Jesaja 1

Inleiding

Dit is voorwaar ʼn ambisieuse taak om Jesaja in blog vorm te behandel, maar ons kan begin om dit op te breek in drie Messiaanse beelde naamlik: Die Koning (hoofstuk 1-37), die dienskneg (hoofstuk 38-55) en die Gesalfde Oorwinnaar(Hoofstuk 56-66). Jesaja ontvang sy roeping eers in Hoofstuk 6 en die eerste vyf hoofstukke beskryf aan ons die wêreld waarin Jesaja homself ten tye van sy roeping bevind. Hy is ʼn profeet vir Juda en Jerusalem in die tyd van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía(767-686 v.C.). Sy roeping vind plaas in hoofstuk 6 met die dood van Ussia(739 v.C.) en hou aan tot die latere jare van Hiskia se koningskap. Al is sy boodskap in ʼn bepaalde tyd verkondig, was dit beslis nie net vir daardie tyd nie, aangesien dit, geïnspireer deur die Heilige Gees vir alle tye, deel  van God se Woord is. Jesaja se naam beteken “verlossing van Jah”, die afkorting van die naam Jahwe. Hierdie profesie was bekend aan die skrywer van Kronieke as hy daarna verwys as “Die boekrol van die konings van Juda en Israel”. 2 Kronieke 32:32 Die verdere geskiedenis van Hiskia en sy dade van trou, kyk, dit is opgeteken in die openbaring van die profeet Jesaja, seun van Amos, in die boekrol van die konings van Juda en Israel. Hoofstuk 1 kan opgedeel word, en is ʼn goeie raamwerk van die hele Jesaja, in Juda en Jerusalem se sonde (vers 3-8), God se sagte oproep (vers 24-25), die sekerheid van oordeel (vers 24-25, 29-31) en die geseënde verlossing wat sal kom (vers 26,27).

Verdeelde aanbidding

Jesaja begin sy profesie deur die hemele en die aarde as getuies in te roep as God spreek. Dit moes die hoorder herinner het aan die lied van Moses as hy die hemele en die aarde roep as getuie teen sy volk. Deuteronomium 32:1 Luister hemele, ek wil praat, en aarde, jy moet die woorde van my mond hoor. Die hemel en die aarde is die konstante getuie van geslag na geslag wat daarop en daaronder leef. Hulle wat nie kan hoor en sien nie word ingeroep as getuies teen ʼn volk wat nie wil hoor en sien nie. Al kan die aarde en hemele nie sien of hoor nie, reageer hulle op God se opdragte en voer sy besluite uit in teenstelling met God se volk wat so baie voorregte uit die hand van die Here ontvang en tog nie na Hom luister nie. Hy het hulle grootgemaak soos ʼn vader sy kinders, maar hulle het teen Hom oortree. Van die begin was dit die getuienis teen die volk wat God as sy eie gekies het. Amos sal aan sy hoorders die vraag vra: Het julle slagoffers en graanoffers vir My gebring, die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Julle sal Sakkoet, julle koning, en Kajjawan, julle beelde, die ster van julle gode wat julle vir julle gemaak het, moet dra. Amos 5:25-26. Hoe skrikwekkend dat terwyl God in die woestyn aan die volk Manna en kwartels gegee het hulle besig was met afgodediens. Aan die eenkant is jy kwaad as God nie voorsien nie en pleit jy by God om te voorsien, terwyl jy sonder enige skaamte voortgaan met die aanbidding van jou eie afgode. Dis so ongelooflik om te dink dat die volk die vermetelheid het om God se hulp te vra, en wanneer Hy help, bedank hulle iets/iemand anders. So sien ons ook by Salomo ʼn hunkering om God en die vroue in sy harem gelukkig te hou, deur vir God en vir sy vroue se gode tempels te bou. 1 Konings 11:7 Salomo het toe ‘n offerhoogte vir die verfoeilike god van Moab gebou op die berg wat oos van Jerusalem lê, en ook vir Moleg, die verfoeilike god van die Ammoniete. God is egter ʼn jaloerse God. Hy word nie gepaai deur lafhartige offers nie. Hy is alles, of niks.

Paulus wys daarop dat dit nooit alle Israeliete was wat aan God behoort het nie en dat dit nog altyd maar ʼn klein oorblyfsel was wat aan Hom getrou was. Daarom word hulle konstant deur die profete opgeroep, soos hier en ook deur Elia op die berg Karmel, om te kies wie hulle gaan aanbid. 1 Konings 18:21 Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom. Maar die volk het hom nie met ‘n enkele woord geantwoord nie. So waarsku Jesus ook dat ons nie God en Mammon(die geld god) kan dien nie. Ons sien ook in Openbaring hoe Jesus die boodskap stuur aan die gemeentes wat kompromieë gemaak het deur in afgodstempels besigheid onderhandelings te doen sodat hulle besighede kon floreer. Ons kan nie die wêreld en Christus tevrede stel nie. Dit is en was nog altyd ʼn alles of niks besluit. Paulus stel dit so duidelik as hy sê: “vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Dit is soms asof die mens net alle moontlikhede wil dek. Indien God nie werklik die een is wat voorsien nie, het ek darem mense op wie ek kan vertrou! So het die volk hulle offers gebring aan die ware God, maar net om seker te maak alles verloop voorspoedig ook aan ander afgode. Dit is nie ware aanbidding nie! Selfs diere weet van Wie hulle afhanklik is en Wie vir hulle kos gee. Kyk maar net as die boer met sy bakkie vol voer die kamp inry. Die beeste of skape sal aangehardloop kom. Daar is by hulle geen twyfel dat die voorsiener in hulle behoeftes opgedaag het nie. Die mens wat soveel wyser is en soveel meer insig behoort te hê, het egter die idee dat hulle vir hulleself sorg of dat hulle afhanklik is van ʼn ander bron as die Enigste God. Tog, al was daar voorspoed in die dae van Ussia, sou die volk nog steeds in hulle sonde volhard.

Straf

Vir die volk wat volhou met sonde is daar ʼn waarskuwing dat God nie sal ophou om hulle te straf nie. Dit was die boodskap in Deuteronomium aan die volk in hoofstuk 28 en 29. As hulle God volg in gehoorsaamheid sal dit met hulle goed gaan, maar as hulle volhard in sonde sou hy wraak op hulle uitoefen. God verklaar aan hulle dat die teenspoed wat hulle beleef, sy straf is, wanneer hy aan hulle die vraag stel oor waar hulle nog geslaan wil word. Hy wil hê dat hulle geen twyfel moet hê dat hy die bron van hul ellende is nie. Hy stel homself voor aan hulle as hulle Vader. ʼn Vader wat sy kinders tugtig. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom  bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun  wat Hy aanneem. God is die oorsaak dat hulle hele liggaam gewond is en hulle hoofde siek en hulle harte swak is. Hy het van alle kante af hulle gestraf en sy straf is sigbaar op elke vlak. Jy kry die indruk van ʼn pa wat sy hande in moedeloosheid ophef met die vraag: “Hoekom luister julle nie! Hoeveel ellende wil julle julself nog op die hals haal deur jul ongehoorsaamheid?

Oorblyfsel

Die enigste wat oorgebly het is die dogter van Sion, wat Jerusalem is, net ʼn klein plekkie van vrede, wat beskerm word deur God. Hierdie klein oorblyfsel is deur God bewaar anders sou hulle beslis soos Sodom en Gomorra geword het. Vir die mense van Jesus se tyd, wat hierdie beelde geken het, moes Jesus se verdere vertolking van dieselfde beelde beslis verstaanbaar gewees het. Hy het deur sy magtige dade aan hulle getoon dat hy die Messias is en tog het hulle nie ag geslaan op sy woorde nie en daarom kondig hy aan dat hulle erger as Sodom en Gomorra geoordeel sal word. Matteus 11:23-24 En jy, Kapernaum, Sal jy tot die hemel toe  verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal! Want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir die gebied van Sodom op die oordeelsdag draagliker wees as vir jou. God belowe egter dat hy altyd ʼn oorblyfsel sal bewaar. Paulus bou hierop voort as hy hierdie vers in Romeine 9 aanhaal. Romeine 9:29 En soos Jesaja reeds gesê het: As die Here, Heerser oor alle magte, nie vir ons ‘n nageslag laat oorbly het nie, sou ons soos Sodom geword het, en sou dit met ons  soos met Gomorra  gegaan het. Die leser van Jesaja kan nie anders as om verras te wees deur God se genade nie en Paulus wil dit beklemtoon en aan die gelowiges wys dat God nooit sy beloftes ongedaan maak nie, ja al is die mens ontrou God sal getrou bly.

Godsdiens teenoor verhouding

God spreek hulle aan asof hulle werklik Sodom en Gomorra is, aangesien hulle dade soortgelyk aan Sodom en Gomorra s’n is, die enigste verskil is dat God oor hulle genadig is. Hy breek al hul roem of hoogwaardige denke van hulleself a.g.v. hulle godsdienstigheid en offerandes af. Hul godsdiens beoefening, waarin hul heelwaarskynlik geroem het, word sistematies afgebreek. Hulle offerandes en die dae wat hulle nagekom het was vir Hom onaanvaarbaar. Hy haat dit. Hul godsdienstige praktyke maak Hom moeg. Hulle maak van God ʼn afgod, iets wat nie kan hoor of sien nie. Daarom sal God optree soos ʼn afgod en doof en blind wees vir hul gebede.  Hierdie mense het teen God gesondig en nie teen ʼn mens nie. Eli het sy seuns gewaarsku aangaande hulle sonde teen God. 1 Samuel 2:25 As een mens teen ‘n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. Maar as dit teen die Here is wat ‘n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig? Hulle het egter nie na hulle vader geluister nie, want die Here wou hulle om die lewe bring. Die volk se godsdiens beoefening is leeg en sonder waarde. Hulle is soos Laodosea wat nie warm of koud was nie, maar lou en van wie God sê dat hulle Hom naar maak. Gaan jy Sondae kerk toe en lees jy jou Bybel en doen gebede, maar jy volhard in sonde en dink dat God nie rekenskap van jou sal vra nie? Of miskien is jy arrogant genoeg om te dink dat God dit sal oorsien. Dalk dink jy dat jou godsdiensbeoefening Hom gelukkig sal maak ten spyte van jou sonde. Hebreërs 11:6 Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek. Hierdie vers volg na die beskrywing van Henog wat God behaag het en deur God weggeneem is. Hierdie man het saam met God gewandel. Hy het besluit om openlik voor God te leef en nie soos Adam en Eva weg te kruip omdat hulle hulle sonde wou wegsteek nie. Is alles nie oop voor die Skepper van hemel en aarde nie?

  • Spreuke 15:11 Die doderyk en die onderwêreld lê oop voor die Here – hoeveel te meer die harte van mensekinders!
  • Hebreërs 4:13 Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot  voor sy oë, Hom teenoor wie ons  ons moet verantwoord.

Hierdie volk moes van beter geweet het. Het hulle vergeet van Samuel se woorde aan Saul. Saul het geweet wat God se opdrag was, nl. dat alle diere doodgemaak moes word, en was daaraan ongehoorsaam. Hy het egter gedink God sal dit oorgesien, omdat hy ʼn groot geskenk vir die Here gebring het? As Samuel na hom kom is Saul vol bravade as hy aan Samuel sê: “Mag u geseënd wees deur die Here! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” 1 Samuel 15:13. Dit, terwyl die geblêr en gebulk van die diere duidelik deur Samuel gehoor kon word. Die beste verskoning waarmee Saul vorendag kan kom is dat hy “amper alles” gedoen het wat die Here gevra het en dat al die diere eintlik ʼn offer vir die Here is. Hierop is Samuel se antwoord soos volg: Is daar vir die Here vreugde in brandoffers  en maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister

beter as die vet van ramme. 1 Samuel 15:22. Dit is asof die mens dink dat die aanbidding van God soos ʼn weegskaal is, waarop godsdienste gebruike die teengewig vir ongehoorsaamheid is. God soek gehoorsaamheid van sy volk en net so van ons. Doen wat Hom behaag en voer sy opdragte uit. Wanneer jy gesondig het word jy opgeroep om jou sonde voor Hom te bely. God se vergifnis is volledig en volmaak vir die wat hulle sondes voor Hom bely. So skrywe Johannes ook aan sy hoorders dat God ons sal vergewe en ons sal reinig. 1 Johannes 1:9 As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. Soos reeds gesien is die belydenis nie ʼn erkentenis en dan ʼn voortploeter in die sonde nie. Daar is ʼn erkenning van my sonde en ʼn doen van die goeie wat God van my vra. Hulle (en ons) kry die opdrag om te leer om te doen wat vir God goed en aanneemlik is. Dit is baie duidelik vanuit die Ou en Nuwe Testament dat godsdiens sonder ware gehoorsaamheid aan God se opdragte leeg is.

Vernuwe

Ten spyte van God se vermaning sal die volk voortgaan in hulle sonde en sal God se straf oor hulle voltrek word. God sal egter  ʼn werk doen vanuit Homself om hulle te reinig en sal vir hulle regters en raadsmanne gee wat Sy wil sal navolg en Hom sal gehoorsaam. Hierdie ongehoorsame stad sal ʼn stad van geregtigheid en ʼn getroue vesting genoem word. Dit wys na die koms van die Messias wat in ware geregtigheid sal wandel en ʼn getroue vesting sal wees, die steen waarop hulle kan bou. 1 Petrus 2:7-8 Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, en ‘n klip waaroor ‘n mens  kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val. Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem.

Slot

Die pad wat hulle kies om te loop se beloning is baie duidelik; as hulle hulle bekeer en die goeie doen sal hulle die goeie van die land eet, indien nie, sal die swaard hulle eet. Is dit nie wonderlik dat die paaie vandag nog steeds net so duidelik is nie. As jy besluit om te volhard in jou sonde en selfgemaakte godsdiens is ʼn lewe van onvrede en vrees, met baie hartseer en die ewige dood jou eindbestemming. In teenstelling daarmee is ʼn lewe van geloof en gehoorsaamheid  ʼn vreugdevolle wandeling saam met Christus. ʼn Geestelike wandeling van vreugde en vrede en volheid wat uitloop op die Ewige Lewe saam met Christus.