Daniël 9: 20-25

Inleiding

Hierdie gedeelte van Daniël word deur baie teoloë gesien as die moeilikste gedeelte in Daniël. Die tydperke en gebeure, letterlik en simbolies, kan verwarrend wees en baie wonder of dit letterlik of figuurlik verstaan moet word. Ons sien dan ook geskiedkundige gebeure en wonder hoe dit in die verhaal en toekoms profesie inpas. Daar word na ʼn leier van die volk verwys, die gesalfde, die verwoester en ooreenkomste met menigtes. Watter leier, watter volk, wie verwoes en wie herstel. Wanneer hierdie gedeelte saam met die relevante gedeelte in Openbaring gelees word, word die prentjie egter duidelik en val alles in plek.

Gebed

Die gedeelte begin waar Daniël nog besig is met sy smeking tot God. Daniël was ernstig in gebed tot God en teen die aandoffer het God aan hom ʼn antwoord gestuur deur middel van Gabriël wat nou vir ʼn tweede keer aan hom verskyn. Vir elke gelowige is dit ʼn vertroosting en bevestiging dat God ons verhoor as ons volgens sy wil bid. 1 Johannes 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra. Gabriël sê aan Daniël dat sy gebed alreeds aan die begin van sy smeking verhoor is. Jakobus wys na die krag van gebed as hy aan ons die gebed van Elia beskryf. Elia verskyn op die toneel in 1 Konings 17 nadat Agab Jerigo herbou het. Josua het ʼn eed afgelê dat God die man wat Jerigo probeer herbou sou straf met die dood van sy seuns. Josua 6:26 Josua het in daardie tyd ‘n eed afgelê: Vervloek voor die Here is die man wat opstaan en hierdie stad, Jerigo, herbou: Ten koste van sy eersgeborene sal hy die fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy die poortdeure oprig. Dit het dan ook in die tyd van Agab se heerskappy gebeur, toe ʼn man met die naam van Giël Jerigo herbou het. 1 Konings 16:34 In sy regeringstyd het Giël, ‘n man uit Bet-El, Jerigo herbou. Ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy die fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, het hy die poortdeure opgerig. Dit was ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Josua, seun van Nun, gespreek het. Net die volgende vers is hoofstuk 17 vers 1, waar Elia die oordeel van God aankondig, nl. dat dit vir die komende jare nie sal reën nie. Hierdie uitspraak word deur Jakobus aangekondig as Elia se gebed. Ons kan daaruit aflei dat God nie vir Elia die opdrag gegee het om hierdie boodskap aan Agab aan te kondig nie, maar dat Elia op grond van hulle sonde hiervoor gebid het en toe God se oordeel aangekondig het. Elia het dus gebid dat God nie reën op die aarde sal laat val nie en God het sy gebed verhoor. Jakobus 5:17 Elia was ‘n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Dit  is ʼn bewys dat Elia in ooreenstemming met God se belofte van straf gebid het en God sy gebed geantwoord het. Na aanleiding van hierdie gebed van Elia wat beantwoord is, sê Jakobus dat die gebed van die regverdige kragtig is. Die regverdige is iemand soos Daniël en Elia wat God se wil soek vir elke situasie.

Geliefdes

Daar is egter soveel meer in Gabriël se boodskap. Nie net word aangekondig dat hierdie gebed van Daniël by die aanvang daarvan beantwoord is nie, maar ook dat hy ʼn baie geliefde man van God is. Hierdie woorde tref my elke keer as ek Daniël lees. Wat ʼn ongelooflike boodskap om te hoor dat jy ʼn geliefde van God is. As kinders van die Here word ons ook as geliefdes beskryf. In Jesus se gebed aan die Vader word hierdie aspek beklemtoon. Johannes 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het. Hoe is dit moontlik dat God die Vader my net so lief het soos wat Hy Sy Seun lief het. Kan dit waar wees? Ek ʼn geliefde? Net die gelowige, wat verstaan dat daar niks goed in hom/haar is nie en dat hulle uit genade gered is, kan begryp hoe mooi en wonderlik hierdie woorde is. Daarom kan ons in gebed tot God nader en weet dat Hy elke gebed van ons antwoord. Dit staan in felle kontras met die gebede van die wêreld waarna Hy nie luister en op wie se gebede Hy nie ag slaan nie. Onthou egter, antwoord beteken nie dat Hy met elke gebed gee waarvoor ons vra nie, maar dat Hy elke gebed aanhoor en in Sy almag beantwoord. Hy is ʼn goeie Vader wat weet was ons nodig het. Lukas 11:9 Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop,  sal oopgemaak word. Watter vader onder julle sal, as sy seun hom ‘n vis vra, hom ‘n slang in plaas van ‘n vis gee?  So baie keer weet God dat ons vir ʼn slang vra, maar dat ons eintlik ʼn vis soek en daarom gee Hy aan ons die vis. Hy is die God wat ons lief het en ʼn God wat die beste vir sy kinders se geestelike groei wil hê.

Toekomsvoorspellings

Daniël se gebed het te make met die sewentig jare van Jeremia wat in vervulling sal gaan. Tog wil God Daniël in die toekoms neem met nog ʼn tydperk van sewentig maar nou sewentig weke – “sewentig sewetalle”. Hierdie tydperk sou begin met die aanvang van die bou van die tempel in Jerusalem. Daniël se oë was gerig op ʼn aardse tempel wat gebou moet word en God wil deur hierdie openbaring aan hom ʼn groter, heerlike tyd aankondig, nl. die einde van sonde en ʼn tydperk van geregtigheid wat sou aanbreek. Ons moet baie mooi na die boodskap van Gabriël luister as hy aan Daniël bekend maak dat die tydperk te make het met Daniël se volk en sy heilige stad. Die profesie gaan oor soveel meer as Daniël se volk, Israel, maar die periode van sewentig maal sewe het te make met Israel. So het ons al gesien dat ʼn groot deel van Daniël se uitleg van die toekoms te make het met ander volke en hoe ʼn groot deel van Daniël in Aramees geskrywe is as ʼn aanduiding dat die boodskap ook vir die ander volke is.

Ek sal in die aanhaal van vers 24 die NASB gebruik, omdat dit nader is aan die Hebreeus en ook naby die Ou vertaling is. Vers 24 wys dat hierdie ʼn tydperk is om die volgende te laat gebeur:

  1. Om Goddeloosheid te voleindig;
  2. Om ʼn einde te maak aan sonde;
  3. Om ongeregtigheid te versoen;
  4. Om ewige geregtigheid aan te bring;
  5. Om gesig en profeet te beseël  
  6. Om wat hoogheilig is, te salf.

Elkeen van hierdie dinge wat deur God belowe word, word vervul in Christus Jesus. Aan die kruis het Hy goddeloosheid vernietig en sonde vir ons geword, sodat ons sy geregtigheid kon ontvang. 2 Korintiërs 5:21 Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. Ons is deur Sy kruisdood met God versoen en die straf wat vir ons die vrede sou bring was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. 1 Petrus 2:24 wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes  afgesterf het, vir geregtigheid kan leef – Hy deur wie se verwonding  julle genees is. In Sy tyd, die tyd van die Messias, sal die gesig en die profesie vervul word. Dit is dan ook wat Jesus aan die manne wat oppad was na Emmaus bevestig het. Lukas 24:25-27 Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. Verder word Hy ook nou gesalf as die hoogheilige en is die tempel nie meer die plek van offer en aanbidding nie, maar wel Hy. Daarom word die kerk as sy liggaam nou die tempel en so ook elke gelowige, aangesien Hy wat Hoogheilig is nou in ons woon. Hy is volgens Hebreërs die Hoëpriester en ook die offer. Alles waarna die tempel gewys het, het in Hom die volle betekenis gekry. Vanaf punt nommer vier tot ses sal ten volle in vervulling gaan met die koms van die Here aan die einde van die laaste sewe week tydperk wanneer geregtigheid oor die hele aarde sal wees en die koning van alle Konings ten volle sal heers op die aarde en alle profesie finaal vervul sal word.

Die opdeel van die sewentig sewes

Die sewentigs word opgedeel in sewe sewes en twee en sestig sewes en dan ʼn laaste sewe. Die eerste sewe sewes en die twee en sestig sewes gaan saam en sal wees vanaf die tyd dat Jerusalem herbou sal word tot en met die koms van  ʼn Gesalfde en ʼn Vors. Dus is hierdie periode ʼn tydperk van 483 jaar. Ons het die datum nodig vanaf die bevel gegee is om Jerusalem te herbou en dan kan ons uitwerk wanneer die Messias sal kom. Dit is presies wat ek glo die mense gedoen het in die tyd van Christus se koms. Lukas vertel dat daar ʼn man was met die naam van Simeon aan wie openbaar was dat hy nie sou sterwe voordat Hy die Messias gesien het nie. Hoe het die Heilige Gees dit aan hom gewys? Kom ons kyk wat die Skrif vir ons leer aangaande die Gees se openbaring aan hulle. 1 Petrus 1:11 Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. Die bestudering van God se Woord, die verstaan van die profesie en die uitleg daarvan moet deel wees van die gelowige se soeke en verlange vir die vervulling van Sy beloftes. Gelowiges wat nie erns maak met die profesieë en nie die begeerte het om dit te verstaan nie is beslis besig om nalatig te wees in die taak waartoe God ons opgeroep het. Al is dit moeilik en is daar verskeie opinies is dit tog nodig om ook oor hierdie gedeeltes in die Skrif opgewonde te raak. Niks onbelangrik is in die Woord opgeteken nie, en die Heilige Gees is aan elkeen gegee om ook hierin duidelikheid te kan kry.

Die bevel is deur Artaxerxes gegee in 445v.C. Jerusalem se herbou het ongeveer 49 jaar geneem en daarna volg die twee en sestig sewes wat op die tydperk uitloop waarop Jesus sy boodskap verkondig het. As Jesus op ʼn keer na sy triomftog in Jerusalem naby Jerusalem kom ween Hy oor die stad en kondig die volgende aan: As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. Lukas 19:42. Dan verkondig hy ook die verwoesting van Jerusalem aan in ooreenstemming met Daniël se profesie. Lukas 19:43-44 Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie. Hierdie verwoesting sal tot aan die einde voortduur. Dit word ook deur Jesus voorspel in Lukas. Lukas 21:24 Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is. Hierdie gesalfde, Christus, is uitgewis en het sy lewe terwille van sy uitverkorenes afgelê. Hierdie tydperk van die nasies verwys na die tydperk waar God se genade aan die heidene openbaar word. Dit word ook deur Paulus in Romeine 11 bespreek as hy aan die Kerk verkondig dat daar ʼn gedeeltelike verharding oor Israel gekom het tot die volle getal heidene ingekom het. Romeine 11:25-26 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid  uit Jakob verwyder. Hier moet ek die leser net weer herinner dat aan Daniël meegedeel word dat die tydperke te make het met sy volk. Daarom bly daar nog ʼn halwe week oor vir Israel aan die einde wanneer God die res van die Jode sal inbring wat deur Hom uitverkies is voor die grondlegging van die aarde.

In die sewe week tydperk vanaf die koms van die Messias, openbaar die boodskap van Gabriël aan ons dat die slagoffer en spysoffer sal ophou. Daniël 9:27

En hy sal vir een week ‘n bindende ooreenkoms aangaan met die menigtes. In die middel van die week sal hy die slagoffer en graanoffer laat ophou, en by die vlerk van verfoeilike afgodsbeelde sal daar een wees wat verwoes, totdat finale vernietiging en wat vooruitbepaal is, oor die verwoester losbars.”

Baie interpreteer dat hierdie hy van vers 27 na die antichris verwys. Tog as jy die vers lees sal jy sien dat die een wat op die vlerk van die afgodsbeelde is as die verwoester aangedui word. Die “hy” wys dus terug na die gesalfde. Christus het, in die middel van die sewe week periode, ʼn tydperk van ongeveer 3 en ʼn half jaar, wat ooreenstem met Sy openbare optrede vanaf sy dertigjarige ouderdom tot met en met sy dood aan die kruis, die evangelie verkondig. Aan die kruis skeur die voorhangsel en Hy, die perfekte offer, veroorsaak dat alle offers tot ʼn einde kom. Hebreërs 9:25-26 ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie – anders as die hoëpriester, wat jaar ná jaar in die Heilige met ‘n ander se bloed ingaan – aangesien Hy dan dikwels, van die grondlegging van die wêreld af, sou moes ly. Maar nou, by die volheid van die tye, het Hy eens en vir altyd verskyn om met sy offer die sonde ter syde te stel. Dit is baie interessant dat self die Jode in die Talmud aankondig dat God, veertig jaar voor die verwoesting van die tempel in 70 n.C, nie meer die offers op Yom Kippur deur die normale tekens geantwoord het nie.  Ons weet dat Jesus in 30 n.C. gesterf het, dus veertig jaar voor die verwoesting van die tempel.

Dan sal daar nog ʼn 3 en ʼn half jaar oor wees van die laaste sewe week tydperk en soos reeds gesê is dit spesifiek vir die Jode. Dit sal die tydperk wees, waarvan Jesus ook gepraat het as die een kom waarvan Daniël geprofeteer het, hy wat die antichris genoem word. In sy tyd sal die Jode baie erger vervolg word as ooit tevore. Die wreedheid van hierdie vervolging word deur Sagaria voorspel en ons kan sien dat dit baie erger sal wees as enige vervolging wat die Jode al te beurt geval het.  Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur, is die uitspraak van die Here, twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God.

Die antichris sal twee groepe haat en hierdie groepe word aangedui in Openbaring 12. Die eerste groep is die wat geboorte gegee het aan die Messias, naamlik die Jode en die tweede is hulle wat die gebooie van God gehoorsaam, dus ons as gelowiges uit die heidene. Die versorging van die vrou sal ook wees vir ʼn periode van twaalfhonderd en sestig dae, wat dus drie en ʼn halwe jaar is. Openbaring 12:6 Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na ‘n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg. Hierdie drie en ʼn halwe jaar of, soos Openbaring daarna verwys, 42 maande, word ook bevestig in Openbaring en word genoem as die tydperk waarin die twee profete sal preek. Openbaring 11:2-3 Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer. Die plek waar hierdie twee profete vermoor sal word, word geïdentifiseer met die plek waar die Here gekruisig is, dus Jerusalem. Hier vind ons dan ook die enigste groep wat ongered is en hulle bekeer in Openbaring deur aan God heerlikheid te betoon. Openbaring 11:13 Op daardie uur het daar ‘n groot aardbewing plaasgevind, en ‘n tiende van die stad het inmekaar gestort. In die aardbewing het seweduisend mense omgekom, maar die res het vreesbevange geraak, en aan die God van die hemel heerlikheid betoon.

Slot

Ons lewe in die laaste dae. Die gelowige moet verseker weet dat hierdie tyd waarin ons leef tot met sy wederkoms nie ʼn maklike tyd sal wees nie en dat die profesie aan ons belowe dat dit ʼn tyd van oorlog en verwoesting sal wees. Johannes 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.