Inleiding
Die gedeeltes wat nou volg het geen vervulling in die geskiedenis nie en ons kan seker wees dit het te make met die finale Antichris waarvan Antiogus en baie na hom slegs tipes was. Een van die voorbeelde hoekom die gedeelte nie op Antiogus van toepassing kan wees nie, is omdat ons weet dat sy juk verbreek is deur die Makkabeërs terwyl die finale antichris alleen deur Jesus Christus self verslaan sal word. Baie liberale teoloë wil egter hierdie gedeelte op Antiogus van toepassing maak, maar omdat alles nie pas nie, skryf hulle dit dan toe as blote fiksie van die skrywer. Hierdeur wil hulle dan die akkuraatheid van die Skrif bevraagteken. Hulle is dieselfde groep wat na die voorspellings van Daniël kyk, aangaande die nasies wat uitgewis word en die voorafgaande verse van die Griekse heersers, en onomwonde verklaar dat Daniël dit moes opgeteken het nadat dit plaasgevind het. Daniël is dus eerder ʼn geskied skrywer as ʼn profeet van God, want sy voorspellings is te akkuraat in hul uitkoms. Die spreekwoord is vir hulle van toepassing wat lui: Jy kan nie op twee troues dans nie. As gelowiges kan ons juis na die akkuraatheid van Daniël wys en weet dat dit wat voorspel word ook letterlik vervul sal word deur die finale antichris; iets wat Jesus en Paulus getuig nog sal kom. Daar is alreeds op ander plekke in Daniël na hierdie laaste figuur verwys. Daniël 7:8 Terwyl my aandag nog by die horings was, kyk, toe kom daar ‘n ander klein horinkie tussen hulle uit, en drie van die vorige horings voor hom is ontwortel. Kyk, in hierdie horing was daar oë soos mense-oë en ‘n mond wat grootpraat. So kan daar ook gekyk word na Daniël 8:9-14 en 23-35.
Die finale antichris
Sy oorsprong
Soos reeds genoem begin ons al vroeër in Daniël ʼn voorspelling van hierdie finale persoon kry. In Hoofstuk 7 word duidelik gemaak dat hy oor drie koninkryke sal heers wat uit die Romeinse ryk sal kom. Dit verduidelik dus sy politieke struktuur. Hoofstuk 8 gee aan ons sy geografiese gebied deur aan ons te vertel dat hy uit die vier ryke sal kom oor wie Alexander se vier generaals regeer het. Daar is ook verder oorvleueling tussen die Griekse en Romeinse ryk as ons op ʼn kaart gaan kyk. Hy sal ook volgens die teks groei van die Ooste en na die Suide en na Palestina.
Sy kenmerke
Die Antichris sal opstaan en totaal teen God wees. Hy sal nie net homself verhef tot God nie, maar sal ook Hom laster. Dit word ook bevestig in Openbaring 13 wat saam met hierdie gedeelte in Daniël 11 gelees moet word vir groter duidelikheid. Openbaring 13:1Toe het ek ‘n dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien krone, en op sy koppe was daar ‘n godslasterlike naam geskryf.
So vertel Paulus in Tessalonisense dat hy soos God sal sit in die tempel. 2 Tessalonisense 2:4 die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. God sal hom toelaat om te doen wat God bepaal het tot die “grimmigheid” of “die wraak”, volgens die LXX, vervul is. Die wraak het te make met die suiwering waardeur God Israel sal neem volgens die voorspellings van die Ou Testament en die tweederdes van Israel wat uitgewis sal word volgens Sagaria. Hierdie grimmigheid word ook bevestig in Daniël 12. Daniël 12:1 En in dié tyd sal Migael opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal ‘n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert ‘n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die boekrol opgeskryf is. Hieroor sal daar ʼn meer breedvoerige bespreking in die volgende blog wees.
Hierdie persoon sal hom verhef bo die God van sy vader. Baie kommentatore wys daarop dat hierdie profesie slegs deur ʼn Jood vervul kan word, maar ons weet dat die “gode van sy voorvaders” ook die God van alle gelowiges is. Hier wil ek net opmerk dat gode as God vertaal kan word en dat hierdie uitdrukking baie keer in die Ou Testament vir God van die vaders gebruik word. Daarom weet ons dat Johannes profeteer dat hy uit die kerk sal kom, maar nooit deel was van die ware gelowiges nie. 1 Johannes 2:19 Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie. Hy sal ook nie op die “geliefde van vroue” ag slaan nie. Die geliefde van die vroue wys na die Messias wat sal kom, want elke Joodse vrou het begeer om Hom in die wêreld te bring. Die man sal geen aandeel in Sy geboorte hê nie, aangesien die voorspelling is dat die Messias uit ʼn maagd gebore sal word. Hy sal ook geen behae hê in enige ander godsdiens nie, aangesien dit alreeds duidelik sal wees dat hy alleen aanbid mag word. Openbaring 13 maak dit duidelik.
- Openbaring 13:8 Al die aardbewoners sal hom aanbid, elkeen wie se naam sedert die grondlegging van die wêreld nie opgeskryf is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie.
- Openbaring 13:12 Hy het met al die volmag van die eerste dier opgetree, en dit in sy teenwoordigheid gedoen. En hy laat die aarde en die bewoners daarvan die eerste dier aanbid, die een wat van sy dodelike wond genees is.
Die Satan
Dan lyk dit of die boodskap weerspreek word in die volgende vers as dit sê hy sal die god van die vestings aanbid. Die LXX vertaal hierdie gedeelte as ʼn sterk god. Vanuit Openbaring weet ons alreeds dat dit antichris gaan vereis dat hy aanbid word, maar ons vind nog iemand wat aanbid sal word. Openbaring 13:4 En hulle het die draak aanbid, omdat hy volmag aan die dier gegee het. Hulle het toe ook die dier aanbid, en gesê: “Wie is net soos die dier, en wie kan teen hom oorlog voer?” Die draak volgens Openbaring is die Satan en dit word duideliker as ons besef dat al verteenwoordig afgode demone het niemand die Satan aanbid nie. 1 Korintiërs 10:20 Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. Daarom bevestig dit dat die antichris geen afgod aanbidding toelaat nie en ook nie ʼn god wat voorheen geken of aanbid is nie. Volgens Daniël 11 sal die antichris alles met die hulp van Satan doen en dit word deur die gedeelte in Openbaring 13 bevestig. Openbaring 13:2 Die dier wat ek gesien het, het net soos ‘n luiperd gelyk, met pote soos dié van ‘n beer en ‘n bek soos dié van ‘n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. Daarom word die satan ook hier die God van “die vesting” of “sterkte” genoem en teen die ware God geplaas. Jesus noem die Satan ook die heerser van hierdie wêreld. Johannes 14:30 Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie. Hier moet die gelowige altyd voor oë hou dat al het God hom vir ʼn tyd heerskappy gegee is hy alreeds geoordeel en wag die ewige vuur vir hom en al sy volgelinge. Johannes 16:11 van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld reeds geoordeel is. Die antichris sal sy volgelinge beloon met grond en eerbewyse. Die wat die beloning hier en nou verlang en opsoek is na ʼn aardse koninkryk sal beslis die antichris volg en aan hom erkenning gee. So belowe die Skrif ook dat diegene wat die Here volg nie sal kan koop en verkoop nie en dus van die honger sal sterf, indien hulle nie vermoor word nie.
Opstand
Aan die einde sal die ryke wat eers die prostituut ondersteun het teen haar in opstand kom. Hier word die koning van die Suide en die Noorde genoem. Die prostituut is die wêreldmag van geld wat deur die antichris gebruik is om die mense te verlei. Openbaring identifiseer tien konings wat vir ʼn bepaalde tyd hulle mag aan die prostituut sal gee en dan teen haar sal rebelleer. Openbaring 17:16-17 Die tien horings wat jy gesien het, en ook die dier, sal die prostituut haat, en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis eet, en haar met vuur verbrand. Want God het dit op hulle harte gelê om sy bedoeling uit te voer, en om een doelwit voor oë te hê: om hulle koningskap aan die dier beskikbaar te stel, totdat God se woorde hulle volledige doel bereik het. Die prostituut word gekenmerk deur haar kosbare klere en rykdom wat ook ooreenstem met dit waarmee die antichris sy volgelinge sal vergoed. Vers 43 beklemtoon hierdie rykdom wat hy sal bekom ook uit die koning van die Suide of te wel Egipte, terwyl lande soos Etiopië en Libië ook tot ʼn val sal kom deur sy hand. Hy sal in die land Israel inkom en baie sal val, behalwe Edom, Amnon en Moab sal vrykom aangesien hulle nie op sy roete van aanval sal wees nie. Hierdie lande behoort almal vandag aan die koninkryk van Jordanië. Sy oë sal aan die einde op Israel gerig wees aangesien die meerderheid, indien nie alle gelowiges nie, alreeds volgens Openbaring deur hom uitgewis sal wees.
Oorwin
Hy sal ontstellende boodskappe uit die Ooste en die Noorde ontvang en sal met woede sy tent opslaan tussen die Mediterreense see en Jerusalem of berg Sion. Dit word deur soortgelyke profesieë aangaande die laaste dae voorspel.
- Joël 3:12 Die nasies moet in beweging kom en optrek na die vallei van Josafat, want dit is waar Ek gaan sit om al die omringende nasies te oordeel.”
- Sagaria 14:2 Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.
Hier sal hy, die antichris, tot ʼn einde kom en daar sal vir hom geen helper wees nie. Paulus vertel in Tessalonisense hoe hy tot ʼn einde sal kom. 2 Tessalonisense 2:8 En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. Openbaring praat ook van hierdie laaste oorlog en die oorwinning van Christus. Openbaring 19:19-20 En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi. Alles sal vervul word net soos God bepaal het. Net soos al die profesieë aangaande die Babiloniese ryk, die Mede en Perse, die Grieke en Romeine vervul is, so sal die antichris se vernietiging en alles wat hy sal doen ook in vervulling gaan. Die taak van elke gelowige is om na Paulus se waarskuwing aan die gemeente van Tessalonisense te luister en vas te hou aan die Woord van God. 2 Tessalonisense 2:15 Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur ‘n woord of ‘n brief van ons af.
Slot
Die stryd wat ons voer is nie met wapens van hierdie wêreld nie, maar ons wapens is geestelik en is kragtig. 2 Korintiërs 10:4 Die wapens van ons stryd is immers nie menslik nie, maar, danksy God, kragtig om sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig. Hoe interessant is dit nie dat die duiwel in Daniël die god van die vestings genoem word nie, terwyl ons juis verseker word dat ons die krag ontvang het om vestings af te breek. Ons oorwinning oor die duiwel en sy engele is volgens Openbaring in die bloed van die Lam, ons getuienis en dat ons ons lewens in hierdie wêreld nie lief het nie. Ons is oppad na ons ewige tuiste en niks wat ons hier verloor of opgee is van waarde nie.
