Jesaja 3:1-12

Inleiding

Die volk is goddeloos en wil nie na die Here luister nie. Hulle dink hulle is selfvoorsienend omdat strukture wat lank alreeds bestaan nog steeds, te midde van hul dwaasheid en goddeloosheid, voortgaan om in hul basiese behoeftes te voorsien. Net soos vandag sal ʼn samelewing nog vir ʼn paar dekades kan voortbestaan op goeie stelsels wat in plek gestel in deur wyse mense en goeie leiers. Wanneer hierdie leiers egter vervang word met dwase en goddelose regeerders sal alles later tot niet gaan, self die voorsiening van water en kos. Sien ons dit nie in die wêreld waarin ons leef nie? Die dinge wat werk, ja self dinge wat in ons basiese behoeftes soos water en kos moet voorsien, is alles afhanklik van die Here. Hy stel mense aan en deur hulle word strukture geskep waarin elke samelewing kan floreer. Morele waardes, om ouer mense te respekteer, die regering te eerbiedig, regverdige en eerlike regsgeleerdes aan te stel, om ervaring te beloon en om mense met integriteit aan te stel is alles ankers van ʼn gesonde samelewing. Tog moet mense onthou dat dit nie die mens is wat hierdie dinge onderhou nie, maar God. Wanneer sonde egter die norm word en korrupsie beloon word, gaan al hierdie dinge tot niet. Omdat dit is waarna die volk gesmag het, eerder as God se wysheid en om Hom te eer, gee God hulle oor aan dit wat hulle soek –  nikswerd leiers en totale verval van die orde in die samelewing.

God is soewerein

Die Hebreeuse woord wat ons vertaal as Here is “adon” en die griekse woord “despotes” wat in die LXX gebruik word, word baie in Jesaja gebruik om te wys na God se soewereiniteit.  Hy is die soewereine God wat alles doen wat Hom behaag. Psalms 135:6 Alles wat die Here behaag, doen Hy in die hemel en op die aarde, in die oseane en alle dieptes. Dit is ook wat Nebukadneser aangaande God verklaar nadat God hom verneder en toe weer herstel het. Daniel 4:35 Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, Wat het U gedoen?  Hy word beskryf as die God wat leiers afsit (vers 1) en leiers aanstel (vers 4). Hosea 13:11 Ek gee vir jou ‘n koning  in my toorn, en Ek neem hom weg  in my gramskap. Hy doen dit nie arbitrêr nie, maar deur sy verkiesing (vers 6-7) en in ooreenstemming met sy oordeel en reg (vers 8-17).  God laat die hele samelewing disintegreer en selfs voorsiening in die basiese materiële behoeftes soos brood en water verdwyn. Die Skepper se seëninge word weggeneem van hierdie goddelose volk. Hierdie hoofstuk gaan dus voort om diegene wat op mense vertrou se dwaasheid uit te wys.

Uit God se hand

Jesaja vertel aan die leser verder dat God die Here is van die leërskare. Hy is die Here van die weermagte. Hy is die een wat oorlog voer en regering verwyder en leiers onthef. Romeine 13:1 Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. God sou teen Juda oorlog voer. Hy sou Juda verswak deur hulle leiers weg te neem. Dit sou dan ook vervul word met die aanval van Nebukadneser van Babilon op Juda. 2 Konings 24:14 Hy het die hele Jerusalem in ballingskap weggevoer, al die hoë amptenare en al die vermoënde mense – tienduisend ballinge – ook al die vakmanne en smede. Niemand behalwe die armes uit die volk van die land het oorgebly nie. Alle ondersteuning sal verwyder word uit Jerusalem. Alles waarop die mens sy vertroue geplaas het in terme van leierskap sal weggeneem word. So waarsku die psalmdigter elke mens wat sy vertroue in leiers wil plaas. Psalms 146:3 Moenie op vooraanstaandes vertrou nie, op ‘n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Hoe skokkend dat mense kan dink dat vlees en bloed hulle kan red, hy wat ook maar net vir ʼn oomblik daar is. Verder is dit volgens Jakobus ironies dat daar so ʼn ophef gemaak en opgekyk word na die rykes aangesien dit juis hulle is wat mense uitbyt en voor die gereg sleep. Jakobus 2:6 Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Die basiese voorsiening van brood en water sal van hulle ontneem word. Hulle sal besef dat daar niks is wat hulle uit hulle eie kan doen nie. Hulle was so selfversekerd en so arrogant dat hulle vergeet het dat selfs die mees basiese dinge in die lewe sy oorsprong by die Here het. So word ons herinner deur Jesus in die Onse Vader om te bid vir ons daaglikse brood. Om te verklaar dat daar niks is wat ons nie uit die hand van God ontvang het nie.

Dwase, kinderagtige leiers

Nadat God die bekwame leiers en diegene wat opgelei was weggeneem het sal Hy mense aanstel wat onbekwaam is en geen opleiding het nie. Hy sal seuns hulle leiers maak en kwaadwilliges sal oor hulle heers. Die probleem is nie sodanig die ouderdom van die leiers nie, maar dat hulle wysheid en ervaring kortkom en nie weet, of nie wil weet, waar om die regte leiding te kry nie. Ons vind hierdie dwaasheid by Rehabeam wat sy vader Salomo moes opvolg en nie die advies van die oumanne gevolg het nie, maar eerder die raad van die jongmanne aanvaar het. So baie leiers vandag tree meer op soos kinders as volwassenes. ʼn Kind tree op sonder enige idee van die konsekwensies, dit kom met tyd en word geleer. Jy kan nie altyd doen wat jy wil nie, jy moet ander in ag neem, jy moet leer om te deel en om nie alle grense te toets en te wil verskuif nie. “Waar is die volwassenes?”, is die vraag op baie se lippe. So sou die leiers van hierdie goddelose volk nou wees – totaal onbekwaam om enige opdragte te verstaan en uit te voer. Ons lewe in ʼn tyd waar die advies van jong, onervare mense nagevolg word, mense wat deur emosie gedryf word om grense te verskuif van dinge waarvan hulle geen benul het nie.  Selfs ouers soek raad by hulle kinders en die ervaring en wysheid van ouer mense word as niks gereken nie. Wat sal word van ʼn generasie waar daar geen respek meer vir die ouer garde is nie? Levitikus 19:32 Vir ‘n grysaard moet jy opstaan, eerbied betoon aan ‘n bejaarde en ontsag hê vir jou God. Ek is die Here. Dit is die begin van anargie en chaos en dit is dan ook wat ons sien wanneer God hierdie nuwe leiers aanstel. God stel hierdie jongmanne en onervare leiers aan, maar Hy doen dit in ʼn tyd van goddeloosheid en ʼn tyd waar die wysheid vanuit die strate verdwyn het. Net soos toe,  is wysheid vandag so skaars soos hoendertande.  Indien jy wonder hoeveel wysheid daar vandag nog is luister maar na regskenners en professors wat nie meer die verskil tussen ʼn man en vrou kan verduidelik nie. In hierdie tyd sal daar wanorde wees en elke persoon sal doen wat sy/haar hart begeer. Dinge sal so sleg word dat as jy ʼn kleed het, iets wat die meerderheid mense nie sal hê nie, sal hulle jou as regeerder wil aanstel. Dit sal nie meer op meriete geskied nie. Die lagwekkende is dat die plek waaroor hierdie leier aangestel sal word ʼn puinhoop is. Aangesien die weinige wyse mense wat daar nog is sal besef dat hulle niks kan doen om die nasie te herstel nie, sal hulle nie die mag om te heers as leier begeer nie. Net die dwase mens sal wil koning kraai op die mishoop wat sal oorbly.

Selfvoldaan en uitdagend

Van vers 8-12 rig God ʼn oproep aan die volk, waarop hulle moet ag slaan. Hulle moet hand in eie boesem steek en besef dat hulle die oorsaak is van dit wat sal kom. Hulle sal nie kan murmureer of kla oor dit wat oor hulle gaan kom nie, aangesien hulle die oorsaak is en hulle elke vergelding verdien. Hulle het immers die lewende God uitgetart met hul sonde. Op hulle gesigsuitdrukking kan jy agterkom hoe hulle in sonde leef. Jou gesigsuitdrukking vertel boekdele van wat in jou binneste aan die gang is. Prediker 8:1 Wie is soos die wyse? En wie ken die betekenis van ‘n saak? Die wysheid van ‘n mens laat sy gesig straal en sy strak gelaat word verander. Hulle het so in sonde verval dat dit nie eers meer weggesteek word nie. Mense maak hulle sondes openbaar in so ʼn afvallige nasie en hulle spog en paradeer in hulle misdrywe. In ons eie samelewing is dit net so sigbaar, dit wat eers ʼn skande was is nou algemeen en mense probeer dit nie eers meer weg steek nie. Dit wat sonde was en mense vroeër skaam was, word nou met “pride” en vlae paradeer. Uitdagend! Sonde is so algemeen en dit wat afskuwelik was word nou as wonderlik voorgehou. God vergelyk die mense van Juda se sonde met die van die mense van Sodom. Hulle sonde was so groot dat dit uitgeroep het. Genesis 18:20 Die Here sê toe: Die hulpgeroep oor Sodom en Gomorra is werklik groot, en hulle sonde is werklik uitermate swaar. God is ʼn regverdige regter wat hulle in geregtigheid sal oordeel.

Die regverdige

Tog moet die regverdiges nie moedeloos raak as God die goddelose straf nie. Hoe maklik kan die regverdige moedeloos raak as hy/sy tussen goddelose mense leef en ook onder God se oordeel lyding ervaar. God wil aan elke regverdige belowe, ook in die tyd van straf en die verval van die samelewing, dat Hy elkeen van hulle ken en hulle die voordeel van hulle optrede sal ervaar. Elke gelowige moet besef dat sy goddelike optrede ʼn vrug te weeg bring in sy eie lewe wat sy siel sal voed en vrede en vreugde in sy gemoed sal veroorsaak. In die donker, wees jy ʼn bron van God se lig. Selfs in die ergste gevaar is daar ʼn uitwysing aan die volk dat daar ʼn godsman in hulle midde was. Esegiël 2:5 En hulle, of hulle nou luister of verseg om te luister – want hulle is die rebelse huis – hulle sal besef dat daar ‘n profeet onder hulle was. So sien ons dit ook in Stefanus se aangesig, hy wat die eerste martelaar van die vroeë kerk was. Handelinge 6:15 Almal wat in die Sanhedrin gesit het, het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk. In sy laaste gebed ervaar jy die vrede wat Stefanus gehad het selfs terwyl die stene op hom reën. Handelinge 7:59-60 En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees! Hy het op sy knieë geval en met ‘n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap. Ons moet aanhou regverdig en heilig lewe te midde van ʼn goddelose mensdom en daarin sal ons God se seën in ons binneste ervaar, ʼn seën wat geen lyding of gebrek van ons sal kan wegneem nie. Teenoor die regverdige staan die goddelose wat sal ontvang ooreenkomstig die manier waarop hulle geleef het. Die gewete van die wat sondig is soos ʼn kanker wat wegvreet. Jesaja 59:12 Want ons oortredings voor U  is baie, ons sonde getuig teen ons. Ja, ons oortredings is met ons, en ons sondeskuld – ons ken dit. Nie net hang daar ʼn skaduwee oor diegene wat sondig nie, maar hulle sal ook die ewige toorn van God ontvang vir hulle sonde. 2 Thessalonisense 1:9 Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here en sy magtige heerlikheid. Hulle lewens is gekenmerk deur ʼn lewe weg van die Here en so sal hulle ook vir ewig in die hel van Hom verwyder wees.

Papbroekige mans

Die 2020 vertaling het vers 12 uit die LXX geneem. Die Hebreeuse vertaling daarenteen is soos in ooreenstemming met die 1953 vertaling. “Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ‘n dwaalweg gemaak.” Die sonde veroorsaak dat mans van die toneel verdwyn, diegene wat werklik ruggraat het en sal opstaan vir reg en geregtigheid is nie meer te vinde onder die volk nie. Hierdie volk word deur kinders onderdruk en hulle laat dit toe. Het hulle so bang geraak dat self kinders vrees in hulle harte inboesem? Hierdie leiers verlei die volk deur mooi woordjies. Hulle praat na die volk se hart net soos die valse leraars in die Nuwe Testament. 2 Timoteus 4:3-4 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend. Die kerk sal ook word soos hierdie volk. Die interessante is dat God deur Jesaja verkondig dat vroue oor hulle heers. Is dit nie kenmerkend van ons dag nie. Hier praat ek nie van die wêreld nie, maar die sogenaamde kerk. ʼn Volk wat goddeloos word, soos die volk gedurende die tyd van die Rigters, waarvan getuig word dat hulle die Here en sy werk nie geken het nie, het nie dapper mans nie. Rigters 2:10 Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar ‘n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. In hierdie tyd moet ʼn vrou met die naam van Debora, haar naam beteken bytjie, die volk lei, omdat haar man Lappidot, wat fakkels of vlamme beteken, en Barak, wat weerlig beteken, geen ruggraat gehad het om die volk te lei nie. Barak, die generaal is so ʼn bangbroek dat hy nie alleen oorlog toe wou gaan nie en eerder aan die rokspant van Debora wou was klou. Rigters 4:8 Maar Barak het vir haar gesê: As jy met my saamgaan, sal ek gaan; maar as jy nie met my saamgaan nie, sal ek nie gaan nie. So lyk baie kerke ook vandag waar mans onder die leierskap van vroue staan. Watter aanklag! As gevolg van hierdie toestand word hulle op ʼn dwaalweg gelei en mans en vrouens, seuns en dogters loop willens en wetens op die pad wat tot hulle ondergang lei.

Slot

God is soewerein en Hy sal sonde straf. Wanneer mense begin om die normale orde van God te ondermyn en Hom uitdaag deur openlik te sondig, speel hulle met vuur, ʼn Heilige verterende vuur. Vandag het ons weer manne nodig wat onbeskaamd sal opstaan en veg vir die waarheid en geregtigheid. God gee die wêreld oor aan sy dwaling en laat toe dat volke gelei word deur mense wat Hom nie ken nie, korrup is tot in hul diepste wese en nie besluite op grond van kennis en ervaring kan maak nie. Ons sien die gevolge hiervan, net soos die volk die gevolge sou ervaar wat deur Jesaja aangekondig word. Hieroor kan die wêreld nie kla nie, want dit is wat hulle soek, sonder dat hulle die gevolge van hul dwaasheid besef. As gelowiges kan ons egter verseker weet dat God ons liefhet te midde van die toestand waarin die wêreld rondom ons gaan verval a.g.v die feit dat God mense aan hul dwaasheid en aan die leuen oorgee. Ons is in hierdie wêreld maar nie van die wêreld nie en ons ewige tuiste is seker en vas en heerlik! Intussen laat ons ons lig so vir die wêreld skyn dat ons Vader daardeur verheerlik kan word!