Elia Vlug

Toe koning Agab vir koningin Isebel alles vertel het wat Elia gedoen het en hoe hy die Baälprofete doodgemaak het, het Isebel ‘n boodskap na Elia gestuur: “Mag die gode my straf as ek jou nie môre teen hierdie tyd laat sterf nie.”

Toe Elia dit hoor, het hy bang geword en gevlug om sy lewe te red. Hy het na Berseba in Juda gegaan en sy kneg daar gelos. Daarna het hy alleen ‘n dagreis ver die woestyn in gegaan. Hy het onder ‘n besembos gaan sit en gebid dat hy kon sterf. Hy het gesê:
“Dit is genoeg. Neem my lewe, Here, want ek is nie beter as my vaders nie.”

Elia het daar gaan lê en aan die slaap geraak. ‘n Engel het hom aangeraak en vir hom gesê:
“Staan op en eet.”

Elia het opgekyk en ‘n roosterkoek en ‘n kruik water by sy kop gesien. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel van die Here het hom weer aangeraak en gesê:
“Staan op en eet, want die pad is te veel vir jou.”

Toe het Elia weer geëet en gedrink. Die kos het hom krag gegee om vir veertig dae en veertig nagte te loop tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy in ‘n grot oornag.

Die Here het vir hom gesê: “ Wat maak jy hier, Elia?”

Elia het geantwoord:
“Die Israeliete het U verbond verlaat, U altare afgebreek en U profete met die swaard gedood. Ek het alleen oorgebly en hulle wil my ook doodmaak. “

Die Here het gesê:
“Gaan staan op die berg voor My.”

Toe het ‘n groot en sterk wind die berge geruk, maar die Here was nie in die wind nie. Daarna was daar ‘n aardbewing, maar die Here was nie in die aardbewing nie. Daarna vuur, maar die Here was nie in die vuur nie. Ná die vuur het God in ‘n fluistering na Elia gekom — in ‘n sagte stem.

Toe Elia dit hoor, het hy sy mantel oor sy gesig getrek en by die ingang van die grot gaan staan. Die Here het weer met hom gepraat en vir hom opdragte gegee oor wat hy verder moes doen.