Inleiding
God staan gereed om die volke te oordeel, maar soveel te meer is Hy gereed om die mense van sy eie volk te oordeel. Jeremia 25:29 Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met die onheil – sal julle dan enigsins vryspring? Julle sal nie vryspring nie, want Ek gaan ‘n swaard oproep teen al die inwoners van die aarde, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. Dit word ook bevestig in die Nuwe Testament dat God eerste oor sy kerk sal oordeel. 1 Petrus 4:17 Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? Dit is dan ook waar Jesaja se oordeel begin wanneer hy aan die leiers en die oudstes sê dat God met hulle na die gereg sal gaan.
Die aanklag
God se aanklag teen hulle is dat hulle nie die armes versorg het nie. In die Ou Testament het God ʼn opdrag gegee aan die eienaars van grond aangaande die manier van oes.
- Levitikus 19:9-10 Wanneer julle die graanoes van julle grond insamel, mag jy nie die kant van jou land skoon afoes nie, en die oesreste mag jy nie optel nie. Jy mag nie die naoes van jou wingerd afoes nie, en die trosse wat val, mag jy nie optel nie. Vir die weerlose en die vreemdeling moet jy dit agterlaat. Ek is die Here julle God.
- Deuteronomium 24:20-21 Wanneer jy jou olywe afslaan, mag jy nie die takke deursoek waar jy klaar is nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly. As jy jou wingerd oes, mag jy nie die naoes agter jou afoes nie. Dit moet vir die vreemdelinge, vaderloses en weduwees agterbly.
Eerstens word hierdie as ʼn metafoor gebruik om te wys hoe die leiers van die volk hulle uitgebyt en vernietig het. Hulle het die opdrag van God ontvang om geen volksgenoot sleg te behandel nie en na die nood van die arme om te sien. Hierdie leiers moes die volk versorg en die volk onderrig in die weë van die Here, maar het hulle self versorg en hulle self verryk. Esegiël gebruik ʼn soortgelyke metafoor teen die leiers van die volk. Esegiël 34:18-19 Is dit nie vir julle genoeg dat julle die goeie weiding afwei en dan die res van die weiding vertrap met julle pote, dat julle skoon water drink en dit wat oorbly, dan met julle pote modderig maak nie? Wat my kleinvee betref – hulle moet wei op wat julle vertrap het met julle pote, en hulle moet drink wat julle modderig gemaak het met julle pote. Die wingerd verteenwoordig ook die volk van Israel Jesaja 5:4 Wat moet nog aan my wingerd gedoen word wat Ek nie reeds daarin gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe gelewer?
Die aanklag is dus eerstens teen die leiers wat nie die volk versorg nie en tweedens teen die volk self wat nie vrug dra nie. Die leiers van die volk kan met die leiers in die kerk van vandag vergelyk word. Hulle het die Woord van God vernietig. Hulle het Sy Woorde vertroebel en dit so gemaak dat niemand meer die lus het om daarvan te drink nie. Hoe tragies as die geestelike leiers nie mense opgewonde maak om self die Woord te bestudeer nie. Hulle maak dit wat duidelik is onduidelik en ontneem mense die vertroue dat hulle deur die bestudering van die Woord God se stem duidelik kan hoor. So baie keer is dit juis diegene wat die Woord van die Here moet uitdra wat deur hul gedrag die Bybel afwater, omdat hulle dit nie in hul eie lewens gehoorsaam nie. As jy nie die lewe van heiligheid wat God van jou vra wil navolg nie, is dit baie beter dat jy liewer niks oor die Woord van God sê nie. Dit is dan ook die pleidooi van die Psalmdigter dat sy lewe nooit nadelig vir ander sal wees nie. Psalms 69:7 Laat hulle wat op U wag nie deur my toedoen beskaamd staan nie, Here my Heer, Heerser oor alle magte. Laat hulle wat U soek nie deur my toedoen verneder word nie, o God van Israel. In Romeine 2 kla Paulus die Jode aan dat nieteenstaande hulle kennis van die wet hulle die wet oortree. Romeine 2:21-24 Jy dan, wat iemand anders onderrig, onderrig jy nie jouself nie? Jy wat verkondig dat ‘n mens nie mag steel nie, steel jy self? Jy wat sê ‘n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy egbreuk? Jy wat die afgode verafsku, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou beroem op die wet, jy doen God oneer aan deur die wet te oortree. Want die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster, soos daar geskryf staan. Die aanklag dat hulle veroorsaak dat God se naam gelaster word kom ook uit Jesaja. Jesaja 52:5 Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die Here; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die Here, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster.(Ou vertaling) Net na hierdie aanklag in Jesaja 52 kondig die Here aan hoe Sy boodskap wat verkondig word gesien moet word deur die verkondigers van sy Woord. Jesaja 52:7 Hoe lieflik op die berge is die voete van ‘n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat ‘n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: Jou God heers as koning! Hierdie leiers se lewens word vergelyk met ʼn meulsteen wat in plaas daarvan om meel te maal om die mense te voed, die mense self vergruis het. Alles moontlik wat hulle tot hulle eie voordeel uit hierdie mense kon maak, het hulle verkry. So sien ons baie sogenaamde geestelike leiers vandag wat mense uitbuit en vir geld God se “beloftes” van voorspoed en genesing aanbied.
Verwaand
Ook die dogters van Sion loop vol verwaandheid rond. Dit is beslis nie hul kleredrag en juwele wat Jesaja beoordeel nie, maar hul arrogansie. Hulle het hulself verryk en dink dat hulle geen te kort het nie. Hulle is so selfvoldaan dat hulle onbewus is van hul eie gebrek en hoe God na hulle kyk. Hierdie vroue is hoogmoedig. Hulle kleredrag is daar om aan die res van die mense te wys hoe ryk hulle is. Salomo waarsku teen hierdie manier van lewe, nl. waar alles daaroor gaan om aan ander te wys hoeveel meer jy as hulle het. Prediker 4:4 Ek het gesien dat al die inspanning en al die kundigheid waarmee gewerk word, naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is sinloos en ‘n gejaag na wind. Die groot vraag is waarom jy doen wat jy doen en dra wat jy dra. Niemand het die reg om jou hart te beoordeel waarom jy dinge doen nie, maar jy moet jouself beoordeel en weet dat God jou hart ken. Dink jy jy is beter as ander? Dink jy dat dit wat jy verwerf het deur jou eie wysheid en vindingrykheid is? God kyk na ons hart. 1 Petrus 3:3-4 Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van ‘n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is. Die oomblik as ek soos hierdie vroue met ʼn “uitgestrekte nek” loop roep ek die wêreld op om op my te fokus. “Kyk wat het ek vermag!” Hierdie vroue was so arrogant dat hulle enkel ringe gedra het, sodat, as hulle loop, daar ʼn geklingel sou wees en dat almal na hulle sou kyk. Vandag dra die meeste mense nie meer enkel ringe nie, maar ons het ʼn paar ander dinge wat ons gebruik om die aandag op ons te vestig en oor ons ʼn “lawaai” te maak. Baie mense, selfs in hulle hulp aan ander, doen dit op ʼn manier om deur mense raak gesien te word. Matteus 6:3-4 Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Baie se godsdiens is ʼn godsdiens om ander se fokus op hulle te plaas i.p.v. op God. Hulle godsdiens is ʼn soort kompetisie waarin hulle wil wys dat hulle soveel beter as ander is. Matteus 6:5 En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Sommige lieg oor visioene en spesiale openbarings waarin God net vir hulle spesifieke dinge sou sê. Dit was ook die toestand waarin die leiers van Jesus se dag verkeer het. Hulle wou hê ander moes weet hoe streng hulle die Sabbat nakom, hoe groot hulle bydraes vir die tempel was, hoeveel keer hulle gevas het en hoe wonderlik hulle gebede is. Hierdie vroue het nooit ander se nood raakgesien nie. Hulle enigste fokus was op hulleself en hulle eie behoeftes.
Die oordeel
God kondig aan dat hulle die aandag op hulle gefokus wil hê, maar dat Hy hulle sal oordeel sodat hulle voorkoms vir ander afstootlik sal wees. Die skurfte wat op hulle voorhoofde sal wees word in Levitikus as ʼn soort melaatsheid aangedui. God sal die vroue skaam maak deur die trots van die vrou, naamlik haar hare, te laat afsny. Hierdie ontbloting van hulle voorhoofde word weer bevestig in vers 24, “… in plaas van haarlokke ‘n kaal kop…” Alles wat vir hierdie vroue so belangrik is sal van hulle gestroop word. Vers 24 vertel aan die vroue hoe hulle sal lyk as hulle soos slawe weggevoer sal word. Al hulle lekker ruik middels sal tot niet wees en nou sal hulle stink na sweet. Met toue om hulle hande en ʼn roukleed aan sal hulle weggevoer word. I.p.v. hulle skoonheid sal die vroue ʼn brandmerk ontvang – iets wat ʼn slaaf sou ontvang as hy gevange geneem is. Hulle sou nou ʼn merk ontvang van ʼn ander baas wat hulle skoonheid sou skend. Is dit nie presies wat sonde ook doen nie? Mense wil hulle sondes uit leef en deur dit te doen word hulle ʼn slaaf van die sonde wat daarop uit is om hulle te verwoes. Romeine 6:16 Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid.
Sion wat hier staan vir Jerusalem en die hele Juda sal ook kaalgestroop word van mans. Tot die sterkmanne, die helde, sal val in die oorlog en sterf. Die man is deur God aangestel as die beskermer van die vrou en hierdie sal ʼn tasbare bewys wees dat God sy beskerming oor Israel verwyder en hulle oorgee aan hul waan van selfversorging. Niks sal oorbly in die land nie. So word Sion ook deur Jeremia in Klaagliedere beween. Klaagliedere van Jeremia 1:4 Die paaie na Sion treur, want niemand reis na haar feeste toe nie; al haar poorte is verlate, haar priesters sug. Haar jong meisies is bedroef, en self het sy dit bitter. Jerusalem het soos ʼn weduwee geword wat ween oor haar man en gesin wat sy verloor het. Niks het oorgebly nie, die geraas in die strate en die geskarrel van mense is verby. Die normale verloop van dinge, wat hulle as vanselfsprekend aangeneem het, nl. families met ʼn pa en ma en kinders sal gebreek word.
Hoofstuk 4:1 moes deel gevorm het van hoofstuk drie. Die vroue wat so selfvoldaan was sal na hierdie verwoesting van God besef dat daar te min mans deur God agtergelaat is. Mans is die “jagters”, die persoon wat eerste toenadering soek, in ʼn gesonde en normale samelewing, maar hier sal die vroue die jagters wees en mans aangryp. Daar sal sewe vroue wees wat een man aangryp en by hom pleit om met hulle te trou. Watter vernedering sal dit nie wees vir ʼn vrou om by ʼn man te gaan pleit om haar as sy vrou te neem nie? Verder was dit ook van die begin af die man se verantwoordelikheid om sy vrou en kinders te versorg. Die vloek van God oor Adam was dat hy in die sweet van sy aangesig sou werk. Genesis 3:17-19 Vir die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na jou vrou se stem, en geëet het van die boom waarvan Ek jou beveel het, Jy mag nie daarvan eet nie! is die grond deur jou toedoen vervloek. Met swaarkry sal jy daarvan eet, solank jy leef; dorings en dissels sal dit vir jou laat uitspruit, en jy sal veldplante eet. Met sweet aan jou gesig sal jy brood eet, totdat jy terugkeer na die grond; want daaruit is jy geneem – ja, stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Hierdie orde geld ook vandag en Paulus roep die mans op dat die versorging van hulle families ʼn opdrag van God is. 1 Timoteus 5:8 Maar as iemand nie na sy eie mense omsien nie, en veral nie na sy huisgenote nie, het hy die geloof verloën, en is hy slegter as ‘n ongelowige. In teenstelling met God se normale orde sal vroue nou aan die man die versekering gee dat hulle vir hulleself sal sorg as sy naam net oor hulle uitgeroep sal word. Sy sou die man se naam kry en kinders in die wêreld kon bring , iets wat baie belangrik was vir die vroue in die antieke tyd. God sou hulle verneder. Sy skeppingsorde sou omgekeer word en die beskerming en versorging wat ʼn vrou normaalweg van haar man sou verkry word nou weggeneem.
Slot
God se orde word dikwels as vanselfsprekend deur mense aangeneem en aanvaar dat dit altyd deel van hul lewe sal wees. Leiers word aangestel om die belange van diegene wat hulle moet lei te behartig. Mans is deur God aangestel om diegene te beskerm en te versorg wat swakker as hulle is, nl. vrouens en kinders. Wanneer hierdie orde egter versteur word deur leiers wat nie lei nie, mans wat nie voorsien en beskerm nie en vrouens wat gemaksugtig en in weelde hoogmoedig en ondankbaar is, val alles uitmekaar. Die leiers het die volk uitgebuit en hulself verryk deur op arm mense te trap. Die vroue het gedink hulle is beter as ander en het met hoogmoed rondgeloop en op hul uiterlike i.p.v. op die Here vertrou. Nou gee God hulle oor aan die orde wat hulle wou hê. Dit wat hulle gedink het hulle is, nl. selfversorgend is presies dit wat hulle nou sal moet wees. Ons moet altyd besef dat alles wat ons het en is, hoe ons lyk en hoe ons groot word, ja, alles kom uit God se hand. Ons moet dankbaar wees en by Sy opdragte bly. God het in hierdie gedeelte aktief die volk gestraf, maar selfs net die verontagsaming van Sy orde sal alreeds chaos veroorsaak, omdat God die mens ken en weet wat vir ons die beste is. Laat sak jou kop en buig jou knie en weet dat God die eer en lof moet kry vir alles in jou lewe.
