Daniël 6

Inleiding

Hierdie verhaal is seker een van die bekendste Bybelverhale en ons ken dit al van kleins af. Daniël wat in die leeukuil gegooi word vir sy geloof en gebede tot God en wat dan ongeskonde bly was al vir elkeen ʼn troos in tye van vervolging. Daar is egter soveel meer in hierdie verhaal as bloot Daniël se uiteindelike vertroue in God. Dit is ook die getuienis van ʼn man wat deur sy lewe so geleef het dat ander geen vinger na hom kon wys in terme van sy werksetiek, lojaliteit, gedissiplineerdheid en integriteit nie. Daar was geen korrupsie by Daniël nie, geen kortpaaie en kompromieë nie. Wat hy ook al gedoen het, het hy gedoen asof vir die Here en nie vir mense nie. Dit is dan ook om hierdie rede dat hy sonder enige probleem as leier kon oorgaan van een regering na ʼn ander. Hy Het God gedien en nie die regering nie. Kolossense 3:23 Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie.

Verandering in regering

Die Babiloniese ryk, die kop van die beeld, het tot ʼn einde gekom. Die bors en arms van silwer, naamlik die koninkryk van die Mede en die Perse, sou nou heerskappy ontvang. As jy die droom van Nebukadneser in herinnering roep sal jy onthou dat die een wat elke ryk tot ʼn einde bring Christus, die rots, is. So stel die Psalmdigter, die psalm wat Jesus meer aanhaal as enige ander psalm, dit ook duidelik onder leiding van die Heilige Gees. Psalm 110:1 Van Dawid. ‘n Psalm. Dit is die uitspraak van die Here vir my heer: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak. As Paulus in 1 Korintiërs aan ons vertel wat aan die einde van die dae sal gebeur sien ons dat Christus die oorwinning oor alle gesag en mag behaal het. 1 Korinthiërs 15:24-25 Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het. So staan koninkryk op onder die hand van God en so kom hulle tot ʼn val deur die hand van God. Daarom kan Daniël in elke koninkryk waarin hy homself bevind die regering tot diens wees, aangesien hy onder gesag van die lewende God is en Hom aanbid. Romeine 13:1 Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Die gelowige het geen groter affiniteit vir een koninkryk bo ʼn ander nie. Die enigste vraag wat die gelowige het is hoe kan ek die regering wat oor my aangestel is gehoorsaam soos God van my vra en werklik tot diens wees, sodat my lewe ʼn getuienis kan wees vir God.

Werk vir God

Darius die nuwe koning stel ʼn hiërargie op waar hy heerskappy het en onder hom ministers en onder hulle landvoogde. Daniël word aangestel as een van die drie ministers waaraan al die landvoogde rekenskap moes gee. Daniël is ʼn harde werker wat in elke werk waar hy geplaas is sy beste gee. Calvyn, onder leiding van die Woord, se denke rakende die gelowige en sy werksetiek stem ooreen met dit wat deur die geskiedenis die dryfveer van menige gelowiges was, nl. om hul beste te gee in die werk waar God hulle aangestel het. Calvyn het geglo dat elke mens ‘n goddelike roeping het in die werk of rol waarin hulle geplaas is, en dat hulle dit met ywer en toewyding moet uitvoer as ‘n manier om God te verheerlik. Die idee is dat alle eerlike arbeid, hoe nederig ook al, heilig is as dit met die regte gesindheid gedoen word. Hy verduidelik dat elke vorm van eerlike arbeid, of dit nou nederig of verhewe is, deel is van God se orde vir die mens. As die Here my roep om ʼn straatveër te wees dan wil ek die beste moontlike straatveër wees tot Sy eer. Daniël se pligsgetrouheid en toewyding het tot gevolg dat Darius hom bo sy hele koninkryk wou aanstel. Die ministers en landvoogde is jaloers op Daniël en soek ʼn aanklag teen hom. Hier volg dan een van die wonderlikste getuienis van Daniël se lewe. Daniël 6:5 Daarop het die toesighouers en satrape na ‘n rede vir ‘n aanklag teen Daniël gesoek in verband met die koninkryk, maar hulle kon geen rede of fout vind nie, omdat hy betroubaar was. Geen nalatigheid of fout is by hom gevind nie. Wat sou gebeur as iemand ʼn fout sou soek in hoe jy jou alledaagse take hanteer? Hoe pligsgetrou jy is? Werk jy al die ure van die dag tot die beste van jou vermoë, maak nie saak wie jou werkgewer is of hoe hy jou behandel of betaal nie. Hierdie werksetiek geld of jy nou vir jouself of vir ander werk, of jy ʼn hoogs betaalde persoon of ʼn huisvrou by die huis is. Of dit nou vir kliënte of jou man en kinders is, die vraag bly dieselfde. Is dit jou werksetiek waarvan ander kan getuig?

Sonder kompromië

Die jaloerseministers is dit eens dat die enigste plek waar hulle iets teen Daniël sal vind is in sy aanbidding  van sy God. Hierdie man se getuienis aangaande sy wandeling met God was aan almal bekend. Hulle weet dat hy alles sal doen soos God van hom vra en dus sal hulle hom kan uitvang as hulle iets van hom vra wat in stryd is met wat God se wet. Dit is ook die verhaal van Daniël in hoofstuk 1. “Ek sal my naam verander, maar nie afgod offervleis eet nie.” Vandag is die grootste probleem dat ʼn menige sogenaamde gelowiges die Woord aanpas net soos hulle wil en vir die “Here” lewe net solank dit nie van hulle ʼn prys vra nie. ʼn Gelowige is iemand soos Daniël wat geen kompromieë in sy lewe maak nie. Wat God beveel word tot op die letter deur die kind van God nagekom.  Watter getuienis as jou werkskollegas kan getuig dan jy ʼn persoon is wat alles doen presies soos wat die Woord van God jou vra. Hulle plan is dat die koning ʼn edik moet uitvaardig wat bepaal dat net die koning vir dertig dae aanbid moet word en dat die straf van ongehoorsaamheid die leeu se den sou beteken. Wat sou jou reaksie wees? Sou jy ondergronds gaan in jou aanbidding? Sou jy redeneer dat dit darem net vir 30 dae sou wees en dat jy daarna onmiddellik terug sou keer tot openbare aanbidding? Dalk kan jy God in die geheim aanbid? ʼn Opregte, lewende verhouding met God is nooit ʼn privaat godsdiens soos baie dit noem nie. Dit is openbaar of dit is vals.

Vreeslose vertroue

Daniël gaan voort met sy aanbidding soos voorheen en daar is niks geheim daaraan nie. Hy maak sy venster wat wys na Jerusalem, die plek waar die tempel gestaan het, wyd oop en gaan drie keer op ʼn dag in aanbidding. Dit laat my dink aan wat Jesus aan sy volgelinge gesê het: Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Maar wie My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Lukas 12:8-9. Is jy skaam vir die Here en Sy Woord? Is jy bang wat ander van jou sal sê as jy die Woord bely en dit ten volle aanvaar? So baie mense maak vandag wonderlike belydenisse in die kerk en sing hardop tot eer van die Here, net totdat hulle by die kerk se deure uitstap. Hulle is geheime agente vir Christus, wat beteken hulle sal die koninkryk van God nie sien nie. Omdat die ministers geweet het dat Daniël met sy aanbidding van God sou aanhou, was hulle gereed by sy huis om hom uit te vang. Jy kan verseker wees dat as jy Christus se naam bely en ʼn heilige lewe wil lewe, die wêreld gereed sal staan om jou uit te vang oor iets wat jy doen of sê. “Sien, hy hou hom verniet so hoog heilig. Hy is maar net soos ons!”, is gewoonlik die uitroep en dan voel hulle beter oor hulle eie onheilige lewens. Daar is niks wat die wêreld meer haat as ʼn heilige lewe nie.

Daniël wys na Christus.

Daniël is uitgevang en hulle plan het gewerk. Hulle kla hom aan by Darius en al wou die koning nie deurgaan met sy edik nie word hy herinner dat dit ʼn wet van die Mede en Perse is en nie verander mag word nie. Daniël word dan in die leeukuil gegooi en ʼn klip word voor die opening geplaas. Hierdie verhaal is ʼn metafoor wat wys na Christus en sonder die skrywer se wete, maar onder die leiding van die Heilige Gees, word die beelde van Daniël se gooi in die leeukuil gekoppel aan Christus se liggaam wat geplaas word in die graf. Pilatus wou ook graag vrykom van hierdie situasie sodat hy Christus kon vrylaat. In sy geval word hy gedreig met die keiser. Johannes 19:12 Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: As u hierdie man vrylaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser. In die verhaal van Daniël en van Christus word ʼn klip voor die opening geplaas en die koning se seëlring op die rots aangebring.  Matteus 27:66 Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wagte daar te plaas. Die vyande dink dat hulle plan in albei gevalle geslaag het. Tog het die dood in Christus se geval nie die oorhand nie en volgens die Skrifte gaan Jesus na Hades en proklameer(ἐκήρυξεν – ekēryxen) sy oorwinning oor die geeste of engele in die gevangenis. 1 Petrus 3:18-20a Immers, ook Christus het eens en vir altyd  vir sondes gely, Hy, die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring. Hy is wel liggaamlik doodgemaak, maar deur die Gees is Hy  lewend gemaak. Deur die Gees het Hy ook  gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap  aangekondig. Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. Net so sien ons die koning die oggend vroeg haastig oppad na die graf, met ʼn hoop dat die God van Daniël hom dalk gered het. Daniël verklaar aan die koning dat hy leef. Net soos Daniël deur God die oorwinning oor die leeus behaal het, het Christus ook die “leeus” van die dood oorwin en triomfantlik die dood oorwin. So lui Psalm 22 wat Christus se dood en opstanding voorspel dan ook. Psalms 22:22 Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord. Daniël se belydenis is so van toepassing ook op Christus dan dit die leser behoort te verstom. Hy verklaar dat Hy onskuldig voor God bevind is. Met Christus se opstanding word sy onskuld deur die Heilige Gees verklaar.

  • Handelinge 2:24 God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word.
  • Romeine 1:4 wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here.

Die koning verklaar dat Daniël gered is, aangesien hy sy vertroue in God gestel het. So het Christus ook in alles sy vertroue op sy Vader geplaas soos Jesaja 8 dit duidelik maak as dit ook deur die Hebreër skrywer aangehaal word. Hebreërs 2:13 En ook: Ek sal my vertroue steeds in Hom stel. En ook: Kyk, hier is Ek en die kinders wat God My gegee het! Net so kan die gelowige in rus en vrede sterf wetende dat ons in Christus en deur sy geloofslewe regverdig verklaar is. Niks kan ons skei van die liefde wat daar in Christus is nie. So kan Paulus in Romeine verklaar: Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here. Romeine 8:38-39.

Die dood van die vyande

Die wet van God is duidelik dat die persoon wat ʼn valse getuie is en ʼn onskuldige probeer beskuldig van ʼn misdaad wat hy nie gepleeg het nie, die straf moet ontvang wat hy vir die ander persoon toegewens het. Deuteronomium 19:18-19 Die regters moet dan noukeurig ondersoek doen, en as dit blyk dat die getuie inderdaad ‘n valse getuie is wat vals teen sy volksgenoot getuig het, dan moet julle met hom doen wat hy beplan het om aan sy volksgenoot te doen. Jy moet die kwaad by jou uitroei. So ontvang Daniël se vyande die leeukuil en hy word vrygelaat. Dit is dan ook wat elke ongelowige wat Christus wou doodmaak en nog steeds sy kinders haat en vervolg sal ontvang. Openbaring bevestig ook hierdie vonnis as dit sê: As iemand bestem is  vir gevangenskap, sal hy in gevangenskap gaan; as iemand bestem is om met ‘n swaard doodgemaak te word, sal hy met ‘n swaard doodgemaak word. Hiervoor het die heiliges volharding en geloof nodig. Openbaring 13:10.

Slot

Die ongelowige wêreld haat ʼn persoon wat heilig wil lewe. Hulle sal enige iets doen om daardie persoon af te bring tot op hul sondige vlak. In hierdie wêreld sal ons gehaat word en vervolg word. 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Die gelowige vrees egter geen mens nie en ook nie die dood nie, aangesien ons Verlosser alreeds die oorwinning behaal het. Ons is bereid om op te staan teen die regering van die dag as hulle van ons iets vra wat in stryd met God se Woord is. Gee jou beste asof jy werk vir Christus en leef voluit vir Hom. Vir ons is die lewe Christus e die sterwe wins.