Daniel 11:1-35

Inleiding

Ons moet in hierdie gedeelte duidelik onderskeid maak tussen die voorspellings van mense en die openbaring van God aangaande die toekoms. God maak nie ʼn voorspelling aangaande die toekoms nie, nee Hy openbaar aan Daniël wat Hy bepaal het om plaas te vind. Daar is vandag so baie wat maak asof God geen beheer het oor wat op aarde plaasvind nie. Ander getuig dat God aktief betrokke is, maar gee die mens ʼn wil wat so vry is dat dit God se wil beperk. Die mens se wil is ondergeskik aan God se wil anders is God nie meer soewerein nie en is die mens eintlik sy eie god. Die oomblik wat God se wil nie meer soewerein is nie, sal dit wat God bepaal het nie meer kan plaasvind nie en alles sal in duie stort. Enige iemand wat al ʼn tipe “time-travel” fliek gekyk het sal sien hoedat self die mens weet dat enige persoon wat in die geskiedenis te vroeg sterf of gebore word, die hele toekoms kan verander, soos dan ook dikwels in die storie-lyn uitgebeeld word.  Dan praat ons nie eers van die natuurrampe en mense se besluite nie.

ʼn Voorbeeld hiervan is Jesus se kruisiging. Die Jode wou Jesus ʼn paar keer stenig en elke keer het dit nie plaasgevind nie. In Lukas word vertel hoe Hy toe hulle Hom wou stenig, tussen hulle deurgeloop het. Lukas 4:29-30 Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. Wat sou gebeur het indien Hy nie gekruisig is nie of nie op die presiese dag van die pasga gekruisig is nie?  Hoeveel profesieë sou onvervuld gelaat wees? Die wonder van God se openbaring aan Daniël moet die gelowige verstom en gemoedsrus gee dat die God wat ons aanbid die toekoms bepaal. Ons gaan in hierdie gedeelte naspeur hoe dit wat God aan Daniël openbaar het in die geskiedenis van die mens vervul is. Ons gaan meer fokus op die hooflyne van die geskiedenis as om die identifikasie van al die individue te ondersoek.

Opstaan van die konings

Na die drie konings van Persië, gaan ʼn vierde koning opstaan. Volgens die geskiedenis is hierdie koning  Xerxes. Hy het, soos geprofeteer,  ʼn groot weermag tot stand gebring en volgens sommige bronne ongeveer 100 000 na 300 000 man en ʼn vloot van meer as 4000 skepe gehad. Hy het hierdie weermag teen die Grieke laat opgeruk, maar al was die mag so groot, het hulle die onderspit gebyt teen die Grieke a.g.v. swak besluite. Hierdie twee jaar oorlog was die begin van die einde vir die Persiese ryk. Die regering van Darius III, 336-330 v.C., sou val voor Alexander die Grote. Van Alexander word gepraat in vers 3-4. “Dan sal ‘n heldhaftige koning opstaan. Hy sal met baie mag heers en doen wat hy wil. Maar hy sal pas ‘n staanplek hê, dan sal sy koninkryk opgebreek en verdeel word in die vier windstreke van die hemel. Dit sal nie aan sy nakomelinge behoort nie, en dit sal nie wees soos die magsgebied waaroor hy geheers het nie, want sy koninkryk sal opgebreek word en, met uitsluiting van sy nageslag, aan ander behoort.” Hy het aan bewind gekom op 19 jarige ouderdom en was ʼn briljante militêre strateeg. Hy het sy ryk uitgebrei na Egipte en Libië in die Suide en vandag se Pakistan en Afganistan in die Ooste. Hy sterwe op 33 jarige ouderdom,  heel waarskynlik aan malaria. Dink vir ʼn oomblik hoe anders die wêreld vandag sou wees indien hierdie militêre strateeg langer geleef het. Ons weet egter dat sy dag bepaal is voor die grondlegging van die wêreld. Psalm 139:16 U oë het my vormloosheid gesien. En in u boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. Job maak hierdie bepaling van God ook duidelik as hy die mens beskryf as  ʼn blom wat verwelk of ʼn skaduwee wat verdwyn. Job 14:5 As sy lewensdae dan vasgestel is, die getal van sy maande by U vasstaan; as U sy grens bepaal het wat hy nie kan oorskry nie. Na Alexander sou sy ryk verdeel word onder sy vier generaals, soos vers 4 beskryf. Die voorspelling was in 536 v.C. en alles wat in vers 4 voorspel is het teen 312 v.C plaasgevind. Hierdie leier wat gedoen het wat hy wou is dood en sy ryk is in vier verdeel. Die vier generaals en die verdeling lyk as volg:

  • Kassander (Masedonië)
  • Lysimachus (Tracië en Klein-Asië)
  • Seleukos I Nicator (Sirië/Babilon)
  • Ptolemeüs I (Egipte)

Die ryk in die Suide en die Noorde

Vers 5-19 handel oor die tydperk vanaf 312 tot 187 v.C. Dit beskryf ʼn ryk in die Noorde en die Suide wat ons moet identifiseer. Die ryk in die Suide is Egipte en die in die Noorde is Sirië, relatief tot Israel.

Vers 5-6  “Die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy aanvoerders sal die oorhand oor hom kry en dan heers. Sy heerskappy sal ‘n heerskappy met baie mag wees. Ná verloop van jare sal hulle ‘n bondgenootskap sluit, en die koning van die Suide se dogter sal na die koning van die Noorde kom om die ooreenkoms te bekragtig. Maar sy sal nie die militêre mag behou nie. Die koning van die Suide se mag sal ook nie standhou nie. Sy sal in dié tyd oorgelewer word – sy en haar gevolg, sowel as hy wat haar verwek het, en hy wat haar ondersteun het.”

Hierdie gedeelte handel oor Ptolemeüs I (322–285 v.C.), ’n generaal van Alexander die Grote, wat Egipte vir hom uitgekies het en die eerste regeerder in die dinastie van die Ptolemeüse was. Die engel sê vir Daniël: “Hy sal sterk word, maar een van sy aanvoerders sal die oorhand oor hom kry en dan heers. Sy heerskappy sal ‘n heerskappy met baie mag wees.” Laasgenoemde aanvoerder verwys na Seleukos (312–280 v.C.) wat vir ’n ánder aanvoerder van Aleksander die Grote, naamlik Antiogus en sy seun Demetrius, gevlug het en sy toevlug by Ptolemeüs gesoek het. Seleukos I het sterker geword en die grootste deel van Alexander se voormalige ryk beheer. Berenice, die dogter van Ptolemeüs II het met Antiogus II getrou om vrede te maak – maar sy word verraai en vermoor, soos vers 6 voorspel.

Vers 7-9 “Dan sal een van die spruite uit haar wortels in sy plek opstaan. Hy sal teen die leër optrek en die vesting van die koning van die Noorde binnedring; hy sal teen hulle optree en hulle oorweldig. Ook hulle gode met hulle gegote beelde en hulle kosbare voorwerpe – silwer en goud – sal hy wegvoer na Egipte; en jare lank sal hy die koning van die Noorde met rus laat. Dié sal dan die koninkryk van die koning van die Suide binneval, maar hy sal na sy land terugkeer”

Berenice se broer, Ptolemeüs III  het opgestaan teen die koning van die Noorde. Ptolemeüs III val Sirië aan om sy suster te wreek (omstreeks 246 v.C.) en plunder Sirië en neem ook hulle gode – presies soos voorspel is.

Verse 10–19

Hier beskryf Daniël in besonderhede die Seleukidiese en die Ptolemeüse se oorloë. Antiogus III, 223–187 v.C., herower groot gebiede en bots met Ptolemeüs V. Hy verslaan Egipte. In hierdie oorlog het van die Jode by die geveg teen Egipte betrokke geraak en om sodoende ʼn visioen in vervulling te laat gaan. “In daardie tydperke sal baie in opstand kom teen die koning van die Suide. Die gewelddadiges van jou volk sal hulle laat geld om ‘n visioen te verwerklik, maar hulle sal tot ‘n val kom.”  Die spesifieke visioen word nie aan ons meegedeel nie. Hierdie poging om by die wêreldpolitiek betrokke te raak word deur die Ou Testamentiese profete afgekeer, omdat die volk begin het om met politiek hul volk te probeer beskerm en sekuriteit te gee in plaas daarvan om hul vertroue alleen op God te plaas. Is dit nie vandag ook  ʼn waarskuwing vir die Kerk nie? Elke gelowige moet hierteen waak dat sy vertroue nie in mense of regerings is nie, maar in God. Hierdie betrokkenheid by die oorlog sal hulle duur te staan kom soos die teks ook gewaarsku het. Antiogus III word later self ook verslaan deur Romeinse generaal (vers 18–19). Hy probeer sy dogter Kleopatra aan Ptolemeüs gee om beheer te verkry, maar sy was lojaal aan haar man – presies soos vers 17 sê. Dit is nie die bekende Kleopatra wat ʼn eeu en ʼn half later gelewe het nie.

Vers 20: “In sy plek sal iemand opstaan wat ‘n belastinggaarder rondstuur om die koninklike weelde in stand te hou; maar binne enkele dae sal hy verpletter word, egter nie deur toorn of deur oorlog nie.”

Seleukos IV (187–175 v.C.) was bekend daarvoor dat hy swaar belastings opgelê het om sy verpligtinge aan Rome se betaal. Hy word vergiftig deur sy belastinggaarder en sterf, “sonder woede of oorlog” – presies soos vers 20 sê.

Vers 21-35

Hierdie verse fokus op ongeveer 25 jaar en tog het dit 12 keer meer informasie as die vorige verse, wat alreeds beskrywend was. Dit verwys na Antiogus IV Epifanes, wat nie die regmatige erfgenaam was nie. Hy was die grootste vyand van die Jode. Met die moord op Seleukos IV (vers 20), was Antiogus op daardie stadium ‘n gyselaar in Rome, maar hy het teruggekeer, met behulp van bondgenote en die troon deur listigheid en vleitaal oorgeneem. Antiogus was bekend vir sy slinkse diplomasie en het die bynaam “Epifanes” (die Verskynende God) aangeneem, alhoewel sy vyande hom “Epimanes” (die waansinnige) genoem het weens sy eksentrieke gedrag. Hierdie opkoms was “onverwags” en aanvanklik sonder militêre krag.

Antiogus het sy mag gekonsolideer deur bondgenote te mislei en om magte te vernietig. Die “leier van die verbond” verwys na die hoëpriester Onias III in Jerusalem, wat hy laat vermoor het in 171 v.C. Met ‘n klein mag het hy sterk geword deur slinkse taktieke. Hy het vrugbare gebiede ingeneem, en het buit mildelik onder sy volgelinge versprei om lojaliteit te koop – iets wat sy voorgangers nie gedoen het nie. Hy het ook planne teen vestings (soos Egipte) beraam. Antiogus en Ptolemeüs het met mekaar onderhandel, maar albei het gelieg – Antiogus het voorgegee om Ptolemeüs te beskerm, maar wou hom as marionet gebruik. Antiogus het twee keer vir Egipte (die “koning van die Suide”, Ptolemeüs VI) aangeval: In 170 v.C., waar hy Ptolemeüs gevange geneem het en weer in 168 v.C. Ptolemeüs se eie raadgewers, insluitend sy suster Kleopatra II, het hom verraai (“hulle wat van sy kos eet, sal hom breek“). Die inval het nie volledig geslaag nie weens Romeinse inmenging (die “bepaalde tyd“). ’n Romeinse aanvoerder, versterk deur ’n vloot uit die westelike kuslande, het ’n ultimatum aan Antiogus IV Epifanes gegee om terug te trek en die verowerde gebied aan Egipte terug te gee. Woedend het hy sy frustrasie op die Jode uitgestort: “en die heiligdom, die vesting, ontheilig, die gereelde offer afskaf en die verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, oprig.” Hy het die tempel ontheilig, die daaglikse offers afgeskaf, en ‘n altaar vir Zeus opgerig en ‘n vark geoffer. Dit het die Makkabeërs-opstand ontketen.

Die opkoms van die antichris

Hierdie gebeurtenis word in Matteus 24:15 deur Jesus as ‘n tipe vir toekomstige gruwels genoem. “Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp”  Die gelowige moet hier bewus wees dat hierdie tempel wat afgebreek en ontheilig gaan word, nie ʼn fisiese tempel sal wees nie, maar volgens die Nuwe Testament die kerk. So voorspel Paulus dat die Antichris sal opstaan juis omdat die kerk totaal afvallig sal word. 2 Tessalonisense 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. Kan jy sien hoe hierdie persoon (die antichris) karaktertrekke het van Antiogus. Die gelowige word ook in 1Johannes gewaarsku dat die antichriste uit die kerk sal kom. Net soos Antiogus gehelp is deur baie afvallige Jode so sal dit ook wees in die kerk. So voorspel Daniël dat: Dié wat skuldig staan teenoor die verbond, sal hy met slinkse woorde afvallig maak; maar die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied.  Daniël 11:32. Die finale antichris sal nog sluwer wees as Antiogus. Jesus vertel dat hy ook wonders en tekens sal doen en Johannes bevestig dit in Openbaring. Matteus 24:24 Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Antiogus het Hellenistiese Jode (“Dié wat skuldig staan teenoor die verbond,”) met vleitaal oortuig om Griekse kultuur aan te neem, maar die getroue Jode (“die volk wat hulle God ken”) het opgestaan. Dit verwys na die Makkabeërs-opstand onder Matthias en sy seun Judas Makkabees (167–164 v.C.). Hulle het guerrilla-oorlog gevoer en baie het gesterf deur swaard, vuur, gevangenskap en plundering.

Slot

Hierdie gedeelte klink dalk soos ʼn geskiedenis les, maar dit moet aan elke gelowige die vertroosting bied dat God die bepaler van die geskiedenis is en dat dit wat Hy gesê het net so sal plaasvind. Hoewel baie van hierdie openbaring alreeds in vervulling gegaan het, weet ons al dat elke professie ook ʼn vooruitskouing is na die eindtye voor Jesus se tweede koms. Dit was ‘n tyd van toetsing en waarna hier verwys word “tot die eindtyd”, is histories die einde van Antiogus se bewind, maar hier is daar ook ʼn heenwysing na ʼn toekoms vervulling. So word voorspel dat soveel meer Jode aan die einde van die dae vermoor sal word, iets wat as suiwering deur God gebruik sal word. Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur,” is die uitspraak van die Here, “twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, ‘Hulle is my volk,’ en hulle sal sê, ‘Die Here is ons God. Net so sal die meerderheid  gelowiges in daardie tyd uitgemoor word volgens Openbaring. Die vyfde trompet kondig dit aan, aan die gelowiges wat alreeds onder die altaar is. Openbaring 6:10-11 Hulle het met ‘n harde stem geroep: Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek? Daarop is aan elkeen van hulle ‘n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog ‘n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees.

Ons hoef nie hierdie openbarings te vrees nie, ons moet egter ook nie in die waarheid en beslistheid daarvan twyfel nie en sorg dat ons van diegene is “wat hulle God ken”, want dit is hoe ons in hierdie tye staande sal bly, deur te fokus op die karakter van ʼn liefdevolle God, wat ons verlos het.