Elia Word in die Hemel Op Geneem

Die Here sou vir Elia in ’n stormwind na die hemel opneem. Elia en Elisa het van Gilgal af vertrek en Elia het vir Elisa gesê:
“Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El.” Elisa het egter geantwoord:
“So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie verlaat nie.”

In Bet-El het die profete vir Elisa gesê:
“Weet jy dat die Here vandag jou meester van jou gaan wegneem?”
Elisa het gesê:
“Ek weet dit. Bly stil.”

Elia het weer vir hom gesê dat hy moes agterbly, maar Elisa wou hom nie verlaat nie. Hulle het na Jerigo gegaan en daarna na die Jordaan. Vyftig van die profete het op ’n afstand gaan staan terwyl Elia en Elisa by die rivier gaan staan het.

Elia het sy mantel opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het oopgegaan en hulle het albei op droë grond deurgestap.

Aan die oorkant het Elia vir Elisa gevra:
“Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?”
Elisa het geantwoord:
“Laat daar asseblief ’n dubbele deel van u gees op my kom.”

Elia het gesê:
“Dit is ’n moeilike versoek. As jy sien hoe ek van jou weggeneem word, sal dit so wees; maar as jy dit nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

Terwyl hulle nog saam loop en praat, het daar skielik ’n strydwa en perde van vuur tussen hulle deur gekom. Elia is in ’n stormwind na die hemel opgeneem.

Elisa het dit gesien en uitgeroep:
“My vader, my vader! Israel se strydwa en sy ruiters!”
Hy kon Elia nie meer sien nie.

Elisa het Elia se mantel opgetel wat geval het. Hy het teruggegaan na die Jordaan, die water met die mantel geslaan en gesê:
“Waar is die Here, die God van Elia?”

Die water het weer oopgegaan en Elisa het deurgestap.