Net een God (Vraag 5)

  1. Are there more Gods than one?

There is but one only, the living and true God.

Is daar meer as een God?

Daar is maar net een, lewende en ware God.

 Daar is amper net soveel gode daar buite as wat daar mense is en sommige mense is hul eie god! Saam met relativisme – “solank dit werk vir jou” – ontstaan die gevaar dat ons by die punt kom wat ons ander gode as “onskuldig” sien, solank as wat dieselfde basiese morele waardes gehandhaaf of gepreek word. Kan jy maar aanbid wie jy wil, want ons aanbid tog almal een en dieselfde god? Het God net verskillende name? God die Vader, Allah, Brahman, “Spiritual Enlightenment”, of Self?  Is die Hemel dieselfde plek as die Muslims se Paradys, as die Boeddhis se Nirvana en die Hindu se vryheid van Karma?

Nee!

Daar is net een God – God die Vader, wat Homself aan die mens openbaar deur Sy Seun, Jesus Christus,  en deur Sy Woord soos dit aan ons oopgebreek en bevestig word deur Sy Heilige Gees. En nee – die ander is nie gode nie, maar afgode! In die Ou Testament is dit duidelik dat die Israeliete bely het dat hulle net een God aanbid. Deuteronomium 6:4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Die woord “enige” in Hebreeus is אחד(Echad), wat een beteken. Die Jode bely nog steeds hierdie vers gereeld.

As die Ou Testament dan praat van een God – hoe verstaan ons die Drie-Eenheid? Die woord Drie-Eenheid of “Trinity” kom wel nie in die Bybel voor nie, maar die drie persone en hul eenheid word baie duidelik in die Bybel uitgebeeld. Ons kan vanuit die Ou-Testament al sien dat God, hoewel een, uit drie persone bestaan. Ons kan dit sien deur te let op die volgende punte.

  1. God openbaar homself as meer as een persoon,
  2. God verskyn aan sommige mense terwyl verklaar word dat niemand God nog gesien het nie en
  3. Jesus word aanbid as die Seun van God, terwyl net God alleen aanbid mag word.

Die Ou Testament is die Skrif wat die vroeë kerk gehad het en reeds in Genesis sien ons duidelike verwysings na God as meer as een persoon. Die eerste vers in Genesis vertel ons van die Gees van God wat oor die water gesweef het. Hier word duidelik ’n persoon aan die Gees gekoppel. Verder in Genesis 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis,

In die Ou Testament en Nuwe Testament staan geskryf dat niemand God mag sien nie. As jy God sou sien sou jy onmiddellik sterf.  Kyk na Abraham en die drie besoekers in Gen. 18:1. Die verhaal begin deur te vertel dat die Here (Jahwe – die naam van God) aan Abraham verskyn het. Vanaf vers 13 is God (Jahwe) in gesprek met Abraham. God vertel dan vir Abraham wat Hy met Sodom en Gomorra gaan doen. Dit is duidelik uit hierdie gedeelte dat God met Abraham gepraat het van aangesig tot aangesig. Ons het die verhaal van Jakob wat worstel met ’n Man.  Aan die einde van die verhaal verklaar Jakob, ek het God(Elohim-naam van God) gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. (Genesis 32:30).  Abraham en Jakob het God gesien en tog het hulle bly lewe. Die Skrif sê ook dat niemand  God al ooit gesien het nie (Joh. 1:18). Nou het ons ‘n probleem omdat dit lyk asof die Skrif homself weerspreek, want nie net mag jy God sien en bly lewe nie,  die Skrif verklaar onomwonde dat niemand Hom ooit gesien het nie! Wie het hulle en baie ander Ou-Testamentiese figure dan gesien?

Die verhaal van Jesaja se ontmoeting met God maak dit duidelik. Jesaja sien God op sy troon. Die woorde Jahwe en Adonai word gebruik vir God. Die Een wat Jesaja sien word aanbid deur die Engele – dus is dit God. Jesaja se eerste reaksie is wee my want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! Net soos Abraham en Jakob, het Jesaja verstaan wat die gevolg sou wees om God te sien. Hoekom het hulle en baie ander wat God gesien het nie gesterf nie? Die verklaring hiervoor kry ons in Johannes 12:41 waar Johannes verduidelik dat Jesaja vir Jesus, die tweede persoon van die Drie-Eenheid, gesien het. Die persoon in die Drie-eenheid wat niemand mag sien of kan sien nie is die Vader wat deur die Seun aan ons bekend gemaak word.

Indien hierdie nog nie duidelik genoeg is nie en jy voel dat Jesus slegs ‘n dienskneg van God was, maar nie self God nie, kan gekyk word na die aanbidding van Jesus,  nie net deur sy dissipels nie, maar ook deur die engele in Openbaring. ’n Voorbeeld hiervan is as Thomas Jesus ontmoet na sy opstanding: En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God (Johannes 20:28). In die Nuwe Testament word dieselfde titels vir God gebruik as vir Christus, nl. die Alpha en die Omega en Ek is (Hoe God Homself voorgestel het aan Moses). In Openbaring vind ons dat alle geskape wesens God en die Lam (Christus) aanbid.

Ons weet verder dat God ‘n jaloerse God is en dat niemand ander gode as God mag aanbid nie. Indien jy dus ’n dienskneg van God was, sou jy verseker nie toegelaat het dat enige iemand jou aanbid, tensy jy self God is nie. Kyk na wat die engel in Openbaring sê as Johannes hom wil aanbid: Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God. (Openbaring 22:9.)

Daar is net een God – Vader, Seun en Heilige Gees. Daar is wel baie afgode, maar hulle is nie gode met God as die magtigste god van almal nie. Die gelowige bely dat daar net een ware God is soos wat aan ons geopenbaar is deur die Skrif. Paulus bely in  1 Korintiërs 10:20  Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Die Here kon dit nie duideliker in Sy Woord gestel het nie. Die aanbidding van enige ander god is dus die aanbidding van duiwels. Dit is belangrik om mense van alle gelowe lief te hê, maar om in liefde aan hulle te kommunikeer dat daar net een God is en dat ons nie glo dat ons God en die god wat hulle aanbid dieselfde is nie.

 Daar is maar net een, lewende en ware God.

– of jy aanbid Hom of jy aanbid die duiwel –

Kies die regte een!