Jesaja 5:8-30

Inleiding

In hierdie gedeelte kondig God ses ellendes aan, wat telkens ingelui word met: “Wee hulle”. Teen hierdie tyd besef ons dat hoewel Jesaja vir die volk van Israel skryf elke gedeelte van toepassing gemaak kan word op die tyd waarin ons leef. Hierdie gedeelte is geen uitsondering nie, om die waarheid te sê, dit voel asof die profeet direk met die mense van vandag praat. Gierigheid, uitbuiting, dronkenskap, bedrog, onreg, en die omgekeerde stelsel van reg en verkeerd vier hoogty in ons tyd. Hierteen waarsku Jesaja met: “Wee jou!” Dit laat ons dadelik dink aan die “wee’s” van Openbaring en ons weet die uiteinde van elke wee is katastrofies vir die mens. Open 8:13 “En ek het gesien, en ek het ‘n engel wat hoog in die lug vlieg, met ‘n skril stem hoor roep: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde, wanneer die ander drie engele binnekort met ‘n geskal op hulle trompette blaas.”

Gierigheid

Die eerste wee is teen die rykes wat opgaar en, met hul begeerte na nog meer,  die armes uitbuit.  God het baie duidelik aan die volk voorgeskryf dat elke familie in Israel ʼn stuk grond moes besit. Die eienaarskap sou in elke familie van geslag tot geslag oorgedra word. As die familie weens finansiële omstandighede hulle grond moes verkoop, kon die koper dit net vir ʼn bepaalde tyd gebruik en na vyftig jaar moes die grond terug gegee word aan die oorspronklike familie. Alle skuld teen ʼn familie moes in die sewende jaar afgeskryf word. So kry ons die verhaal in Konings van die vrou wie se seun Elisa lewendig gemaak het. Sy het na ʼn lang afwesigheid a.g.v. hongersnood teruggekeer en het by die koning gaan pleit om haar grond terug te kry. 2 Konings 8:6 Die koning vra toe die vrou uit en sy vertel hom. Daarna het die koning ‘n paleisamptenaar aan haar beskikbaar gestel en gesê: Gee alles terug wat aan haar behoort, ook die volle opbrengs van die grond, vanaf die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe. In die tyd wat Jesaja geleef het, het die rykes geregtelike prosesse gevolg om die armes van hulle grond te beroof. Amos profeteer ook hierteen. Amos 2:6-7a So sê die Here: Oor drie oortredings van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit  nie herroep nie; omdat hulle regverdiges vir geld verkoop en behoeftiges vir ‘n paar sandale. Hulle trap op die stof  van die aarde, op die koppe van armes; en stoot weerloses uit die pad. Die rykes het dus hul huise groter gemaak en hul grond vermeerder sonder om enigsins om te sien na die armes van die land, soos wat God hulle beveel het. God wou hê dat hulle na hulle volksgenote moes omsien en as een verarm het dat hulle hom moes ondersteun. Levitikus 25:35 Wanneer jou broer verarm en by jou in die skuld raak, moet jy hom ondersteun soos ‘n vreemdeling en bywoner, sodat hy by jou kan leef. Hierdie selfde beginsel word ook beklemtoon aan die gemeente in die Nuwe Testament waar broers en susters in Christus na mekaar moet omsien. Jakobus verkondig dat as iemand nie na sy broer en suster omsien wat behoeftig is nie, hy nie kan bely dat hy geloof het nie. Jakobus 2:15-16 As ‘n broer of ‘n suster sonder klere en daaglikse kos is, en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? Die Bybel is nie teen rykdom nie, maar God spreek wel sy misnoeë uit teenoor enige persoon wat die arm man uitbuit en homself verryk ten koste van ander. God kondig vir hierdie mense aan dat hierdie rykdom nie sal hou nie en dat Hy dit alles tot ʼn einde sal bring. Die land se produktiwiteit sal laag wees, want ons sien dat  ʼn land wat so groot is dat dit ʼn dag sal neem vir tien osse om dit om te ploeg, slegs 32 liter wyn sal lewer. Hoe maklik vergeet die mens dat God die een is wat laat groei en die reën stuur op sy regte tyd. Die mens is nie afhanklik van sy besittings nie, maar wel van God wat voorsien. Daarom waarsku Jesus sy hoorders met hierdie woorde: Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie. Lukas 12:15

Dronkenskap

Behalwe rykdom word die mense oorheers deur ʼn begeerte na wyn en sterk drank. Die wyn is dit wat hulle uit die bed kry en hulle uit die bed hou. ʼn Partytjie is nie ʼn partytjie as daar nie wyn vloei nie. Op hierdie partytjies is daar musiek gemaak om enige aanklag van die gewete uit te doof, sodat daar net op die genot van die oomblik gefokus kon word.  Die skrywer van Spreuke sê dat iemand wat so leef nie wys is nie. Spreuke 20:1 Die wyn is ‘n spotter, en sterk drank ‘n lawaaimaker. Elkeen wat daarvan slinger, is nie wys nie. Drank is die dryfveer in hul lewens en hulle slaan glad nie ag op God of die werk van Sy hande nie. So vertel Lemuel, ʼn koning wie se ma hom gewaarsku het teen drank. Spreuke 31:4-5 Dit is vir konings nie gepas nie, Lemuel, dit is vir konings nie gepas om wyn te drink nie, vir hooggeplaastes om te wees waar daar sterk drank is nie. Anders drink hy, en vergeet wat as voorskrifte neergelê is, en skend hy die regte van al die magteloses. Die dronk man vergeet van sy opdragte en verantwoordelikheid en die wyn word sy plesier en dryf hom aan om nog meer te drink. Die werk van God, wat sy oordeel insluit, is dit wat mense met drank probeer uitdoof. Ons sien hoe God die oop keel as ʼn metafoor gebruik van dit wat met hulle sal gebeur. Dit roep hul eie oop keelgate, waarin die wyn so lekker gevloei het, na vore en wys sterk op die gevolge van hul drankmisbruik.  So sal die doderyk ook sy keel vir hulle oopmaak en “die stad se luisterrykes en gespuis, die lawaaimakers en uitbundiges in haar sal daarin afdaal”. Jesaja 5:14b. God kondig hier, net soos in Hosea, aan dat sy volk ten gronde gaan weens ʼn gebrek aan kennis. Hosea 4:6 My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet. Dieselfde aanklag is teen die kerk van vandag wat alles doen net om mense te vermaak. Dit moet “lekker” wees sodat mense weer sal kom. Dit alles terwyl God en sy gebod agterweë gelaat word. Die volk is so vasgevang in ʼn lewe en soeke na genot, dat hulle nie ag sal slaan op die oordeel wat aan die kom is nie. Jesaja waarsku dat daar wel ʼn oordeel sal wees en dat God in geregtigheid sal oordeel. Hierdie volk se oordeel sal plaasvind deur God wat ʼn vreemde volk sal stuur sodat hulle as gevangenis weggevoer kan word. As Hy hulle straf sal hulle moet erken dat Hy ʼn heilige God is. God word beskrywe as ʼn heilige God, ʼn God sonder enige sonde, ʼn volmaakte God wat ook van sy volgelinge vereis dat hulle heilig moet wees.

  • Levitikus 19:2 Praat met die hele volksvergadering van die Israeliete en sê vir hulle, Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig.
  • 1 Petrus 1:15-16 Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. Daarom staan daar geskryf: Wees heilig, want Ek is heilig.

Omgekeerde reg

In die volgende wee word na mense gekyk wat God se morele kode verander. Hulle wys na dit wat God sleg noem en verander dit na iets goeds en dit wat God goed noem word na sleg gewys. Die samelewing van vandag is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Mense haat dit wat goed is en geniet en vind hulle vreugde in die slegte. Hierdie toestand laat my dink aan ʼn verhaal wat vertel word van iemand wat in ʼn winkel ingebreek het en al die pryse in die winkel verander het. Die duur items is baie goedkoop gemaak en die goedkoop items baie duur. Nie net in die wêreld nie, maar veral in die kerk is hierdie boodskap so van pas. Dit wat die kerk deur die eeue as gruwelik beskou het op grond van die Skrif is nou die bron van trotse parades en uitbundige en uitspattige feesvierings. Vir paartjies om saam te bly is aan die orde van die dag en om te skei is net ʼn logiese stap, aangesien dit wat God saamgevoeg het nie meer werk nie. Van die sogenaamde slimstes in die universiteite en regerings kan nie meer die onderskeid tussen ʼn man en vrou definieer nie en in plaas daarvan om die huwelik te beskerm as ʼn Goddelike instelling tussen ʼn man en ʼn vrou, word ook die sondige homoseksuele verhouding bejeën as ʼn huwelik. Dit was ook die toestand van die volk van God. Psalms 109:5 Hulle vergeld my met kwaad vir goed, met haat vir my liefde. Hulle wil besluit wat reg en verkeerd is en hulle word die regters van reg en verkeerd. Hulle neem hulle plekke in in die regbanke en verklaar diegene wat goddelik lewe skuldig en die goddelose onskuldig. Hulle het dit goed gepraat as mense ryk word a.g.v. afpersing en onderdrukking van die armes en, net soos vandag, word dit as goeie besigheid gereken eerder as dit wat dit werklik is, naamlik skelmstreke. Luister wat God sê aangaande dit wat mense hoogag. Lukas 16:15 Hy sê toe vir hulle: Dit is julle wat julleself voor die mense regverdig voordoen, maar God ken julle harte. Want dit wat deur mense hoog aangeskryf word, is ‘n gruwel voor God. Hierteenoor word die gelowige opgeroep om die slegte te haat en goeie lief te hê. Romeine 12:9 Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Die gelowige verklaar dat ons haat wat God haat. Psalms 119:162-163 Ek verheug my oor u woord, soos iemand wat ‘n groot buit gevind het. Ek haat en verafsku valsheid, maar u wet het ek lief. Dit wat God verkeerd en sleg verklaar het, sal so bly ongeag of die tyd of kultuur verander het. Dit bly God se standaard en die mens het geen gesag om God se morele wette te verander nie.

Ligsinnigheid

In vers 18 val die volgende wee op die groep mense wat sonde saamsleep asof dit normaal is. Hulle is ligsinnig wanneer hulle God se Woord hoor en vra spottenderwys dat die Here gou moet maak in sy oordeel, sodat hulle dit kon sien. Hulle glo egter glad nie dat dit sal plaasvind nie, want indien hulle dit geglo het, sou hulle hul bekeer het. Ons kry vandag ook diegene wat God uittart met hul sonde, omdat hulle dink dat die oordeel hulle nie sal raak nie. Vanaf vers 24 word God se oordeel oor hulle beskryf. Hy is God en die mens word as niks gereken nie en sal deur God totaal vernietig word. God gebruik die natuur in die straf van Israel om daardeur ook aan te toon dat Hy die Almagtige God is wat heerskappy oor alles op aarde het. God wys sy volk op hul verlede waarin Hy hulle alreeds geoordeel het, maar verseker hulle dat Sy straf nie tot ʼn einde gekom het nie en dat Sy arm nog steeds teen hulle uitgestrek is. Die leser staan verslae dat ʼn volk so hardkoppig kan wees en, ten spyte van dit wat hulle voorvaders ervaar het, nogtans voortgegaan het om hul vuiste teen God en sy gebod in rebellie te lig. God belowe dat Hy beslis nie klaar is met hierdie volk se straf nie. Hy sal hulle vyande na Israel laat kom en hulle gebruik as ʼn stok waarmee hy sy volk sal tugtig. Hy hoef net sy banier op te hef en vir hulle te fluit en die vyande sal onmiddellik aankom. Nie net word God se soewereiniteit oor die natuur hier verkondig nie, maar ook sy soewereiniteit oor elke mag en owerheid. Wanneer God hierdie vyand bring om hulle te straf, sal elkeen wat die vyand sien en hoor, soos met die geluid van die gebrul van die leeu, besef dat niemand hulle kan help nie.

Slot

So sal dit ook wees met God se wederkoms wanneer die groottes en magtiges, ryk en arm sal vlug voor die aangesig van Hom wat kom op die wolke. Daar sal geen skuiling wees nie en daarom kom die oproep na elke aardbewoner om God se gebooie te bewaar en sy Woord lief te hê en dit te koester. Tot die wat hoor word ʼn oproep deur die verkondiger en die skrywer van Hebreërs gemaak. Hebreërs 4:6-7 Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie –bepaal Hy weer ‘n sekere dag, dit is vandag, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!

Lewer kommentaar