Nebukadnesar se Droom

Koning Nebukadnesar het drome gehad wat hom baie ontstel het. Hy kon nie slaap nie. Hy het die towenaars, waarsêers en wyse manne laat roep sodat hulle vir hom moet sê wat hy gedroom het en wat dit beteken.

Hulle het gesê: “Vertel vir ons die droom, dan sal ons dit verklaar.”

Maar die koning het gesê: “As julle nie vir my die droom self kan sê nie, sal julle doodgemaak word. Maar as julle die droom en die betekenis kan vertel, sal julle beloon word.”

Die wyse manne het gesê: “Daar is niemand wat dit kan doen nie, behalwe die gode.”

Toe het die koning baie kwaad geword en beveel dat al die wyse manne doodgemaak moet word. Dit het Daniël en sy vriende ingesluit.

Daniël het na die koning gegaan en gevra vir meer tyd voordat almal doodgemaak gaan word. Hy het saam met sy vriende gebid dat God die droom en die betekenis daarvan aan hom sou bekend maak.

Daardie nag het God die droom en die betekenis aan Daniël in ’n gesig geopenbaar. Daniël het toe vir die koning vertel wat hy gedroom het:
Die koning het in sy droom ‘n groot beeld gesien. Die kop was van goud, die bors en arms van silwer, die maag en heupe van brons, die bene van yster en die voete van yster en klei.

Toe het ’n klip losgeraak sonder mensehande en die beeld op sy voete getref. Die hele beeld het verbrokkel en die wind het dit weggewaai. Die klip het ’n groot berg geword wat die hele aarde gevul het.

Daniël het toe die droom vir die koning uitgelê. Die kop van goud was Nebukadnesar, maar na hom sal daar ander koninkryke kom wat elkeen deur die klip, die koninkryk wat God sal oprig, vernietig sal word. Hierdie koninkryk sal nooit vernietig word nie.

Toe het die koning voor Daniël neergeval en gesê:
“Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings.”

Die koning het Daniël groot gemaak en hom oor die hele provinsie van Babel aangestel. Daniël se vriende is ook oor die sake van die provinsie aangestel.