Inleiding
Hierdie hoofstuk kan in twee dele verdeel word naamlik, die lied van die wingerd (vers1-7) en die slegte vrugte (vers 8-30). Jesaja gaan vir die volk ʼn lied sing. Almal moes dit hoor en onder die diepe indruk kom van hulle sonde sodat hulle hulle sou skaam vir hul dade. God wil die volk wys wie en wat hulle is. Die hoofstuk begin waar Jesaja ʼn lied sing oor sy geliefde en sy wingerd. Dieselfde metode word gebruik as toe Natan Dawid van sy sonde teenoor die Here moes oortuig aangaande sy owerspel met Batseba en moord op Uria. Dawid word gevra om uitspraak tussen twee partye te lewer net om uit te vind dat hy die party is wat hy skuldig verklaar het. Jesaja se lied oor sy geliefde en dié se wingerd wys op die harde werk en verwagting wat sy geliefde aangaande sy wingerd gehad het en die volk word gevra om te beslis in die regsaak, want die wingerd het nie aan die verwagting voldoen nie.
Die bruidegom
Die geliefde waarvan Jesaja praat is niemand anders as God self nie. Dit wat vir sy geliefde belangrik was en waaraan hy met soveel verwagting gewerskaf het, is ook vir die profeet belangrik. Die volk verteenwoordig die wingerd, maar van die eerste vers af is daar alreeds ʼn aanklag teen hulle, omdat hulle nie net soos Jesaja kon verklaar dat God hul geliefde is nie. Telkens in die Woord word daar na God en sy volk/kinders verwys as twee partye in ʼn huwelik. Nie net was die profeet as die verkondiger van God se Woord deel van hierdie huwelik nie, maar hy was ook die een wat wou toesien dat hierdie huwelik nooit verontreinig sou word nie. Johannes die Doper sou homself met die vriend van die bruidegom vergelyk wat hom verbly oor die stem van die bruidegom. Paulus weer, skrywe aan die gemeente hoe Hy wil toesig hou dat hulle aan Christus alleen getrou sal bly. 2 Korinthiërs 11:2 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloesie, aangesien ek julle aan een Man, aan Christus, verbind het, om julle as ‘n rein maagd aan Hom aan te bied. Dit is so ʼn mooi beeld van ʼn man of vrou se verhouding met God. Daarom is die opdrag wat God aan sy volk gee, en wat Jesus ook beklemtoon in die Nuwe Testament, dat die mens God moet liefhê met sy hele wese.
- Deuteronomium 6:5 Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.
- Matteus 22:37 Hy het vir hom gesê: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
So word die gedagte van ʼn verhouding tussen twee geliefdes ook uitgebeeld in Hooglied wat God en sy volk of die gemeente uitbeeld. Jeremia vertel ook aan die volk dat God hulle wil herinner aan hulle liefde in die begin toe hulle in die woestyn was. Jeremia 2:2 Gaan roep uit ten aanhore van Jerusalem, So sê die Here: Ek onthou jou – die trou van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, hoe jy my gevolg het in die woestyn, in ‘n land waar nie gesaai word nie. Hosea, met sy huwelik aan ʼn prostituut, moes weer die volk aankla dat hulle, ongeag die huweliksband waarin hulle met God gestaan het, agter ander gode aan gehoereer het.
Die wingerd
Jesaja sing van sy geliefde wat ʼn wingerd het wat hy baie goed versorg. Die wingerd is op ʼn vrugbare heuwel. Die plek waar die wingerd geplant is, is so deur die eienaar gekies om die beste omstandighede te skep sodat hierdie wingerd kan floreer. Die plek wat God gekies het was die beste, maar dit was nie al nie, Hy het ook die grond so voorberei dat alle faktore sou saamwerk om hierdie wingerd die beste geleentheid te gee om optimaal te kan groei. Hy het die grond bewerk sodat dit sag was en die wortel maklik kon penetreer. Hy het alle klippe uit die grond waar sy wingerd moes groei verwyder. Enige iemand wat weet hoe klipperig die land van Israel is sal besef hoe groot die werk was wat hierdie eienaar moes verrig om die land skoon te maak. Hy plant sy edelstokke in hierdie land soos ook deur Jeremia gemeld word. Jeremia 2:21 Ek self het jou geplant as ‘n keurdruif, ‘n egte, edel wortelstok. Hoe kon jy dan verander in wilde druiwe, in ‘n vreemde wingerdstok! Hy het ook ʼn wagtoring opgerig sodat Hy oor die wingerd kon waghou en dit kon versorg. Hy het ʼn giskuip uitgekap waarmee Hy verklaar het dat hy nie net genoeg vrugte om te eet verwag het nie, maar soveel dat daar oorvloed sou wees om te kan verwerk. Hierdie beskrywing van die wingerd laat die leser onmiddellik dink aan die gelykenis van Jesus van die huisheer wat ʼn wingerd opgerig het en ʼn wagtoring opgesit het en dan aan ander uitverhuur het. Die gelykenis was op die leiers van die volk, die Fariseërs en die Skrifgeleerdes en die Joodse Raad, gemik. Die skokkende van die gelykenis van Jesus is dat die leiers geweet het dat die gelykenis oor hulle gegaan het. Matteus 21:45 Toe die leierpriesters en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy van hulle praat. Die verhaal het hulle egter net kwaad gemaak.
Verwagting
Hierdie wingerd van God het net die beste ontvang en die verwagting was groot vir die oes wat hieruit sou voortkom. In Esegiël 15 vertel God aan die profeet dat ʼn wingerd slegs een doel het en dit is om vrug te dra en as dit nie vrug dra nie dit nutteloos is. Esegiël 15:2-3 Mensekind, wat gebeur met die hout van die wingerdstok anders as wat met al die ander hout gebeur, met die takke wat aan die bome van die bos was? Word van die wingerdstok hout geneem om iets bruikbaars daarvan te maak? Of neem mense ‘n stuk daarvan as ‘n pen om enigiets aan op te hang? Daarom sê Jesus ook in Johannes 15 dat as jy nie vrug dra nie, jy uitgesny en in die vuur gegooi sal word soos iets nutteloos. Na alles wat God gedoen het en die harde werk wat Hy in hierdie wingerd ingesit het, verklaar Jesaja dat dit wilde druiwe voortgebring het. Wat ʼn tragedie?! Hoe kan dit moontlik wees? Wat het God nie alles vir hierdie volk gedoen nie? Hoe het Hy hulle nie oorlaai met goedheid en guns nie? Na die tweede vers eindig die lied van Jesaja en God kom aan die Woord deur sy profeet.
Hofsaak
God het ʼn hofsaak teen sy wingerd en die volk, wat deur die wingerd verteenwoordig word, word ingeroep as die regter wat die oordeel moet fel tussen God en sy wingerd. So seker is die saak dat die volk geen ander manier het as om te verklaar dat die wingerd skuldig is nie en die wingerd is hulle self! So was Dawid ook deur die profeet met ʼn gelykenis gekonfronteer na sy sonde met Batseba waarin hy die oordeel uitspreek teen die ryk man in die gelykenis wat die arm man se enigste lam geneem het en dit vir homself geneem het, net om te verneem dat hy die man is. 2 Samuel 12:5-7a Dawid het baie kwaad geword vir daardie man. Hy het vir Natan gesê: So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, verdien die dood. Die ooilam moet hy viervoudig vergoed, omdat hy hierdie daad gedoen het en nie die arm man jammer gekry het nie. Toe sê Natan vir Dawid: Jy is die man! Kon God enige iets meer vir julle gedoen het? En dan vra Hy die vraag of Hy verkeerd was in Sy verwagting dat hierdie wingerd goeie druiwe sou dra. So ook sal niemand eendag enige verontskuldiging voor God hê as Hy in geregtigheid teen die mens optree nie. Paulus vertel in Romeine dat geen mens enige verontskuldiging voor God het of kan kla dat hy nie geweet het dat daar ʼn God is nie. Romeine 1:18-20 Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging. Nog minder het diegene wat weet wat die Woord van hulle vra en tog nie daarop ag slaan nie enige verontskuldiging.
Dankbaarheid
Daar was geen dankbaarheid by die volk vir wat God vir hulle gedoen het nie. So was dit ook met die koms van die seun van God. Daar was geen dankbaarheid vir wat Hy kom doen en sou kom doen nie. Ons sien dit met Simon die Fariseër wat ʼn ete vir Jesus gegee het en tog geen van die normale gebruike van gasvryheid teenoor Jesus nagekom het nie. Jesus het geen water vir sy voete, soen of olie op sy hoof ontvang nie. In teenstelling hiermee sien ons Maria Magdalene se huldeblyk aan Hom. Die verskil tussen hulle, sê Jesus aan die hand van ʼn gelykenis, is dat sy besef het hoe baie sy ontvang het terwyl Simon geen benul gehad het nie. Dit is ook die verskil tussen die gelowige en die wêreld. Die gelowige leef uit dankbaarheid. Die gelowige vandag het soveel meer ontvang as die volk van Israel. Ons is uitgekies as die erestokke om in die land van die koning te kom woon. Die land is skoongemaak en ons is gereinig van al ons sondes. Die Heilige Gees is soos ʼn heining om ons gespan en ons het die sekerheid dat, in Hom, ons nie verlore sal gaan nie. Johannes 14:16-17 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Verder sal ons in Hom gewortel wees en dit sal die rede wees waarom ons vrug kan en sal dra. Johannes 15:5 Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. Dus verklaar God se Woord aan die gelowige dat hy in staat is om vrug te dra en gehoorsaam te wees omdat die Gees hom nie net gewillig maak nie, maar ook in staat stel, om vrug te dra. Filippense 2:13 Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. En tog is daar soveel meer as God getuig dat Hy die vrug wat ons sal dra alreeds voorberei het. Efesiërs 2:10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.
God kondig die straf aan van hierdie volk.
Hierdie volk sou nie van buite verwoes kon word nie, aangesien God hulle beskerm het en sy heining om hulle gespan het. Hulle het die slegte vir Hom gelewer en niks gedoen wat Hy van hulle verlang het nie. Nou sal God alles wat hulle beskerm het verwyder en Hy sal die volk vernietig. Met die verwydering van die heining is die wingerd oop vir enige aanval van buite. Hierdie wingerd sal nou doring en distels voortbring; iets wat ons onmiddellik terug neem na die tuin van Eden en die gevolge van die mens se sonde. Genesis 3:18 dorings en dissels sal dit vir jou laat uitspruit, en jy sal veldplante eet. Geen reën sal meer op die grond val nie, want God, die Almagtige, wat reën voorsien sal dit van die land weerhou. Dan kom vers 7 waarin God die gelykenis verklaar en die huis van Israel en die manne van Juda as die skuldiges verklaar. Met dieselfde metafoor vertel die Psalmdigter aan die volk hul skuld en die rede waarom God hulle verlaat het. Psalms 80:9 U het in Egipte ‘n wingerdstok uitgetrek; U het nasies verdryf en hom geplant. U het voor hom skoongemaak; hy het wortel geskiet en die land vol gerank. Berge is deur sy skadu oordek, die magtige seders deur sy takke. Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see, en sy lote tot by die Rivier. Waarom het u sy tuinmuur afgebreek, sodat almal wat daar verbygaan, sy vrugte pluk? Wildevarke uit die bos vreet hom kaal; bosvarke uit die veld vreet hom op. Male sonder tal is hierdie waarskuwing en die nagevolge van hul ongehoorsaamheid aan God se bevel aan die volk verkondig en tog het hulle nie daarop ag geslaan nie. Die volk Israel het vergeet dat alles wat hulle besit van God af kom en dat hulle slegs die bestuurders van Sy eiendom is.
Slot
Volgens Romeine 11 is ons as gelowiges die wilde olyftakke wat ingeënt is by die olyfboom. Die mak olyftakke, wat Israel verteenwoordig, is uitgesny en ons is daar ingeënt. Die rede waarom die mak takke uitgesny is, is omdat hulle nie vrug gedra het nie. Daarom kom die oproep tot elke individu wat getuig dat hulle ingeënt is op die Olyfboom: “Dra vrug!” As ons bely dat God ons geliefde is, soos wat Jesaja dit verklaar het, sal ons sy gebooie nakom. Johannes 14:21 Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak. Die Skrif stel dit onomwonde dat enige persoon wat nie vrug dra nie, nie in Christus is nie en dat hy homself bluf. Die ware gelowige, soos die ware gelowige van die Ou Testament, het vrug gedra wat by die bekering pas. Daarom sê Johannes die Doper ook aan die mense wat na hom toe kom om gedoop te word, “dra liewer vrugte wat by die bekering pas”. Matteus 3:8. Die psalmdigter wat die psalm skryf soortgelyk aan die metafoor hier in Jesaja, sluit af met ʼn oproep tot God om weer sy mense lewend te maak en bevestig dat hulle sal doen wat God van hulle vra. Psalms 80:19-20 Ons sal nie van U wyk nie. Maak ons lewend! Net ú Naam sal ons aanroep. Here, God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word. As jou druiwe wild geword het en sonder enige smaak, pleit by God om jou te vergewe en nuut te maak sodat jy vrug kan dra wat Hom sal verheerlik.
