Daniël 7: 1-10

Inleiding

In hoofstuk 7 lees ons van een van Daniël se visioene en alhoewel dit wat ons tot dusver in Daniël gelees het redelik duidelik was gaan ons nou oor na die tipe beelde waarmee ons ook in Openbaring kennis gemaak het. Hierdie beeldspraak is nie altyd so duidelik nie en dit is verseker nodig dat die leser verder moet navorsing doen oor wat dit kan beteken. Alhoewel die leser dalk nog kan twyfel oor wat die toekoms voorspellings in terme van fisiese gebeure kan beteken is dit baie duidelik dat wat ookal die uitleg is, God in beheer is. Hy is die een wie se troon vir ewig is en aan wie al die ander koninkryke ondergeskik is.

God in beheer van die wêreld magte

Hoofstuk 7 volg nie kronologies op Daniël 6, waar Daniël in die leeukuil gegooi is nie. Die droom wat Daniël gehad het in hoofstuk sewe het in die eerste regeringsjaar van Belsasar plaasgevind en is dus voor hoofstuk vyf. Die droom van Daniël korreleer met die droom van Nebukadneser in hoofstuk 2. Hy sien vier winde wat die groot see in beroering bring. Vanuit die apokaliptiese boeke (boeke met voorspellings oor die toekoms) in die Skrif en ook ander Skrifte kan ons die groot see identifiseer met die mensdom en met nasies.

  • Openbaring 17:15 En die engel sê aan my: Die waters wat jy gesien het, waar die prostituut bly, is die volke en skares en nasies en tale.
  • Jesaja 17:12-13 Wee! Die gedreun van baie volke – soos die dreuning van die oseane dreun hulle. Die gedruis van nasies – soos die gedruis van magtige water druis hulle. Ja, nasies – soos die gedruis van magtige water, druis hulle. Maar Hy berispe hulle, en hulle vlug ver weg. Hulle word voortgedryf op die bulte soos kaf voor die wind, soos tolbosse voor ‘n stormwind.
  • Jeremia 51:42 Die see stoot oor Babel; met die gedruis van sy golwe  is sy bedek.

Hierdie verduideliking van die metafoor word verder bevestig as dit in vers 17 sê: Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan. Die vier winde is God wat die nasies in beroering bring en magte op aarde na vore bring en ook afbreek, soos wat die droom van Nebukadnesar ook aangetoon het. Hierdie gedagte dat God die wêreldmagte beheer word ook oral deur die Skrif aangetoon. Luister maar net na die Psalmdigter. Psalms 89:10 U heers oor die deining  van die see. Wanneer die golwe styg, bring U hulle tot bedaring. Alhoewel dit duidelik gemaak word dat al hierdie magte teen God in opstand is, is dit nogtans duidelik dat hulle deur God aangestel is en dat Hy ongeag hulle opstandigheid, oor hulle heers.

Verduideliking van die verskillende diere

Die vier diere wat opstaan uit die see is soortgelyk aan dit wat Johannes sien in Openbaring 13. In Openbaring word die dier, wat die antichris is, uitgebeeld met die verskillende diere van Daniël. Dit is duidelik dat al die magte op bevel van God opstaan.  

Die eerste dier is die leeu met vlerke van ʼn arend wat korreleer met die kop van goud. Deur die Ou Testament word Nebukadnesar se ryk vergelyk met ʼn leeu en sy weermag met ʼn arend.

  • Jeremia 49:19 Kyk, soos wanneer ‘n leeu opkom uit die trots  van die Jordaan na ‘n weiplek aan ‘n standhoudende stroom, ja, so sal Ek hulle vinnig daarvandaan laat weghardloop; en wie daartoe verkies is, sal Ek daar aanstel. Want wie is soos Ek? Wie kan My voor die gereg daag? Wie is hierdie herder wat voor My sal standhou?”
  • Esegiël 17:3 Sê, ‘So sê my Heer, die Here: ‘n Groot arend met groot vlerke, lang penvere, en vol veelkleurige vere, het na die Libanon gekom. Hy het die top van ‘n seder geneem.

Die leeu, die koning van die diere,  en die arend, die koning van die voëls, vergelyk baie mooi met die goud van die beeld. Opgrawings van die poortmure van Babel het gewys dat Babilon baie uitgebeeld is as ʼn leeu en ʼn arend. Die dier word verander in ʼn mens wat wys na die verhaal van Daniël 4 waar Nebukadnesar verander van ʼn hoogmoedige koning na een wat sy knie voor die lewende God moes buig.

Die volgende dier is die beer, bekend vir sy krag en sy felheid. Hierdie twee diere, die leeu en die beer, word ʼn paar keer in die Skrif saam gebruik. Amos 5:19 soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand teen die muur leun, dan pik ‘n slang hom. Diebeer, wat aan die een kant of langs die ander dier opgerig is, volgens die vertaling uit die Aramees, wil uitdruk dat dit ʼn dubbele nasie is, wat ook bevestig word in hoofstuk 8 met ʼn dier met twee horings. Dit is dan ook ʼn beskrywing van die Mede en die Perse wat een ryk is maar uit twee dele bestaan. Die drie ribbes kan heel moontlik wys na die drie koninkryke wat deur die Mede en die Perse vernietig het, naamlik Egipte, Lydia en Babilon. Die dier kry ʼn opdrag wat van God kom om baie vleis te eet. Dit dui op die baie ryke wat hulle sou vernietig in opdrag van God. Hierdie opdrag laat ons onmiddellik dink aan God se opdrag aan Assirië en hoe God hulle beskryf as die stok in God se hand van grimmigheid. So sou die Mede en Perse gebruik word om alles te doen wat God beplan het.

Die derde dier is ʼn luiperd. Hierdie dier het vier vlerke gehad teenoor die twee van Babilon. Alexander die Grote se verowerings tussen 334 en 323 v.C. was ongeëwenaard in spoed, met sy leër wat blitsvinnig die Persiese Ryk en groot dele van die bekende wêreld in minder as ‘n dekade oorheers het. Hierdie vinnige opmars stem ooreen met die luiperd se vier vlerke in Daniël 7, wat sy ongekende spoed en beweeglikheid simboliseer. Die luiperd se wreedheid en ratsheid herinner aan hoe vinnig Alexander se leër beweeg en oorwinnings behaal het, selfs oor veel groter en meer gevestigde magte. Die vier koppe wat later genoem word, pas ook by hoe Alexander se ryk na sy dood in vier dele onder sy generaals verdeel is.

Die vierde dier word nie vergelyk met ʼn dier wat aan ons bekend is nie, maar word slegs deur sy eienskappe bekend gestel. Hy word beskryf as monsteragtig, met groot ystertande wat alles wat voorkom verslind en vermorsel het en dit wat oorgebly het, met sy pote vertrap het.  Hy verwoes met sy tande en trap stukkend met sy voete, ʼn dier wat daarop uit is om alles wat voorkom te verwoes en te vernietig. Hierdie ryk is die Romeinse ryk. Hy word gekenmerk deur sy oorwinnings met ysterwapens wat hier deur die ystertande beskrywe word. Hulle het regeer met ʼn ysterhand en almal wat hulle oorwin het onder die Romeinse regstelsel, belasting en militêre beheer geplaas. Hierdie dier met tien horings vergelyk goed met die voete met tien tone van yster en klei in die beeld wat Nebukadnesar gesien het.  Daar sal weer na hierdie tien horings gewys word in Openbaring waar die dier tien horings het en dit met tien konings vergelyk word wat mag sal ontvang. Openbaring 17:12 Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap ontvang nie, maar hulle het vir een uur lank saam met die dier volmag, soos konings. Dit is tog belangrik om daarop te wys dat die getal tien, soos ook in die ander apokaliptiese boeke, gebruik word om ʼn volledige getal aan te dui eerder as ʼn presiese getal. Wat duidelik uit hierdie vierde dier is, is dat uit hom tien horings sal opstaan en onder hulle een sal opstaan wat, op grond van die res van die Skrif, ons kan identifiseer as die antichris. Hierdie gedeelte wys ons dus daarop dat vanuit die Romeinse ryk die koninkryke van die eindtyd en die antichris sal opstaan.

Opsommend dan is die leeu en arend Babel, die beer is die Mede en Perse, die luiperd is die Grieke onder Alexander die Grote en die vierde dier is die Romeine Ryk. Die beskrywings van die diere kan histories as korrek bewys word en daarom weet ons dat God dit nie net beplan het nie, maar ook bestuur het en dat die laaste toneel ook net so deur Hom bestuur sal word.

Die elfde horing

Die elfde horing van die vierde dier verdien ekstra verduideliking. Tussen hierdie tien horings staan die elfde horing op wat duidelik nie deel is van die tien horings nie en wat drie horings ontwortel. Die horing het oë soos ʼn mens wat dit aan die leser wil duidelik maak dat hierdie heerser net ʼn doodgewone mens is, al sal hy magte van die duiwel hê. Openbaring 13:4 En hulle het die draak aanbid, omdat hy volmag aan die dier gegee het. Hulle het toe ook die dier aanbid, en gesê: Wie is net soos die dier, en wie kan teen hom oorlog voer? Hy sal verder groot dinge spreek wat daarop dui dat hy sal voorgee dat hy ʼn god is en mense hom sal aanbid soos die bogenoemde teksgedeelte uit Openbaring 13 aandui.  So word dit ook deur Paulus bevestig aan die gemeente in Tessalonisense. 2 Tessalonisense 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier op ‘n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die tempel gaan sit en hom as God voordoen. Verder word daar ook in Openbaring aangetoon dat hy vol godslasterlike name is en dat hy godslasterlike dinge spreek.

  • Openbaring 13:5 Aan hom is ‘n mond gegee om grootpraterige en godslasterlike dinge mee kwyt te raak. Aan hom is volmag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen.
  • Openbaring 17:3 Ek is deur die Gees meegevoer na ‘n woestyn, en het daar ‘n vrou sien sit op ‘n helderrooi dier, wat oortrek was met godslasterlike name, en wat sewe koppe en tien horings het.

God op die troon

Terwyl jy as leser nog na die beelde kyk en daaroor dink word die rekwisiete verander. Op die verhoog verskyn trone waarop die Oue van Dae gaan sit het. Kan jy in tye van krisisse en chaos op aarde jou oë opslaan tot Hom wat op die troon sit? Watter vrede sal jy nie daar vind nie?! Dit is opmerkend dat die meervoud van troon gebruik is en tog net Een op ʼn troon gaan sit het. Die leser moet dus onmiddellik wonder oor wie nog op die ander troon of trone moet gaan sit. Dit sal later in Daniël 7 beantwoord word. Die Een wat op die ander troon gaan sit is die Rots wat die droombeeld van Nebukadnesar vernietig  en word duidelik uitgebeeld in Openbaring 4. (Gaan lees gerus weer die hele Openbaring 4.) Hierdie Een wat op die troon gaan sit word ook deur Miga aan Koning Agab beskrywe in Konings. 1 Konings 22:19 Maar Miga het gesê: Daarom, hoor die woord van die Here! Ek het die Here sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. Die gelowige moet nooit uit die oog verloor dat alhoewel die magte op aarde woed, God op sy troon en in beheer van alles is. Verder is dit ʼn sekerheid dat daar ʼn oordeel oor die wêreld en die wêreldmagte sal wees. Hy is die Oue van dae, die een wat vir ewig sal heers. Die almagtige God wat geen begin of einde van dae het nie.

  • Job 36:26 Kyk, God is verhewe – ons kan dit nie eers bedink nie; die getal van sy jare – dit kan nie nagespeur word nie.
  • Psalms 90:2 Voordat die berge gebore is en U die aarde en die bewoonbare wêreld voortgebring het, ja, van altyd af en vir ewig  is U God.

Sy klere is wit en toon Sy reinheid aan. Sy hare is wit en wys op sy wysheid waarmee Hy heerskappy voer. Sy troon is van vuurvlamme wat wys op sy oordeel wat deur die Skrif met vuur uitgebeeld word en waarvan die hel die finale oordeel sal wees. Die troon het wiele van vuur wat wys dat God se oordeel nie net op een plek sal wees nie, maar dat God ten volle in beheer is van alles wat op die aarde plaasvind en oor alles ʼn oordeel sal fel. Psalms 97:1-3 Die Here regeer, laat die aarde juig; laat al die afgeleë eilande bly wees. Wolke en diepe duisternis  omring Hom, reg en geregtigheid is die grondslag van sy troon. Vuur gaan voor Hom uit en rondom Hom verbrand dit sy teenstanders. Voor Hom is duisende maal duisende gereed om Hom te dien. Die engele sien sy aangesig volgens die Skrif en is gereed om enige opdrag van Hom uit te voer. Jesus gebruik dit as ʼn waarskuwing vir die wêreld oor hoe hulle Sy volgelinge behandel. Matteus 18:10 Pasop dat julle nie neersien op een van hierdie kleintjies nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele voortdurend die aangesig van my Vader in die hemele aanskou. Tienduisende van tienduisende, wat ʼn ontelbare skare uitdruk, staan voor sy troon en die boeke word oopgemaak. Alles wat die aardbewoners in hulle sondige lewens gedoen het sal in die boeke aangeteken wees en uitgelees word. Openbaring 20:12 En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan. Toe is die boekrolle oopgemaak. ‘n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe. Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel.

Slot

God is almagtig, in beheer en op die troon. Volgens Romeine 8 is daar niks wat ons van Sy liefde kan skei nie. Self al staan daar regerings op wat vreesaanjaende dinge doen en ons as gelowiges vervolg. Selfs al gaan ons deur verdrukking en vervolging – dit sal alles die moeite werd wees op die dag wanneer Jesus ons weer kom haal. Die dag wanneer die boeke oopgemaak word en ons as gelowiges onskuldig sal staan aangesien ons sondes uitgewis is deur die bloed van die lam, sal ons hom dien en loof en prys vir ewig en ewig. Al lyk dit asof die bose rondom ons oorwin kyk die gelowige met geestesoë na die Hemeltroon en weet dat God regeer. Ons het geen vrees vir die laaste oordeel nie, aangesien ons name slegs in die Boek van die Lewe geskrywe sal wees, kinders van God, gekoop deur die Seun, lewend deur die Gees.

Lewer kommentaar