Inleiding
Hierdie gedeelte praat met elke gelowige as dissipel maker van God. Dit sluit aan by die groot kommissie wat Jesus aan sy volgelinge gee in Matteus 28. Dit is ʼn bekende gedeelte en menige sendelinge en predikante kan getuig dat hulle God se roepstem hier duidelik gehoor en hul roeping saam met Jesaja aanvaar het. God se uitverkiesing en voortgesette verbond met die Joodse volk word ook weereens beklemtoon en die mens besef opnuut dat God soewerein in beheer is. Die mens word deur God in sy raadsplan gebruik en ons antwoord in gehoorsaamheid, maar dit is uiteindelik God wat die werk in mense se lewens doen.
Die boodskapper
Nadat daar vir Jesaja vergifnis gekom het, kom die vraag van die Here, wie sal ek stuur en wie sal vir ons gaan. Dit is baie opmerklik daar hier van die enkelvoud na die meervoud beweeg word en dit wys weer duidelik na God as die Drie-enige God. Die teken van vergifnis is ʼn bereidwilligheid om as vrygespreekte uit te gaan en ander op te roep tot bekering. So sien ons ook die vrou by die put in Johannes 4. Sy word gekonfronteer met haar sonde en ontdek dat die een waarvan geprofeteer is, hier voor haar by die put sit. In een oomblik word sy verander deur die werking van die Heilige Gees en storm sy haar dorp binne met die woorde, “Kom kyk.” Johannes 4:29 Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Hierdie man is tog nie die Christus nie, of hoe? Daar is ook die verhaal van die man wat baie demone in hom gehad het en wat deur die demone in hom Legio genoem is. Nadat die man van die demone bevry is was sy grootste begeerte om Jesus te volg, maar Jesus gee hom die opdrag om na sy huis en mense te gaan en hulle van die Hom te vertel. Markus 5:19 Hy het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het. Jesus se opdrag aan sy dissipels, wat ook die opdrag aan elke gelowige is, is om die wêreld in te gaan en dissipels te maak. Matteus 28:19-20 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. Een oomblik het Jesaja gevrees vir sy lewe, maar nou is hy vergewe. Geen persoon wat getuig dat hy wederbaar is en dat die Gees in hom woon kan anders as om die naam van die Here in die wêreld te gaan bely en mense op te roep om tot inkeer te kom nie. Dit is ook die begeerte wat Dawid bely, nadat hy gesondig het met Batseba en deur Natan, die profeet, gekonfronteer is oor sy sonde. Psalms 51:13-15 Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie. Laat my weer die vreugde oor u verlossing ervaar, laat ‘n gewillige gees my ondersteun. Ek wil oortreders u paaie leer, dat sondaars na U kan terugkeer. Daarom sien ons ook by Jesaja dat hy sonder aarseling antwoord: “Hier is ek, stuur my” en dit voor Hy nog weet wat die opdrag sou behels.
Die boodskap
Die grootste probleem vandag is dat die prediking wat die wêreld ingaan selde mense konfronteer met hul sonde. Daarom was daar met die Reformasie ʼn besef dat mense gekonfronteer moet word met die wet voordat hulle die evangelie hoor. Dit is dan ook wat Paulus aan die gemeente in Galasiërs verkondig die doel van die wet is. Galasiërs 3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.(Ou vertaling). Dit is alleenlik wanneer mense soos Jesaja besef wie God en wie ek is, dat hulle die begeerte het na ʼn Verlosser. So baie gelowiges vandag wil aan mense vertel hoe wonderlik hulle is en hoe die Here hulle lief het net soos hulle is. Met hierdie boodskap is die vraag dan waarom enige iemand ʼn begeerte na ʼn verlosser sal hê as hulle alreeds so wonderlik en lieflik is. Die Woord verkondig egter die teendeel en vertel die mens dat Hy onder die toorn van God staan. Efesiërs 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.(Ou Vertaling).
Uitverkies tot geloof
Jesaja se opdrag van die Here klink vreemd. Hy moet aan die volk die boodskap gaan vertel sodat hulle hoor en nie hoor nie en sien en tog nie sien nie. Anders gestel, God roep Jesaja op om na mense te gaan en aan hulle ʼn opdrag te gee wat hulle nie gaan gehoorsaam nie. Hierdie gedeelte in Jesaja word op twee plekke in die Nuwe Testament aangehaal. Die een aanhaling is deur Johannes om aan te dui dat die een wat Jesaja gesien het Jesus was. Johannes 12:37-41 Hoewel Jesus so baie tekens in hulle teenwoordigheid gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie, sodat die woord wat die profeet Jesaja uitgespreek het, vervul kon word: Here, wie het ons boodskap geglo? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar? Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê: Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard sodat hulle nie met hulle oë kon sien en met hulle harte kon verstaan en kon terugdraai, en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê, omdat hy sy heerlikheid gesien en oor Hom gepraat het. Die tweede aanhaling is van Paulus aan die Jode wat na hom kom luister het terwyl hy onder huisarres in Rome was. Handelinge 28:25 In onenigheid onder mekaar het hulle uiteengegaan, nadat Paulus nog ‘n enkele laaste woord gespreek het: Die Heilige Gees het tereg deur die profeet Jesaja aan julle voorvaders gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die ore sal julle hoor, en glad nie verstaan nie, en met die oë sal julle sien, en glad nie insig kry nie. Ons sien dieselfde in Moses se boodskap aan die volk in die woestyn. Deuteronomium 29:2 Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: Julle het self alles gesien wat die Here in Egipteland voor julle oë gedoen het aan die farao, aan al sy dienaars en aan sy hele land – die groot teistering wat jou eie oë gesien het, ja, daardie tekens van mag en groot wonders. Tot vandag toe het die Here nie vir julle insig gegee om te verstaan nie, oë om te sien en ore om te hoor nie. God maak dit baie duidelik aan sy profete dat indien Hy nie die harte van die mens verander en vernuwe en sy Gees hulle lewendig maak nie, mense nooit ag sal slaan op hul boodskap nie. Dit is dan ook die argument wat Paulus beredeneer in Romeine 9. Hy verklaar in die gedeelte dat God Hom ontferm oor wie Hy wil en verhard wie Hy wil. In die gedeelte verklaar God dat Hy die hart van die Farao verhard het sodat hy presies sou doen wat God wou gehad het sodat Sy naam verheerlik sou word. Die vraag wat onmiddellik by die mens ontstaan en wat Paulus verwoord is: “Hoe kan God die mens dan die skuld gee vir sy ongeloof” Romeine 9:19 Jy sal nou vir my sê: Hoe kan Hy dan nog ‘n mens die skuld gee? Want wie kan sy wil teengaan? Sy antwoord hierop is dat jy die klei en Hy die pottebakker is wat met jou kan maak wat Hy wil. Baie mense worstel met hierdie gedagte en voel dat God onregverdig is. Wat die mense vergeet is dat God dit aan niemand skuld om hom/haar te verlos nie. Romeine 3 sê dat almal skuldig is en daar niemand is wat goed is nie. Die mens word nie geforseer om te sondig nie, nee, hy doen dit willens en wetens en bal die vuis met elke misdryf teen die lewende God. Omdat dit waar is, verdien almal die ewige straf en die hel. Geen persoon verdien die ewige lewe nie. As God almal in die hel sou gooi sou Hy regverdig wees. Die vraag moet dus nie wees waarom Hy aan sekeres die gawe van geloof skenk en aan ander nie, maar waarom Hy enigsins iemand red. Wat seker is, is dat God verheerlik word oor die voorwerpe van sy genade en die voorwerpe van sy verwoesting. Romeine 9:22-23 As God dan die voorwerpe van sy toorn wat vir ondergang bestem is, met groot geduld verdra het, omdat Hy sy toorn wil vertoon en sy krag bekend wil maak, het Hy dan nie ook die reg om die rykdom van sy heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy vooraf vir heerlikheid bestem het nie?
Die wil van die mens
Die rede waarom so baie hierteen in opstand kom het nie te make met die onduidelikheid van die teks nie, maar met die mens wat nie wil erken dat sy wil ondergeskik aan God se wil is nie. Ons wil eintlik God wees en wil daarmee saam kan roem op ons goeie keuse om God te kies. Aan elke gelowige, soos met Jesaja wat uitgestuur word, is dit baie duidelik dat God die werk doen en die verandering in mense se lewens niks met ons kennis of welsprekendheid te make het nie. Die gelowige verklaar dat as God ʼn donkie in die verhaal van Bileam kon gebruik, hy my ook kan gebruik. Die mens wil so graag spog dat dit iets in homself is wat ander aangetrek of gemaak het dat hulle tot inkeer kom. Die voorbeelde in die Skrif herinner ons dat een van die mees getroue profete, Jeremia, geen sukses gehad het as dit volgens menslike maatstawwe beoordeel moes word nie. Daar was enkele individue wat ag geslaan het op Jeremia se boodskap. In teenstelling met Jeremia, sien ons hoe Jona, wat sekerlik een van die swakste profete was, die grootste sukses in sy bediening in Nineve gehad het. Die sukses van Jesaja sou nie bepaal word deur mense nie, maar wel deur God. Vir Jesaja, net soos vir elke gelowige, is dit belangrik om te onthou dat ons Verlosser verkondig het dat baie min die nou poort sou ingaan. Matteus 7:14 Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind. Daarom moet die gelowige nooit mismoedig raak nie, want ons doen die werk nie vir mense of om deur mense beloon te word nie. Nee, ons doen dit vir die Here en by Hom is ons beloning.
God se belofte
Die profeet vra hoe lank? Hoe lank sal hierdie volk aanhou in hul verharding? Sal daar ʼn kentering wees, sal hulle tot inkeer kom? Dit is die vraag van Jesaja rakende hierdie volk. Hierdie begeerte moet by elke verkondiger van die Evangelie wees. Net soos Jesaja moet daar ʼn liefde vir mense wees en ʼn oproep tot bekering. Dit is juis diegene wat waarlik lief het wat aan ʼn wêreld wat verlore is hul toestand kan verkondig en kan verklaar dat God se wraak oor hulle is. Niemand wat die liefde van God in hom het kan toesien hoe iemand homself in sy sonde verwoes en op die rantjie van die afgrond staan, gereed om in die diepste duisternis van die hel in te stort, sonder om die persoon te waarsku nie. Diegene wat apaties bly het ʼn liefde vir hulself en hul eie gemak en het eerder ʼn vrees vir verwerping as ʼn liefde vir ʼn wêreld wat verlore gaan. Aan Jesaja word dit bekend gemaak dat hierdie volk deur verwoesting en ballingskap sal gaan totdat alles verlate sal wees. En tog is daar ʼn boodskap van hoop van ʼn tiende wat sal oorbly en terug sal keer na die land. Net as jy opgewonde wil raak is die boodskap dat ook hierdie tiende deur verwoesting sal gaan. As dit jou mismoedig maak, kom die boodskap dat God ʼn stomp sal laat oorbly. God sal volgens die profete altyd ʼn oorblyfsel van die Jode bewaar en aan die einde van die dae sal hulle gered word. Hierdie is die groep van 12000 van elk van die 12 stamme van Israel in Openbaring, naamlik die 144000. Hierdie is die groep wat volgens Sagaria deur die groot loutering gaan en wat tot inkeer sal kom. Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur, is die uitspraak van die Here, twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God. Hulle is ook diegene waarvan Paulus in Romeine praat wat gered sal word as God se genade terugkeer nadat al die heidene wat Hy uitverkies het ingekom het. Romeine 11:25-27 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. Aan die einde sal God sy gees van genade oor die volk uitstort, soos Hy ook belowe het in Sagaria, op die dag as hulle opkyk na Hom wat hulle deurboor het. Sagaria 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind. Weereens word hier bevestig dat hulle wat tot inkeer kom ʼn diepe berou sal hê oor hulle sonde.
Slot
As gelowige is jy vergewe en skoon gewas deur die bloed van Christus en daarmee saam kom die opdrag om hierdie wonderlike boodskap van Verlossing deur Christus met ander te deel. Uit liefde vir God en liefde vir jou naaste wat hieruit sal voortspruit moet jy ander waarsku en bemoedig met die wonderlike boodskap van bevryding wat alleen deur geloof in Jesus Christus moontlik is. Daar is sommige wat na jou boodskap gaan luister, gaan omdraai en wegstap. Dit is so bestem. Dan is daar ander wat gaan antwoord op die roepstem van God, lewend gemaak deur die Heilige Gees en hulself gaan bekeer. Dit is so bestem. God se plan vir die heidin, sowel as Jood is voor die grondlegging van die aarde bepaal en ek en jy moet net gehoorsaam wees in die rol wat Hy daarin vir ons bepaal het. Mag elkeen soos Jesaja antwoord: “Hier is ek, Here, stuur my!”
