Inleiding
Die laaste dae word nou vertel vanuit die perspektief van die Jode. Migael die aartsengel word gekoppel aan hierdie laaste gebeure. Migael word in twee ander boeke in die Bybel buiten Daniël genoem.
- Judas 1:9 Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om ‘n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: Mag die Here jou straf!
- Openbaring 12:7 En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer,
Hier word deur Daniel geprofeteer dat Migael die engel is wat oor die volk Israel staan. Hy word ook hulle vors genoem in hoofstuk 10:21. Sy toesig is dus tot die einde oor die volk Israel. Baie gelowiges vandag glo dat God geen belofte aan die volk Israel gemaak het aangaande die laaste dae nie en tog vind ons hierdie belofte spesifiek vir hulle. Hier is dit belangrik om te sê dat die meerderheid van die Jode vandag verlore is en hel toe sal gaan, tensy hulle Jesus Christus aanvaar as die ware Messias, die enigste weg tot saligheid. Daarom is hul terugkeer wat belowe word aan die einde van die dae, ʼn terugkeer na Christus. Sagaria 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind.
Vervolging
Ons het alreeds in vorige inskrywings melding gemaak dat die laaste dae ʼn vreesaanjaende tyd vir die gelowiges sal wees, dit geld ook vir die Jode. So verkondig Jesus dit ook aan sy volgelinge. Markus 13:19 In daardie dae sal daar ‘n verdrukking wees soos daar nog nie was sedert die begin van die skepping wat God geskep het, tot nou toe nie, en beslis ook nie sal wees nie. Daniel sê dit sal ʼn tyd van benoudheid wees soos daar nog nooit was vandat enige volk ontstaan het nie. Hier wil ek tog die opmerking maak dat dit vir my onverklaarbaar is dat so baie teoloë verklaar dat hierdie professie vervul is in 70n.C. Eerstens is dit onmoontlik aangesien die teks dit duidelik maak dat die opstanding van die dooies dan sal plaasvind en ook die finale oordeel. Verder moet die vraag gevra word hoe dit moontlik is aangesien daar in die geskiedenis erger vervolging van die Jode plaasgevind het as 70 n.C. Hitler se vermoording en marteling van die Jode was ongekend in die geskiedenis. Meer as 6 miljoen Jode het hulle lewens verloor, baie in gaskamers en op wrede maniere, soveel so dat die Duitsers onder Hitler selfs van hulle vet seep gemaak het. Dit kan geheel en al glad nie vergelyk word met die vervolging in 70n.C. nie. Wat die Bybel hier sê is dus skokkend as daar geprofeteer word dat in die laaste dae hul vervolging erger sal wees as ooit deur die geskiedenis. Daarom is Sagaria se beskrywing dat twee derdes van die Jode uitgewis sal word ʼn beskrywing van iets wat nog nooit gebeur het nie. Indien hierdie profesie vandag in vervulling gaan praat ons van ongeveer 10 miljoen Jode was vermoor sal word.
Uitverkiesing
Diegene uit die Joodse volk wat in daardie dae gered sal word is hulle wie se name in die boek van die Lewe geskrywe is. Ons vind God se uitverkiesende genade deur die hele Skrif. So bevestig Paulus dit ook in Efesiërs as hy aan die gemeente skrywe onder leiding van die Heilige Gees. Efesiërs 1:4 So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees. Hy het hulle getal bepaal voor die grondlegging van die wêreld. Ten spyte van die hoeveelheid wat in daardie dae vermoor sal word weet God presies wie Hy sal bewaar en wie Hy sal bekeer tot Hom. Jeremia stel God se werk as die eerste agent in wedergeboorte so mooi en ek haal dit aan uit die Ou vertaling. Jeremia 31:18 Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos ‘n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die Here my God. Dit sal die tyd wees wanneer Israel weer genade sal ontvang, die tyd nadat die volle getal uit die heidene reeds ingekom het. Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. As alles tot ʼn einde gekom het en die wraak volgens Openbaring deur Christus uitgeoefen is, sal die oordeel plaasvind waarvan in Openbaring vertel word en waar die Boek van die Lewe ook genoem word. Openbaring 20:12 En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan. Toe is die boekrolle oopgemaak. ‘n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe. Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel. Miskien is dit net belangrik om hier op te merk dat die opstanding te make het met die nuwe liggaam wat ons sal ontvang met die wederkoms en nie met ons siele wat alreeds in die Hemel sal wees nie. So sien ons ook in Openbaring dat die siele van die verdruktes alreeds onder die altaar is. Paulus stel dit ook duidelik as hy aan die gemeente in Korinte sê: Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon. 2Korinthiërs 5:8. Hier sal die finale skeiding plaasvind en albei kante se beloning sal vir ewig wees. Johannes 5:28-29 Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom ‘n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling. Die gelowiges tot die ewige lewe en die ongelowiges sal ontvang “skande en afsku” volgens die Hebreeus of “verwydering” volgens die LXX. Nooit weer sal daar ʼn geleentheid wees om reg te maak of tot inkeer te kom nie. Die genade tyd sal finaal verby wees.
Ware wysheid
Dan skuif die fokus na die verstandiges, die wyses wat God gehoorsaam het. Hierdie is nie die wyses van hierdie wêreld nie. Inteendeel, hulle sal diegene wees wat in hierdie wêreld gereken is as dwase. 1Korintiërs 1:20-21 Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Ons is diegene wat die Woord aanvaar wat vir die wêreld dwaas voorkom. Ons sal deur hulle gespot word, maar weet verseker, in die oë van God is ons die wyses en sal ons as wyses vereer word vir ewig en altyd. Ons glans sal wees soos die hemelkoepel en hulle wat baie gely het tot ʼn regverdige optrede sal soos die sterre skyn. Dit is soortgelyk aan die vertroosting wat Paulus aan die gelowiges verkondig, nl. dat die lyding wat hulle sal deurmaak nie vergelyk sal kan word met dit wat hulle sal ontvang nie. Romeine 8:18 Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. Dit sal die tyd wees waarin elke gelowige van God sal ontvang in ooreenstemming met wat hy op aarde gedoen het. 1Korinthiërs 3:12-14 Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel. As iemand se bouwerk behoue bly, sal hy sy loon ontvang. Die beloning waarvan gepraat word is vir die gelowiges wat beloon sal word volgens wat hulle vir Christus gedoen het terwyl hulle op aarde was. So baie keer soek ons as gelowiges ʼn aardse erkenning of beloning. Dit is dwaas aangesien alles in hierdie wêreld en die erkenning en lof van mense kortstondig is. Matteus 19:29 En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang, en die ewige lewe erf. Dit was die probleem met so baie wat geleef het terwyl Jesus op aarde was. Johannes 12:43 Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God. Is jy besig om te lewe vir Christus, mense op te roep om hulle te bekeer, mede-gelowiges te vermaan en saam te stry om heilig te lewe? Hierin lê ons ewige beloning. Ons kan nie mense wederbaar nie, maar ons moet gehoorsaam wees aan God se opdrag om dissipels te maak. Matteus 28:19-20 Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.
Komende afvalligheid
Daniel word opgeroep om die boek te verseël en die woorde geheim te hou. Die opdrag is beslis nie dat Daniel die woorde van God moet weg te steek of verberg nie, aangesien ons weet dat Daniel se profesieë versprei en opgeneem is in die Skrif en dat baie mense ook hierdie boek alreeds voor Christus se koms gelees en ondersoek het. Hierdie uitdrukking is soortgelyk aan die een in Daniel 8. Daniël 8:26 Die openbaring in verband met die aand en die oggend waaroor daar gepraat is, dit is waar. En jy, hou die visioen geheim, want daar moet nog baie dae verloop. Dit word ook weer in vers 9 herhaal. Daniël 12:9 Daarop het hy geantwoord: Gaan, Daniël! Want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde. Hier kry ons ʼn beter verstaan van wat die woorde aan Daniel beteken. Met die koms van Christus en die aanbreek van die laaste dae sal alles soveel duideliker word vir die wat die Woord ondersoek en naspeur, want die gelowige is nou toegerus met die Heilige Gees. Ons verstaan nou soveel meer in die lig van die Nuwe Testament, asook in die lig van Openbaring wat hierdie gebeure in Daniel breedvoerig bespreek. Dan volg die volgende frase wat deur baie mense verskillend interpreteer word. “Baie sal rondswerf, sodat die kennis kan vermeerder.” Die LXX sê hier: “totdat die menigte waansinnig word en die aarde vol onreg word.” Die woord vir waansinnig in die Grieks kom van die woord mal af. Die rondswerf en die kennis van die Hebreeus het dus volgens die LXX nie te make met kennis van die Woord of ʼn soeke na Waarheid nie, maar eerder ʼn soeke na wêreldse wysheid en goddeloosheid wat sal toeneem. Niks kan die tyd waarin ons leef beter beskryf as hierdie woorde nie. Die kerke is vol van mense wat die wysheid van hierdie wêreld begeer en ons lewe in ʼn afvalligheid binne die kerk waarvan Paulus praat in Tessalonisense. 2Tessalonisense 3: Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf. Dit wat volgens die Skrif sleg en verwerplik is, is vandag aanvaarbaar en word selfs deur die kerk as goed beskryf. So het Jesus ook geprofeteer oor die tyd wat sou kom. Matteus 24:11-12 Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Die kerk vandag is soos Eva wat na die verbode boom kyk en dit beskryf as “goed was om van te eet, dat dit ‘n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om ‘n mens insig te gee.” So was daar ook in die Ou Testament mense wat die volk geleer het om dit wat God sleg noem, goed te noem.
- Jesaja 5:20 Wee hulle wat die slegte dinge goed noem, en die goeie dinge sleg, hulle wat die duisternis tot lig maak en die lig tot duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.
- Maleagi 2:17 Julle vermoei die Here met julle woorde, en dan vra julle: Hoe het ons Hom vermoei? Deur te sê: Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die Here, teenoor hulle is Hy goedgesind. Of julle sê: Waar is die God wat oordeel?
Net soos wat die Bybel voorspel het, is daar baie sogenaamde leraars vandag, wat dit wat God beskryf as ʼn euwel, goed noem. Hierdie vers word ook verder verduidelik en bevestig deur vers 10. Daniël 12:10 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar goddeloses sal goddeloos optree. Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. Al sal die wêreld en baie ongelowiges in die kerk, nie verstaan nie, sal die gelowiges wel verstaan wat hierdie aangekondig is. Ons as gelowiges sal groei in ons verstaan van die Skrif en ook in die profesieë van die laaste gebeure. Vir die ongelowige geld die woorde van Openbaring, wat ook hierdie woorde van Daniel bevestig. Openbaring 22:11 Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word.
Slot
Moenie lewe vir hierdie wêreld of die dinge van die wêreld nie. Hierdie is nie ons tuiste nie en hier sal ons vervolg en gehaat word deur die wêreld. Daniel verkondig aan elke gelowige dat daar beslis ʼn dag van afrekening vir die goddelose sal wees. Dit sal egter ʼn dag wees waarop elke gelowiges die beloning sal ontvang vir wat hy/sy vir Christus op aarde gedoen het. Net soos wat ons as heidene gered word deur ons geloof in Jesus, ʼn geloof wat aan ons geskenk is deur die uitverkiesende genade van God, sal Hy aan die einde aan dié vanuit die Joodse volk wat Hy uitverkies het hierdie genade en geskenk van geloof gee. Uit God se genade sal hulle Jesus aanvaar as die ware Messias en sodoende deur Hom gered word. Ons lewe in die laaste dae en ons ervaar alreeds die lyding deur die wêreld en die afvalligheid van die kerk. Ons bid en sien saam met duisende ander gelowiges uit na die vervulling van Openbaring 22:12 Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon.
