Inleiding
Nadat ons die toestand van die Jode gesien het en die gevolge van hulle sonde uitgebeeld is, breek die son ewe skielik deur die donker wolke. Die regter wat die oordeel voltrek in hoofstuk 3:17-18 word genoem die Here (adonai) en die HERE(Jahwe) wat dieselfde name is wat gebruik word vir die Verlosser in vers 4-5 van hierdie hoofstuk. Die Regter wat die vonnis sal fel is dus dieselfde God wat in Homself verlossing sal bewerkstellig. Net God alleen kan vir die oortreding teen Hom betaal. Alle sonde is teen God soos Dawid ook getuig rakende sy sonde teen Batseba. Psalms 51:6 Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel.
Die Messias
Die spruit of loot is ʼn titel wat deur die profete vir die Messias gebruik word.
- Jeremia 23:5 Kyk, daar kom dae, is die uitspraak van die Here, wanneer Ek vir Dawid ‘n regverdige loot sal laat opkom. Hy sal as koning regeer en verstandig optree; hy sal in die land reg en geregtigheid handhaaf.
- Sagaria 3:8 Luister tog, Josua, hoëpriester, jy en jou medepriesters wat voor jou sit, manne wat as ‘n teken dien; want kyk, Ek gaan my dienaar, die Loot, laat kom.
Hierdie gedagte van spruit of loot het sy oorsprong in Samuel waar dieselfde stam van hierdie woord vir spruit gebruik word. 2 Samuel 23:5 Ja, is dit nie soos my huis by God is nie? Want Hy het ‘n ewige verbond met my gevestig, in alle opsigte georden en beskerm. Ja, al my heil en alle wense, sal Hy dit dan nie laat uitspruit nie? Wanneer ons aan iets dink wat uitloot of uitspruit dink jy aan nuwe lewe. Dink aan die nuwe plantegroei wat sigbaar word na ʼn veldbrand en die plante wat na die verwoesting weer uitspruit. So sal dit wees nadat die volk vir hul sonde gestraf is. Daar sal nuwe lewe van God af kom.
In Jesaja, anders as met Jeremia, word die loot nie die loot van Dawid genoem nie, maar die loot van die Here(Jahwe). Jesaja sê dat die Messias se oorsprong goddelik sal wees. Sy geslagsregister as mens word baie duidelik verkondig in Mattheus en Lukas se evangelies. Mattheus fokus op sy koningskap en bring die geslagslyn deur sy vader Josef, terwyl Lukas sy moeder se geslagslyn volg en wys hoe albei lyne deur Dawid, die koning, kom.
Hierdie Messias sal waarlik pragtig en luisterryk wees. Hier kom ʼn onmiddellike teenstelling met die vroue wat gedink het hulle is pragtig en luisterryk. Net in Hom sal ware skoonheid en heerlikheid wees. Slegs die oorblyfsel van Israel, waarna Romeine ook verwys as die ware gelowiges in Israel, sal hierdie transformasie ondergaan. Hierdie Messias sal die ware trots en roem wees vir diegene wat vrygekom het en nie deur God gestraf is nie. Die gelowige sal slegs in Hom kan roem. Die ongelooflike is dat diegene wat die Messias sal aanvaar die ware transformasie sal ondergaan wat in Jesaja 60 voorspel word. Jesaja 60:9 Ja, op My wag die eilande; die skepe van Tarsis vaar aan die voorpunt om jou kinders van ver af te bring. Hulle silwer en goud is by hulle, ter ere van die Naam van die Here, jou God, ter ere van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. Die wat aan Hom behoort sal nie in die toestand bly waarin hulle verlos is nie, maar sal vernuwe en verheerlik word. Dit is wat Paulus in Romeine aan die gelowiges vertel as hy hulle verlossing uitspel. Romeine 8:29-30 want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. Die wonderlikste ruiltransaksie in die geskiedenis het aan die kruis plaasgevind waar Hy ons sonde op Hom geneem het en ons Sy geregtigheid ontvang het. 2 Korinthiërs 5:21 Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. Sy skoonheid en glorie het ons deelagtig geword.
Heiliges
Nou sê Jesaja sal diegene wat oorbly heilig genoem word. Nie net sal ons sy geregtigheid ontvang nie, maar ons sal nou heilig wees. Die heiligheid van die Ou Testament as daar van Israel gepraat word, beteken dat hulle aan God behoort aangesien Hy hulle bevry het. Hy het hulle van slawerny vrygemaak en die juk van die Egiptenare oor hulle verbreek. Die tog deur die Rooisee en die ontvang van die beloofde land is alles ʼn heenwysing na die ware geestelike bevryding van die sonde en ontvang van die Ewige Lewe as die beloofde land. Dit was egter hier nie ʼn geestelike verlossing en ʼn geestelike land wat hulle ontvang het nie. Die Ou Testamentiese heiligheid was dus dat hulle as volk aan God behoort, maar die meerderheid individue het nooit geestelik aan Hom behoort nie, aangesien slegs diegene wat aan God gehoorsaam was deel was van hierdie ware Israel. Deuteronomium 28:9 Die Here sal jou vestig as ‘n heilige volk vir Hom, soos Hy aan jou met ‘n eed beloof het. As jy die gebooie van die Here jou God nakom en sy paaie volg. Die heenwysing van Jesaja, dat die volk heilig genoem sal word, het nou ʼn nuwe betekenis, aangesien hulle nou volgens vers 4 van vuilheid skoongewas sal word. Alleenlik hierdie wassing deur God sal hulle waarlik skoon kan maak en kan reinig van alle ongeregtigheid. Hierdie dag word ook deur Sagaria voorspel. Sagaria 13:1 Op daardie dag sal ‘n fontein oopgemaak word waar die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem hulle sondes en onreinheid kan afwas. Verder word aan ons vertel dat dit sal plaasvind deur die Gees van oordeel en die Gees wat wegvee. Dit is die Heilige Gees wat die wêreld sal aankla van sonde en geregtigheid en oordeel. Johannes 16:7-8 Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel. Dit is dieselfde Gees wat die heiligmakingsproses in ons lewens sal uitvoer en die getuienis sal lewer waarin ons tot God sal roep: “Abba, Vader!” Romeine 8:15 Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons Abba, Vader! Dus is die heiliges wat sal kom individue wat skoongewas is en waarin die Heilige Gees ʼn heiligmakingsproses begin het. Vir enige persoon wat weet wat heilige beteken moet dit ongelooflik wees om te besef dat ons ook heilig genoem gaan word. As ons na onsself kyk en besef hoe sondig ons is, is dit sekerlik die laaste byvoeglike naamwoord waarmee ons onsself sal wil beskryf. Hier en ook in die Nuwe Testament is die heilig ʼn byvoeglike naamwoord wat die betekenis het dat ons in ʼn toestand van absolute heiligheid onsself as gelowiges bevind. Daarom word die kerk, en dan praat ons nie van ongeredde mense wat net eredienste bywoon nie, maar die hoofletter Kerk, deur die apostels aangespreek as heiliges. Vanaf Handelinge tot Openbaring word die gelowiges heiliges genoem. Hierdie heiliges is opgeskryf in die Boek van die lewe. Heiligheid is dus nie iets waaruit jy kan wegval nie. Vanaf Eksodus word daar al vertel van hierdie boek waarin die wat die ewige lewe sal ontvang opgeskryf is en ook duidelik gemaak dat hulle name reeds opgeskrywe was voor die grondlegging van die wêreld.
- Eksodus 32:32 As U nou maar hulle sondes sal vergewe! Maar as U nie wil nie, wis my dan maar uit u boekrol wat U geskryf het, uit.
- Openbaring 21:27 En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam.
God herskep en kom woon by ons
God se genade oorweldig ons elke keer as ons die Skrif lees. Net as ons lees en dink dat iets wat gesê word wonderlik en so verhewe is bo wat ons verdien kom die volgende vers en verkondig dat ons nog meer sal ontvang. God sal nuut skep. Die woord in die Hebreeus is die woord wat gebruik word in Genesis van God wat die hemel en die aarde geskep het. Hierdie Sion sal die plek wees waar God nou saam met die byeenkoms van gelowiges sal wees. Hierdie woord “byeenkoms” is die voorloper vir die Nuwe Testamentiese woord “ekklesia” wat gemeente beteken. Hierdie samekoms waar God teenwoordig sal wees word vergelyk met die teenwoordigheid van God in die woestyn. Die wolk bedags en die wuurkolom snags was die verteenwoordiging van God se beskerm oor die volk. God se beskerm sal nou wees oor alles wat luisterryk of heerlik is. Hierdie woord vir “luisterryk of heerlik” is die woord wat in die begin na die loot gewys het en nou hier na die byeenkoms van gelowiges verwys. Die woord vir “die gewelf” wat sal vorm oor diegene wat luisterryk is, is ʼn woord wat in die Ou Testament gebruik word vir die huwelikskamer in Joël 2:16 Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Die luisterryke Messias en sy luisterryke byeenkoms van gelowiges sal dus volgens hierdie gedeelte in ʼn huwelikskamer wees van beskerming. Hierdie huweliksband sal ook weer later in Jesaja bespreek word. God se teenwoordigheid sal nou met sy mense wees. Johannes 14:23 Jesus antwoord hom: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Hier by God sal die Kerk met ʼn hoofletter sy beskerm en teenwoordigheid ervaar. Hierdie is nie ʼn belofte van ʼn fisiese beskerming van alle probleme en moeilikhede nie, maar wys soos die res van Jesaja 4 na ʼn geestelike realiteit dat ons in God se teenwoordigheid beskerm word en niks ons kan skei van die liefde wat daar in Christus Jesus is nie. Romeine 8:31-32 Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?
Vanaf Stefanus is gelowiges gemartel en doodgemaak maar in alles kon niks ons skei van die liefde van die bruidegom en sy teenwoordigheid by ons nie.
Slot
God is regverdig en straf volgens sy oordeel. Hy is egter ook genadig en sal ʼn heilige “volk” vir hom laat oorbly. Na die straf kom die nuwe lewe, wat begin met Sy “loot” Jesus Christus wat hierdie nuwe lewe vir elke gelowige bewerkstellig. In Hom sal ons geregverdig word, herskep word, heilig genoem word en veilig gehou word tot die dag wanneer ons finaal die Beloofde Land sal binne gaan.
