Inleiding
Die Woord van die Here het die volk, deur Jesaja, in hoofstuk 1 gewaarsku oor hul sonde en hul skynheiligheid. Hy het hulle gewys op wat dit is wat die Here werklik verlang, nl. gehoorsaamheid en dat die pyn en lyding wat hulle verduur God is wat hulle tug. Hy is bereid om hul sonde te vergewe en beloof om ʼn gedeelte van hulle te laat oorbly en hul stad te verander in ʼn Stad van Geregtigheid. In die eerste verse van Jesaja 2 bou God voort op hoe dit vir die mens sal wees wat aan Hom behoort en op Sy woorde ag slaan.
God is Ewig
As ʼn persoon met ʼn ander persoon praat hoor die ander een die woorde, maar as God met Jesaja praat sien hy God se Woorde. Dit wat Jesaja gesien het bevestig dit wat God alreeds aangaande Juda en Jerusalem in hoofstuk 1 belowe het. Jesaja 1:26-27 Ek sal jou regters tot inkeer bring soos dit voorheen was, en ook jou raadgewers soos dit aan die begin was. Daarna sal jy genoem word: Stad van Geregtigheid, Getroue Vesting. Sion sal net deur reg vrygekoop word, en dié van haar wat terugkeer, deur geregtigheid. Dit wat God aan Jesaja openbaar, deur dit wat hy sien, korreleer met dit wat God alreeds deur Sy Woord aan Hom openbaar het. Jesaja 2:2-4 word herhaal in Miga 4:1-4. Jesaja sien die laaste dae, wat nie net wys na die eerste koms van Christus nie, maar ook na die wederkoms van Christus. Ons het sekerheid dat daar beslis ook oor die wederkoms gepraat word, omdat die term “einde van die dae” gebruik word. Dit word versterk deur die berg van die Here te noem. “…berg van die Here se huis stewig staan as die hoogste van die berge; hy sal bo die heuwels uittroon.” Jesaja 2:2. Sion is alles behalwe ʼn hoë berg en kan meer vergelyk word met ʼn heuwel. So word hierdie plek ook besing deur die Psalmdigter. Psalms 68:16-17 Massiewe bergreeks, bergrug van Basan, bergreeks met pieke, bergrug van Basan, waarom kyk julle met afguns, bergreekse met pieke, na die berg wat God gekies het as sy woonplek? Sion is die plek waar Christus sou hang aan ʼn kruis en sou die plek van versoening wees vir al ons sonde. Dit is ook waar die Here vir altyd sal woon. Die volkere het geglo dat die berge die plek is waar die gode woon en tog sal Sion, wat nie naastenby so indrukwekkend soos die ander berge lyk nie, vir ewig die plek wees waar God sal woon. Dat die berg Sion sal uittroon bo alles wys na die tyd wanneer Christus weer sal kom. Dit word ook bevestig deur Esegiël. Esegiël 40:2 In visioene van God het Hy my na die land Israel geneem en my neergesit op ‘n baie hoë berg waarop daar aan die suidekant iets soos ‘n geboude stad was. So word dit ook deur Sagaria geprofeteer. Sagaria 14:10 Die hele land sal verander word soos die Araba vanaf Geba tot by Rimmon suid van Jerusalem. Jerusalem sal egter uittroon; sy sal gevestig wees op haar plek: van die Benjaminpoort tot by die plek van die vroeëre poort en tot by die Hoekpoort, en van die Gananeltoring tot by die koning se kuipe. Hierdie plek sal nou verhewe wees bo alles en dit sal duidelik wees dat God hoër is as al die afgode die dag as al hulle sogenaamde woonplekke gelyk gemaak word. Sy woonplek sal bo hulle almal uittroon. Dit sal die plek wees waar die Nuwe Jerusalem sal staan as die nuwe aarde geskep is. Openbaring 21:10 Hy het my toe deur die Gees na ‘n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het.
Alle nasies sal Sion toestroom
Sion sal die plek word waarnatoe alle nasies sal stroom. Dit het sy vervulling daarin dat Christus met sy koms gesterf het vir mense uit elke stam en taal en nasie. Daarom stuur hy ook sy dissipels uit met die boodskap om mense van alle nasies sy dissipels te maak. Matteus 28:19 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Die vervulling van hierdie profesie word na die uitstorting van die Heilige Gees alreeds waargeneem wanneer die Kerk uitbeweeg vanaf Jerusalem na die res van die wêreld. Die nasies wat sal inkom en hulle toevlug na Sion neem, sal nou medeburgers en huisgenote van God word. Efesiërs 2:19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God. Elkeen wat deel kry aan hierdie verlossing sal die begeerte hê om ook ander op te roep om na die berg van die Here te kom. Dit sal die wonderlikste plek wees vir elke gelowige wat hul toevlug na Christus as enigste Verlosser geneem het. Individue wat verlos is se lewens word op ʼn wonderlike wyse deur Jeremia beskryf. Jeremia 31:12Hulle sal kom en jubel op die hoogte by Sion; hulle sal van vreugde straal oor die goedheid van die Here, oor koring, nuwe wyn en olie, en oor lammers en beeste. Hierdie mense uit alle volke sal die begeerte hê om die weë van die God van Jakob te leer en in sy paaie te wandel. Die wet en Sy woord het te make met alles wat God ons in Sy Woord geleer het. Dit is soos die voorspelling van Esegiël waar die water uit die tempel vloei en so diep raak dat niemand daardeur kan loop nie. Dit sal die eienskap wees van hierdie mense, nl. dat hulle in Christus sal wees en vrug sal dra en vreugde in Sy weë sal vind. Is hierdie begeerte by jou? Sonder hierdie begeerte kan daar geen sprake van wedergeboorte wees nie.
Een in Christus
God sal heers oor alle nasies en, soos die profete voorspel het, die regering van Dawid was slegs ʼn skaduwee daarvan.
- Jeremia 30:9 Hulle sal die Here, hulle God dien, en Dawid, hulle koning wat Ek vir hulle sal laat opstaan.
- Esegiël 34:23 Ek sal een herder oor hulle aanstel, en hy sal hulle laat wei – my dienskneg Dawid. Dit is hy wat hulle sal laat wei; dit is hy wat vir hulle ‘n herder sal wees.
Hy sal oor ons oordeel en regspreek oor baie nasies. Hy sal vrede maak in Homself tussen die volkere. Hierdie vrede is eerstens ʼn heenwysing na Christus wat die skeiding tussen Jood en heiden vernietig het. Efesiërs 2:14 Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het. Volkere wat mekaar nie kon verdra nie en mense wat verwyder van mekaar geleef het a.g.v. status of klas, is nou verenig in die Kerk van die Here. So vertel Paulus aan die Kolossense dat, in Christus, alles wat eers skeiding gemaak het, opgehef is. Kolossense 3:11 By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. In hierdie nuwe bedeling, wat alreeds aangebreek het met die Messias se koms en totaal vervul sal word met sy wederkoms, sal die strydbyle gebêre word en die Kerk sal gesien word as die aanbreek van hierdie vredesryk. Die swaarde wat pikke sal word en die spiese wat snoeimesse sal word wil die leser herinner aan die tuin van Eden waar daar nie oorloë was nie en waar die taak van die mens was om die tuin te bewerk. In die Kerk sal die andersheid van die koninkryk gestalte kry wanneer mense uit vyandig gesinde volke, waar daar oorloë geheers het, nou langs mekaar om die nagmaalstafel sal plek inneem.
Verdrukking en verdediging
Die dissipels het in die begin van Jesus se verkondiging en tot met die uitstorting van die Heilige Gees met hierdie gedagte geworstel. Ons sien dit so duidelik in Johannes en Jakobus se uitspraak teen die Samaritane. Jesus is onder weg na Jerusalem en wou oorbly in ʼn dorp van die Samaritane, maar die mense wou hom nie ontvang nie, aangesien Hy na Jerusalem oppad was. Hieroor was Johannes en Jakobus briesend en wou hulle vuur van die hemel laat afdaal om die mense te verteer. Lukas 9:54 Toe die dissipels Jakobus en Johannes dit sien, sê hulle: Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel laat neerkom om hulle te vernietig? Hierop wys Jesus hulle tereg. So ook aan die einde van Jesus se bediening, wanneer Hy hulle weer uitstuur en, in teenstelling met die vorige keer, hulle beveel om ʼn swaard saam te neem, is hulle eerste gedagte dat Hy van ʼn werklike swaard praat. Jesus stop hulle waansin as hulle hom antwoord dat hulle twee swaarde het met die woorde dit is genoeg. As Hy van ʼn werklike swaard gepraat het sou Hy beslis nie aan hulle gesê het dat dit genoeg was dat hulle twee gehad het nie. In hierdie konteks is Sy verwysing na die swaard die vervolging wat elke gelowige sal deurmaak. Dit word dan ook later deur Paulus in Handelinge bevestig en later aan Timoteus.
- Handelinge 14:22 Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: Ons moet deur baie ontberings heen in die koninkryk van God ingaan.
- 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word.
ʼn Ruk later, as Jesus gevange geneem word, vra hulle of hulle met die swaard moet aanval en voor Jesus nog iets sê gryp Simon sy swaard en kap Malgus se oor af. In Matteus sê Jesus dan aan Petrus: Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Matteus 26:52. Die swaard waarmee ons veg sal deur Paulus in Efesiërs uitgespel word as die Woord. Die gelowiges behoort aan ʼn nuwe koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Hoe hartseer dat so baie mense wat in kerke sit vandag nog eerder na hulle aardse wapens gryp as om hulle vertroue in God te plaas. Sê Jesus nie tereg aan hulle dat daar meer as 12 legioen engele op die Vader se bevel beskikbaar is nie. Gelowiges kan soos Sadrag Mesag en Abegnego aan Nebukadneser antwoord dat hulle God in beheer is en, ongeag of Hy hulle red of nie, hulle nog steeds nie sy beeld sal aanbid nie. Daniël 3:17-18 As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie. So beskik God is Sy almag dat Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard deur Herodes vermoor word en in dieselfde tyd, wanneer Herodes Petrus ook wil vermoor, God hom in die nagtelike ure deur ʼn engel bevry.
Duisendjarige vredesryk
Dit is duidelik dat Jesaja van die aanbreek van die eerste en die tweede koms van Jesus profeteer en ook spesifiek met die tweede koms verwys na die tyd waarvan Openbaring praat as die “duisend jaar vredesryk”. Hierdie sal ʼn vrede op aarde wees wanneer die duiwel vir ʼn duisend jaar gebind sal word. Volgens Openbaring en die profete is dit ʼn tyd op aarde voor die nuwe Jerusalem uit die Hemel sal neerdaal. Daar is talle kere wat Jesaja na hierdie gebeure wys en waar ons duidelik kan sien dat hy nie net profeteer van die Ewigheid nie. Hier is twee verse in dieselfde hoofstuk wat dit alreeds sal bevestig.
- Jesaja 65:20 Daar sal nie meer ‘n suigeling wees van net enkele dae, of ‘n bejaarde wat nie sy lewensdae voltooi nie. Want die jongste sal op honderd jaar sterf, en wie nie honderd jaar bereik nie, sal as ‘n vervloekte beskou word.
- Jesaja 65:23 Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie; hulle sal nie kinders verwek vir ‘n verskriklike lot nie; want hulle sal ‘n geslag geseëndes van die Here wees, en hulle nakomelinge saam met hulle.
Ons weet beslis dat op die nuwe Hemel en Aarde mense nie kinders sal verwek en suigelinge sal wees nie. Jesus maak dit vir die Sadduseërs duidelik dat mense nie meer sal trou of in die huwelik uitgegee sal word nie en dat hulle soos engele sal wees. Verder kan dit nie verwys na die Ewigheid nie aangesien niemand daar oud sal word of sal sterf nie, want die dood en doderyk is aan die einde in die vuurpoel gegooi. Openbaring 20:13 Die see het toe die dooies wat daarin is, teruggegee, en die dood en Hades het die dooies wat daarin is, teruggegee. Elkeen is volgens hulle dade geoordeel.
Wandel in die Lig
Met hierdie wonderlike afwagting word hierdie volk opgeroep om te leef in die lig van die Here. Hoe tragies dat die volk wat hierdie boodskap eerste gehoor het nie gehoorsaam was om in die lig te wandel nie. Hulle het na hierdie boodskap steeds volhard in sonde en is gestraf in ballingskap deur Nebukadneser. Die ware lig is aan hulle geopenbaar soos deur Johannes aangekondig. Johannes 1:9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld. En tog sal Johannes ʼn oordeel uitspreek oor die mense wat gedurende Jesus se eerste koms geleef het, aangesien hulle nie in die ware Lig wou wandel nie. Johannes 3:19 En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. Watter aanklag sal daar nie wees teen diegene wat die Nuwe Testament kan bestudeer en hulle steeds nie bekeer en in Sy lig wil wandel nie? Sal ons wees soos diegene waarvan Jesus gepraat het wat altyd mooi woorde geuiter het en gesê het: “Here Here”, maar Hom nooit gehoorsaam het nie. Matteus 7:22-23 Baie sal op daardie dag vir My sê, Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê, Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf! Nooit, mag elkeen wat hierdie boodskap lees en hoor, hul bekeer om vir altyd te wandel in die Lig!
