Twee vroue het na koning Salomo toe gekom. Hulle het by hom gestaan, en die een vrou het gesê:
“Ag, my heer, ek en hierdie vrou woon in dieselfde huis. Ek het ’n seun gehad, en drie dae later het sy ook ’n seun gehad. Haar baba het egter in die nag gesterf, omdat sy in haar slaap op hom gelê het. Toe het sy my baba by my weggeneem terwyl ek geslaap het, en haar dooie baba by my gesit. Toe ek in die oggend wakker word, sien ek die kind by my is dood, maar toe ek goed kyk, sien ek dit is nie my babatjie nie.
Die ander vrou het gesê: “Nee, die lewende kind is myne, en die dooie een is joune!”
So het hulle albei voor die koning gestaan en stry.
Toe sê koning Salomo: “Bring vir my ’n swaard.”
Hulle het die swaard gebring en Salomo het gesê:
“Sny die lewende kind in twee en gee vir elke vrou ‘n helfte.
Toe het die ma van die lewende kind uitgeroep:
“Ag, my heer, gee vir haar die kind — moet hom nie doodmaak nie!”
Maar die ander vrou het gesê: “Hy sal nie myne nie, maar ook nie joune wees nie. Sny deur!”
Toe sê die koning: “Gee die kind vir die een wat hom wil spaar. Sy is die moeder.”
Almal in Israel het gehoor wat die koning gesê het en was vol ontsag, want hulle het gesien dat God hom wysheid gegee het om reg te oordeel.
