Dawid en Batseba.

Een aand het Dawid op die dak van sy huis geloop. Hy het ’n vrou sien bad, en sy was baie mooi. Dawid het mense gestuur om te vra wie sy is. Hulle het gesê:

“Dit is Batseba, die vrou van Uria.”

Dawid het haar laat haal, en hy het by haar geslaap. Later het sy vir Dawid laat weet dat sy sy baba verwag.

Toe het Dawid vir Uria, haar man, van die oorlog laat kom. Maar Uria wou nie huis toe gaan nie. Dawid het hom weer teruggestuur met ’n brief aan Joab, die leëraanvoerder. In die brief het Dawid geskryf dat Uria in die voorste linie van die geveg geplaas moes word. Uria is toe dood in die oorlog.

Toe die tyd van rou vir haar man verby was, het Dawid Batseba in sy huis geneem en sy het vir hom ’n seun gebaar. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Die Here het Natan, die profeet, na Dawid toe gestuur. Natan het gesê:

“Daar was twee manne in ’n stad. Een was ryk, die ander arm. Die ryk man het baie skape gehad, maar die arm man het net een klein ooilammetjie gehad. Die ryk man het die lam van die arm man geneem en dit vir ’n gas voorberei.”

Dawid het kwaad geword en gesê:

“Die man wat dit gedoen het, moet sterf!”

Toe sê Natan vir Dawid:

“Jy is die man!”

Dawid het berou gehad en gesê:

“Ek het teen die Here gesondig.”

En Natan het gesê:

“Die Here het jou sonde vergewe.”