Inleiding
In die laaste verse van hoofstuk 7 word daar weer klem gelê op die tien horings en die antichris wat onder hulle sal opstaan. Aangesien die vierde koninkryk die Romeine is weet ons dat hierdie ryk opgedeel sal word. Dit word ook in die beeld van Nebukadnesar voorspel dat dit opgedeel sal word in tien tone, ʼn deel van klei en deel van yster. Die Romeinse ryk sal dus verdeel in ryke wat sal verskil in krag en mag. Die tien is nie noodwendig ʼn presiese getal nie maar druk eerder, soos in die res van die apokaliptiese boeke, ʼn getal uit wat volledigheid aandui. As ons na die grense van die Romeinse ryk kyk en sien watter lande dit insluit is dit baie duidelik hoe die profesie in vervulling gegaan het en hoe die Romeinse ryk nou uit baie ryke bestaan waarvan sommige sterk en ander baie swak is. (https://share.google/images/hih1M2ARzzZxCkj2C) Ons leef dus tans gedeeltelik in hierdie toekoms voorspelling, maar daarin lê nog steeds die uitdaging om te probeer verstaan wat presies alreeds en wat nog moet plaasvind.
Die vierde dier verskil
Die volgende feit aangaande die vierde dier wat beklemtoon moet word is dat dit sal verskil van die ander drie diere. Hierdie feit is baie belangrik aangesien dit vier keer beklemtoon word in hierdie gedeelte.
- 7b Hy het verskil van al die diere voor hom, en het tien horings gehad.
- 19a Toe wou ek sekerheid kry oor die vierde dier, wat van al die ander verskil het.
- 23a So het hy gesê, Die vierde dier beteken: ‘n Vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat van al die koninkryke verskil.
- 24b ‘n Ander een sal ná hulle opstaan; hý sal verskil van die voriges, en hy sal drie konings verneder.
Wat is hierdie verskil? Vir my, met die lees van Daniel en die ander apokaliptiese boeke, is dit dat die dier ʼn godsdienstige karakter sal hê. Hierdie dier verskil van die vorige drie en dan bereik die verskil ʼn klimaks met die opkoms van die klein horinkie wat nog duideliker sal verskil van die ander horings “ryke” van die vierde dier. Hierdie klein horinkie word dan geïdentifiseer as die finale antichris. Daar word aan ons vertel dat hy hom sal voordoen as God, dat hy wonders en tekens sal doen, dat hy godslasterlike name sal hê. So vertel Paulus ook aan die gemeente in Tessalonisense dat die antichris gaan sit in die tempel en hom voordoen as God. 2Tessalonisense 2: 4 die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. Vanuit die geskiedenis weet ons dat die Romeinse ryk die Christelike geloof die amptelike staats godsdiens gemaak het, iets wat ongekend was in die vorige drie ryke. Daarom is dit ook opmerklik dat Johannes die gemeente waarsku dat daar baie antichriste uit hulle geledere gekom het. 1 Johannes 2:18-19 Kinders, dit is die laaste uur. Soos julle gehoor het, kom die Antichris, en nou is daar reeds baie antichriste; hieraan weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle het uit ons geledere gekom, maar hulle was nie werklik deel van ons nie; want as hulle werklik deel van ons was, sou hulle by ons gebly het. Maar dit moes duidelik word dat nie een van hulle deel van ons is nie. Hierdie ryk sal dus voorgee om Christelik te wees en sal die Christelike kerk aanvaar en tog sal dit in opposisie tot die ware Kerk wees. In hierdie sin is hierdie ryk verskillend van al die vorige ryke wat heidens was.
As Christene het ons dikwels die hoop dat die regering die Here sal dien. Wanneer ons daaraan dink dat alles volgens Christelike waardes aangepak, beoordeel en geregeer sal word dan kan mens net daaroor opgewonde raak. Dit is egter ʼn feit dat geen regering op aarde nog ooit aan hierdie eienskappe voldoen het nie. Ons sien eerder hoe regerings in die naam van die Here die mees skandelike dade gepleeg het. Ons kan dus verseker vir ons leiers in die regering bid met die hoop dat hulle tot bekering sal kom, maar die hoop is vir hul siele, nie vir jou gerief en voorspoed nie, daarin is ons hoop in Christus self en nie op aardse regerings nie, want dit sal verseker teleurstel.
Die antichris
Die klein horinkie, die antichris, sal opstaan tussen die tien ryke waarin die Romeinse Ryk verdeel het en sal drie van hierdie ryke neerwerp en oor hulle heers. Die antichris sal woorde spreek teen God die Allerhoogste. Dit word ook aangetoon deur Johannes in Openbaring waar die dier godslasterlike name het. Openbaring 13: Toe het ek ‘n dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien krone, en op sy koppe was daar ‘n godslasterlike naam geskryf. Deur die geskiedenis het baie na die Pouslike amp as moontlike verteenwoordiger van hierdie klein horinkie gewys aangesien die name wat aan die Pous toegedig word ook godslasterlik is.
- Pontifex Maximus (“Hoogste Brugbouer”): Dit kom uit die Romeinse godsdiens waar die hoofpriester se godsdienstige seremonies die brug was tussen die gode en die mense.
- Vicarius Filii Dei (“Plaasvervanger van die Seun van God”):Hierdie titel is gebruik om die Pous se gesag as die verteenwoordiger van Christus op aarde te beklemtoon.
- Sanctissimus Pater of Heilige Vader. Die Pous word soms as Sanctissimus Pater aangespreek, wat sy geestelike vaderskap en heiligheid as leier van die kerk beklemtoon.
- Summus Pontifex of Hoogste Priester: Hierdie titel beklemtoon die Pous se rol as die hoogste priesterlike gesag in die Rooms-Katolieke Kerk en deur hom kan sonde vergewe word.
Dit behoort vir elkeen wat die Skrif ken baie duidelik te wees, dat elkeen van hierdie name godslasterlik is en net aan Christus mag behoort. Selfs die Jode het verstaan dat net Een sonde kan vergewe. Daarom, as Jesus mense op aarde se sonde vergewe, maak die Fariseërs onmiddellik beswaar. Matteus 9:2-3 En kyk, hulle het ‘n verlamde man wat op ‘n slaapmat lê, na Hom gebring. En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Hou moed, kind, jou sondes word vergewe. Hierop het sommige van die skrifkenners onder mekaar gesê: Hierdie man laster. So ook maak hulle beswaar en wil hom selfs stenig, omdat Hy hom gelyk stel aan God. Johannes 10:30-31 Ek en die Vader is een. Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus, in teenstelling met enige aardse heerser, is waarlik God en daarom mag Hy alleen sonde vergewe en Hom gelyk stel met God.
Verder is dit ook interessant dat die Pous vanuit die Romeinse ryk opgestaan het en ook die titels en kleding van die Romeinse ryk oorgeneem het. Die antichris sal ook die heiliges van die Allerhoogste, m.a.w. die ware gelowiges, mishandel. Hierin kan ons ook ʼn regmerk maak by die Rooms-Katolieke kerk aangesien hulle ʼn menigte gelowiges deur die geskiedenis vervolg, gemartel en doodgemaak het. Die interessante is dat Jesus ook vervolg en doodgemaak is deur die kerk van sy dag, diegene wat bely het dat hulle volgelinge van God is. So kan ons ook seker wees dat ons as gelowiges ons felste vervolging sal ervaar vanaf mense binne ons eie gemeentes en kerk wat bely dat hulle Christene is. Hier is Jesus se waarskuwing vir sy volgelinge relevant. Johannes 16:2 Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom ‘n tyd dat elkeen wat vir julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.
Verder vertel Daniel aan ons dat hierdie heerser tye en wette sal probeer verander gedurende die tyd waarin God hom heerskappy sal gee. Die tye en die wet wat hy sal probeer verander is God se tye en God se wet aangesien hy hom voordoen as God. Jesus maak dit egter baie duidelik aan sy volgelinge dat die bewaring van Sy gebooie die kenteken is dat iemand Hom liefhet. Johannes 14:15 As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. Ons lewe in ʼn tyd waarin Christus se Woord verdraai, verander en selfs weerspreek word in kerke. Hulle probeer sy woorde verander sodat sonde nie meer as sonde gereken word nie. So verander hulle die God van wraak na ʼn God van soetsappige liefdes woordjies, sonder enige straf vir die een wat Sy woorde in die wind slaan. Johannes 3:36 Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom. Elke gelowige wat Hom lief het sal erns maak met die Woord en die Woord net so belangrik ag as Jesus wat daarna verwys deur te sê: Maar dit is makliker vir die hemel en die aarde om tot niet te gaan as dat een strepie van die Wet wegval. Lukas 16:17. Enige persoon wat hierteen preek of leef is ʼn tipe van die antichris.
Drie en ʼn half jaar, twee en veertig maande
“Tyd, tye en ʼn halwe tyd” beteken hierdie heerser sal net vir drie en ʼn half jaar heerskappy ontvang. Die getal van “twaalfhonderd-en-sestig dae” en “twee en veertig maande” verwys na dieselfde tydperk. Dit is tog opmerklik dat hierdie selfde tyd gebruik word om te verwys na die tyd waarin die Jode beskerm sal word in Openbaring. Openbaring 12:6 Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na ‘n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg. Verder ook na die tyd waarin die heidene die heilige stad sal vertrap. Openbaring 11:2 Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.” So wys dit ook na die tydperk waarin die kerk, verteenwoordig deur die twee getuies in Openbaring, sal profeteer teenoor die wêreld. Openbaring 11:3 En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer. Hierdie twee getuies word dan ook doodgemaak deur die antichris wat korreleer met wat hier in Daniel voorspel word, nl. dat die antichris die heiliges sal mishandel. So verwys Openbaring ook na die tyd van die antichris as ʼn tydperk van 42 maande. Dit is nie ʼn aanduiding van ʼn spesifieke tydsduur nie, maar dui eerder ʼn periode aan waarin God sal toelaat dit wat Hy vooraf bepaal het. As jy wonder waar hierdie getal vandaan kom kan ons gerus na Elia se profesie rakende Israel in die tyd van Agab gaan kyk. God se volk was besig met afgode aanbidding en was ongehoorsaam aan God se Woord. Hulle het selfs Jerigo teen God se bevel herbou. Hiervoor het hulle geboet in ooreenstemming met God se belofte aan Josua.
- Josua 6:26 Josua het in daardie tyd ‘n eed afgelê: Vervloek voor die Here is die man wat opstaan en hierdie stad, Jerigo, herbou: Ten koste van sy eersgeborene sal hy die fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy die poortdeure oprig.
- 1 Konings 16:33-34 Agab het ook ‘n asjera gemaak. So het Agab meer gedoen om die Here, die God van Israel, uit te tart as al die konings van Israel wat voor hom daar was. In sy regeringstyd het Giël, ‘n man uit Bet-El, Jerigo herbou. Ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy die fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, het hy die poortdeure opgerig. Dit was ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Josua, seun van Nun, gespreek het.
God se straf is dat dit vir drie en ʼn halfjaar nie sou reën nie. Net soos in die geval van Israel kan ons dus sien dat hierdie tydperk van drie en ʼn half jaar dui op ʼn tydperk van wat die wêreld in hul goddeloosheid sal voortploeter en die Kerk vervolg sal word soos Elia.
Erfgename
Hierna sal die gereg sit. God se oordeel sal plaasvind en die antichris se heerskappy sal tot ʼn einde kom. Dit is die oomblik wat alle koningskap en heerskappy en die grootheid van die koninkryke aan die heiliges van die Allerhoogste gegee sal word. Ons het alreeds genoem dat die Bybel duidelik is dat ons erfgename is en dat ons saam met Christus sal heers. Hier is ʼn paar verse in die Ou en Nuwe Testament:
- Psalm 37:11: Maar die sagmoediges sal die land erf en hulle verlustig in groot vrede.
- Psalm 37:29: Die regverdiges sal die land erf en daarin woon vir ewig.
- Jesaja 60:21: Jou volk is almal regverdiges; vir altyd sal hulle die land besit, hulle, die werk van my hande, die loot wat Ek geplant het om My te verheerlik.
- Matteus 5:5: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.
- Openbaring 21:7: Wie oorwin, sal alles erf, en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees.
Die gelowige moet dit altyd in gedagte hou dat hierdie nie ons woning is nie en dat ons slegs vreemdelinge en bywoners op aarde is. 1 Petrus 2:11Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die siel. In hierdie wêreld sal ons dit swaar hê en vervolg word omdat ons koningskinders, erfgename is, maar nie van hierdie wêreld nie. Hierdie wêreld is gegee aan die prins van hierdie wêreld, naamlik die Satan en hy en sy engele en sy volgelinge in hierdie wêreld sal sy ware Kerk vervolg. Tog weet ons dat hulle dae letterlik tot op die dag en die uur getel is. En dan sal die groot en wonderlike dag aanbreek as ons ons Verlosser van aangesig tot aangesig sal sien. 1 Johannes 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. Niks op aarde kan of moet belangriker as die ewige wees nie. Alles hier is kortstondig en kan nooit die vrede en geluk bring wat ons in ons Verlosser, Christus Jesus het nie.
Slot
Net soos vir Daniel kan hierdie voorspellings vreesaanjaend wees wanneer ons die boosheid in hierdie wêreld aanskou. Elke dag sien ons nog meer dinge wat ons tot in ons wese skok. Die mens is vol sonde en sommige is totaal oorgegee aan die Prins van hierdie wêreld, die Satan. Tog moet ons nooit uit die oog verloor dat alles in God se beheer is en dat ons net tydelik hier is nie. Terwyl ons hier is moet ons in alles wat ons doen onbevrees leef om Sy naam te verheerlik, sodat mense hul toevlug tot God sal neem en so die Bose sal oorwin. 2 Korintiërs 5:20 “Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!”
