Ussa sterf!

Dawid het al die manne van Israel bymekaar gemaak om die ark van God na Jerusalem terug te bring. Hulle het die ark op ’n nuwe wa gesit en dit uit die huis van Abinadab gebring. Ussa en Agjo het die wa bestuur.

Toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het die osse gestruikel. Ussa het sy hand uitgesteek na die ark van God om te keer dat dit omval, maar die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en hy het daar langs die ark van God gesterf.

Dawid het ontsteld geword omdat die Here vir Ussa doodgeslaan het. Hy het bang geword vir die Here en gesê:
“Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?”

Daarom wou Dawid nie die ark na die stad van Dawid bring nie, maar hy het dit in die huis van Obed-Edom laat bly. Die ark het drie maande daar gebly en die Here het die huis van Obed-Edom geseën.

Toe Dawid hoor dat die Here Obed-Edom se huis geseën het, het hy die ark met blydskap Jerusalem toe laat bring. Wanneer die draers van die ark ses treë gegaan het, is ’n bul en ’n vetgemaakte dier geoffer.

Dawid en die hele huis van Israel het gejubel voor die Here met trompette en geskreeu. So het die ark van die Here in die stad van Dawid gekom.

Lewer kommentaar