Deel 1: Elisa en die Vurige Leër

Die koning van Aram het oorlog gevoer teen Israel. Elke keer as hy saam met sy leër ’n plan gemaak het om Israel aan te val, het Elisa, die profeet, vir die koning van Israel laat weet waar die Arameërs sou wees. So het Israel elke keer ontsnap. Die koning van Aram het baie kwaad geword. Hy het sy offisiere geroep en gesê:
“Wie van julle verraai ons aan die koning van Israel?”
Een van sy dienaars het geantwoord:
“Niemand nie, my koning. Elisa, die profeet in Israel, vertel vir die koning selfs wat u in u slaapkamer sê.”
Toe het die koning van Aram gesê:
“Gaan kyk waar hy is, sodat ek hom gevange kan laat neem.”
Hulle het vir hom gesê:
“Elisa is in Dotan.”
Die koning het toe perde, waens en ’n groot leër daarheen gestuur. Hulle het in die aand gekom en die stad omsingel.

Die volgende oggend het Elisa se dienaar vroeg opgestaan. Toe hy buitentoe gaan, sien hy die stad is vol perde en waens. Hy het gesê:
“O, my heer, wat gaan ons doen?”
Elisa het gesê:
“Moenie bang wees nie, want dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.”
Toe het Elisa gebid:
“Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien.”
Die Here het die dienaar se oë oopgemaak, en hy het gesien dat die berg vol perde en waens van vuur was.