Inleiding
In Hoofstuk 6 het Jesaja gesien dat God in beheer is van alles en op Sy troon sit. In hierdie hoofstuk is die koning van Aram en die koning van Israel, wat ook Efraim genoem word, besig om saam te span om Juda aan te val. Hulle trek op teen Jerusalem, maar faal daarin om Jerusalem in te neem. Hierdie verhaal vind ons in 2 Konings16 en 2 Kronieke 28. Israel het al tevore vir Juda oorwin en hul mense weggevoer, maar op grond van die profeet Obed se waarskuwing, dat hulle nie hul mede volksgenote mag wegvoer nie en dat God hulle sou straf, het Israel Juda vrygelaat. Juda is reeds verswak en het geen krag om teenstand teen Aram en sy magte te bied nie, daarom is Agas, die koning van Juda, vreesbevange vir hierdie groot weermag van Israel wat teen hom optrek.
God is getrou
Die mense is vreesbevange en bewe. Soos die mens maar is kyk Agas nou benoud rond na wie Juda teen Israel kan help en Jesaja word gestuur om hom te waarsku om nie sy vertroue in die Assiriese magte te plaas nie, maar wel in God wat hom sal verlos. Jesaja en sy seun, Sjear-Jasjoeb, verskyn voor die koning met die boodskap van die Here. Hierdie seun se naam beteken “net ʼn oorblyfsel sal terugkeer” volgens die belofte van God in Jesaja 6. Jesaja 6:13 As daar nog ‘n tiende in die land is, sal die land weer aan verwoesting uitgelewer wees. Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, soos van ‘n terebintboom en ‘n eikeboom wanneer hulle neergevel is. Die stomp van die land is ‘n heilige geslag. Koning Agas moes deur die teenwoordigheid van Jesaja se seun en sy naam se betekenis besef dat dit God is was wat Jerusalem beskerm het sodat dit nie geval het nie, al was God se oordeel oor die volk as gevolg van al hulle oortreding teen Hom. Hy het belowe en sal altyd ʼn oorblyfsel van die volk aan die lewe hou. Hoe maklik raak die wêreld wat in goddeloosheid leef nie vreesbevange vir enige slegte gerig nie? Sonder geloof in God wat op sy troon sit en heerskappy oor alles het sal die mens in angs en bewing wees. Voor God is hierdie twee nasies wat Juda wil aanval slegs twee rokende houtstompe – brandhout. Spreuke herinner ons so mooi waarin ons vertroue moet wees as skielike onheil ons tref. Spreuke 3:25-26 Jy hoef nie bang te wees vir ‘n onverwagte verskrikking, of vir die teenspoed van goddeloses wanneer dit kom nie. Want die Here sal aan jou sy wees, en Hy sal keer dat jou voet in ‘n strik trap.
Met die dreigemente van alle kante kom die stem van die Adonai Jahwe (Here HERE.) Die soewereine God (Adonai), ja, die verbondsgod (Jahwe) wat sy beloftes aan sy volk gemaak en gehou het, is aan die woord en belowe dat hierdie aanval nie sal plaasvind nie. Israel wat uitgebeeld word as Samaria, die hoofstad van die ryk van die Noorde, het hulle vertroue in Aram geplaas en sou daarvoor betaal. Binne 65 jaar sou hulle ophou om as ʼn ryk voort te bestaan. Ons praat van die tydperk van 735-670v.C. Samaria val in 722v.C. en in 671v.C. vestig Esarhaddon uitlandse setlaars in die area van die Noordelike koninkryk. 2 Konings 17:24 Die koning van Assirië het mense uit Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim gebring en hulle in die plek van die Israeliete, in die dorpe van Samaria, gevestig. Hulle het van Samaria besit geneem en hulle in die dorpe daar gevestig. As Juda, die suidelike koninkryk, wil voortbestaan sal hy in geloof sy vertroue in die Here en Sy woorde moet plaas en nie in mense nie.
ʼn Teken
God praat verder met Agas deur die profeet en roep hom op om ag te slaan op Sy woorde, aangesien God weet dat hy ʼn goddelose koning is. God gaan vir hom ʼn teken gee om aan te toon dat Sy Woord waar en getrou is. God bevestig met tye sy Woord deur tekens. Ons sien wonders en tekens met Christus se koms, sodat mense moes erken dat Jesus se woorde waar is en dan ook weer met die apostels wat Sy Woord verder aangekondig het. Die Hebreër skrywer waarsku mense om nie God se woorde, wat Hy bevestig het met wonders en tekens, in die wind te slaan nie. Hebreërs 2:3-4 hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot verlossing verontagsaam? Hierdie verlossing is eers deur die Here verkondig, en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het. Ons het nie meer vandag tekens en wonders nodig nie, aangesien daar nie nuwe woorde van God is wat bevestiging nodig het nie. God se Woord is reeds ten volle bevestig en ons kan dit in geloof aanvaar en dit getrou navolg.
Die Here vra vir Agas om enige teken van God te vra. As God die mens oproep, soos hier vir Agas, om ʼn teken te vra is dit nie asof jy ʼn keuse gegee word om sy opdrag uitvoer of nie. Dit is ʼn bevel wat uitgevoer moet word. Die mens het nooit ʼn rede om te sê die Here het my nie genoegsame bewyse gegee nie. Nee, selfs die wêreldling het meer as genoeg bewyse vanuit God se skepping dat Hy ʼn lewende en almagtige God is. Romeine 1:18-20 Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging. Agas weier egter om ʼn teken te vra. Ooglopend klink hierdie weiering baie opreg wanneer hy aanvoer dat die mens God nie op die proef mag stel nie. Dit is dan ook so dat dit nie goed is om God te toets deur jou eie pad te wil loop en van die Here ʼn teken te vra om op grond daarvan jou eie planne te maak nie – so asof jy net ʼn stempel van goedkeuring van die Here wil hê nie. So het Israel God getoets ten spyte daarvan dat hy herhaaldelik aan hulle Sy almag in die woestyn bewys het. Deuteronomium 6:16 Julle mag nie die Here julle God uitdaag soos julle by Massa gedoen het nie. Agas haal hierdie vers aan as hy sê hy wil nie die Here versoek nie. Dit moet egter vir die leser duidelik wees dat hy die Woord wil gebruik om sy sonde te regverdig. Hoe skynheilig kan die mens nie wees nie? Agas het geen begeerte om God te gehoorsaam nie en daarom wil hy nie eers ʼn teken vra nie, want as die teken uitkom sal hy moet doen wat God sê. Hy gee voor dat hy die regte ding wil doen en haal selfs die Skrif aan as die rede waarom hy nie ʼn teken wil vra nie. Hy gaan eerder op sy eie insig staat maak as om God se bevele na te kom. Hierdie vers word ook deur Jesus aangehaal as die Satan vir Hom versoek om ʼn teken van God te vra, maar hier, in teenstelling met die gebeure in die versoeking, is dit nie die Satan wat aan Agas die bevel gee nie, maar God.
God se teken
Jesaja spreek nou ook almal wat by die koning is aan, aangesien almal skuldig sal wees omdat hulle nie ag slaan op God se boodskap nie. Jesaja gebruik nou die meervoud om te wys dat almal ongehoorsaam is. Julle het nie net mense vermoei, aangesien julle nie die profete gehoorsaam het nie, maar nou wil julle ook God vermoei. So sal almal aangespreek word wat nie gehoorsaam is aan die Woord wat ons as gelowiges verkondig nie. Lukas 10:16 Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My. En wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.
Jesaja noem God, “my God.” Tussen hierdie ongehoorsame mense staan ʼn gelowige man wat God ken. Hy het ʼn persoonlike verhouding met God en lewe in gehoorsaamheid aan hierdie God wat hy aanbid. God se oordeel is duidelik en Hy sal aan hulle ʼn teken gee, nou is dit ʼn teken van oordeel, omdat Agas die teken verwerp het. Jesaja 7:14 Daarom sal my Heer self vir julle ‘n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan ‘n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem” Hierdie profesie wys na Christus se geboorte. Die woord vir jong vrou is “almah” in die Hebreeus en daar is redelike kontroversie oor hierdie Hebreeuse woord. Baie sê dat indien daar van ʼn maagd gepraat word die Hebreeuse woord “betulah” gebruik moes word. Tog is dit interessant dat oral waar “almah” gebruik word dit vir ʼn jong dogter wat nog nie getroud was nie gebruik word. In teenstelling met “almah” word “betulah” in Joël gebruik vir ʼn vrou wat alreeds getroud was. Joël 1:8 Weeklaag soos ‘n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met ‘n roukleed omgord is.(Ou vertaling). In die 2020 vertaling word bruidegom as verloofde vertaal hoewel die Hebreeuse, sowel as die Griekse vertaling van die LXX, duidelik verwys na haar man. Dit is dus duidelik dat God wou wys dat hierdie vrou sou swanger word sonder enige bydrae van ʼn man, ʼn feit wat die Nuwe Testament bevestig. Matteus 1:23 Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem – wat, as dit vertaal word, beteken God is met ons.
Teken van veroordeling en redding
Hierdie seun wat gebore word sal Immanuel genoem word, wat “God met ons” beteken. Hierdie naam kan duidelik slegs aan God behoort, wat weer eens bevestig dat Jesus waarlik God is. Hy sal met hulle wees op ʼn ander manier as in die Ou Testament waar Hy met sy volk in die vuur en wolkkolom was en die tempel sy teenwoordigheid by hulle voorgestel het. Hier sou Hy met hulle wees deurdat Hy as mens gebore sou word. Dit is dan ook wat die teks bely; dat hy gebore sou word uit ʼn maagd. God sal dus met hulle kom wandel as ʼn mens. Dit is wat Johannes dan ook beskrywe in Johannes 1. Johannes 1:14 En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. Deur die Skrif is dit God wat altyd die inisiatief neem om naby die mens te kom. Dit is Hy wat in die aandlug kom om saam met Adam en Eva te wandel. Hy ontmoet Abram terwyl hy nog saam met sy vaders afgode aanbid het. Josua 24:2 Josua sê toe vir die hele volk: So sê die Here, die God van Israel, Anderkant die Rivier het julle voorvaders in die verre verlede gewoon – Tera, die vader van Abraham en Nahor – en hulle het ander gode
Agas wou hê dat die Assiriese magte hom moes help, hy het nie “God met hom” gesoek nie, want “God met jou” behels bepaald dat jy Hom moet gehoorsaam. Hierdie teken – Jesus die Verlosser, gebore uit ʼn maagd, “God met ons”, is dan ook dit wat die wêreld veroordeel, omdat hulle nie hul vertroue op Hom wil plaas nie, maar op hul eie insigte wil staatmaak en wil lewe soos hulle wil. Jesus bevestig dit in die Nuwe Testament wanneer Hy sê, Het julle nog nooit in die Skrifte gelees nie: Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword. Van die Here het dit gekom, en dit is wonderlik in ons oë. Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer. Wie op hierdie klip val, sal verpletter word; en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis. Matteus 21:42-44
Slot
Is hierdie teken vandag vir jou ʼn teken tot redding of veroordeling? Soek jy God met ons, of wil jy jou eie pad loop, met ʼn god wat net so nou en dan ʼn stempel van goedkeuring op jou lewe moet gee. Dat God sy beloftes nakom en getrou is, is onbepaald waar, ook wanneer Hy belowe dat Hy diegene sal veroordeel wat Jesus Christus nie as Verlosser van hul lewe aanvaar nie. Die teken is vir ons gegee sodat ons kan glo en daardeur gered kan word. Al die beloftes van God is waar. 2 Korintiërs 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja; daarom sê ons deur Hom amen aan God, tot sy eer.
