Daniël 7:11-22

Inleiding

Die hofsitting vind plaas en al die koninkryke word geoordeel. Al die konings en koninkryke sal op die presiese dag wat God vooraf bepaal het tot ʼn einde kom. Al God se teenstaanders sal vir ewig en altyd in die vuur gegooi word en gepynig word vir ewig en altyd.

  • Jesaja 66:24 Hulle sal dan uit die stad gaan en die lyke sien van die mense wat teen My oortree het, want die wurms op hulle sal nie sterf nie, en die vuur om hulle sal nie uitbrand nie. Hulle sal afskuwelik wees vir alle mense.
  • Openbaring 19:20 Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi.

Hierdie gedeelte wil dit vir die leser baie duidelik maak dat die koninkryke beëindig sal word deur die koms van die Seun van die Mens wat Jesus is. Saam met Hom sal die Heiliges, die gelowiges van Ou en Nuwe Testament, dan heers vir ewig en altyd

Die Seun van die Mens

Dan sien Daniël ʼn ander beeld in sy visioen. Dit sou die klimaks van hierdie visioen wees. Net soos met die beeld van Nebukadneser was die vernietiging van die beeld nie die einde nie, maar die fokus verskuif na die Rots wat die beeld vernietig het en die ewige koninkryk sal oprig. Daniël 2:44 In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk vestig wat vir ewig nie vernietig sal word of aan ‘n ander volk oorgelaat sal word nie. Hierdie koninkryk sal al daardie ander verpletter en tot ‘n einde bring, en dit sal standhou vir ewig. Hy sien met die wolke iemand aankom wat soos ʼn mensekind was. Hierdie vertaling van “mensekind” in die 2020 vertaling is ʼn interpretasie en nie die oorspronklike Hebreeus nie. Die Hebreeus stel dit duidelik as die Seun van die Mens en dit is ook hoe dit in die LXX vertaal word. Hierdie konsep van die Seun van die Mens is baie belangrik, aangesien Jesus meer kere op hierdie manier na Homself verwys het as op enige ander manier. Hiermee bevestig Christus dat Hy die Een is wat deur Daniël voorspel is. Kyk maar net na ʼn paar van Jesus se verwysing na die visioen van Daniël.

  • Matteus 24:30 Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom  op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid.
  • Markus 10:45 Want ook die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.

Sy koms met die wolke druk die Seun van die Mens se goddelikheid uit, aangesien die Een wat op die wolke ry, volgens die Ou Testament, God self is.

  • Psalms 104:3 U is die een wat die balke van sy bokamers  op die water oprig, wat wolke sy strydwa maak, wat op die vlerke van die wind  beweeg;
  • Jesaja 19:1Kyk, die Here ry op ‘n vinnig bewegende wolk en gaan na Egipte. Die nuttelose afgode van Egipte beef voor Hom; Egipte se hart krimp ineen.
  • Nahum 1:3 Die Here is geduldig, maar geweldig sterk. Die Here laat beslis niks ongestraf nie. Deur donderstorm en orkaan loop sy pad, wolke is die stof van sy voete.

Watter boodskap moes dit nie vir die apostels gewees het toe hulle Jesus in die wolke sien opgaan nie?! Eerstens dat Hy beslis God is en tweedens, wanneer die engele aan hulle die boodskap verkondig dat Hy net so weer sal terugkeer, die besef dat Hy werklik die Een is wat deur Daniël voorspel is. Hy word beskrywe as een wat soos ʼn seun van ʼn mens is. Die “soos” word volgens Calvyn gebruik om ons daarop te wys dat die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid op daardie stadium nog nie die vlees van die mens aangeneem het nie. Elke keer in die Ou Testament waar die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid verskyn is dit in die vorm van ʼn mens. So sien ons Hom wanneer Hy aan Abraham by die terpentyn bome van Mamre verskyn. In die boek van Daniël sal Nebukadnesar die Een wat saam met Sadrag, Mesag en Abegnego wandel in die vuur beskrywe as ʼn godeseun, wat ook sy fisiese gedaante beklemtoon.

Sy wederkoms op die wolke beklemtoon ook aan die gelowige dat Hy wat mens geword het vir ons tot in ewigheid waarlik mens en waarlik God sal wees. Hy sal nooit afstand doen van sy menslike natuur nie. Daarom sien ons ook in die Nuwe Testament dat as sy apostels hom na sy opstanding sien, hulle die merke aan sy hand en die swaardwond in sy sy kan waarneem.  Om te bewys dat hy nie net geestelik opgestaan het soos sommige vandag beweer nie, nooi Hy Thomas wat twyfel om aan sy wonde te raak. Johannes 20:27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig. So word Hy ook deur Johannes in Openbaring beskryf as ʼn Lam wat geslag is. Openbaring 5:6a En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. So word ook na sy wonde gewys in Openbaring. Openbaring 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!

Ewige Koninkryk

Hy word dan gebring voor die Oue van Dae, wat ons as God die Vader kan identifiseer, en daar word verklaar dat aan Hom alle heerskappy gegee is en dat sy koninkryk nooit tot ʼn einde sal kom nie. Jesus het ook aan sy volgelinge die opdrag gegee om mense dissipels van Hom te maak, met die versekering dat hulle dit sal kan doen aangesien Hy heerskappy oor alles het. Matteus 28:18-19 Jesus het nader gekom en vir hulle gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees.

As Daniël sekerheid wil hê oor alles wat hy gesien het word dit aan hom verduidelik deur ʼn hemelwese wat in sy visioen by hom gestaan het.  Daar word verduidelik dat, met die koninkryke op aarde se einde, die heiliges van die Allerhoogste koningskap ontvang en dat hierdie koningskap vir ewig sal wees. Hier word daar van die gelowiges gepraat. Alreeds in die Ou Testament word die woord “heiliges” vir die gelowiges in die Ou Testament gebruik.

  • Psalms 16:3 Wat die heiliges in die land betref, ja, die magtiges, by wie ek al my vreugde  gevind het:
  • Psalm 34:10 Jod. Vrees die Here, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.

So kan ons sien dat die gemeentes deur die Nuwe Testament en die gelowiges as heiliges aangespreek word. Dit moet elke gelowige laat besef dat ons die ontvangers sal wees van hierdie belofte. Aan ons word belowe dat ons die koninkryk in besit sal neem vir ewig en altyd. Op talle plekke in Openbaring word bevestig dat ons eendag saam met God sal regeer en dat ons ook op trone saam met Hom sal sit.

  • Openbaring 3:21 Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit.
  • Openbaring 5:10 U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God  gemaak, en hulle sal as konings  oor die aarde heers.”
  • Openbaring 22:5 Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.

As Petrus vir Jesus vra wat hulle, wat alles agtergelaat het om Hom te volg, sou ontvang gee Hy aan Petrus die volgende antwoord: Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. Matteus 19:28. In Matteus 20 word dan bevestig dat almal wat in die wingerd gaan werk dieselfde as die eerste groep, die apostels, sal ontvang. A.g.v. dit wat jy tot dusver weet behoort jy met nuwe oë na hierdie woorde van Jesus te kyk. Jesus vertel aan Petrus dat dit wat Daniël geskrywe het op hulle as sy volgelinge van toepassing is. Nie net word bevestig dat Jesus heerskappy sou ontvang en op die troon sal sit nie, maar dat hulle wat Hom gevolg het ook op trone sou sit. So herinner Paulus ook die heiliges in Korinte dat hulle die wêreld eendag sal oordeel en ja ook die engele sal oordeel. 1 Korinthiërs 6:2-3 Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie? Hoeveel te meer die dinge van die alledaagse lewe? Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons eendag vir ewig en altyd saam met Hom sal heers nie?

Vervolging en lyding

Hier op aarde sal ons soos die teenoorgestelde van koninklikes behandel word. Hier sal ons vervolg word deur die heidense heersers en hulle volgelinge.

  • Handelinge 14:22 Hulle het die dissipels geestelik versterk, hulle aangemoedig om in die geloof te volhard en gesê: “Ons moet deur baie ontberings heen in die koninkryk van God ingaan.
  • 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word.

As ons die koningskap saam met Hom sal ontvang is dit hoegenaamd vreemd dat ons ook saam met Hom die lyding ervaar? Romeine 8:17 Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Daarom, ook aan die einde, word daar beskryf dat hierdie klein horinkie, wat die antichris voorstel, die oorhand sal kry oor die gelowiges. In Openbaring word dit baie duidelik gestel dat die gelowiges deur die groot verdrukking sal gaan en dat baie van hulle doodgemaak sal word. So sien ons ook dat die martelare onder die altaar vra wanneer God wraak sal uit oefen op die aardbewoners onder wie hulle gely het. Hulle word daarvan verseker dat God se wraak sal plaasvind en dat hulle moes wag tot al die ander gelowiges ook doodgemaak is. Openbaring 6:11 Daarop is aan elkeen van hulle ‘n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog ‘n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees. Elke gelowige deur die geskiedenis wat vermoor is en gemartel is op welke manier ookal, is gemartel deur ʼn tipe antichris en dus ʼn teenstaander van Christus. Die laaste antichris wat sal opstaan sal heerskappy hê totdat sy uur ook sal aanbreek en sy heerskappy deur die Oue van Dae tot ʼn einde gebring sal word. Dan sal die heiliges die koninkryk in besit neem. Hierdie lyding wat ons nou sal verduur en die gespot wat ons sal aanhoor sal nooit vergelyk kan word met dit wat ons eendag sal ontvang nie. Romeine 8:18 Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.

Slot

Hoe baie mense dink dat hulle deel van hierdie groep sal wees wat die ewige heerskappy saam met Christus sal ontvang en tog het hulle geen lyding op aarde deurgemaak nie. Hulle is nooit gespot omdat hulle vir Christus gelewe het nie, nooit is hulle as dwaas gereken terwille van Hom of soos uitvaagsels behandel nie. Nooit moes hulle huise of vriende of familie prysgee soos wat Jesus aan sy volgelinge wat die ewige beloning sou ontvang belowe het nie. Die rede hiervoor is omdat hulle skaam en vreesbevange was om Sy naam aan ʼn goddelose wêreld te bely. Markus 8:38 Want wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele. Hulle ag hierdie wêreld belangriker as die komende ewige koninkryk en sê daardeur dat hulle eintlik nie glo in God en sy Woord nie. Indien hulle wel geglo het sou hulle so geleef het. Hul fokus sou gewees het op dinge wat ewige waarde het – die siele van mense. Mag ons in hierdie tye ons fokus hemelwaarts rig, na Hom wat sal kom om te heers vir Ewig.