Daniël 8:13-27

Inleiding

Baie van dit wat alreeds in die vorige blog verduidelik is word verder uiteengesit in hierdie gedeelte. Ons sal nie weer na alles verwys nie, maar daarop voortbou en op die nuwe dinge, wat nie in die vorige blog bespreek is nie, fokus. Daniël het die begeerte om die visioen te verstaan en probeer dit op sy eie doen. Hoe wonderlik dat God ons gedagtes en ons begeertes ken en daarom stuur hy iemand om dit aan Daniël te verduidelik, net soos wat ons vandag die Heilige Gees ontvang om die Woord aan ons te verduidelik.  Miskien moet ons begin om te vra of ons werklik die begeerte het om God se Woord te verstaan? Smag ons na sy Woord meer as wat ʼn baba na moedersmelk smag. 1 Petrus 2:2 en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing. Lees jy deur die Woord in jou stiltetyd, omdat dit soos tandeborsel iets is wat jy moet doen,  of het jy werklik ʼn begeerte om te luister na die Skepper van die hemel en aarde en die Een wat alleen wysheid besit? So moet ons dan ook die Here vra om aan ons wysheid te gee sodat ons Sy Woord sal verstaan en daarin sal groei. Jakobus 1:5 As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Wat sal gebeur as jy neerval in vrees voor die Woord van God in jou soeke om aan Hom gehoorsaam te wees?

Gabriël

Daar is ʼn stem wat aan Gabriël die opdrag gee om die visioen aan Daniël te verduidelik. Hy verskyn in die vorm van ʼn mens, soos ander engele in die Bybel ook doen. ʼn Voorbeeld hiervan is die drie manne wat aan Abraham verskyn het waarvan God self (in die tweede persoon) een was en die ander twee engele was wat later aan Lot die opdrag gee om die stad Sodom te verlaat. In die visioen is Gabriël ʼn heenwysing na God self wat as ʼn mens sou verskyn. Hy en Migael is die enigste twee engele wie se name in die Skrif genoem word. Gabriël se naam beteken “man van God”. Hy word hier en in hoofstuk 9 genoem en ons sien hom weer wanneer hy die geboorte van Jesus vir Maria aankondig in Lukas 1:19 en vers 26. Hy kom elke keer voor waar groot waarheid aangaande die Messias se koms aangekondig moet word. Gabriël staan, as ons hom vind in die Skrif, in die teenwoordigheid van God. Lukas 1:19 Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël, wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. In opdrag van God kom Gabriël naby Daniël. Hierdie verskyning van ʼn engel is te veel vir Daniël en hy vrees en val op sy aangesig. As ʼn gewone man so angstig word en neerval voor ʼn engel, hoe sal ons reageer as ons voor God verskyn? Die verhaal van die apostel Johannes wat in die Hemel geneem word en Christus in heerlikheid sien tref my altyd. Hierdie Johannes was die apostel wat teen Jesus se bors gelê het by die instelling van die nagmaal. Die oomblik as hy Jesus egter in die Hemel sien val hy neer soos ʼn dooie. Openbaring 1:17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste. Die Hemelse is net te groot vir aardbewoners, die wat nog in die vlees wandel.

Daniël val op sy aangesig neer, wat ʼn erkenning is van sy onwaardigheid. Daniël word in Hebreeus genoem “seun van ʼn mens.” Die Messias wat op die wolke sal kom in hoofstuk 7 word beskryf soos ʼn “seun van ʼn mens” terwyl Daniël genoem word seun van ʼn mens. Dit is vir mense soos Daniël waarvoor die Messias sou kom – hulle wat onwaardig is en bloot vlees is. Net soos met die profeet Esegiël word Daniël aangeraak en op sy voete geplaas. Esegiël 2:1-2 Hy het vir my gesê: Mensekind, staan regop, dan sal Ek met jou praat. ‘n Gees het oor my gekom terwyl Hy met my praat, en dit het my regop laat staan. Ek hoor toe iemand praat met my. God gee die opdrag en gee die krag om die opdrag uit te voer. Die mens is totaal op God aangewese om te kan doen wat God van ons vra.

Aan Daniël word verkondig waarop die toorn van God sal uitloop. Die verbondsvolk se terugkeer en herstel sou kom met die Mede en die Perse, maar dit sal nie ʼn maklike tyd wees nie soos die visioen aandui met die koms van Antiochus. Hierdie Antiochus se koms en sy beskrywing is ook soortgelyk aan die van die finale antichris wat aan die einde van die tye sal kom en uit die vierde dier sy verskyning sal maak. Al hierdie dinge wat sou plaasvind sal net wees vir ʼn bepaalde tyd wees en sal dan tot ʼn einde kom. God se absolute beheer word beklemtoon; nie net as die Een wat buite tyd staan en alles aanskou en vooruit in die tonnel van tyd afkyk en sien wat gebeur nie, maar  as God wat in beheer is en regeer. Daarom word die gelowige opgeroep om in vrede te leef onder die regering waarin God hulle geplaas het wetende dat Hy alles weet en sien en elke regering se dag bepaal het. Dit word die tyd van vervloeking genoem en is ʼn tegniese term vir die wraak van God waardeur die verbondsvolk sou deurgaan. Sy volk sou terugkeer na die beloofde land na hulle ballingskap in Babilon, maar sou nieteenstaande voort geploeter in hulle ongehoorsaamheid aan Sy Woord. Lees maar net van die profete wat vertel hoe hulle geleef het na hul terugkeer. Hulle was ʼn halsstarrige volk. Maleagi 3:13-15 Julle laat harde woorde oor My val, sê die Here. En dan vra julle, Wat het ons vir mekaar oor U gesê?  Julle het gesê, Dit is heeltemal nutteloos om God te dien en wat baat dit ons as ons die verpligtinge teenoor Hom nakom en in rouklere loop voor die Here, Heerser oor alle magte? Daarom noem ons nou die verwaande mense gelukkig, want die kwaaddoeners beleef nie net voorspoed nie, maar hulle daag God uit en kom nog daarmee weg ook.

Antichris

As ons nou by vers 24 kom sien ons dat die persoon wat hier uitgebeeld word baie verder gaan as Antiochus en dus wys op die finale antichris waarvan Antiochus slegs ʼn tipe was. Antiochus het nooit die Joodse volk of Jerusalem en die tempel, volgens vers 11 vernietig nie. Baie volke het teen hom opgestaan en sy gesag het gekwyn onder die Romeine en hy sterf in 164 v.C. as ʼn waansinnige man. Sy naam was Antiochus Epifanus, maar mense het hom Antiochus Epimanus, die malle, genoem. Die sterre wat die persoon sal laat val is ʼn heenwysing na die finale antichris in Openbaring 12. Hierdie persoon se krag sal sterk word, maar nie uit homself nie. Dit is ook ʼn heenwysing na die finale antichris, wat as die dier in Openbaring beskrywe word, sy krag van die Satan sal ontvang. Openbaring 13:2 Die dier wat ek gesien het, het net soos ‘n luiperd gelyk, met pote soos dié van ‘n beer en ‘n bek soos dié van ‘n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. Hy sal met vernuf slaag en bedrog pleeg. Hierdie antichris sal voorgee om te wees wat hy nie is nie. Daarom leer ons ook dat die antichriste uit die kerk sal kom en voorgee dat hulle een van ons is. Hy sal wees soos al die ander valse profete wat voor gee, net soos die satan ook voor gegee het in die tuin van Eden, dat hy die beste wil hê vir Adam en Eva as hy God se woorde verdraai en vir hulle lieg. Genesis 3:4-5 Die slang sê toe vir die vrou: Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken. Hy doen homself voor as ʼn engel van die lig, terwyl hy en die valse profete van die duisternis is. Die antichris en die valse profeet sal ook wonders en tekens doen om mense te mislei en sou selfs die uitverkorenes kom mislei indien dit moontlik was. Matteus 24:24 Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. Die grootste gevaar sal die leier wees wat sal belowe dat hy die Kerk sal bevoordeel en vir hulle goed sal wees wanneer hy sal regeer. Die gevaar is nie, soos baie dink, wanneer Islam sal heers nie, nee eerder as die kerk (met ʼn klein letter) wil heers op aarde. Die een sal ons duidelik kan herken vir die valse wat dit is, terwyl die ander soos ʼn slang die ware Woord sal probeer verdraai en so baie sal mislei onder die voorwendsel van die waarheid.

Sy einde sal kom nie deur die hand van ʼn mens nie. Hy sal tot ʼn einde kom deur die Koning van die Konings soos bevestig word in Daniël en ook Openbaring.

  • Daniël 2:44 In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan ‘n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot ‘n einde bring, en dit sal standhou vir ewig.
  • Daniël 7:26 Maar die regbank sal sitting neem, en sy heerskappy sal hulle wegneem om dit te vernietig en te verdelg, tot die einde toe.
  • Openbaring 19:19-20 En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi.

Aan Daniël word bevestig dat dit wat hy in hierdie visioen gesien het verseker sal plaas vind. Daniël word opgeroep om die visioen geheim te hou, net soos weer later in Daniël 12. Hier het dit te make met die visioen wat baie later vervul sal word en dat dit vir daardie tye bewaar moet word. Diegene wat in hierdie laaste tye lewe sal bemoedig word as hulle hierdie gedeelte lees en gerus sal wees dat God in beheer is en die tyd en uitkoms bepaal het.

Slot

Die effek van die visioen op ʼn blote mens was beslis intens en ons sien dat Daniël vir dae siek was. Aan hom is die gordyn van die einde vir ʼn oomblik teruggetrek en het hy die val van die mensdom gesien. Hy het gesien hoe die mense ʼn man sal volg wat in valsheid oor hulle sal heers en hulle sal vervolg en doodmaak. Die ontmoeting met die hemelse en die afkyk in tyd was te veel vir die aardbewoner en die blik op die toekoms het swaar op hom gerus. Daniël gaan voort met sy gewone dagtake en voer dit pligsgetrou uit al was hy nogsteeds verstom oor wat hy gesien het. Baie gelowiges, deur die geskiedenis, wil hulle onttrek van die alledaagse en die normale werk wat uitgevoer moet word, asof hulle sodoende meer toegewyd aan God sal wees. God bring ons deur sy Woord in Sy troon kamer en ons hoor dinge wat die res van die wêreld nie kan hoor of sal verstaan nie. Die oomblik daarna stap ons in die wêreld in om die alledaagse take wat God aan ons gegee het pligsgetrou te vervul. Daniël was verslae oor hierdie openbaring, maar die res van die mense kon dit nie begryp nie. Dit wys dat Daniël dit nie bedek het nie, maar aan ander vertel het. Hy moes egter die gewig daarvan alleen dra, want hulle het dit nie begryp nie. Hierdie openbaring sou beter verstaan word deur die mense wat in die tyd van Antiochus gelewe het. So sal die gelowige se verstaan van die Woord rakende die dinge van die eindtyd meer word tot die finale antichris opstaan en diegene wat dan lewe sal die beeld in totaliteit ervaar en verstaan. Daniël 12:9-10 Daarop het hy geantwoord: Gaan, Daniël! Want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar goddeloses sal goddeloos optree. Geeneen van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.