God se Karakter (Vraag 4)

  1. What is God?

God is Spirit, infinite, eternal, and unchangeable, in His being, wisdom, power, holiness, justice, goodness, and truth.

Wat is God?

God is Gees, oneindig, ewig en onveranderd, in Sy wese, wysheid, krag, heiligheid, oordeel, goedheid en waarheid.

God openbaar Homself aan die mens deur die Heilige Skrif – die Bybel. Omdat mense egter soms met hul eie agendas en lens na die Bybel gaan is dit baie belangrik om te gaan kyk Wat en Wie het die Kerk deur al die eeue geglo is God geopenbaar vanuit die Skrif.

Die eerste wat ons moet verstaan is dat alhoewel ons in die beeld van God geskape is, is God nie soos ons nie. Hy is Gees.  Hy het geen begin en geen einde nie en Hy verander nie.

Soms word daar in die Bybel sekere menslike eienskappe aan God toegedig sodat ons beter kan verstaan, soos God wat  “jammer” of “bedroef” was dat Hy die mense gemaak het en daarom met die vloed die mensdom uitgewis het. Dit is egter vanuit die Bybel baie duidelik, dat God nie foute maak, of onkant gevang word deur mense se gedrag nie. Hy het nie besluit: “kom Ek probeer weer nie.” Nee – voor die grondlegging van die aarde, het God beplan dat Sy Seun sou sterf aan ’n kruis vir Sy uitverkorenes.  Reeds in Genesis leer ons van die saad van die mens wat die slang se kop sal vermorsel – lank voor  Jesus se geboorte.

Jy mag dalk vra: “As dit die uiteinde van die verhaal was, waarom het God die mens gemaak?” Hierop is die antwoord eenvoudig en duidelik: Dit was Sy plan en dit was goed, want daardeur verstaan ons Sy wysheid, Sy mag, Sy Heiligheid, Sy regverdigheid, Sy goedheid, Sy liefde en  Sy genade. Dit wat Hy aan ons  openbaar is Sy karakter en dit is en moet genoeg wees om ons te bring by die punt van aanbidding. Jesaja 44:24b “Ek is die Here wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei – wie was met my?” Dan Jesaja 45:9  “Wee hom wat met sy Formeerder twis – ’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy?”

Dalk dink jy dat God hierdie meester strateeg is en soos wat die gebeure in geskiedenis ontvou, besluit Hy wat Hy volgende gaan doen.  Amper soos ’n meester skaakspeler, wat reageer op die mens se skuif, behalwe dat Hy altyd so paar skuiwe vooruit is! Dit sal egter daarop neerkom dat God by ons iets moet leer, terwyl die Bybel ons leer dat Hy alwetend is. Daar is niks wat gebeur op aarde wat God onkant vang nie. Hy is die God wat alles weet en in beheer is van alles. Hoe wonderlik om gedeeltes te lees soos Johannes 7:30  “Toe probeer hulle om Hom gevange te neem; en niemand het die hand aan Hom geslaan nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie.” Niemand kon iets aan Jesus doen voor sy uur nie daar was om te sterf aan die kruis nie. Niks gebeur toevallig nie, alles is met ’n doel. Dit gee die gelowige rustigheid en ’n vreeslose uitkyk op die wêreld. Daarom hoef ek my nie te bekommer oor dinge wat ek nie verstaan nie. Psalm 131. “Ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie” Daarom kan ons saam met die Psalmdigter sê in Psalm 18 “Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.

Wat as dit met my sleg gaan? Wel, dit sal die mees hopelose dag wees as ons verklaar dat God nie ook in beheer is van dinge as dit sleg gaan nie. Wie is dan in beheer? Die duiwel? Ek glo ook iemand soos Josef, wat onskuldig in die tronk sit nadat sy broers, die wat die naaste aan hom was, hom verkoop het, moes soms wonder. Tog kon Josef  terugkyk oor sy lewe en weet dat God ten volle in beheer was van elke aspek van sy lewe. Sy broers wou hom doodmaak, maar God het dit gekeer. God het sy broers se afguns gebruik en dit omgedraai in die redding van ’n volk. Lees gerus Genesis 50:20. Is dit nie wat ons lees in Romeine 8:28 dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk…  nie. God het ’n plan wat onveranderlik is en waarvan Hy ten volle in beheer is en daarin kan die gelowige rus. Spreuke 19:21 Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.

In Numeri 23:19  lees ons “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”  Lees ook Heb 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Omdat God alles weet sal Hy ook nooit van gedagte verander nie.  Tog kry ons die voorbeelde in die Bybel waar God aandui dat Hy van “gedagte” verander op grond van  ’n persoon se gebed.  Abraham en Moses is goeie voorbeelde. Moses tree vir die volk in nadat hulle gesondig en die goue kalf aanbid het. God sê aan Moses dat Hy die volk gaan uitwis en dat Hy dan vir Moses ’n groot nasie sal maak. Moses bid egter tot God om die volk te vergewe en God besluit dan om die volk nie meer uit te wis nie. Nou hoe nou? Het God nie nou van gedagte verander op grond van Moses se gebed nie?  Onthou egter dat die Skrif altyd die Skrif verklaar en dat as dit lyk of sekere gedeeltes mekaar weerspreek, moet jy gaan seker maak of jy albei gedeeltes reg verstaan. As ons sou sê dat God hier van gedagte verander het, weerspreek dit Numeri 23:19. Ons het aan die begin gesê dat sekere menslike emosies soms gebruik word om God te verduidelik, maar ons moet onthou dat God voor die grondlegging van die aarde alreeds geweet het, wat Moses sou bid.  Psalm 139 sê dat God weet wat ek wil sê nog voordat ek dit gesê het. Het God geweet die volk gaan sondig? Beslis! Het God geweet Moses gaan vir hulle bid? Verseker! God wou duidelik wys vanuit die Ou Testament dat iemand tussen God en die mens moet kom staan en ‘n middelaar wees. Sonder ’n middelaar sou God alle mense moes uitwis. Hierdie verhale kyk dus vorentoe na die volmaakte middelaar wat sou kom en kom staan tussen God en die mens – die volmaakte God en volmaakte mens –  Jesus Christus. Jesus is dus die groter Abraham en die groter Moses – die volmaakte middelaar!

Die Bybel verklaar duidelik en onomwonde :

 God is Gees, oneindig, ewig en onveranderd, in Sy wese, wysheid, krag, heiligheid, oordeel, goedheid en waarheid.

 Dit is wat Hy wil hê ons van Hom moet weet. Dit is hoe Hy wil hê ons Hom moet ken. Dit is hoe Hy wil hê ons Hom moet ervaar. Glo Hom en leef daaruit!