n groep wat Jesus sou red en sorg dat geeneen van hulle verlore sou gaan nie.  Johannes 17:12  Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.

 Die Heilige Gees wek……

…….dié wie se name in die boek geskryf is deur die Vader en vir dié wat die Seun dan Sy lewe gegee het as versoening. Die Heilige Gees,  gelyk met die Vader en die Seun, word die gestuurde van die Vader en die gestuurde  van die Seun. Die Gees maak ons wat dood is in ons sonde lewendig. Geen mens wat geestelik dood is kan uit sy eie hom/haarself lewendig maak nie. Dit is die werk van die Heilige Gees. Romeine 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Dus bring die Heilige Gees dooie mense tot wedergeboorte. Jesus verduidelik dit aan Nikodemus as Hy in Johannes 3:8 sê Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Dus is die Gees onafhanklik van die mens en doen presies soos God wil.  Die Heilige Gees maak ons bewus van sonde en komende oordeel en maak ons geestes oë oop om die heerlikheid van God te sien. Daarsonder sal ons nooit op ons eie na Jesus kom nie. Die Woord leer ons verder ook dat die Gees in ons kom woon as gelowiges en ons gewillig maak en in staat stel om God se wil vir ons lewens uit te voer. Filippense 2:13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Die Seun het ons deur Sy lewe voor God geregverdig, maar nou kom die Gees en maak ons al meer aan die beeld van Christus gelyk deur die proses van Heiligmaking.

Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat die Drie-eenheid in absolute eenheid funksioneer in ooreenstemming met God se alwyse plan.  Dit is belangrik om  te let dat God nie een persoon is met verskillende rolle, soos wat ‘n man bv. die rol kan hê van Pa, Eggenoot en Werkgewer nie. Hoewel gebrekkig, wil ek graag die voorbeeld van die huwelik gebruik  oor hoe die Drie-Eenheid werk. Die Bybel sê dat die man en vrou gelyk is en dat hulle ’n eenheid word wat deur God saamgevoeg is. Hierdie eenheid se taak is om God te verheerlik in alles wat hulle doen. Hierin neem elkeen ’n spesifieke rol aan in ooreenstemming met God se opdrag aan die man en die vrou, net soos daar in die Drie-Eenheid ’n rol is vir elke Persoon. Die rol maak my nie minder nie, maar maak dat die eenheid in die huwelik sy volle potensiaal ter ere van God bereik. In die eenheid van die huwelik verloor die man en vrou hulle eie ek in diens van die nuwe ek wat bestaan uit twee wat nou een is.  God word nou verheerlik en Sy eenheid word uitgebeeld en verheerlik in ons eenheid.  Dit verduidelik hoegenaamd nie die volle kompleksiteit van die Drie-Eenheid nie, maar sal dalk help om die begrip beter te verstaan.

Daar is ander funksies wat die persone van die Drie-Eenheid ook verrig, soos die Hoë Priesterlike amp van Jesus en die Heilige Gees wat vir ons intree met versugtinge as ons nie weet hoe om te bid nie. Ek gaan egter nie hierop uitbrei nie, maar wou veral vanuit die verlossingsplan van God wys hoe die die Persone van die Godheid saamwerk tot ons as gelowiges se redding.  Dit is ook hieruit duidelik dat dié wat die Vader kies, sal deur die Seun gered word en deur die Heilige Gees geestelik opgewek word. Dit is verregaande om te dink dat een van die Persone enigsins in hul taak sou faal. Dit het ongelooflike troos en versekering vir ons as kinders van God om te weet ons is geanker in God die Vader se keuse. Hoe ongelooflik dit ook al mag klink – dit is waar dat God ons so lief gehad het, dat Hy ons voor die grondlegging van die aarde gekies het om aan Hom te behoort, selfs al het Hy die koste daaraan verbonde geweet, nl. die dood van Sy Seun, Jesus Christus.

God is Een en ons is gemaak om Hom te verheerlik. Om dit te bewerkstellig het God se plan bepaal dat die Vader ons kies as Sy kinders, die Seun ons red uit ons sonde om sy kinders te wees en die Heilige Gees ons opwek  en help om volkome soos Sy Kind te word.