Inleiding
Daniël het die boek van Jeremia geken en sekerlik gereeld bestudeer waarin hy ontdek het wat God se plan vir Israel en ook vir Babilon is.
- Jeremia 25:11 Hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babilonië sewentig jaar lank dien.
- Jeremia 29:10 Ja, so sê die Here: “As sewentig jaar vir Babel verloop het, sal Ek aan julle aandag gee en my goeie belofte aan julle gestand doen, om julle na hierdie plek toe terug te bring.
Terwyl hy skrywe het Babilon alreeds geval en is verwoes deur die Mede en die Perse. Hy skryf hierdie gedeelte in die 1ste jaar van koning Darius en besef dus dat, met die onlangse val van die Babiloniërs, die res van die profesie soos in Jeremia 29 in vervulling sal gaan. Daniël is weggevoer in 606 v.C. en die eerste jaar van koning Darius was 538 v.C., dus is die 70ste herdenking van die ballingskap om die draai. Die eskatologiese getalle het nie te make met presiese datums nie, maar eerder tydperke deur God bepaal. So bv. kondig God die straf vir die volk in die woestyn aan en sê dat hulle vir 40 jaar in die woestyn sou ronddwaal. Numeri 14:33 En julle kinders sal veertig jaar lank herders in die woestyn wees. Hulle sal die gevolge van julle ontrouheid moet dra totdat julle lyke in die woestyn vergaan het. Tog sien ons dat die Israeliete slegs 38 jaar in die woestyn rondgeswerf het. Deuteronomium 2:14 Die tyd wat dit geneem het vandat ons van Kades-Barnea af weggetrek het totdat ons deur die Sered-dal getrek het, was agt-en-dertig jaar. Toe was daar nie meer een van daardie hele geslag krygsmanne in die kamp oor nie. Dit het gebeur soos die Here dit vir hulle met ‘n eed bevestig het. Ook hierin vind ons God se genade as Hy nie aan die volk die totale periode vir hulle verdiende straf vir hul ongehoorsaamheid gee nie. Volgens die boek van Esra sou Israel terugkeer in die eerste jaar van Kores nadat hy ʼn edik uitvaardig het dat die Jode kon terugkeer. Watter skok moes dit vir Kores gewees het om te ontdek dat Jesaja al meer as 2 eeue terug van hom geskryf het en hom by die naam genoem het. Jesaja 44:28 die Een wat oor Kores sê, Hy is my herder; en alles wat Ek wil, sal hy uitvoer, deur oor Jerusalem te sê, Sy sal herbou word, en die tempel – sy fondament sal gelê word.
Gebede
Baie mense het die idee dat omdat God alles bepaal het en in beheer van alles is die gelowige se gebede onbelangrik is. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ons sien hoe Daniël juis gemotiveer is om a.g.v. God se beheer en almag in gebed te gaan en God te herinner aan Sy beloftes. Wat kan vir die gelowige tot groter voordeel in sy geloofslewe wees as om die Skrif te ken en in ooreenstemming met die Woord in gebed tot God te tree? Baie gelowiges is vandag kenners in alles behalwe die belangrikste, nl. God se Woord. God spreek sy volk aan en verklaar dat hulle gebrek aan kennis juis die rede is waarom hulle ten gronde gaan. Hosea 4:6 My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet. So baie keer hoor jy van gelowiges wat bid in teenstelling met wat God belowe en dan in ʼn stryd gewikkel raak omdat God nie hulle gebede verhoor nie. So bid baie vir wêreld vrede terwyl God nêrens vir die gelowige vrede in hierdie wêreld belowe nie. Christus verkondig aan sy volgelinge dat Hy nie vrede gebring het nie, maar eerder die swaard. Matteus 10:34-36 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om ‘n wig in te dryf, tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, en tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; en ‘n mens se vyande sal sy eie huismense wees. Die vrede waarvoor ons moet bid en kan weet dat God dit sal verhoor is ʼn innerlike vrede; ʼn vrede ten spyte van dit wat ons rondom ons ervaar. Dit beteken nie dat ek nie vir vrede in tye van oorloë en so meer kan bid nie, maar dit sal afhang van God se wil rondom daardie oorlog of situasie en die positiewe verhoor van so ʼn gebed is nie geanker aan ʼn belofte van God nie. So baie van die gelowige se gebede het te make met die aardse dinge i.p.v. om Hemelwaarts te kyk en die beloftes van die Skrif aan te gryp en te bid vir die geestelike groei in ons en ander gelowiges se lewens; dat God familie en vriende en vyande geestelik lewendig sal maak. Wat sou gebeur het as Daniël na vyftig jaar se ballingskap in gebed tot God gegaan het vir Israel se bevryding en terugkeer na die beloofde land? Volgens God se Woord sou hy dan bid teen dit wat God alreeds bepaal en belowe het, nl. straf in die vorm van ballingskap vir 70 jaar. As Daniël egter in gebed tot God nader na ongeveer 70 jaar, is dit in ooreenstemming met wat God belowe.
Geloof is om God te vertrou in ooreenstemming met sy beloftes. Wat so wonderlik in hierdie gedeelte is, is dat Daniël God ook aanspreek as Jahwe, wat net hier in Daniël voorkom. Die rede hiervoor is dat die naam Jahwe verwys na Hom as die verbondsgod, die God wat getrou is aan die verbonde en beloftes wat Hy gemaak het. Watter troos moes dit nie vir Daniël gewees het nie? Kyk na hierdie vers waarin God hierdie belofte van sy ewige trou aan Israel maak. Jeremia 31:35-37 So sê die Here, wat die son bedags as ‘n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die Here, Heerser oor alle magte is sy naam: As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn, is die uitspraak van die Here, sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd ‘n nasie te wees voor My. So sê die Here, As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het, is die uitspraak van die Here. So word ons ook opgeroep om te bid vir ons ewige bevryding wat sal plaasvind met die koms van die Here. In Lukas 18 vertel Jesus die verhaal van die weduwee wat aanhou pleit by die regter om te illustreer dat ons moet bid dat Hy reg aan ons sal laat geskied. Die regter kom by die punt wat hy erken dat hy aan haar reg sal laat geskied anders sal sy hom tot die einde bly teister. Hierop sê Jesus die volgende: Luister na wat die onregverdige regter sê! Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind? Lukas 18:6-8.
Skuld erkenning en belydenis
In Daniël se gebed maak hy homself deel van die sonde van sy volk en erken hulle skuld teenoor God. Hierdie gebed is in ooreenstemming met Salomo se gebed aan God met die tempel inwyding waar sy gebed is dat God sy volk sal verhoor as hulle gesondig het en dan in ʼn vreemde land pleit vir vergifnis. 1 Konings 8:46-47 Wanneer hulle teen U sondig – want daar is geen mens wat nie sondig nie – en U toornig is op hulle en hulle oorgee aan ‘n vyand, en hulle ontvoerders hulle wegvoer na die land van die vyand, ver of naby, en hulle tot inkeer kom in die land waarheen hulle weggevoer is en hulle bekeer en by U om genade smeek in die land van hulle ontvoerders, met die woorde, Ons het gesondig en afgedwaal, ons is skuldig. Sy pleidooi is dat God hulle sal vergewe. Sy gebed is die erkenning dat hulle nie na die profete geluister het nie en dus alles ontvang en verdien het a.g.v. hulle sonde. Dit is ʼn belangrike aspek wat ongelukkig vandag by soveel kerke en mense wat hulleself gelowiges noem ontbreek. Die tydsgees vandag is om almal anders die skuld te gee behalwe om my hand in eie boesem te steek. Selfs al sou dit vandag uitsonderlike wees, is dit ongelukkig ook eie aan die mens en vind ons dit reeds in Eden as almal mekaar beskuldig sonder om self eienaarskap van hulle sonde te neem. Dit is wat Dawid se gebed vir vergifnis na sy sonde met Batseba en sy moord van Uria, soveel anders maak. Psalms 51:6 Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel. So baie mans en vroue in huwelike blameer die ander party i.p.v. om na hulleself te kyk en te vra of ek besig is om die Woord van God vir die huwelik en my lewe te gehoorsaam. As jy die gevolge van sonde dra erken jy jou skuld en erken jy dat jy nie na die Woord van God geluister het nie. Hou op verskonings maak vir jou sonde en jou ongehoorsaamheid en erken en bely jou oortreding. Dit is dan ook die volgende wat Daniël doen, nl. om God se regverdigheid te verklaar in Sy straf. Hy erken dat Israel alles verdien het wat na hulle kant toe gekom het. Hiskia is ʼn voorbeeld van ʼn man wat i.p.v. om sy sonde te erken eerder bly is dat hy nie die gevolge van sy sonde sal ervaar nie. Jesaja 39:8 Hiskia sê toe vir Jesaja: Die woord van die Here wat jy gespreek het, is goed. Hy het gedink: Want daar sal vrede en bestendigheid in my tyd wees. So baie sal in hulle sonde volhard as daar maar net nie vir hulle gevolge vir hulle sonde sal wees nie.
Dit is beslis nie wat Daniël wil doen nie, hy wil bid en by die Here pleit vir hul vergifnis. Dit is nie vreemd om in die Ou Testament te sien hoe die profete male sonder tal vir die volk intree nie. So sien ons ook hoe Moses vir die volk intree wanneer God aan hom bekend maak dat Hy hulle gaan uitwis a.g.v. hulle sonde. Hierdie profete se intree vir die volk is ʼn heenwysing na die Groot Profeet, Jesus Christus, wat sou kom om vir Hom ʼn volk te koop uit elke stam en volk en nasie en wat dan vir hulle sal intree by God, die Vader. Hebreërs 7:25 Dit is waarom Hy ook volkome in staat is om hulle wat deur Hom na God toe kom, te verlos – omdat Hy altyd leef, om ter wille van hulle in te tree. Sy intree vir hierdie spesifieke groep sal veroorsaak dat hulle nooit verlore sal gaan nie. Hoe wonderlik is sy intrede vir ons nie!? Ons kan ook intree vir medegelowiges en diegene wat in sonde volhard en bid dat Christus die skaap wat afgedwaal het sal terugbring. Daniël se gebed is dat God hulle sal terug neem na die plek van aanbidding in Jerusalem en dat dit alles sal geskied sodat Sy Naam geëer sal word. Dit klink so baie na Moses se gebed dat God Israel sal vergewe ter wille van Sy Naam. Alles in die gelowige se gebedslewe moet wees dat die Naam van die Here geheilig moet word en dat Sy koninkryk moet kom. Is dit dan nie hoe Jesus sy volgelinge leer om te bid nie? Matteus 6:9-10 Só moet julle dan bid: Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Die gelowige se gebed is dat selfs in God se vergifnis van my, Hy verheerlik sal word.
Slot
Dit is dan ook waarmee ons hierdie blog sal afsluit: Daniël se belydenis dat wanneer God vergewe die gelowige moet erken dat die mens nie hierdie vergifnis verdien nie. Ons kan alleen vashou aan sy geregtigheid en nie aan ons eie geregtigheid nie. Daarom het, soos ons alreeds genoem het, Salomo gebid dat die Here sal vergewe aangesien daar nie ʼn mens is wat sonder sonde is nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat daar niemand is wat sonder sonde is nie. Romeine 3:10-12 soos daar geskryf staan: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Daarom is die geregtigheid waaraan die gelowige vashou die geregtigheid wat in Hom is. Dit word so mooi uitgebeeld deur die Griekse genitief wat gebruik word in ʼn hele aantal verse om hierdie werk van Christus wat op ons oorgedra word te beklemtoon. Ongelukkig het baie vertalings die genitief nie vertaal nie. Ek sal dus die vertaling van die teks in die 2020 neerskryf en dan die Grieks vertaal soos die genitief dit uitdruk.
- Romeine 3:22 Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus Christus aan almal wat glo.
Die genitief sou wees: Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof van Jesus Christus aan almal wat glo. Die vertaling verander dus geloof in Jesus Christus na geloof van Jesus Christus. Dit is dus Christus se geloof wat ons regverdig en nie ons eie nie. Ek kan hier net opmerk dat die King James vertaling een van die vertaling is wat dit korrek vertaal het. Christus het die lewe geleef wat ons nie in staat is om te leef nie, sodat ons in sy geregtigheid, geregtigheid sou ontvang. 2 Korinthiërs 5:21 Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word. Hy het ons sonde op Hom geneem en sy geregtigheid is op ons geplaas. Hy ontvang die wraak van God op die kruis sodat ons God se vergifnis en erfenis kon ontvang wat ons nie verdien of kan verdien nie.
Dankie Here
