Daniël 12:4-12

Inleiding

Daar is nou twee persone wat heelwaarskynlik engele is wat aan beide kante van die Tigris rivier staan. Hulle staan as die twee getuies wat die belofte, verklaar deur die derde persoon, aanhoor. Die man geklee in linne is dieselfde persoon as in hoofstuk 10:5-6. Ons het Hom identifiseer as die tweede persoon van die Drie-Eenheid op grond daarvan dat Hy dieselfde beskryf word as wat  Christus beskryf word in Openbaring. Een van die engele vra hoe lank hierdie gruwelike dinge sal plaasvind. Jesus maak dit ook duidelik dat niemand die dag en die uur weet nie en selfs Hy, voor Sy vereniging met die Vader met sy Hemelvaart, nie die dag en uur geweet het nie. Matteus 24:36 Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. Dat die datum verseker en vas is word versterk deur Christus wat nie net sy een hand oplig soos gewoonlik plaasgevind het met ʼn eedswering nie, maar albei hande.

  • Genesis 14:22 Maar Abram het vir die koning van Sodom gesê: Ek hef my hand op na die Here God, die Allerhoogste, skepper van die hemel en die aarde.
  • Deuteronomium 32:40 Ja, Ek hef my hand op na die hemel en sê: So waar as wat Ek ewig leef.

Die tydperk van vervolging

Die tydperk “vasgestelde tyd, tye en ‘n halwe tyd” het ons alreeds mee te make gehad in hoofstuk 7. Dit is die tydperk van drie en ʼn halfjaar, 42 maande of 1260 dae wat ook dieselfde tydperk is wat aangedui word in Openbaring. Volgens God sal die einde wees met die totale vernietiging van die heilige volk, wat in hierdie konteks na die Joodse volk verwys. Kyk gerus weer na die volgende verse:

Daniël 12:1 En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal ‘n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert ‘n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die boekrol opgeskryf is.

Sagaria 14:2 Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie. Daarna sal die Here optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, ‘n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide.

Net soos ons alreeds genoem het sal dit ook volgens Openbaring en ander Nuwe Testamentiese gedeeltes ʼn tydperk van die ergste vervolging vir gelowiges wees. Tog is die gelowige verseker dat God die tyd vasgemaak het en dat dit nie ʼn dag langer sal aanhou as wat God bepaal het nie. Ons sal in hierdie tyd gedra word en God sal hom ontferm oor ons. Jesaja 63:9 In al hulle nood was ook Hy in die nood. Die Engel van sy teenwoordigheid het hulle verlos. In sy liefde en medelye was dit Hy wat hulle vrygekoop het. Hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die jare, van lank gelede af.

Daniel is steeds onseker aangaande die vervulling en die betekenis van dit wat hy gesien en gehoor het. Aan Daniel word meegedeel dat die woorde verseël en tot die einde geheim gehou sal word en tog gaan nog meer aan Daniel geopenbaar word in die opvolgende verse. Met die koms van Christus het die einde aangebreek en met die uitstorting van die Heilige Gees het die kennis toegeneem. In die tyd sal daar baie wees wat gereinig, gesuiwer en gelouter word. Die gelowiges sal deur baie moeilike tye gaan en sal vervolg word tot en met die einde. Ja, in die tydperk van die finale antichris sal die felste vervolging plaasvind van die gelowiges sowel as die Joodse volk, maar dit moet vir geen gelowige onduidelik wees dat hulle deur alle tye vervolg sal word nie.

  • Johannes 15:18-20 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle. Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam.
  • Filippense 1:29 Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.
  • 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word.
  • 1 Petrus 4:12-14 Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ‘n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus.

Daarom sal die gelowige nooit vry wees van vervolging in hierdie wêreld nie. Individue wat dit nie ervaar nie kan tereg bekommerd wees oor hulle saligheid. Die enigste persoon wat vry is van vervolging is die wat nie aan Hom behoort nie en dus nie Sy Naam in ʼn goddelose wêreld bely nie. Hulle is die wat die wêreld en hulle familie en vriende meer liefhet as Christus en stilbly wanneer hulle moet opstaan vir die waarheid en die Woord. Daarom is die loutering en die suiwering deel van die wat gereinig is en word se lewens, want ja, al is ons alreeds deur die bloed van Christus gereinig, word ons steeds deur ʼn proses van heiligmaking elke dag gevorm, gesnoei en gelouter. Loutering en suiwering vind plaas oor die vlamme van die vuur en die hitte van die oond. Dit beteken deur moeilik tye en beproewing. Die ongelowiges sal deur die tye gaan sonder enige benul van wat besig is om plaas te vind en selfs tot aan die einde sal hulle geen kennis hê nie. Jesus vertel aan sy volgelinge dat dit ook die rede is waarom Hy gelykenisse vertel. Matteus 13:11-12 Hy het hulle geantwoord: “Omdat dit aan julle gegee is om die geheimenisse van die koninkryk van die hemele te verstaan; maar vir daardie mense is dit nie gegee nie. Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; maar van wie nie het nie, sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Jesus se antwoord kom vanuit ʼn aanhaling in Jesaja. Jesaja 6:9-10 Hy het gesê: Gaan sê vir hierdie volk, Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie. Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie! In teenstelling met die ongelowiges sal die gelowiges die tekens van die tye verstaan en groei in hulle kennis van die eindtyd soos wat die Heilige Gees dit ook aan hulle sal openbaar.

Laaste tonele

Die laaste tydperk sal deur twee gebeure geaktiveer word. Hierdie twee gebeure sal op verskillende tye plaasvind en wys ons weer daarop dat hierdie laaste 3 en ʼn half jaar nie presiese dae is nie, maar eerder ʼn tydperk is deur God bepaal.

Die eerste gebeurtenis is die afskaffing van die gereelde offer. Dit het plaasgevind met Christus se sterwe aan die kruis. Hy is die volmaakte offer wat gebring is. Hebreërs 9:24-25 Want Christus het nie ‘n mensgemaakte heiligdom, ‘n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn; ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie – anders as die hoëpriester, wat jaar ná jaar in die Heilige met ‘n ander se bloed ingaan. Aan die kruis skeur die gordyn in die tempel en die allerheiligste word oopgemaak vir die gelowige en deur Hom het ons toegang tot die Vader. Daar is dus nou geen offer meer nodig nie en hierdie offer het plaasgevind in die helfte van die geprofeteerde laaste sewe jaar van Daniël. Die tweede gebeurtenis wat die laaste drie en ʼn half jaar tydperk laat aanbreek is die “verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak”. Jesus praat van hierdie gebeurtenis as hy aan sy volgelinge die laaste dae voor sy wederkoms beskrywe. Matteus 24:15 Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp. So word hierdie gebeurtenis ook deur Paulus beskrywe in 2 Tessalonisense waar hy ook dit duidelik maak dat God aan die goddelose die krag van die dwaling sal stuur sodat hulle die leuen sal glo. Hierdie wettelose word terug gehou deur die kerk wat die sout is, maar daar sal ʼn afvalligheid in die kerk plaasvind en dan sal die wettelose of die finale antichris, wat ook vanuit die kerk sal kom soos aangedui in 1Johannes, hom voordoen as God. Alles sal plaasvind soos in Daniël voorspel is. Die goddelose in die kerk sal ook mislei word, maar die ware gelowiges sal hom, die antichris, herken en hom nie navolg nie. Hulle sal deur erge verdrukking gaan wat tot hulle marteling en dood sal lei. Hierdie tyd moet ʼn tyd van volharding wees tot aan die einde. Die Bybel is duidelik dat slegs die wat volhard tot die einde gered sal word. Matteus 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word.

Tydperke

Daar is twee tye of tydperke wat genoem word wat anders is as die drie en ʼn half jaar wat op ʼn totaal van 1260 dae beloop. Die tydperk van twee en veertig maande en 3 en ʼn half jaar word in beide Openbaring en Daniel genoem. Die 1260 dae word genoem in Openbaring.

  • Openbaring 11:3 En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer.
  • Openbaring 12:6 Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na ‘n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg.

Daniel gee ons met die oprig van die gruwel en die voortdurende offer wat afgeskaf word ʼn tydperk wat 30 dae langer is as die 1260 dae, naamlik 1290 dae. Hy noem nog ʼn aantal dae meer as hy aan die wat volhard belowe dat hulle gelukkig sal wees as hulle 1335 dae volhard wat 75 dae langer is as die 1260 dae. Hierdie getalle is vir die meerderheid teoloë onverklaarbaar. Daar is ʼn aantal wat probeer om hierdie ekstra dae te verklaar. Die meerderheid van hulle verklaar dit aan die hand van dit wat sal plaasvind aan die einde van die antichris se heerskappy. Hiermee stem ek saam aangesien Openbaring ons ʼn baie duideliker prentjie gee van die finale gebeure. In Openbaring 11 lees ons dat die verkondiging van die evangelie deur die twee profete, wat die kerk verteenwoordig, vir 1260 dae sal plaasvind. So sal die kerk ook vervolg word en aan die einde doodgemaak word, waaroor die aardbewoners opgewonde sal wees. As ek ʼn getal in die apokaliptiese boeke van die Bybel lees probeer ek eerstens om die getal te verduidelik vanuit die Skrif. Ons weet dat die getal dertig in die Tora gebruik word vir die tydperk waar daar oor Aaron en Moses, die manne van God wat die volk deur die Rooisee gelei het, geween is.  

  • Numeri 20:29 Toe die hele volksvergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel dertig dae lank oor Aäron getreur.
  • Deuteronomium 34:8 Die Israeliete het in die vlaktes van Moab dertig dae lank oor Moses getreur – tot die routyd oor Moses verby was.

So sien ons in Openbaring 11 dat die twee profete van God na drie en ʼn halwe dae opstaan en dat God se wraak dan uitgeoefen word. God belowe aan die gelowiges onder die altaar dat Hy wraak sal uitoefen op die aardbewoners wanneer die ander gelowiges wat deur die beproewing sal gaan se volle getal by hulle is. Ons weet verder dat aan die einde van hierdie tydperk , wanneer die mense uit elke volk en taal en nasie voor God sal staan, die 144000 uit die stamme van Israel gemerk sal word en dat die wraak van God dan op die aarde gestort sal word. Christus verskyn op die wolke met sy sekel in die hand om wraak uit te oefen op die aardbewoners. Die 144000 sal deur hierdie vuur gaan, maar sal bewaar word volgens Openbaring, omdat hulle deur God gemerk is. (Lees asb. die blogs van Openbaring vir ʼn meer breedvoerige bespreking). Dit is dan ook die verdere loutering wat hulle sal deurmaak. So word dit ook voorspel in Jesaja se laaste hoofstuk, wat na hierdie end gebeure wys. Jesaja 66:15-16 Want kyk, die Here sal met vuur kom, en soos ‘n stormwind is sy strydwaens, om met woede sy toorn te laat geld, en sy dreigement kom met vuurvlamme. Ja, met vuur en sy swaard gaan die Here die saak bereg met alle mense. Talryk sal dié wees wat deur die Here verslaan word.Ons kan dus geredelik by 1290 dae uitkom deur die rou tydperk van 30 dae vandat die twee getuies gesterf het by die 1260 te voeg. So is daar ook ʼn routydperk wat deur Sagaria profeteer word aan die einde van die oorlog in Jerusalem as God die oorwinning oor die vyande sal behaal en die Jode sal kyk na die een wat hulle deurboor het. Sagaria 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind. Die laaste 45 dae tot by 1335 dae is egter moeiliker, want daar is geen korrelasie met enige datum in die Ou of NT nie. Kom ons gaan weer na Openbaring om te kyk wat ons verder sal neem as die 1290 dae. Hierdie 45 dae kan te make hê met die laaste oorlog van Openbaring 19 of die oordeel wat sal plaasvind aan die einde van die oorlog waar Christus die oorwinning behaal, die voëls gevoer word en die dier, die antichris en die valse profeet in die vuur wat vir ewig brand gegooi sal word. Openbaring 19:20-21 Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi. Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis. So vertel Esegiël ons ook oor die laaste oorlog en wys spesifiek na ʼn tydperk van sewe maande wat dit sal neem om al die lyke te begrawe. Ons lees ook van die voëls van die hemel wat die lyke sal eet. Esegiël 39:14 en 17 Hulle sal gereeld manne afsonder wat die land deurgaan, en verbygangers wat op die grond bly lê het, begrawe om die land te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ondersoek instel. En jy, mensekind, so sê die Heer, die Here: Sê vir die voëls, vir al die gevleueldes, en vir al die diere van die veld: Kom bymekaar, ja, kom! Kom van oraloor byeen by my slagoffer wat Ek vir julle gaan slag – ‘n groot slagoffer op die berge van Israel. Eet vleis en drink bloed! Dan sal die Satan gebind word vir ʼn duisend jaar waarin die gelowiges saam met Christus sal heers. Dus al is ons nie seker oor die presiese tye nie, weet ons dat ons moet volhard tot aan die einde, dat God die dae bepaal het en dat daar ʼn oordeel sal wees aan die einde van die 1260 dae. Die getal dae se onduidelikheid beklemtoon egter onomwonde die feit dat niemand weet wanneer die dag en uur sal wees nie.

Slot

Elke gelowige moet weet dat al lyk alles tevergeefs en al is die lyding fel, Christus het alreeds die oorwinning behaal aan die kruis. Elke gelowige word opgeroep om te volhard tot aan die einde en nie hulle lewens in hierdie wêreld lief te hê nie. Jesus sê aan sy volgelinge: Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. Johannes 12:25. Kyk na die belofte wat gemaak word aan die einde van Jesaja 66. Jesaja 66:22 Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, voor My sal bly voortbestaan,  is die uitspraak van die Here, so sal julle nageslag en julle naam bly voortbestaan. Teenoor hierdie belofte vir die gelowige volg die belofte aan die ongelowige en ongehoorsame mense. Jesaja 66:24 Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense. Aan watter belofte wil jy vashou?