Jesaja 6:1-7

Inleiding

In hierdie bekende gedeelte word die evangelie in 7 verse opgesom. God is in beheer, Hy is heilig en wanneer ons daaraan blootgestel word, besef ons ons sondeskuld en onwaardigheid. Daarom het ons  ʼn Verlosser nodig, want ons kan nie uit ons eie eers naby God kom nie. Hy is die Een wat ons aanraak en ons rein maak en as heilig verklaar deur ons sonde op Hom te neem. Voor ons egter verder in diepte na hierdie verse gaan kyk is dit belangrik om die volgende vraag op te klaar: Hoekom kan Jesaja God sien?

Jesaja sien die verskyning van God en dit moet onmiddellik vrae by elke leser ontketen.

In die Tora of die eerste vyf boeke van die Bybel wat deur Moses geskrywe is, vind ons die verhaal waar Moses God wou sien. Eksodus 33:18 Moses sê toe: Toon asseblief u heerlikheid aan my. God antwoord Moses dat geen persoon Sy gesig kan sien en bly leef nie en dat God Moses met die palm van sy hand in die rots sou toemaak, totdat Hy verby beweeg het en dan sou Moses Hom van agter af sien. Eksodus 33:20 Hy het verder gesê: Jy kan nie my gesig sien nie, want ‘n mens kan My nie sien en bly leef nie. Dit word ook in die Nuwe Testament bevestig dat geen mens God kan sien of nog ooit gesien het nie.

  • Johannes 1:18 Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.
  • 1 Timoteus 6:16 Hy wat alleen onsterflikheid besit, ontoeganklike lig bewoon, en vir wie geen mens ken of kan sien nie – aan Hom kom die eer en ewige krag toe. Amen.

Die vraag is dus hoe Jesaja God gesien en bly leef het om daarvan te skryf.  Anders gestel: Hoe kon dit plaasvind terwyl die Bybel aan ons vertel dat niemand God kan sien en bly leef nie. Enige ernstige leser van die Bybel kan verklaar dat dit nie die enigste geval is waar die mens ʼn ontmoeting met God gehad het en met Hom gepraat het nie. Een van die mees bekende verhale waar God aan ʼn persoon verskyn het, is met Abraham. In Genesis 18 word die verhaal aan ons vertel waar God aan Abraham sê dat hy in die volgende jaar ʼn seun sal hê en hy ook meegedeel word dat God Sodom en Gomorra sou verwoes. Abraham noem die persoon waarmee hy praat ‘Here’ en verklaar dat hy gewaag het om met die Here te spreek. In hierdie verhaal is daar ʼn leidraad dat God nie net een persoon is nie. Lees hierdie volgende vers baie aandagtig en kyk wat dit aan die leser van Genesis duidelik maak. Genesis 19:24 Die Here het op Sodom en Gomorra swael en vuur laat reën wat van die Here af uit die hemelruim kom. Albei kere word Here(Jahwe) gebruik. Die Here wat op daardie stadium op die aarde was het swael en vuur laat reën van die Here wat in die Hemel is. Ons sien dus God, die Vader, in die hemel en God, die Seun, op aarde.

Nog ʼn voorbeeld van God se verskyning aan die mens is waar Manoag en sy vrou, Simson se toekomstige ouers, met die Here(Jahwe) gepraat het. Manoag was aan die einde van die gesprek vreesbevange dat hulle sou sterf aangesien hulle die Here gesien het. Rigters 13:22 Manoag het vir sy vrou gesê: Ons sal beslis sterf, want ons het God gesien. Die rede waarom hy en ander met God kon praat en bly lewe was omdat hulle met die tweede persoon van die Drie-Eenheid gepraat het, naamlik Jesus. As dit dalk vir jou vreemd is dat ek Hom hier Jesus noem kan u gerus na die brief van Judas gaan kyk waar die oudste teks wat ons van Judas het in die Nestle Aland 28 gebruik word. Daar staan dat Jesus die volk uit Egipteland gelei het. Baie van die nuwe Engelse vertaling, soos byvoorbeeld die NET gebruik Jesus en dit is tog jammer dat die 2020 nie ook hier by die oudste tekste gehou het nie. Now I desire to remind you (even though you have been fully informed of these facts once for all) that Jesus, having saved the people out of the land of Egypt, later destroyed those who did not believe. Jude 1:5 NET. Die bevestiging dat Jesus die God is wat Jesaja in hoofstuk 6 gesien het, kry ons in Johannes 12. Johannes 12:37-41 Hoewel Jesus so baie tekens in hulle teenwoordigheid gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie, sodat die woord wat die profeet Jesaja uitgespreek het, vervul kon word: Here, wie het ons boodskap geglo? En die arm van die Here, aan wie is dit geopenbaar? Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê: Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard sodat hulle nie met hulle oë  kon sien en met hulle harte kon verstaan en kon terugdraai, en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê, omdat hy sy heerlikheid gesien en oor Hom gepraat het. Die God wat niemand kan sien en leef nie is dus God die Vader wat verklaar het dat Jesus Sy eniggebore Seun is. Johannes 1:18, wat hierbo genoem word, verklaar ook dat Jesus God is. Nou dat ons weet wie die Een is wat Jesaja beskryf kan ons voortgaan en kyk na sy beskrywing.

God is in beheer

Jesaja sien ʼn visioen van die Hemelse koning met die afsterwe van die aardse koning, Ussia, in ongeveer 740 v.C. Alreeds in hierdie eerste vers wil God dit duidelik maak dat Hy nog steeds regeer en in beheer is, maak nie saak wie die regeerder van Israel, of enige land, is of in die toekoms sal wees nie. Hoe maklik word ons nie vasgevang in ons daaglikse omstandighede nie? Jesaja beleef die afsterwe of die einde van ʼn dinastie en hy ervaar ʼn volk wat rondom hom lewe wat al hoe meer goddeloos raak en God se opdragte in die wind slaan. Buitekant is daar ʼn ryk wat al hoe magtiger word en hierdie Assiriese bedreiging moes tasbaar gewees het. Dit wat hy sien behoort aan elke leser onmiddellik rustigheid te gee. God sit op sy troon. Hy is soewerein en die enigste heerser. So word Hy ook uitgebeeld in Openbaring en so sien Johannes Hom in die Hemel. Openbaring 4:2-3 Onmiddellik het die Gees van my besit geneem, en kyk, daar was ‘n troon in die hemel, en Iemand wat op die troon sit. Die Een wat daarop sit, se voorkoms was soos jaspis en karneool, en rondom die troon was daar ‘n reënboog wat net soos smarag lyk. Wat gebeur as jy besef God sit op Sy troon en is in totale beheer? Nie net is Hy as koning op Sy troon nie, maar Hy is ook regter oor alles. Net die some van God se kleed vul die hele tempel. So verhewe is Hy en so glorieryk sy teenwoordigheid dat daar vir niks anders plek is nie. Dit het ook plaasgevind met die tabernakel en met die inlywing van die tempel in die tyd van Salomo. 1 Konings 8:10-11 Toe die priesters uitkom uit die heiligdom, het ‘n wolk die tempel van die Here gevul. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here gevul.

God is heilig

Daar is net Een waarop gefokus word, die gans andere, die Heilige God. Om Sy heiligheid nog verder te demonstreer is daar serafs, wat as dit vertaal word, beteken die brandendes, wat bo Hom staan. Slegs in die boek Jesaja lees ons van serafs. Hulle het elkeen ses vlerke en dit wat hulle met hulle vlerke doen wys aan ons dat selfs hulle nie heilig genoeg is vir God se teenwoordigheid nie. Met twee vlerke het elkeen sy gesig in verwondering bedek, met twee het hy sy voete bedek, want hulle is nie werd om voor God te staan nie,  en met twee kon hy vlieg.  As ek sien hoe die serafs in God se teenwoordigheid reageer laat dit my onmiddellik dink aan die vraag van die Psalmdigter: “…wat is ‘n mens dan dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U  aan hom aandag skenk?” Psalms 8:5. Die serafs roep “Heilig” drie maal uit. Drie is die volmaakte getal. In die Bybel as iets twee maal herhaal word beteken dit dat jy moet oplet, maar hier word dit drie maal herhaal. Daar is geen van God se karaktertrekke wat drie maal in die Bybel uitgeroep of beklemtoon word behalwe sy heiligheid nie. In Openbaring word dit weer herhaal. Openbaring 4:8 Die vier lewende wesens het elkeen ses vlerke, wat reg rondom en aan die binnekant vol oë is. Sonder om te rus, herhaal hulle dag en nag: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is  en wat kom. Hy is sonder enige vlek of rimpel en in Hom is daar geen skaduwee nie. Hy is dus volmaak. Jakobus 1:17 Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie. Verder verklaar hulle dat nie net die tempel nie, maar ook die hele aarde, vol is van Sy heerlikheid. Alles bewe met die geroep van die serafs en die rook vul die tempel net soos wat God gewoonlik sy teenwoordigheid aan die Israeliete getoon het. Eksodus 33:9 Telkens wanneer Moses die tent binnegegaan het, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent gaan staan. Dan het die Here met Moses gepraat.

Ons is sondig

Is dit nie verstommend dat dit juis die heiligheid van God is wat in die huidige wêreld agterweë gebly het nie. Jesaja se grootste vrees wanneer hy God aanskou is dat hy verlore is, aangesien hy onrein is van lippe en onder ʼn volk woon wat onrein van lippe is. Die besef van wie God is gaan altyd gepaard met ʼn besef van wie ek is. Dit is tog ironies dat die godsdiens van baie mense vandag hulle glad nie by hierdie punt bring nie. Inteendeel word daar vandag klem gelê op hoe spesiaal elkeen is en ons moet tog so versigtig wees om nie die waardigheid of regte van enige iemand te skaad in die voorlê van die Evangelie nie. In die Middeleeue en met die Reformasie was mense se grootste bekommernis dat hulle nooit rein of heilig genoeg sou wees nie. Daarom vind ons Luther, voor sy wedergeboorte, gereeld besig om sy sonde te bely en by die priester te pleit dat sy sonde vergewe moes word. Daar word vertel dat hy na so ʼn sonde belydenis skaars ʼn paar tree van die priester weg sou wees, net om terug te draai en te vra dat sy sonde weer vergewe moes word. Die tydsgees waarin ons leef is eerder die van mense wat dink hulle verdien dit om in God se teenwoordigheid te kom en deur God vergewe te word. Jesaja besef sy eie gebrek en tekortkoming. “Hoe kan ek, Jesaja, God aanskou wat so heilig is en nog leef?” Die mens wat voor God verskyn word diep bewus van sy sonde en ellende. Ons besef ook dat hierdie God wat heilig is, nooit enige sonde mag oorsien of as onbenullig sal afmaak nie. As jy sonde as iets ligtelik afmaak of die erns daarvan misken, het jy geen verstaan van wie God is nie. Die God wat heilig is vereis ook van die mens om heilig te wees. Levitikus 11:45 want Ek is die Here wat julle uit Egipte laat optrek het om vir julle ‘n God te wees. Wees dan heilig, want Ek is heilig.

God maak rein

Sonder dat Jesaja verder enige iets sê of vra is dit God wat die inisiatief neem in Jesaja, en ons, dilemma. Is dit nie wat ons deur die Skrif sien nie? Wanneer Josua, die hoëpriester, met vuil klere voor God staan en deur die duiwel aangekla word is dit die Engel, wat die tweede persoon van die Drie-Eenheid is, wat opdrag gee: Trek sy besmeerde klere uit. Vir Josua het hy gesê: Kyk, ek het jou sondeskuld van jou weggeneem en ek sal vir jou feesklere aantrek. Sagaria 3:4b. Hier, met Jesaja, kom die antwoord ook van God wanneer een van die serafs ʼn gloeiende kool vuur van die altaar neem en sy mond daarmee aanraak. Jesaja se versoening sou kom van die altaar, die plek waar die offer gebring word vir sonde. Net soos hier en ook in Sagaria sou die Een wat die offer van reiniging bring die Een wees wat voor hulle staan. Net Hy kan ons skuld wegneem en ons sonde versoen. So verduidelik die Hebreër skrywer ook hierdie versoening wat ons ontvang het. Hebreërs 2:17 Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. Dit is die wonderlike wat die Skrif aan ons kom meedeel, dat ons wat dit nie verdien of kan verdien nie in Christus met God versoen is.

Die Woord noem ons, as Sy kinders wat versoen is met Hom, heiliges. Hierdie heiliges is nie die werkwoord nie, maar die byvoeglike naamwoord wat iets verklaar wat ons alreeds volkome is. Dit is een van die mooiste woorde waarmee ons as gelowiges beskryf word. Ons is skoongewas in die bloed van die Lam en is nou ook sonder vlek of rimpel. Efesiërs 5:25-27 Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. As ons die metafoor van Josua kan verduidelik met die beeld van die Nuwe Testament sien ons dat die kleed van Josua uitgetrek word en deur Christus aangetrek word en die kleed van Christus deur Josua aangetrek word. Dit is dan presies van 2 Korintiers beskryf. 2 Korinthiërs 5:21 Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. Daar is geen ander manier waarop ons voor God sal kan verskyn as met Christus se kleed van geregtigheid nie. Jesus vertel ʼn aangrypende gelykenis van ʼn koning wat ʼn bruilof vir sy seun hou en sy slawe vra om gaste vir die onthaal te gaan nooi. As die gaste weier om te kom gaan die boodskap uit na die agterstrate en die gangetjies en word goeies en slegtes uitgenooi na die bruilof. As die koning ingaan om na die gaste te kyk vind hy iemand wat nie ʼn bruilofskleed aan het nie. Hy vra hom hoe hy ingekom het sonder ʼn bruilofskleed en ons vind dat die man niks kan antwoord nie. Dan word hy gebind en in die buitenste duisternis gegooi waar daar ʼn geween en gekners van tande sal wees. Die vraag wat elke leser wat nie bekend is met die Nuwe Testament nie behoort te vra is waar hierdie man die bruilofskleed moes kry, aangesien hy uit die agterstrate gekom het? Tog sien ons dat hy die enigste persoon is sonder ʼn bruilofskleed en kan ons daaruit aflei dat die koning ook die bruilofskleed voorsien het en dat hierdie man geweier het om die kleed aan te trek. Die bruilof van die Seun is moontlik gemaak deur die Seun wat die bruilofskleed aan die kruis vir ons oorhandig het.

Slot

Die finale dag as die Here weer kom sal vreesaanjaende vir die onheiliges en onreines van hierdie wêreld wees. Maleagi beskrywe hierdie dag tereg soos volg: Wie kan die dag van sy koms verduur, wie kan staande bly wanneer hy verskyn? Ja, daardie dag is soos die vuur van die smelter en soos die loog van wassers. Teenoor die ongelowiges sal hierdie dag vir die gelowiges ʼn dag van vrede en vreugde wees. Aan ons word ʼn dag belowe waarin ons vir God sal sien. 1 Johannes 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. Die rede waarom ons Hom sal sien word deur Jesus in die bergpredikasie verkondig. Matteus 5:8 Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien. Dit wat met Jesaja gebeur het, het met al God se uitverkorenes gebeur en ons is gelouter en gesuiwer en daarom sal ons die reg hê, moontlik gemaak deur Sy kruis, om voor Hom te staan. Het God jou rein gemaak en kan jy saam met God verklaar dat jy ʼn heilige is? Sien God op sy troon en vertrou op Sy verlossingswerk.