Inleiding
In hierdie hoofstuk lees ons van nog ʼn visioen wat Daniel gehad het. Hierdie visioen sien hy ongeveer twee jaar na die visioen waarvan ons in Daniel 7 lees. Die tydsverloop in Daniel is dus nie kronologies nie en hy sien albei hierdie visioene voor die gebeure in hoofstuk 5 waar hy gevra word om die skrif aan die muur vir koning Belsasar uit te lê. Van hierdie punt af tot en met die laaste hoofstuk is die teks weer in Hebreeus geskrywe. Hier sal die fokus weer baie sterk wees op dit wat die Jode sou deurmaak en dus is die teks in Hebreeus om die leser daarop te laat fokus. In hierdie visioen sien ons beelde wat ons herinner aan dit wat ons gesien het met die vierde dier. Hier sien ons ook ʼn opvallende horinkie op ʼn bokram, maar dit is slegs ʼn nuwe beskrywing van die derde dier van hoofstuk 7 – die luiperd. Die horinkie in hoofstuk 8 is ʼn tipe of voorbeeld van die laaste antichris wat sal kom en deur na sy eienskappe te kyk word die finale antichris nog duideliker beskryf. Die Bybel is baie duidelik dat daar ʼn finale antichris sal wees maar dat ons seker kan wees dat deur die geskiedenis baie antichriste na vore sal kom. 1 Johannes 2:18 Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is. So kan ons na baie individue en instansies kyk wat die antichris vergestalt het al was hulle beslis nie die finale antichris nie. Ons sal dan ook sien dat die antichris wat hier uitgebeeld word, slegs ʼn tipe is en dat hy nog nie al die eienskappe van die finale antichris, soos deur die Bybel beskryf word, besit nie.
Geografie en geskiedenis
Daniel vind homself in Susan, wat die nuwe hoofstad in die plek van Babel sou word. In hoofstuk 8 word die beer en die luiperd van hoofstuk 7 uitgebeeld as ʼn ram en ʼn bokram Hierdie regering van die Mede en die Perse (die beer) word uitgebeeld as ʼn ram met twee horings wat dui op die tweeledige koninkryk van die Meders en die Perse. Die horing wat groter word as die ander een is die Persiese ryk van Kores wat na die koninkryk van die Meders ontstaan het en wat groter as die Meders was. Kores, een van die leiers van die regering van die ram, is alreeds ʼn eeu tevore deur Jesaja voorspel. Jesaja 45:1 So sê die Here vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie. Tot sy naam word genoem – ʼn honderd jaar voor sy regering. Die uitbreiding van die gesag en mag van hierdie koninkryk word uitgebeeld deur die ram wat stoot na al die windrigtings behalwe na die ooste. Sy uitbreiding na die Ooste was baie later en was nie permanent nie. Sy grootste oorwinnings was na die Weste: Babilon, Sirië en Klein Asië, na die Noorde: Armenia en die gebiede rondom die Kaspiese see en na die Suide: Egipte en Etiopië. Hy het, soos Daniel voorspel het, alles gedoen wat hy wou. Dan kom ʼn bokram uit die Weste met een horing, wat die Griekse ryk verteenwoordig – die luiperd van hoofstuk 7. Die horing op die bokram is Alexander die Grote en sy oorwinnings was met ʼn skrikwekkende snelheid. Hier word beskryf dat hy so vinnig hardloop dat hy nie aan die grond raak nie. In Hoofstuk 7 is die Griekse ryk ook uitgebeeld met vier vlerke om hierdie spoed waarteen sy oorwinnings plaasgevind het uit te beeld. Die bokram loop die ram storm en verwoes hom, wat korreleer met Alexander die Grote wat die Persiese ryk onder DariusⅢverslaan het. Alexander die Grote het Darius oorwin in 334v.C. en in elf jaar die Persiese ryk, Egipte, Mesopotamië en dele van Indië verower. Die horing op die ram word afgebreek en omdat dit sonder enige eksterne mag gedoen word kan ons aflei dat God self sy heerskappy beëindig. Alexander het begin heers op 20 jarige ouderdom en het op 33 jarige ouderdom gesterf.
Vier horings staan dan in sy plek op.
Alexander se ryk word na sy dood in vier dele verdeel – elkeeen onder leiding van een van sy vier generaals.
- Antigonidiese Ryk (Masedonië en Griekeland)
- Seleukidiese Ryk (Groot dele van die voormalige Persiese Ryk, insluitend Mesopotamië, Sirië, en Persië)
- Ptolemeïese Ryk (Egipte en dele van die oostelike Middellandse See)
- Lysimachiese Ryk (Hierdie ryk het dele van die huidige Turkye en Bulgarye ingesluit en Klein-Asië)
Die klein horinkie
Uit die Seleukidiese ryk, een van die vier ryke, sou ʼn horing groei wat anders is as die in hoofstuk 7 waar die klein horinkie in die plek van drie ryke opgestaan het. Hierdie horinkie sal dan magtig word na die Suide, Ooste en na die Sieraad, of die prag, wat na Jerusalem wys. Hierdie horinkie verwys na ʼn heerser wat so groot sou word dat hy selfs die sterre op die aarde sou gooi en dit vertrap. Om te verstaan wat hiermee bedoel word moet ons gaan kyk waarna die sterre verwys. Hierdie metafoor korreleer met dit wat die Satan sal doen in Openbaring 12. Openbaring 12:4 Sy stert het ‘n derde van die hemel se sterre saamgesleep en dit op die aarde neergegooi. Die draak het toe voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om, sodra sy geboorte skenk, haar kind te verslind. In hierdie blog het ons daarop gewys dat hierdie sterre na Israel verwys. Hier dink ek dat ons spesifiek moet verwys na die gelowiges in Israel waarop die duiwel sy aanval sal rig aangesien daar later in Daniel weer na die sterre verwys word as verteenwoordiger van al die gelowiges. Daniël 12:3 Die verstandiges sal skyn soos die glans van die hemelkoepel, en hulle wat baie gelei het tot regverdige optrede, sal skyn soos die sterre – vir altyd en altyd.
Hierdie heerser sal hom selfs teen die bevelvoerder of die vors van die hemelse leër verhef. Hier is ʼn verdere bevestiging dat die hemelse leër, wat die sterre is, die Joodse volk en spesifiek die gelowiges in die Joodse volk voorstel, aangesien die Vors of Bevelvoerder van die leër God self is. Eksodus 12:41 En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.
Hierdie heerser kan duidelik geïdentifiseer word as Antiochus wat seker een van die wreedste vervolgers van die Joodse gelowiges en die Jode in die Geskiedenis was. Hy sou dan ook die offers stop wat aan God geoffer moet word en die tempel van God ontheilig. In 1 Makkabeërs word vertel dat Antiochus ʼn brief na Jerusalem gestuur het en beveel het dat alle offers gestaak moes word en alle feeste insluitend die Sabbat nie meer gevier mag word nie. Dit herinner ons ook aan die klein horing van Hoofstuk 7 wat tye en wette sou verander. Antiochus het ook die tempel in Jerusalem in 167 v.C. ontheilig deur ’n altaar vir die Griekse god Zeus Olympios (of Baal-Shamem) op te rig op die altaar. Dit korreleer ook met die gruwel van verwoesting waarvan Daniel in hoofstuk 11 sal praat en wat ook deur Jesus aangehaal word. Antiochus het verder beveel dat onreine diere, soos varke, op die altaar geoffer word en ook die tempel geplunder deur waardevolle voorwerpe, insluitend goue en silwer voorwerpe, meubels en heilige gebruiksvoorwerpe, weg te neem. Wat Antiochus en baie na hom en voor hom nie besef het nie en nog steeds nie besef nie is dat hulle aanval teen gelowiges ʼn direkte aanval teen God se geliefdes is. So sou Saulus, wat later Paulus genoem is, deur hierdie realiteit gekonfronteer word ook as Christus aan hom verskyn op die pad na Damaskus. Handelinge 9:3-4 Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het ‘n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
Die nuwe tempel
Die gelowige wat hierdie profesie lees en weet dat hierdie horing ʼn tipe van die antichris is en dus wys hoe die finale antichris sal lyk moet in gedagte hou dat die tempel en die heiligdom van die Nuwe Testament nie meer die Joodse tempel en die tempel gereedskap is nie. In die Nuwe Testament word die tempel nou die gelowige as individu, maar ook die gelowiges as geheel. So sê Jesus ook aan sy volgelinge dat Hy en die Vader by hulle wat Sy Woord bewaar en Hom liefhet sal kom woning maak. Johannes 14:23 Jesus antwoord hom: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Die Vader en die Seun woon in ons deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees. So word dit ook deur Paulus bevestig as hy aan die Korintiër gemeente skrywe.
- 1 Korinthiërs 3:16-17 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.
- 1 Korinthiërs 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?
Daarom word ons ook in die Nuwe Testament gewaarsku dat daar baie antichriste in die kerk is en die kerk al verlaat het. Die antichris is daar om die gelowiges te verwar en hulle te verontreinig en vreemde leringe te laat volg. So word ons gewaarsku dat mense verleidende geeste en leringe van demone in kerke sal aanhang. 1 Timoteus 4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste dae sommige mense van die geloof afvallig sal word, omdat hulle hulle ophou met dwaalgeeste en die leringe van demone. Hulle sal ook God se Woord wat Hy in die Nuwe Testament bevestig het probeer verander soos wat Antiochus die Ou Testamentiese wette probeer verander het en die mense onrein probeer maak het. 1 Timoteus 4:3-5 Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet. Want alles wat God geskep het, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, omdat dit deur die woord van God en gebed geheilig word. Dit is tog interessant hoeveel kerke juis hierdie vers vervul in die tyd waarin ons leef. Moenie dat iemand jou ooit wegtrek van God se Woord en suiwer leer na vreemde leerstelling en gebooie van mense nie.
Hoe lank?
Dan word die vraag gevra hoe lank hierdie horing sal kan aanhou met sy verwoesting en sy vernietiging van die gelowiges. Die tyd word aangedui met 2300 aande en oggende voor die heiligdom sy regmatige plek sal kry. Dit is ongeveer 6 jaar en vier maande. Antiochus het volgens geskiedskrywers die tempel begin ontheilig in ongeveer 171v.C. en hy is dood in 164 v.C. Dit is ongeveer sewe jaar. Aangesien ons nie die presiese datum het waarop hy die tempel begin vernietig het en gesterf het nie, korreleer hierdie 2300 dae min of meer met die van Antiochus se verwoesting en sy eie vernietiging. Wat verder nodig is om op te merk in die konteks van Daniel is dat die 2300 dae kort is van die sewe jaar tydperke waaroor Daniel skrywe wanneer daar na die eindtye verwys word. Dit is dus ʼn verdere aanduiding dat hy nie hier na die finale antichris verwys wat ʼn drie en ʼn halwe tydperk sal ontvang nie. Net soos elke heerser in die geskiedenis, is die duur van elkeen se heerskappy vooraf deur God bepaal en hulle sal nie ʼn dag langer as dit heers nie. Net soos ons dae uitgesit is voor daar nog iets soos ʼn dag was, ja voor die grondlegging van die wêreld, so ook is elke persoon en heerser se dag bepaal. Psalm 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.(Ou Vertaling). Dit maak nie saak hoe ryk ʼn persoon is of watter mediese sorg hy tot sy beskikking het nie hy sal nie een sekonde langer leef as wat God bepaal het nie. Hier kan die gelowige nie fatalisties word en dink dat hy kan leef en eet soos hy wil nie. Nee, jy kan verseker wees jou kwaliteit van lewe en gesondheid sal verseker skade lei al sal jou dae nie verkort word nie. Die gelowige kan dus vrede hê selfs in tye van antichriste en wrede regeerders wat hulle vervolg en martel, wetende dat God in beheer van alles is en ja, dat hy belowe dat dit vir goed in ons lewens sal uitwerk. Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is. Moet nooit die mens vrees wat slegs hierdie liggaam kan verwoes nie, nee vrees God. Matteus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan.
Slot
Die akkuraatheid van Daniel se voorspellings is ongelooflik in hoe dit ooreenstem met geskiedkundige gebeure. Ja, daar is gedeeltes wat moeilik is om te verstaan en net soos wat ons moet leer om in die letterkunde die beelde en metafore van digters te verstaan, so moet ons leer om die metafore en simboliek van Daniel te begryp. Hierin het die Here ons egter nie alleen gelaat nie, maar deur die Gees maak Hy dit vir ons duidelik. Die belangrikste om te sien is hoe die antichris gaan lyk, waar hy vandaan gaan kom en wat hy gaan doen. Dit maak God aan ons bekend deur die verskillende tipes van die antichris aan ons bekend te stel en in die geskiedenis te openbaar. Alle gelowiges deur die geskiedenis moet ook besef dat hulle burgers van die Hemelse stad is en dus slegs bywoners en vreemdelinge op aarde. Ons verlange terwyl ons op aarde woon is na die Hemelse stad. Hebreërs 11:13 Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Wanneer ons nou hierdie dinge rondom ons begin sien en ervaar, in kerke, regerings en die samelewing, dan weet ons die tyd van Jesus se wederkoms is naby. Hoewel ons verseker nie die dag en datum weet nie, kan ons die tekens waarneem en weet, ons moet leef om God te verheerlik in alles wat ons doen, en sy Naam uitdra aan almal rondom ons, want die tyd is min.
