Inleiding
Die interessante is dat hierdie gedeelte begin met die Joodse en heidense naam van Daniel. Dit laat die leser onmiddellik besef dat hierdie boodskap vir heidene en Jode bedoel is. Dus het God hier ʼn boodskap aan die hele mensdom. Daniel is nou al ʼn ou man. Hy het hom vir ʼn lang tyd afgesonder en die vraag ontstaan waarvoor hy so bewoë was. Op hierdie stadium het ʼn groot gedeelte van sy volksgenote al teruggekeer na Juda. Esra 1:1 In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die Here die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het ‘n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel. Die visioen en die interpretasie daarvan wys dat Daniel bekommerd was oor die eindtyd en heel waarskynlik bedroef was oor die toestand van die mens en dit waardeur gelowiges in daardie tyd sou moes gaan. Dit bewys aan ons dat Daniël ʼn goddelike man was, omdat hy nie op homself gefokus is nie, maar bekommerd is oor die welstand van mede-gelowiges en die Eer van God.
Perfekte tydsberekening
Daniël het homself gedurende die eerste maand van die Joodse kalender vir 21 dae aan God toegewy. Gedurende hierdie tyd het die pasga en die fees van die ongesuurde brood, waar die uittog uit Egipte herdenk is, plaasgevind. God het hierdie tyd perfek bepaal, aangesien die tyd van die herstel van Israel en hulle terugkeer plaasgevind het en alles wat alreeds aan Daniël gewys is bevestig dat God tot aan die einde in beheer sal wees. Daniel bevind homself by die Tigris en het dus nie saam met die eerste groep teruggekeer na Juda nie.
Daniel sien ʼn persoon wat ons, as ons kyk na sy beskrywing, as die tweede persoon van die Drie-Eenheid sal identifiseer. Die beskrywing van hoe Hy lyk is soortgelyk aan die beskrywing in Openbaring 1:13-15. Verder sien ons ook dat Daniel se manne wat saam met hom was nie die verskyning gesien het nie, maar dat hulle geweldig gevrees, gevlug en weggekruip het. Dit herinner ons aan die verskyning van Christus aan Paulus, of op daardie stadium Saulus, en hoe dieselfde met die manne gebeur het wat saam met hom was. Handelinge 22:9 Die mense wat by my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my gepraat het nie. ʼn Verdere bevestiging dat ons nie hier met die verskyning van ʼn engel te make het nie, is die vrees wat Daniel ervaar het. Dit is soortgelyk aan die vrees van Johannes in Openbaring met die aanskouing van Christus in Sy verheerlikte liggaam. Openbaring 1:17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste. In teenstelling met hierdie ontmoeting het hy nie dieselfde vrees reaksie as hy die aartsengel Gabriel sien nie. Die heerlikheid van God is van so ʼn aard dat die mens nie in sy fisiese liggaam voor Hom kan staan nie. Hy is die heilige God voor wie die engele uitroep: “Heilig, Heilig, Heilig” in Jesaja 6. Daar word later in Johannes verklaar dat hierdie beeld van God wat op die troon sit, Christus self was. Johannes 12:41 Dit het Jesaja gesê, omdat hy sy heerlikheid gesien en oor Hom gepraat het. In die visioen wat hy sou ontvang is Christus die spilpunt waarom alles draai.
Dan raak ʼn hand hom aan en nou lyk dit nie meer of dit Christus is wat met hom praat nie. Die sinskonstruksie in Hebreeus dui daarop dat dit nie Christus se hand was nie, deur net te verwys na “hand” sonder enige lidwoord of voornaamwoord. Die manier waarop Daniel aangespreek word is soortgelyk aan hoofstuk 9. Net soos met die geval in hoofstuk 9 is sy gebed onmiddellik deur God aangehoor en is ʼn engel gestuur met ʼn boodskap aan Daniël. Die rede waarom die engel nie dadelik na hom kon kom nie was omdat die vors van die koninkryk van die Perse teenoor hom opgestaan het. Hier word die gordyn na die geestelike ryk op ʼn skrefie oopgemaak, sodat ons kan besef dat ons nie ʼn idee het wat in die geestelike ryk aan die gang is nie. Die Bybel maak dit duidelik dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie. Efesiërs 6:12 Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim. Dat daar heersers in die hemelruim is word ook in Korintiërs beklemtoon. 1 Korintiërs 8:5 Selfs al is daar inderdaad sogenaamde gode in die hemel of op die aarde, en net so ook baie gode en baie here.
Waar lê ons krag?
Wat hier duidelik is, is dat ons van ʼn mag praat waarteen die engel nie alleen kon staan nie, maar die hulp van Migael, die aartsengel, nodig gehad het. Hier moet ons tog ons magteloosheid as mens besef. Indien ʼn engel, in die tyd van Hiskia, 185000 man in een nag kon doodmaak en hier die hulp teen die bose heersers nodig het, wat is die mens? Die mens se krag lê in gebed, waar ʼn geliefde van die Here, in eenvoud na die Almagtige gaan en van Hom hulp vra en ontvang. So verklaar die Psalmdigter ook: Maar ek is magteloos en behoeftig. O God, haas U na my – U is my hulp, my bevryder! Here, moenie talm nie! Psalm 70:6. Migael is die engel wat die oorwinning oor die Satan behaal en hom uit die hemel gegooi het. Die interessante is dit waardeur die oorwinning volgens Openbaring plaasgevind het. Openbaring 12:11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Ja die oorwinning van Migael kon plaasvind a.g.v. Christus se sterwe en oorwinning aan die kruis, maar die teks gaan verder en verklaar dat ons in ons geestelike lewens bydra aan hierdie oorwinning met ons verkondiging van die Woord en ons lyding vir Christus. Kan jy sien hoe dit wat in die fisiese wêreld gebeur bydra tot geestelike oorwinnings? Dit is dan ook wat die gedeelte in Efesiërs verklaar. In ons geestelike lewe, met ons getuienis, ons heilige wandel, ons gebede, ja, in elke aspek van ons lewe, is ons besig om ʼn oorlog te voer en ʼn oorwinning in God se naam te behaal. So weet ons ook dat Jesus aan sy volgelinge meedeel dat, eerstens: “…die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word. Johannes 12:31 en tweedens: “Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie.” Johannes 14:30. Ons verstaan verseker nie die totale omvang van hierdie geestelike realiteit en oorlog nie, maar deur hierdie skrefie in die gordyn ontdek ons dat ons deel is daarvan.
Fisiese en geestelike ryke
Die vors teen wie Michael die engel in sy stryd kom help het, was die vors van die Perse. Volgens die engel wat met Daniel gepraat het sou die volgende vors die vors van die Grieke wees. Die verskillende ryke, soos wat hulle volgens Daniel se voorspellings na mekaar sou volg, het elkeen ʼn geestelike vors met wie daar ʼn stryd gevoer sal word. Elke ryk in hierdie wêreld staan onder die geestelike heerskappy van ʼn gevalle engel. Vir die gelowige is dit baie belangrik om dit te onthou, aangesien ons so maklik die idee het dat ʼn volgende regering (ryk) vir ons fisiese welvaart beter sal wees. Hoewel elke regering dus deur ʼn aardse heerser regeer word, staan dit geestelik onder die heerskappy van die heerser van hierdie wêreld, Satan, en daarom word daar altyd na ons as gelowiges verwys as bywoners en vreemdelinge.
- Hebreërs 11:13 Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is.
- 1 Petrus 2:11 Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die siel.
Net soos daar ʼn vors of engel oor die goddelose ryke was maak God ook aan Daniël beken dat Migael, die aartsengel, die engel van die Jode is. Die hulp wat die engel ontvang het van Migael, dui daarop dat die boodskap wat aan die einde sal plaasvind ook te make het met die Jode. Aan Daniel sou nou bekend gemaak word wat in die boek van die Waarheid geskrywe is. Dit sal dus gebeur aangesien dit die waarheid is en aangesien dit God is wat dit verklaar het. Dit is belangrik om te besef dat God nie in die tonnel van tyd afkyk en weet wat sal gebeur nie, maar dat Hy bepaal wat sal gebeur.
Die gelowige mag dalk wonder of daar ook engele oor ons is. Hierop maak Jesus dit duidelik vir gelowiges uit die Jode en nie-Jode dat elkeen van ons se engel die aangesig van die Here sien. Matteus 18:10 Pasop dat julle nie neersien op een van hierdie kleintjies nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele voortdurend die aangesig van my Vader in die hemele aanskou. So verklaar die skrywer van die Hebreërs brief ook dat hierdie engele daar is om die gelowiges by te staan. Hebreërs 1:14 Is hulle nie almal dienende geeste, wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan nie? Waarom is ons vreesbevange en angstig? Het God nie belowe dat Hy met ons sal wees en is sy engele nie gereed om op sy bevel ons te hulp te kom nie? Die grootste gevaar vir die gelowige is om te tuis en gemaklik te raak in hierdie wêreld. Die verhaal van die Israeliete in die woestyn beeld die gereedheid en die voortbeweeg op God se bevel so helder uit. Die volk word opgeroep om kamp op te breek die oomblik as die wolkkolom wegbeweeg en dan moes alles weggepak word en die tente opgeslaan word. Die Leviete moes die tabernakel en al die heilige instrumente wegpak en dan sou die trek plaasvind tot waar God bepaal. Luister hoe dit beskrywe word in Numeri. Numeri 9:17-18 maar sodra die wolk bo die tent opgaan, breek die Israeliete dadelik kamp op. En op die plek waar die wolk vertoef, daar slaan die Israeliete kamp op. Op bevel van die Here het die Israeliete telkens kamp opgebreek, en op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan. Solank as wat die wolk bo die tabernakel vertoef het, het hulle gekamp. Volgens hierdie gedeelte in Numeri was daar kere wat die wolk net een dag stilgestaan het en die volgende môre moes hulle weer alles opslaan. Hulle was nooit verseker van hoe lank dit sou wees nie. Net so word die gelowige opgeroep om nie sy tentpenne in hierdie wêreld te diep in te slaan nie en ons gedagtes te rig op die dinge wat daarbo is. Kolossense 3:1-2 As julle dan saam met Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Hierdie wêreld en al sy dinge is aan die verbygaan en ek weet nie watter dag die wolk vir my as individu sal skuif en ek die aardse woonplek sal verlaat nie. Ons is elke dag bewus dat Hy wat in ons is groter is as Hy wat in die wêreld is. 1 Johannes 4:4 Julle, kinders, is uit God, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.
Slot
Daniel, hierdie geliefde Godsman, word aan ons uitgebeeld as iemand van vlees en bloed; ʼn blote mens. Hy ontvang hierdie heerlike boodskappe en word verklaar as ʼn geliefde man en tog vind ons dat die grootsheid van wat hy ervaar en beleef, vir hom te veel is. Weer en weer het hy die versterking nodig wat geestelik aan Hom gebied word. Ons, as blote mense, is te midde van die opdrag wat God aan ons gee, terdeë bewus van ons eie tekortkominge en swakheid. As Jesaja voor die troon van God staan verklaar hy dat hy ʼn man van onrein lippe is. Dan word daar ʼn gloeiende kool van die altaar geneem en op sy mond geplaas. As Josua die hoëpriester in Sagaria voor God staan en deur die Satan aangekla word, is dit God wat aan hom feesklere gee en sy skuld wegneem. So sien ons ook vir Daniel wat swak is en verklaar dat hy geen krag het nie en dan deur “een wat soos ʼn mens lyk” aangeraak en versterk word. As ons alles sien wat God aan ons belowe en ons kyk na wie ons is, kan ons slegs in Hom roem. Ons lewe is afhanklikheid van Hom en in Sy lig sien ons die lig. Ons hoef niks te vrees nie, want die God wat ons aanbid is in beheer en wat Hy voorspel sal plaasvind. Hy is die Almagtige wat laat plaasvind wat Hy bepaal het. Jesaja 46:9-11Onthou die dinge van vroeër, van lank gelede; want Ek is God, en daar is geen ander nie, God, en daar is niemand soos Ek nie – Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer, Ek wat uit die ooste ‘n roofvoël roep, van ‘n ver land af iemand roep vir my raadsbesluit. Ja, Ek het dit aangekondig; Ek sal dit beslis laat gebeur. Ek het dit gereedgemaak; Ek sal dit beslis uitvoer.
