Jesaja 2:6-22

Inleiding

In die middel van die profesie oor hoe God sy volk sal verlos en vir hulle oorvloedig sal seën en herstel sal bring, praat Jesaja met God oor die volk en verklaar dat hy kan verstaan hoekom God hierdie volk verwerp. Hierdie volk word deur God verwerp as gevolg van hulle sonde. Dit asof hy sê: “Here waarom moet ek enige iets goeds aan hulle verkondig, U het hulle met reg gestraf vir hulle afskuwelike dade.” Hy is kwaad vir sy volksgenote en sê dat die Here hulle nie moet vergewe nie. Dit klink dalk vir die leser verkeerd dat Jesaja so kan bid, maar dit wys na ʼn heilige woede teenoor mense wat God se goedheid kan ervaar en daarteen kies. Mense wat moet weet hoe almagtig hul God is en steeds hunker na afgode en aardse welvaart. Hierdie gedeelte is  ʼn herinnering aan ons om voort te gaan met God se opdrag om mense te vermaan, al voel ons met tye dat ons met dowes en dooies praat. Ons word ook hiertoe opgeroep in die Nuwe Testament. 2 Timoteus 2:25 iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken. Hulle moet geen verskoning hê dat hulle nie gewaarsku is nie.

Invloede van buite

Ons weet dat ons in hierdie wêreld moet leef en daar is baie mense rondom ons van verskillende gelowe, kulture, tradisies en gebruike. Tog was God se volk altyd duidelik uniek in die manier waarop hulle God aanbid het. Hy het aan hulle presies openbaar hoe Hy aanbid en gedien wil word. Deur die Wet en die Profete het Hy sy wil aan hulle bekend gemaak. Ten spyte hiervan het hulle egter toegelaat dat die volke rondom hulle hul van die Here afvallig maak. Hierdie volk het soos die nasies rondom hulle geword en hulle afskuwelike dade nagevolg. In plaas daarvan dat nasies na hulle gestroom het om te leer van die ware God, het hulle die nasies nagevolg in die aanbidding van hul afgode. Hulle was mal oor die voorspellers en mense wat voortekens gelees het. Hulle wou weet wat in die toekoms sou gebeur en wat vir hulle voorgelê het. Hoe ironies as jy dink dat God wel die toekoms aan hulle voorspel het. Hy het aan hulle voorspel presies wat hul uiteinde sou wees indien hulle aan Hom ongehoorsaam sou wees, nl. dat hulle verwoesting in die gesig staar en dat as hulle gehoorsaam aan Hom was Hy hulle sou seën.

 ʼn Direkte vertaling van die laaste deel van vers 6 sê “en hulle hande slaan(verbond sluit) met die kinders van vreemdes.” Hierdie volk het verbonde met ongelowiges gesluit en met hulle vennootskappe aangegaan om hulself te verryk. In plaas daarvan om hul vertroue in die Here te plaas het hulle hul vertroue in mense gesit. Die Here beveel dat die gelowige nie met die ongelowige in dieselfde juk mag trek nie. Dit beteken dat ʼn gelowige nie in ʼn huwelik of enige vennootskap met ‘n ongelowige mag wees nie. 2 Korinthiërs 6:14-15 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap  kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid  kan daar wees tussen lig en duisternis? En watter ooreenstemming  is daar tussen Christus en Belial, of wat het ‘n gelowige gemeen met ‘n ongelowige? Die oorsprong van hierdie vergelyking vind ons in Deuteronomium. Deuteronomium 22:10 Jy mag nie ploeg met ‘n bees en ‘n donkie in dieselfde span nie. Die donkie en die bees se krag en geaardheid is verskillend en geen land sal behoorlik met hulle geploeg kan word nie. Om die waarheid te sê vir iemand wat so onnosel sal handel om hierdie twee diere in dieselfde juk te plaas sal daar groot frustrasie voorlê en jy sal tien teen een die juk en die ploeg breek. Vennote deel dieselfde visie en missie en het dieselfde belange. Die hoofdoel van enige gelowige se lewe is om God te verheerlik en om in Hom sy vreugde te vind. Hoe kan jy dan saam met iemand werk vir wie die belangrikste winsbejag of wêreldse genot is?

Ontevrede en onvergenoegd

Tog was Israel se grootste vreugde nie daarin om God te behaag nie, hulle strewe en soeke was na materiële genot. Hulle land was vol silwer en goud en hulle het perde en strydwaens versamel. God waarsku die volk deur Moses, dat wanneer hulle ʼn koning in die land aanstel, hy nie materiële welvaart moet najaag nie. Deuteronomium 17:16-17 Hy mag net nie baie perde aanskaf nie en hy mag ook nie die volk na Egipte laat terugkeer met die doel om meer perde aan te skaf nie. Die Here self het vir julle gesê, Julle mag nooit weer op hierdie pad teruggaan nie. Die koning mag ook nie vir hom baie vroue aanskaf nie, sodat sy hart nie van die Here afwyk nie. Van silwer en goud mag hy ook nie te veel aanskaf nie. Die mens is nooit vergenoegd nie. Hy het ʼn gulsige aptyt en ʼn hunkering na nog meer. Hoeveel strydwaens en perde het jy nou werklik nodig? Hoeveel perde kan jy op een slag ry? Sal die strydwaens jou beskerm en jou te hulp kom in die tye van nood? Wanneer is genoeg, genoeg? Op ʼn stadium moet jy aan jouself erken dat dit oor jou eie roem en eer gaan en lankal nie meer as ʼn noodsaaklikheid nie. Jou soeke na nog meer sal jou beslis in die verderf bring. 1 Timoteus 6:6-10 Wat wel ‘n groot wins is, is godvresendheid wat met tevredenheid gepaardgaan. Ons het immers niks in die wêreld ingebring nie, en ons kan niks daaruit wegneem nie; maar as ons kos en klere het, laat ons daarmee tevrede wees. Wie ryk wil wees, val in versoeking en ‘n strik, en baie dwase en skadelike begeertes wat mense meesleur na ondergang en vernietiging. Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor. Ongelukkig is geen mens, ryk of arm, vry van hierdie wêreldse hunkering nie. Daar is ʼn stryd teen onvergenoegdheid wat daagliks gestry moet word. Die probleem is nie die goud en silwer nie, maar wat ek daarmee maak en wat dit in my hart veroorsaak. Hierdie mense se uiteinde is dat hulle afgode aanbid het, afgode wat hulle met hulle hande gemaak en bewerk het. Hoe dwaas dat die mens aanbid dit wat sy eie hande gevorm het? Wanneer jy egter ʼn afgod aanbid wat jy self gemaak het, kan jy die terme bepaal en dit is waarvan die mens hou. Ek het dit self gedoen en ek sal self besluit! Min besef hulle dat sonder God hulle tot niks in staat sal wees nie. Hulle is selfvoldaan oor die dinge in hul lewe wat hulle bymekaar gemaak het. Hulle verklaar dat hulle in die sweet van hul aangesig hierdie dinge vermag het, sonder om erkenning te gee aan die Een van wie af alles kom. Baie keer gee God jou jou hartsbegeerte, maar in jou binneste ervaar jy ʼn leegte. So het die volk ook in die woestyn gulsig geraak en was ontevrede met God se voorsiening van manna. Die Psalmdigter vertel dan dat God hulle gegee het wat hulle begeer het, maar tot hulle eie nadeel. Psalm 106:15 Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur. (Ou vertaling 1953).

Haat sonde

Jesaja se begeerte is dat hierdie mense gestraf moet word, dat God hulle moet verneder. Die man van God haat diegene wat hulle in sonde begewe en God se opdragte haat; diegene wat aanspraak daarop maak dat hulle aan God behoort en tog met hulle dade die teendeel getuig. Hulle veroorsaak dat God se naam bespot word onder die heidene en dit is die rede waarom hulle deur die man van God gehaat word. Psalms 139:21-22 Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie ‘n weersin hê nie? Ek haat hulle met ‘n intense haat; vyande het hulle vir my geword. Jesaja sê dat God hulle nie moet vergewe nie. Dit is die mense waarvan die Skrif praat wat met ʼn hoë hand, moedswillig of uitdagend sondig. Numeri 15:30 Maar die persoon onder die landsburgers en die vreemdelinge wat dit uitdagend doen – dit is met die Here wat hy spot. Hierdie persoon sal uit die midde van sy volk uitgeroei word. Dit is diegene wat weet wat God van hulle vra en God se opdragte ken en nog steeds volhard in hulle sonde. Hiervoor is daar geen vergifnis nie. Hebreërs 10:26-27 Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer ‘n offer vir ons sondes oor nie, maar wel ‘n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. Mense word opgeroep om God te vrees, maar omdat God nie dadelik oordeel nie is hulle selfvoldaan en dink hulle kan leef soos hulle wil en daar sal nooit rekenskap van hulle gevra word nie. Salomo gee hierdie ook as die rede hoekom mense aanhou om die slegte te doen. Prediker 8:11-12a Omdat ‘n vonnis oor ‘n bose daad nie gou voltrek word nie, daarom is mense se harte in hulle vol daarvan om kwaad te doen – omdat ‘n sondaar honderd keer kwaad kan doen, en lank lewe… Die volgende verse verduidelik dan tot hoe ʼn mate hierdie mense vol hoogmoed en met trots gevul is. Hoogmoed word as een van die sewe dinge genoem wat God haat. Spreuke 6:16-17 Daar is ses dinge waarin die Here ‘n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë, ‘n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet. Dit was die sonde van die satan as hy volgens Jesaja 14 homself gelyk wil stel met die Allerhoogste. Dit is die sonde in die tuin van Eden as die versoeker aan Eva vertel sy kan soos God wees. Watter verwaandheid van die mens om te dink hy is God se gelyke – hy wat uit stof gevorm is.

Rekenskap

Almal wat lewe soos die Jode van ouds en dink dat daar geen rekenskap sal wees nie maak ʼn groot fout. Die Jode sou geoordeel word en God sou die Babiloniërs daarvoor gebruik. Die oordeel waarvan Jesaja praat lê egter verder in die toekoms as hierdie oordeel. Dit is die dag met die wederkoms van die Messias wat hier voorspel word. So baie Jode het na hierdie dag uitgesien al het hulle volhard in hulle sonde. Van hulle profeteer Amos. Amos 5:18-20 Wee dié wat uitsien na die dag van die Here. Wat hou dit vir julle in? Die dag van die Here is duisternis, nie lig nie, soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik ‘n slang hom. Die dag van die Here, is dit nie duisternis, en nie lig nie, donker met geen ligglans nie? Die dag as die Here weer kom sal ʼn dag van ongekende vrees wees vir diegene wat volhard het in hulle sonde. Mense se hoogmoed sal in een oomblik verdwyn. In vrees sal hulle tot die besef kom dat hulle geen waarde het nie en naak is voor Hom wat op die wolke kom. Watter ontnugtering sal dit nie wees nie? Soos Adam en Eva agter hulle vyeblare sal hulle die stem van die lewende God hoor en weet dat hulle teen Hom alleen gesondig het. Die beskrywing van Jesaja rakende mense se vrees en hoe hulle sal wegkruip in spelonke in rotse en gate in die grond word ook in die Nuwe Testament bevestig.

  • Lukas 23:30 Dan sal hulle vir die berge  begin sê, Val op ons! en vir die heuwels, Bedek ons!
  • Openbaring 6:15-17 Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. Hulle het na die berge en kranse geroep: Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?

Daar sal in daardie dag geen twyfel meer wees oor wie die enigste Heerser van hemel en aarde is nie. Jesaja vertel dat die mense in daardie dae alles wat vir hulle so belangrik was, weg sal gooi. By elke begrafnis word hierdie boodskap alreeds sigbaar as ryk en arm begrawe word. In die dood is almal gelyk en jy kan niks met jou saam neem nie. Alles wat jy vergader het en alles wat so belangrik vir jou was bly agter. Die mens is maar net ʼn asem.

  • Psalms 104:29 Verberg U u gesig, is hulle angsbevange; neem U hulle asem weg, vergaan hulle en keer terug na die stof wat hulle was.
  • Psalms 146:4 Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond; op daardie dag is sy planne daarmee heen.

Een oomblik hier en die volgende oomblik blaas hy sy laaste uit. Behalwe dat ons volgens die Bybel nie ons vertroue in die mens moet plaas nie, maak die Skrif ook aan ons bekend dat ons nie enige iets besonders is nie; dat daar niks is waarop ons kan roem nie. Sonder Christus is ons niks.

Slot

Hoe lank gaan dit jou neem voor jy besef dat niks in hierdie wêreld vir jou ware vreugde en vrede sal gee nie? Hoe lank sal dit neem voor jy besef dat al jou skatte deur mot en roes verniel sal word. Die boodskap is duidelik dat elke mens opgeroep word om in hierdie lewe hulle knie voor God te buig en te bely dat Hy alleen God is. Daarom kan Paulus bely dat al hierdie dinge wat so belangrik vir hom was nou menslike afskeiding geword het. Filippense 3:7-8 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.(Ou vertaling 1953)