Openbaring 14:14-20Die Parskuip getrap!

Inleiding

In jou ouerhuis of by die skool het jy dalk al gehoor dat ʼn ouer of onderwyser sê: “Ek praat nie weer nie.” Dit het gewoonlik beteken daar is klaar gewaarsku en as daar nou weer oortree word sal jy gestraf word. Hierdie laaste waarskuwing is hier alreeds in die wind geslaan en God gaan nou oor om dit te doen wat Hy gesê het Hy gaan doen. Hoeveel keer in jou lewe het jy waarskuwings van ʼn persoon in gesag geïgnoreer omdat jy geweet het, hulle sal nie werklik tot aksie oorgaan nie. Hulle waarskuwings was leë woorde om jou skrik te maak vir dit wat nooit sou gebeur nie net om jou in lyn te hou. Wel, God verander nie van gedagte nie en dit wat Hy gesê het sal gebeur, sal!

Christus kom om te oordeel

As Christus op die wolke verskyn is ons weer terug by Openbaring 6 se laaste verse. “Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?”  Die oordeel waaroor almal gewaarsku is breek nou aan. Die een wat oordeel is soos “die seun van die mens”,  wat ʼn aanhaling is uit Daniel. Daniel 7:13 “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.” Jesus gebruik ook in Matteus hierdie profesie om sy oordeel oor die ongelowiges en dag van verlossing vir gelowiges aan te kondig. In Openbaring vind ons egter dat daar klem gelê word op sy oordeel oor die ongelowiges wanneer Hy kom op die wolke. As jy terug dink aan die sesde seël sien jy hoe hierdie selfde gebeure afspeel en hoe die redding van die gelowiges plaasvind in hoofstuk 7. Openbaring 7:9 Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande. Dit is soortgelyk aan wat Paulus aan die gemeente van Tessalonisense verkondig. 1Thessalonisense 4:16 Want die Here self sal met ‘n luide bevel, met die stem van ‘n aartsengel, en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. In hierdie aantal verse gaan daar net gefokus word op die oordeel wat die Seun van die mens sal bring.

Heerser

Die Seun van die mens dra ʼn goue kroon, ʼn oorwinningskroon, en dui daarop dat Hy die oorwinnaar is net soos al sy mense wat ook goue krone sal dra. Hy word egter later ook geïdentifiseer as die een wat baie krone dra, aangesien Hy heerskappy oor alles in die heelal het. Openbaring 19:12 Sy oë was soos ‘n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra ‘n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. In sy hand het Hy ʼn sekel wat sy oordeel aankondig. ʼn Engel bring die boodskap uit die tempel dat Christus sy sekel moet insteek. Die tempel dui op die teenwoordigheid van God die Vader en dus kom die boodskap van die Vader as vervulling van Jesus se getuienis aan sy volgelinge:

  • Markus 13:32 Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele in die hemel nie, en ook nie die Seun nie – net die Vader.
  • Handelinge 1:7 Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

Nog ʼn engel kom uit die tempel en hy het ook ʼn sekel in sy hand. Ook hy ontvang ʼn boodskap van  ʼn ander engel vanaf die altaar om die sekel in te steek om te oes. Of Christus met die sekel die beeld is van die insameling van Sy kinders en die tweede engel die beeld is van die wraak van die ongelowiges is nie in hierdie teks duidelik nie, maar dit is duidelik uit ander teksgedeeltes. Die herhaling van iets in die Skrif word ook baie keer gebruik om aan te dui dat dit verseker sal gebeur. So sal die herhaling van die sekel wat moet oes in Christus se hand sowel as die engel s’n dit duidelik maak dat dit nou sal plaasvind. Sy koms vanaf die altaar roep onmiddellik by die leser die beeld op van dit wat gebeur het met die oopmaak van die vyfde seël. Hier het ons geleer van die gelowiges se siele onder die altaar wat God vra wanneer hulle bloed op die aardbewoners gewreek sal word. Daarom, elke keer as die altaar en die gebede van die gelowiges wat op die altaar geplaas word genoem word, word die oordeel van God oor die ongelowiges aangekondig. Openbaring 16:7 Toe het ek die engel van die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, u oordele is betroubaar  en regverdig. Hulle gebede word dus hier vervul. Hulle uur het gekom. Hierdie woord “uur” word nege keer in Openbaring gebruik. Sewe keer vir die oordeel van die ongelowiges en van Babilon en twee keer vir die beproewing wat oor die aardbewoners sal kom. Van hierdie beproewing, of wraak, is die gelowiges in Filadelfia belowe sou hulle bewaar word.  Openbaring 3:10 Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

Die volle maat

Die sonde het sy volheid bereik en die straf sal nou plaasvind. In die Skrif is dit duidelik dat God die mens laat aanhou met sy sonde tot dit sy volheid bereik het en dat Hy hulle dan straf. Genesis 15:16 Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie. So vertel Paulus ook aan die gemeente dat die Jode, wat belet het dat die evangelie aan die heidene verkondig word, ook hulle sondes vol maak. 1 Tessalonisense 2:16 en wat ons verhinder om met die heidene te praat, sodat hulle verlos kan word. So het die Jode se sondes in elke opsig hulle volle maat bereik, en die oordeel het uiteindelik oor hulle gekom! Die dag wat die Vader in sy almag bepaal het, het dus nou aangebreek. Die oes is gereed. Net soos God elke jaar se oes bepaal so sal die laaste oes ook deur Hom bepaal wees. Die rypheid van die oes het hier te make met die boosheid van die mensdom wat ook bevestig word in Joël. Joël 3:13 Steek die sekel in, want die oes is ryp! Klim in, trap, want die parskuip is vol en die giskuipe loop oor, want hulle boosheid is groot!  In teenstelling met die gelowiges wat beskou word as die eerste vrugte en die koring oes word die ongelowiges uitgebeeld as die druiweoes wat gereed is om geoes te word. Net soos wat arbeiders vroeër jare die druiwe oes sou insamel en dit in ʼn parskuip sou trap onder hulle voete, so sal dit wees met Christus se wederkoms. Hierdie beeld word ook deur Jesaja gebruik om te verkondig dat God in sy woede die volke sal trap. Jesaja 63:-6 Wie is dit wat daar uit Edom kom, met helderrooi klere uit Bosra, Hy wat ‘n glansryke bokleed dra, wat keldermeester is in die volheid van sy krag? Ek is die Een wat in geregtigheid spreek – magtig om te verlos. Waarom is u bokleed rooi, waarom is u klere soos dié van iemand wat druiwe trap in die wynpers? Die kuip het Ek alleen getrap; van al die volke was daar niemand by My nie. In my toorn het Ek hulle aanhou trap, hulle fyngetrap in my woede. Hulle lewensbloed het op my klere gespat; my hele uitrusting het Ek besoedel. Want Ek het ‘n dag van wraak in gedagte gehad; die jaar van my bloedwraak het aangebreek. Ek het rondgekyk, maar daar was geen helper nie. Ek was verslae – daar was niemand wat ondersteuning bied nie. My voorarm het My tot hulp gekom, my woede, dit het My ondersteun. Ek het volke vertrap in my toorn, hulle dronk gemaak in my woede. Ek het hulle lewensbloed op die grond laat uitloop. Hierdie druiwesap is die bloed wat sal vloei volgens Openbaring. Hierdie gedeelte is dieselfde verhaal as die trompette en die wraak bakke in Openbaring wat God se wraak aankondig oor die ongelowiges. Die beeld van God wat die ongelowiges sal trap word ook weer in Openbaring 19 genoem. Openbaring 19:15 Uit sy mond het ‘n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap. Hierdie beeld is dus nie liggies in potlood geskryf nie, maar is ʼn helder, grafiese, doelbewuste, grusame beeld van bloed wat uit mense getrap word soos sap uit druiwe. Die loon van die sonde en verwerping van die Verlosser is nie ʼn naald prik nie, maar ʼn afskuwelike dood – vertrap onder voet.

Volmaakte vernietiging

Die trap van die druiwe sal buite die stad plaasvind. Hier is die stad die plek van die gelowiges. In Openbaring word twee stede teenoor mekaar geplaas. Die een is Babilon, of die stad van die ongelowiges, en die ander is waar die gelowiges woon. So vertel Openbaring 22 ook aan ons dat die ongelowiges buite die stad sal wees. Openbaring 22:14-15 Gelukkig is diegene wat hulle lang stolas was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. Die honde bly buite, ook die towenaars en die hoereerders, die moordenaars en die afgodedienaars, en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen. Hierdie wêreld is nie die gelowiges se woning nie. Ons is bywoners en vreemdelinge in hierdie wêreld. 1 Petrus 2:11Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die siel. Hier, in Babilon, sal daar ʼn verwoesting wees en die bloed sal vloei tot by die perde se tooms. Die getalle van 4 en 10 word telkens in Openbaring as simbole van volmaaktheid gebruik en hier sien ons dat die afstand wat die bloed sal vloei  1600 stadion is. (Dus 4 x 4 x 10 x 10) Dit dui op die volledigheid / volmaaktheid van die straf van die ongelowiges. Die totale vernietiging van die aardbewoners word oral deur die Skrif, soos ook hier, bevestig. Esegiël 32:5-6 “Ek sal jou vleis  op die berge neersit. Ek sal die valleie vul  met jou oorskiet. Ek sal die aarde tot by die berge deurdrenk met jou bloed  wat vloei. Die stroombeddings sal vol wees  van jou.”

Slot

Dink jy nog dat jy God kan toets oor sy beloftes? Ons aanvaar so maklik sy beloftes aangaande seën, maar die beloftes aangaande sy wraak maak ons af as “Hy bedoel dit nie regtig nie.” Net soos Adam en Eva luister ons graag na die slang van ouds wat vra: “Het God regtig gesê…..” Ons het in die vorige gedeelte gesien hoe die engel aankondig dat almal, sonder verskoning weet dat God die hemel en die aarde geskep het en dat Hy alleen aanbid moet word. Tog is daar steeds mense wat nie erken dat God bestaan nie. Hulle noem hulleself ateïste en verklaar onomwonde dat God nie bestaan nie. Wat sal mens iemand noem wat glo dat God bestaan, elke Sondag in die kerk sit en die waarskuwings in sy Woord ken en tog besluit om hulle nie daaraan te steur nie.  ʼn Dwaas! Matteus 7:26-27 Maar elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie uitvoer nie, sal soos ‘n onverstandige man wees wat sy huis op sand gebou het. Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit ineengestort, en die ineenstorting was geweldig.”